Dag 7: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 7 

God help die opregtes
1'n Klaaglied van Dawid wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van die dade van Kus, 'n Benjaminiet.
2By U soek ek beskerming, Here my God.
Help my, red my van almal wat my vervolg,
3sodat hulle my nie verskeur soos 'n leeu sy prooi nie,
my nie uitmekaar skeur sonder hoop op redding nie.
4As ek iets verkeerds gedoen het, Here my God,
as daar onreg aan my hande kleef,
5as ek 'n vriend van my kwaad aangedoen het,
as ek 'n teëstander van my sommer goedsmoeds kaalgestroop het,
6mag die vyand my dan agtervolg en inhaal,
my in die grond in trap,
my tot in die stof in verneder.Sela
7Kom tog, Here, in u toorn,
tree op teen die verwoede aanslag van my teëstanders.
Kom my te hulp,
U wat bepaal het dat reg sal geskied.
8Laat al die volke rondom U kom staan;
neem hoog bo hulle u plek in op u regterstoel!
9U wat regspreek oor die volke, Here,
bevind tog dat ek reg het, Here,
dat ek onskuldig is.
10Maak 'n end aan al die bose dade van die goddelose mense.
Stel tog die onskuldige in die gelyk.
U wat die mens deur en deur toets,
U is die regverdige God.
11God wat die opregtes help,
is my beskermer.
12God is 'n betroubare regter,
'n God wat altyd die skuldiges straf.
13Hy maak sy swaard elke keer weer skerp,
Hy span sy boog en lê aan.
14Hy hou dodelike wapens gereed
en maak vir Hom brandpyle.
15Die skuldige is soos iemand
wat swanger geraak het van onreg,
swanger is van kwaad
en leuens voortbring.
16Hy grawe 'n diep gat
en val self daarin.
17Sy boosheid tref homself,
en die geweld wat hy beplan het,
kom op sy eie kop af.
18Ek wil die Here prys omdat Hy reg laat geskied.
Die Naam van die Here, die Allerhoogste,
wil ek besing.

Psalm 37

Laat jou lewe aan die Here oor
1Van Dawid.
Moet jou nie ontstel oor skelms
en jou kwel oor skurke nie,
2want soos gras vergaan hulle gou
en soos groenigheid verdwyn hulle sommer.
3Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is,
woon en werk rustig voort.
4Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
6Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son,
jou reg soos die helder lig van die middag.
7Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou
en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.
8Moenie kwaad word nie, laat staan die woede,
moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.
9Die skelms sal uitgeroei word,
maar dié wat hulle vertroue in die Here stel,
sal in besit bly van die land.
10Nog 'n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie;
'n mens sal hom soek waar hy was,
maar hy sal nie daar wees nie.
11Dié wat nou verdruk word, sal die land besit
en hulle verlustig in hulle welvaart.
12Die goddelose soek die ondergang van die regverdige
en bedreig sy lewe.
13Die Here lag vir die goddeloses,
want Hy sien hulle dag kom.
14Die goddeloses trek die swaard en span die boog
om die hulpelose en die arme dood te maak,
om dié wat die regte pad loop, te vermoor.
15Die goddeloses se swaarde sal hulle eie harte tref
en hulle boë sal stukkend gebreek word.
16Die bietjie van die regverdige
is beter as die rykdom van talle goddeloses,
17want die mag van die goddeloses sal verbreek word,
maar die Here sal die hulp wees van die regverdiges.
18Die Here sorg vir die lewe van die opregtes,
en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe.
19In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie,
in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê.
20Die goddeloses sal te gronde gaan,
die vyande van die Here sal tot niet gaan;
soos mooi weivelde wat in vlamme opgaan,
so sal hulle verdwyn.
21Die goddelose leen en betaal nie terug nie,
die regverdige kry jammer en help.
22Dié wat deur die Here geseën word, sal die land besit;
maar dié wat deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word.
23Die Here bepaal die koers van die mens
met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.
24As so iemand val, bly hy nie lê nie,
want die Here help hom op.
25Ek was jonk en ek het oud geword,
maar nooit het ek 'n regverdige verlate gesien
of dat sy nageslag brood soek nie.
26Hy is altyd vrygewig, hy leen uit sonder rente:
met sy nageslag sal dit goed gaan.
27Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is,
dan sal jy die land altyd bewoon,
28want die Here het die reg lief
en sy troue dienaars verlaat Hy nie.
Hulle sal altyd behoue bly,
maar die nageslag van die goddeloses sal uitgeroei word.
29Die regverdiges sal die land besit
en altyd daarin woon.
30Wat die regverdige praat, is wysheid,
wat hy sê, stem ooreen met die reg.
31Die openbaring van sy God is in sy hart,
sy koers is nie onseker nie.
32Die goddelose lê die regverdige voor
en soek 'n kans om hom dood te maak,
33maar die Here los hom nie in die mag van die goddelose nie
en laat nie toe dat hy veroordeel word
as hy voor die regbank staan nie.
34Vertrou op die Here en bly op sy weë;
Hy sal jou weer laat opstaan om die land te besit,
en jy sal die ondergang van die goddeloses aanskou.
35Ek het al gesien dat 'n slegte, roekelose mens
geil opskiet soos 'n plant,
36en toe ek weer verbykom, was hy nie meer daar nie;
ek het hom gesoek en hy was nêrens nie.
37Maar let nou op die eerbare mens,
kyk na die opregte:
die regskape man, vir hom is daar 'n toekoms.
38Dié wat hulle teen die Here verset,
word voor die voet uitgewis,
die toekoms van die goddeloses word afgesny,
39maar die regverdiges word deur die Here gered.
Hy is hulle toevlug in tyd van nood.
40Die Here help hulle en Hy bevry hulle,
Hy bevry hulle van die slegte mense en red hulle,
want hulle skuil by Hom.

