God hoor & Hy antwoord

"As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede." P34:18(AFR83)

Daar was een dag wat ek laag gevoel het. My hart was swaar, bekommernis het my gedagtes oorgeneem, en ek het na God gedraai in my angs. Ek het Hom gesoek en gevra of hy my smeking hoor.

’n Paar dae later, herinner God my aan Sy teenwoordigheid — deur die woorde wat my dogtertjie self gekies het. Sy het daardie aand gevra of ek vir haar uit haar Bybelboekie kan lees. Ek het haar gevra om ’n storie te kies, en sonder enige aanwysing het sy toe een gekies wat hierdie vers bevat:

“Die Here sal jou seën en jou beskerm;
die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees; die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.”
Numeri 6:24-26

Daardie oomblik het soos ’n antwoord in my hart geval. Ja, Hy het my gehoor. Hy het my nie vergeet nie.Net toe my siel begin rus vind, lei God my weer – hierdie keer na Hebreërs 5:7:

"Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God."

My hart het rustig geword. Ek het besef: God hoor nie net gebede nie – Hy antwoord dit op maniere wat ons nie altyd verwag nie. Hy praat deur Sy Woord, deur kinders, deur stille oomblikke.

En dan – soos ’n kers bo-op alles – gebeur daar iets wat ek nooit sal vergeet nie. Terwyl ek een aand in die kombuis besig was, hoor ek my 3-jarige dogtertjie uit haar eie begin bid. Haar klein stemmetjie het sag deur die huis gefluister – ’n gebed so opreg, so suiwer. Ek het net gestaan, stil, met ’n hart van dankbaarheid.

Later daardie aand, terwyl sy in my arms lê, het ek hardop vir haar gebid. Ek het God se beskerming en sy wil oor haar lewe uitgeroep. Toe ek stil word, kyk sy op en fluister: “Mamma, bid weer.” Ek vra: “Moet ek weer bid?” Sy knik haar kop toe "Ja". En so het ek weer gebid – en skaars daarna het sy in vrede aan die slaap geraak. Saam met God.

Dis elke ouer se droom – om te sien hoe God reeds nou in ’n kind se hart werk. My dogtertjie is gesond, vol lewe, en God is besig om haar te vorm op die mooiste maniere. Ek is oorweldig deur dankbaarheid.

Vir elke vrou daar buite wat al gevoel het soos ek – dat God stil is: Hy is nie. Hy werk agter die skerms. Hy hoor elke fluistergebed, elke traan wat jy in stilte stort. Hy is teenwoordig. En soms wys Hy dit op maniere so sag en heilig, dat jy net weet – dit kon net van Hom af kom.

Prys die Here!

1 thought on “God hoor & Hy antwoord”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui