"En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is." F4:7
Ek wil my lofverslag deel om God al die eer te gee. Deur moeilike dinge in my lewe sien ek steeds hoe Hy vir my is, na my kyk en my vrede gee.
Ek en my eksman het ’n baie goeie verhouding. Ons baklei glad nie en ons is nou soos beste vriende (my eksman sê elke keer vir my ek is sy beste vriend). Partykeer dink ek ek wil nie hê hy moet my net as ’n “beste vriend” sien nie, maar dan onthou ek dit is God wat ons vriendskap herstel het. Ek sien soveel mense wat ná ’n egskeiding net haat en woede oorhou, maar by ons het God ’n muur van vrede en respek gebou en die haat muur heeltemal gebreuk – en daarvoor is ek opreg dankbaar.
My eksman het baie respek vir my en hy beskerm altyd vir my en ons dogtertjie. Hy sê dit gereeld, en ek sien dit in sy optrede. Onlangs het hy eerlik met my gedeel dat hy iemand sien. Dit was nie lekker om te hoor of te sien nie, maar ek is dankbaar dat God my die krag gegee het om dit met rus en kalmte te hanteer.
Filippense 4:7 sê:
"En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en gedagtes bewaar in Christus Jesus.”
Daardie Saterdag, nadat hy dit vir my vertel het, het ons ’n baie diep gesprek gehad. Hy het self gesê: “Mens weet nie wat God se plan is nie, dalk kruis ons paaie weer eendag, want ons dien ’n God wat die onmoontlike moontlik maak.” Dit het my hart bemoedig, want dit wys vir my dat God ook in my eksman se hart werk. Ek is dankbaar dat ek kan lewe uitspreek oor my situasie en oor my huwelik, want ek weet God is besig, al voel dit partykeer nie so nie.
Vrydag het ek hom en sy vriendin saam gesien. Ja, dit was vreemd en nie lekker nie, maar ek het net vriendelik gebly en ek het binne-in myself ’n groot rustigheid ervaar. Weereens was ek so dankbaar teenoor God wat my daardie innerlike vrede en selfbeheersing gegee het.
Ek deel hierdie getuienis omdat ek besef ek leer om regtig te “let go”. Ek het dit vir God gegee en Hy het my onmiddellik vrede gegee. Ek het nie gehuil nie, ek was nie ontsteld nie, ek het eenvoudig gebid en dit gelos in Sy hande. Soos Psalm 55:22:
“Werp jou las op die Here, en Hy sal jou onderhou; Hy sal die regverdige nooit in die steek laat nie.”
Nog iets waarvoor ek dankbaar is: Al het ek baie foute gemaak en selfs twee maande terug weer hard geval in ou gewoontes, het God my vergewe en al die skuldgevoelens weggeneem. Ek weet nou dat ’n gelowige nie lê bly as hy struikel nie – hy staan weer op deur God se genade. Spreuke 24:16:
“Want die regverdige val sewe maal, en staan weer op; maar die goddelose struikel in die ongeluk.”
Ek weet God het ’n plan, en dat alles wat gebeur, uiteindelik in Sy wil en tyd is. Romeine 8:28 herinner my daaraan:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
Vandag getuig ek dat God getrou is. Hy dra my, Hy gee my krag, Hy gee my vrede – en Hy leer my om regtig te laat gaan en Hom die stuur te laat neem.
‘Die Here is my lig en my redding, vir wie sou ek vrees? Die Here is die rots van my lewe, vir wie sou ek vrees?’
Psalm 27:1
https://www.bible.com/es/bible/103/PSA.27.1
Net die Here kan ons daardie krag gee, en ‘n vrede wat ons nie eers verstaan nie, maar dit is Sy onfeilbare liefde wat ons ophef.
Hy is altyd aan die werk. Hoe pragtig, Mila, om te weet dat ons deur die vuur gegaan het, maar gelouter uitgekom het.
Dankie dat jy dit gedeel het.
Enviar