Deel Van Sy Plan Vir My Lewe

♕ Belofte van vandag: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” Spreuke 21:1

☊ Adina Lofverslag Potgooi

Ek wil graag die volgende lofverslag deel oor die pad wat ek nou stap sedert my voormalige man na my toe gekom het met ‘n hersiene skikking as gevolg van sy finansies. Hy wil ook toesig oor die kinders oorneem omdat hy nie meer twee huishoudings kan bekostig nie.

My voormalige man het heeltyd vir my gesê dat die kinders by hom WIL bly en nog ‘n klomp goed wat bedoel was om seer te maak. Vir ‘n rukkie het dit wel my hart gekneus maar ek het dit vir my Hemelse Man gegee en vir Hom gesê dat as dit Sy wil is dat my kinders se harte vir ‘n seisoen van my af weggedraai moet wees, dan is dit reg so. As die kinders by hul pa wil bly en nie by my nie, is dit reg so en dat dit dan op die ou einde deel van Sy plan is vir my lewe.

Ek het nie met die kinders daaroor gepraat nie want ek wil hul nie in ‘n situasie sit wat hul moet kies tussen ons nie, ek het hul net gevra of hul by pappa wil bly want as hulle wil is dit reg so. Maar hul altwee het vir my gesê hul wil by ons altwee bly.

Ek het dit daar gelos en nie met my voormalige man daaroor gepraat nie, want toe ek wel een keer die fout gemaak het om met hom te probeer praat het hy net goed gesê wat my moes seermaak, alhoewel dit nie het nie want ek het geweet dis nie wat my Hemelse Man sê nie. Ek het al sy e-posse en als wat hy gesê het geïgnoreer en als net vir my Hemelse Man gegee. En Hy het my gevul met vrede dat wat ook al gaan gebeur, ek sal okay wees en die kinders is in Sy hande.

Die afgelope Dinsdag moes ek egter my kinders na ‘n sielkundige toe vat om ‘n “Voice of the child” te laat doen om sodoende vas te stel wat hulle wil hê. Dit was ‘n besluit wat geneem is by ‘n vergadering waar ek en my voormalige man was saam met sy prokureur en die sielkundige was haar voorstel, dan moet ons met ‘n plan vorendag kom hoe ons verder vorentoe gaan sonder om hof toe te gaan en die ding lelik uitdraai.

Ek het die afspraak met die sielkundige ook net in my Hemelse Man se hande gelos en vir Hom gesê wat ook al daar gaan uitkom, dit is reg en dat Sy wil moet geskied. Na altwee die kinders by haar was wou sy met my praat, sy het vir my gesê dat die kinders nie kan kies tussen ons nie en dat hul by ons altwee wil wees en dat ‘n 50/50 reëling dalk die beste sal wees. Al wat ek kon doen op daardie oomblik was om vir my Hemelse Man dankie te sê, dankie dat my kinders se harte nie weggedraai is van my nie, dankie dat als wat ek moes hoor nie die waarheid was nie, dankie dat hul harte by ons altwee is (soos dit moet wees) en ook dat goed wat ek al die afgelope jaar en ‘n half moes hoor en dink nie die werklikheid is nie.

Die volgende dag het sy my voormalige man gebel om met hom te praat en ook om sy toestemming te kry om die kinders nog een keer te sien net om paar dinge seker te maak. Ek het nie daarvan geweet nie maar hy het daarna vir my ‘n epos gestuur waarin hy my basies gesmeek het om 50/50 toesig te oorweeg want die kinders wil by ons altwee wees………dit is omtrent ‘n omkeer van die vorige e-posse wat ek ontvang het en daarvoor kan ek net my Hemelse Man bedank want dit is net Hy wat harte kan draai as ons dit vir Hom gee..

Wat nou verder moet gebeur is dat ek en my voormalige man môre saam die sielkundige moet gaan sien sodat sy alles met ons altwee kan deel. Maar danksy my Hemelse Man en hoe Hy die situasie al gedraai het, het ek vrede in my hart en kan ek nie wag om te sien wat Hy verder gaan doen nie……

~ Adina in Suid Afrika
Volg #Adina Follow #Adina
Adina is 'n tiende​ vennoot. Leer meer.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!