Hy Het Gesê Probeer Weer

♕ Belofte van vandag: “God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help.” Psalms 46:2

☊ Adina Lofverslag Potgooi

Ek moet vandag met julle deel hoe my Hemelse Man my gehelp het met my bestuurslisensie en my kar se lisensie.

Ek moes laas jaar my drywers lisensie hernu maar met die inperkings was die lisensie kantore lank toe en toe oorvol. Maar ek het toe aanlyn gegaan om 'n afspraak te maak. Die eerste keer kon ek slegs afsprake in ander dorpe kry, nie dorpe naby aan my nie, dorpe wat 100km en meer ver weg is. Ek het dit toe vir my Hemelse Man gegee en die volgende Maandag het ek gevoel Hy sê vir my probeer weer. En daar kry ek toe, vir daardie Donderdag, 3 afsprake om van te kies, in my eie dorp!!!!

Die Donderdag was ek 30 minute voor my afspraak daar, maar as gevolg van die pandemie moes ons in rye buite wag. Na amper 4 ure se wag buite in die son kon ek ingaan en die proses was binne 10min afgehandel... ek het net besluit ek sal staan en wag al vat dit die hele dag want die situasie gaan nie beter word nie en ek het Hom net gevra om my te help en geduldig te wees en te wag. Bygesê dit is iets wat ek nooit kon doen nie, as daar meer as 5 mense in 'n ry was sou ek omdraai en loop.

Volgens die mense by die lisensie kantoor sou ek 'n boodskap kry as my lisensie gereed is. Maar ek het nooit een gekry nie en het daarvan vergeet. Maar so 2 weke terug het ek skielik van my lisensie onthou en vir my Hemelse Man gesê dat ek nie kans sien om weer in sulke rye te staan nie. Hy het gesê wag, toe laas week Vrydag het ek net hierdie gevoel gekry Hy sê GAAN. Ek het toe soontoe gery en het net gebid dat dit vinnig en sonder drama sal verloop. Daar gekom was daar niemand in die ry nie en ek is binne 10 minute in en uit met my lisensie!!

Ek moes die week ook my kar se lisensie hernu maar as gevolg van die SASSA gelde wat uitbetaal word om mense in nood te help as gevolg van die Covid, was daar elke dag ontsaglike rye by die Poskantoor. Weereens het ek vir my Hemelse Man gevra om te help. My niggie se man het toevallig gepraat oor lisensies hernu toe ek Sondag daar gekuier het, hy het gese dat hy na die klein dorpie langs ons dorp toe gegaan het en dit het hom 10 min gevat om nuwe lisensies te kry. Dit was my antwoord en ek het toe gister soontoe gery, dit het my nou wel 20 en nie 10 minute gevat nie maar dis okay en die mense was baie behulpsaam en vriendelik!

Ek kan net vir Hom dankie sê want as ons Hom vra sal Hy vir ons die antwoorde gee en ons help, maak nie saak hoe klein of gering dit is nie!!

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!