Ek Het Hom Gevra Om Vir My Te Wys

♕ Belofte van vandag: “Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie.” Jakobus 1:5

Luister na Adina se ☊ Lofverslag

Die Here is wonderlik en ons moet leer om Hom te vra om vir ons dinge te wys en antwoorde te gee!

Ek het so paar weke terug gesukkel, nie om te laat gaan nie, maar hoekom ek nog enigstens my huwelik sal wil terughê. Net soos almal wat RMI vind, was ek aan die begin stukkend en desperaat vir herstel, veral nadat my Hemelse Man met my gepraat het toe ek opgegee het op my huwelik en ook vandat die owerspel uitgekom het. En nou is ek op 'n plek waar ek dit nie wil terughê nie??? Maar Hy het my die hele tyd herinner aan SY WIL en vir wie doen ek dit eintlik, vir my of vir SY glorie? En dink ek nie Hy kan die liefde weer teruggee wat nodig is nie? Die koning se hart is immers soos 'n waterstroom in Sy hande, Hy draai dit waar Hy wil. Ek gee om vir my voormalige man, maar daar is nie altyd meer liefde nie.

Ek het Hom gevra om vir my my hart te wys, wat is in my hart wat nie reg is nie en my so laat voel? En Hy het my gewys, nie op die lekkerste manier nie maar Hy het my gewys. Ek was besig om by die huis te oefen en het met my weerstands bande geoefen wat jy aan die deur hak, terwyl ek dit getrek het, het die bande uit die deur getrek en my op my ken en keel getref! Ek kan nou daaroor lag maar dit het my ken oopgesny en die skok was so erg dat ek begin huil het, maar ek het nie gehuil oor die ongeluk nie, diep seer het skielik by my opgekom en ek kon net nie ophou huil nie. So het Hy vir my gewys daar is nog seer agv onvergifnis in my hart.

Nou ek weet vergifnis is nie iets wat jy net een keer doen en dit is verby nie. Dit is iets wat jy oor en oor moet doen, veral as die vyand ons aanval met herinneringe van die dinge wat seergemaak het. En ek moes weer vergewe want die ou vyand het goed na my gedagtes teruggebring waarvan ek vergeet het, maar duidelik het hy nie. En iets wat my Hemelse Man my gelei het om te doen is om elke keer as ek wil kwaad raak oor iets wat my voormalige man gedoen het, aan my foute te dink wat bygedra het tot die verwoesting van ons huwelik, en dan is dit wat hy gedoen het, skielik nie meer so erg nie en kan ek hom vergewe.

So wat dit my gewys het is dat ek dalk nie my huwelik wil terughê nie as gevolg van verbittering wat nog agtergebly het in my hart. Maar selfs na ek (met Sy hulp) weer vergewe het, kon ek nie opgewonde raak oor herstel nie.

Toe doen ek iets wat ek gewoonlik nie doen nie en dit is om Hom te vra vir 'n teken (wat SY wil is) en ek maak dit toe "ingewikkeld" en gee vir my Hemelse Man 'n sekere tyd.....ek het eintlik so onnosel gevoel om dit te doen maar ek weet ook ons kan Hom enigiets vra. Ek het Hom 'n dag gegee...asof enigiets vir Hom onmoontlik is🙈😄. Die volgende dag was my dogter se verjaarsdag en my voormalige man sou na werk deurkom om vir haar te kuier en aangesien hy ongelooflik afsydig was die laaste ruk (wat my nie veel gepla het nie want ek het dit vir my Hemelse Man gegee), het ek niks anders verwag nie.

Gedurende die dag het ek 'n boodskap gekry, eers wou ek dit nie lees nie want dit het gelyk soos een van daardie boodskappe wat jy vir 100 mense moet aanstuur....maar besluit toe maar later om dit te lees want die persoon wat dit stuur gestuur het is nie iemand wat sommer iets stuur as dit nie regtig iets beteken nie, daarin het gestaan dat ons nie moet opgee op dit wat God ons belowe het nie. Daar het eintlik baie goed gestaan wat my geraak het maar daardie sin het uitgestaan. Toe my voormalige man hier kom was hy vriendelik en het om my gedraai, langs my aan tafel gesit en my selfs 'n lang, stywe druk gegee toe hy gery het (wat nooit gebeur nie). Nou was dit Hy wat my toe nou geantwoord het? Ek dink so…

“Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie.” Jakobus 1:5

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Ek is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!