Psalm 67

Mag die volke U loof, o God!
 
1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Psalm. 'n Lied.
2Mag God ons genadig wees en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,Sela
3sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies.
4Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
5Mag die nasies bly wees en jubel
omdat U hulle regverdig regeer
en hulle op die aarde lei.Sela
6Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
7Die land het sy oes gelewer.
God, ons God, het ons geseën.
8God het ons geseën.
Die mense op die hele aarde moet Hom eer.

Psalm 97

Vir die regverdiges het daar lig gekom
 
1Die Here regeer, die aarde moet juig,
al die baie eilande moet bly wees!
2Die Here is omgewe van donker wolke;
sy troon is gebou op reg en geregtigheid.
3'n Vuur trek voor Hom uit
en verteer sy vyande aan alle kante.
4Sy weerligstrale verlig die wêreld;
die aarde sien dit en bewe.
5Berge smelt soos was voor die Here,
voor die Here van die aarde.
6Die hemel getuig dat Hy regverdig is
en al die volke sien sy magtige verskyning.
7Almal wat beelde dien,
wat nikswerd afgode vereer, word ontnugter,
want al hulle gode moet voor die Here buig.
8Sion is bly, die stede van Juda juig
wanneer hulle hoor wat U as regter gedoen het, Here.
9U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde,
hoog verhewe bo alle gode.
10Julle het die Here lief; haat dan wat sleg is!
Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,
Hy red hulle uit die greep van die goddelose.
11Vir die regverdiges het daar lig gekom,
blydskap vir die opregtes.
12Wees bly in die Here, regverdiges,
prys sy heilige Naam.

Psalm 127

As die Here die huis nie bou nie
1'n Pelgrimslied. Van Salomo.
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan
en laat gaan slaap
om met moeite 'n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet,
gee die Here dit in hulle slaap.
3Seuns is geskenke van die Here,
kinders word deur Hom gegee.
4Soos pyle in die hand van 'n krygsman,
so is seuns wat gebore is toe hulle vader nog jonk was.
5Dit gaan goed met die man wat sy pylkoker so gevul het!
Sulke mense het niks te vrees
as hulle met die vyand in die stadspoort onderhandel nie.

