Dit Is In Die Here Se Hande

♕ Vandag se Belofte: “Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe.”1 PETRUS 4:8

Luister na Adina se ☊ Lofverslag

Ek het vandag ‘n lofverslag gelees van ‘n bruid wat ‘n worsteling gehad het met haar liefde vir haar aardse man, onderdanigheid en laat gaan. Haar Hemelse Man het haar gewys dat sy genoeg laat gaan het en dit is nou tyd om hom met liefde te hanteer en te respekteer.

Dit het my laat dink aan wat my Hemelse Man vir my gesê het en wat my “liefde” vir my voormalige man heeltemal verander het. Van ‘n vashou, behoeftige liefde na ‘n onvoorwaardelike Jesus liefde.

Vir die eerste 4 of 5 maande van die jaar het ek verskriklik gesukkel met “laat gaan”. Ek het omtrent daagliks vir my Hemelse Man gevra om asb my liefde vir my voormalige man weg te vat, of net op die rak te sit as ek dit weer sou nodig kry:-). Maar niks het verander nie en die seerkry wou nie weggaan nie. Tot eendag...

Ek was weereens op my knieë, in trane, besig om Hom te smeek om my liefde weg te vat sodat ek kan laat gaan en nie meer seerkry nie. Toe vra Hy my, uit die bloute uit: “Toe my Seun aan die kruis gehang het, die mense wat Hom geslaan, gespot, gemartel en gekruisig het; was Hy lief vir hulle? Toe Hy aan die kruis gehang het en gely het en die mense het Hom gespot, was Hy lief vir hulle? Dit het die wind bietjie uit my seile gevat en ek was vir ‘n oomblik of twee heeltemal sonder woorde en ek kan nogal praat as ek wil.

Al antwoord wat ek Hom kon gee, nadat ek oor die ergste skok gekom het:-), was: “Ja Hy was!” En ek het iets bygesê soos “Jy wen weer, ek kan nie daaroor stry nie:-)” . Maar dit het my liefde vir my voormalige man heeltemal verander en ek kon begin om te laat gaan en my Hemelse Man begin liefhê.

Kry ek nog seer, ja natuurlik, maar dit is nie meer dat ek voel asof ek vir dae nie kan funksioneer nie, nie kan opstaan nie en in ‘n dwaal rondloop nie. Dit gaan baie vinniger verby maar ek het ook geleer dat wanneer ek seerkry ek net vir Hom moet sê: “Jy is al wat ek wil hê en al wat ek nodig het, ek is lief vir Jou met met hele hart” (Uit Vind die Oorvloedige Lewe). Ek sê dit oor en oor todat Sy liefde my toevou en die seer gaan verlore in Sy perfekte liefde vir ons!!

Daar is ‘n ouerige liedjie uit ‘n fliek van die 80s: “I will always love you.” Dit is nou hoe ek oor my voormalige man voel, ek is lief vir hom maar hy is vry om die geluk te soek wat hy wou gehad het en ek kan met ‘n glimlag hom net die beste toewens. Dit in die Here se hande en al wat en waarvoor ek bid, is dat Sy wil geskied, in my lewe, my voormalige man se lewe en in ons kinders se lewe. As dit Sy wil is om ons huwelik uit die dood uit op te wek, vir Sy glorie, dan is dit reg. Maar as dit Sy wil is dat ek alleen saam met Hom ‘n oorvloedige lewe leef, dan is dit ook reg!!

“Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik.” 1 JOHANNES 4:7
God het ons lief en sal aanhou om ons lief te he, maak nie saak wat nie.

“Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.” GALASIËRS 2:20
Jesus het vir ons aan die kruis gesterf, in ons plek, dis hoe lief Hy ons het, daarom moet ons ook so liefhê, al is dit moeilik om vir almal lief te wees. Maar met Sy liefde in ons is dit moontlik.

“Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe.” 1 PETRUS 4:8
Onvoorwaardelike liefde maak dat ons verby sonde kyk.

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
I’m a tithing​ partner. Learn more.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!