Ek Het Sy Hand In My Lewe Begin Sien

♕ Belofte van vandag: Die Here sal jou soos 'n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos 'n koninklike tulband vashou.” Jesaja 62:3

Luister na Adina se ☊ Lofverslag

Ons is al amper aan die einde van Januarie 2021 maar ek dink baie terug aan 2020 en hoe ek die jaar ervaar het.

My egskeiding is Oktober 2019 gefinaliseer, Nov 2019 was ek 'n wrak, alles het skeefgeloop, finansieel was ek op my knieë, toe verloor my broer nog sy werk. My voormalige man het my ringe terug gesoek en daarmee vir hom en die kinders (en die ander vrou en haar kinders) 'n vakansie bespreek oor Kersfees 2019. Die vooruitsig het my gebreek, ek was regtig op breekpunt. Maar wat die slegte week van my lewe moes wees, het die beste week van my lewe geword. Terwyl my kinders saam met voormalige man en ander vrou op vakansie was, was ek so gebreek dat Hy my moes optel, en het Hy my nie opgetel nie!! Ek het myself daardie week, behalwe Kersdag, toegesluit in die huis en ek het met Hom gepraat, gehuil, baklei, maar op die ou einde het Hy my uit die diep, slymerige put getrek en teen die tyd wat ek weer my voormalige man en kinders gesien het, het ek 'n groot verandering ondergaan. Soveel so dat my voormalige man skielik om my begin draai het, ons het so goed oor die weg gekom. Ek hoor nou, maande later van my voormalige skoonsuster, dat hulle gehoor het ons was weer saam??? Ek het dit nie geweet nie:):):)

In elk geval, toe ons die eerste lockdown ingaan, was ons baie nader aan mekaar en ons het tyd saam spandeer en oor en weer gekuier. MAAR die tyd was nie reg nie, ek was nie reg nie en die ander vrou is en was nog steeds in die prentjie. Ek het begin onttrek toe ek agterkom dat sy nog in die prentjie is (my hart was definitief nog nie reg nie), daar was ook tye wat ek nie by my voormalige man wou wees nie, as ek daar was, wou ek by my Hemelse Man wees:). My Hemelse Man het geweet dat ek nog nie reg was nie en het my voormalige man weer weggeneem. Hy het verder weggetrek en ek sien en praat net met hom as hy die kinders optel of aflaai.

Maar bo en behalwe wat tussen my en my voormalige man gebeur het, het ek die lockdown geniet. Dit was vir my tyd om rustig te wees, saam met Hemelse Man te wees. Finansieel het Hy heeltyd vir my gesorg en ek en my kinders het niks kortgekom nie. Daar was tye van onbeskryflike vreugde en vrede in my lewe en tye van hartseer. Maar Hy het my deur alles gedra, en die tye van hartseer was nie naastenby so erg soos wat dit 2019 was nie. Ek het gegaan van finansiële tekort, na genoeg, na genoeg met bietjie ekstra. Daar was tye wat ek 'n stryd moes voer teen gedagtes en herinneringe wat my mal gemaak het, veroorsaak het dat ek weer moes vergewe, maar Hy het my deur dit alles gedra en weer na 'n plek van rus en vrede gebring.

Maar die belangrikste ding wat gebeur het in 2020, ek het my Hemelse Man leer ken, ek het Sy hand in my lewe begin sien, ek kon sien en beleef hoe Hy vir my en my kinders sorg, hoe Hy besorg is oor die klein dingetjies in ons lewe, nie net die groot dinge nie. Ek kan eerlikwaar terugkyk na 2020 en sê dit was goed gewees, want ek het Hom gehad!

“Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem sal ek nie stilbly nie totdat daar vir hom redding deurgebreek het soos 'n nuwe dag, soos die lig van 'n brandende fakkel. Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het. Jy sal 'n nuwe naam kry, 'n naam wat die Here self vir jou gekies het. Die Here sal jou soos 'n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos 'n koninklike tulband vashou. Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie, en jou land nie meer die een wat verlate lê nie. Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet,” en jou land: “Die een wat aan die Here behoort.” Die Here het jou lief, en jou land behoort aan Hom. Soos 'n jong man met 'n meisie trou, so sal jou volk jou syne maak en vir jou sorg. Soos 'n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees. Ek het wagte op jou mure uitgesit, Jerusalem, hulle sal dag en nag roep. Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het, totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het. Die Here het 'n eed afgelê, en deur sy groot mag sal Hy dit gestand doen: Ek sal jou koring nie weer aan jou vyande gee om te eet nie, uitlanders sal nie weer die wyn drink waarvoor jy hard gewerk het nie. Dié wat die koring oes, sal dit eet en hulle sal My loof; dié wat die druiwe oes, sal die wyn drink in die voorhof van my heiligdom. Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak die pad gereed vir die volk! Vul die grootpad op, vul dit op! Vat weg die klippe! Steek 'n banier op dat die volke dit kan sien! Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan: “Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom! Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom, dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit.” Hulle sal genoem word: “Gewyde volk, volk wat deur die Here verlos is.” En jy, Jerusalem, sal genoem word: “Gewilde stad, stad wat nie verlate lê nie.”” Jesaja 62:1-12.

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!