Spreuke 7

1 Maak wat ek vir jou sê jou eie, my seun,
hou by wat ek jou voorskryf,
2 maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe,
maak wat ek jou leer jou eie,
so eie soos die appel van jou oog.
3 Sorg dat jy dit altyd onthou,
maak dit 'n deel van jou lewe.
4 Sê vir die wysheid: “Jy is my suster,”
maak die insig familie van jou.
5Dit sal jou weghou van die slegte vrou af,
die vrou met die verleidelike praatjies.
6Ek kyk uit by my huis, by die tralievenster uit
7 en ek sien mense wat nog baie moet leer;
ek merk onder hulle veral een onverstandige jongman
8 wat oor die straathoek stap
en die pad na 'n vrou se huis toe kies.
9Dit is skemeraand, die nag se donker slaan toe.
10Daar kom die vrou hom tegemoet;
sy dra die klere van 'n prostituut,
sy is 'n vrou met listige planne.
11Sy is luidrugtig en uitdagend,
haar huis is te nou vir haar;
12sy maak haar ronde in die strate, op die stadspleine,
sy staan op loer by elke hoek.
13Sy gryp die jongman en soen hom,
onbeskaamd sê sy vir hom:
14“Ek moes maaltydoffers bring
en ek het vandag juis my geloftes betaal.
15Daarom het ek jou kom soek,
ek was op die uitkyk na jou en nou het ek jou gekry.
16Ek het 'n deken oor my bed gegooi,
'n deken van bont Egiptiese linne;
17ek het my bed besprinkel
met mirre, aalwyn en kaneel.
18Kom ons drink van die liefde tot die môre toe,
ons gee ons oor aan die liefdeslus.
19My man is nie tuis nie,
hy is op 'n lang reis;
20hy is weg met 'n vol beurs
en kom eers met volmaan terug.”
21So laat sy die jongman swig vir haar listigheid,
so verlei sy hom met haar gladde tong.
22Hy loop sonder weerstand agter haar aan
soos 'n bees op pad slagpale toe.
Soos 'n dwaas word hy in die strik gevang
23en netnou kloof 'n pyl sy lewer.
Soos 'n voël wat reg in 'n net in vlieg,
so is hy daarmee heen voor hy dit weet.
24Luister na my, my seun,
slaan ag op wat ek sê.
25Moet jou nie met so 'n vrou ophou nie,
moenie haar pad loop nie.
26Sy het die val van baie op haar kerfstok,
sy het al sterk manne laat ondergaan.
27In haar huis is jy op pad na die doderyk toe,
by haar is jy op pad na jou dood toe.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 7

God is ’n betroubare regter
1’n Dawidspsalm wat hy vir die
Here gesing het na aanleiding
van Kus, ’n Benjaminiet.
2Here my God,
ek soek u beskerming.
Red my van al my vervolgers, red my!
3Anders sal hulle my toetakel
soos ’n leeu,
my in stukke skeur
sonder dat iemand my red.
4Here my God,
as ek iets verkeerds gedoen het,
as ek skuldig is aan onreg,
5as ek ’n vriend van my
verraai het,
my vyand sonder rede
beroof het,
6laat my vyande my agtervolg
en vang,
my in die grond in vertrap,
my eer
tot in die stof verneder.
Sela
7Staan op, Here, in u toorn!
Tree op
teen my vyande se woede!
Kom tot aksie, my God!
Laat u geregtigheid seëvier!
8Laat die nasies om U versamel.
Sit op u troon,
ver bo hulle verhewe.
9Here, U wat regspreek
oor die volke,
oordeel my, Here,
volgens my regverdigheid
en in die lig van my onskuld.
10Regverdige God
wat gedagtes en gevoelens deursoek,
maak ’n einde
aan die boosheid
van die goddelose,
maar ondersteun die regverdiges.
11God is my skild,
Hy wat opregtes van hart
verlos.
12God is ’n regverdige regter;
God oordeel
bose mense daagliks.
13As iemand nie berou het nie,
maak Hy sy swaard skerp.
Hy span sy boog
en hou dit gereed.
14Hy het dodelike wapens
voorberei
en sy vurige pyle is gereed.
15Hy wat swanger is van sonde,
wat verwagtend is van onheil,
gee geboorte aan leuens.
16Hy grawe ’n gat
om ander te vang,
maar val dan self daarin.
17Sy boosheid tref homself,
sy geweld kom neer
op sy eie kop.
18Ek wil die Here dank
omdat Hy regverdig is.
Die Naam
van die allerhoogste Here
wil ek besing.

Psalm 37

Die Here red die
regverdiges
1’n Dawidspsalm.
Moenie jou vererg
oor boosdoeners nie.
Moenie die kwaaddoeners
beny nie.
2Want soos gras verlep hulle gou.
Soos plante
verdroog hulle vinnig.
3Vertrou op die Here
en doen wat goed is.
Woon in die land
en geniet veiligheid.
4Wees bly in die Here,
en Hy sal jou hartsbegeertes
aan jou gee.
5Vertrou jou lewe toe
aan die Here.
Vertrou Hom,
en Hy sal vir jou sorg.
6Hy sal jou onskuld
laat deurbreek
soos die lig,
en die regverdigheid van jou saak
soos die middagson.
7Wees stil in die Here,
en wag geduldig op Hom.
Moenie die mens beny
wat op sý manier floreer,
of jou verknies
oor sy bose planne nie.
8Moenie kwaad word nie;
laat staan liewer jou woede.
Moenie ander beny nie;
dit lei net tot jou nadeel.
9Want die bose mense
sal vernietig word,
maar dié
wat op die Here vertrou,
sal die land besit.
10Binnekort sal die boosdoeners
nie meer daar wees nie;
al soek jy na hulle,
sal jy hulle nie kry nie.
11Maar sagmoediges
sal die land besit,
hulle sal oorvloedige vrede
geniet.
12Die goddelose sweer saam
teen die regverdiges
en kners op die tande vir hulle.
13Maar die Here lag vir hom,
want Hy sien
sy dag van oordeel
kom al nader.
14Die goddelose trek die swaard
en span die boog
om die armes en behoeftiges
tot ’n val te bring,
om hulle wat reg doen,
dood te maak.
15Maar hulle swaard
sal hulle eie hart deurboor
en hulle boog
sal stukkend gebreek word.
16Dit is beter om vroom te wees
en min te besit
as om boos te wees
en baie besittings te hê.
17Want die mag van die bose
sal verpletter word,
maar die Here
sal die regverdiges beskerm.
18Die Here ken die lewensdae
van die opregtes,
en hulle erfdeel
sal vir altyd bly bestaan.
19In slegte tye
sal hulle nie verleë wees nie;
selfs in hongersnood
sal hulle genoeg hê.
20Maar die goddelose
sal vergaan.
Die vyande van die Here
sal wees soos mooi weivelde
wat soos rook verdwyn.
21Die goddelose leen
en betaal nie terug nie,
maar die regverdige gee vrygewig.
22Hulle vir wie die Here seën,
sal die land besit,
maar hulle wat Hy vervloek,
sal uitgeroei word.
23Die Here bepaal
die rigting van ’n mens
met wie se lewe Hy tevrede is.
24Al sou so een struikel,
hy sal nie val nie,
want die Here hou sy hand vas.
25Ek was jonk, en nou is ek oud.
Maar ’n regverdige mens
wat verlate is,
het ek nooit gesien nie,
of dat sy kinders vir kos
moes bedel nie.
26Hy leen altyd ruimskoots
aan ander,
en sy kinders is tot ’n seën.
27Vermy die kwaad
en doen wat goed is,
dan sal jy vir altyd woon
in die land.
28Want die Here het die reg lief,
en sal sy getroue dienaars
nie verlaat nie.
Hy sal hulle vir altyd
veilig bewaar,
maar die goddelose se kinders
sal vergaan.
29Die regverdiges
sal die land besit
en daar vir altyd woon.
30Die regverdige het wyse raad;
wat hy sê, is regverdig.
31Die gebooie van sy God
is in sy hart.
Hy sal nie ’n voet
verkeerd sit nie.
32Die goddelose
wag die regverdige in,
en wag vir die kans
om hom dood te maak.
33Maar die Here verhoed
dat hy in hulle mag val
sodat hulle hom
skuldig kan bevind
wanneer hy voor die gereg kom.
34Vertrou die Here
en volg sy voorskrifte.
Hy sal jou ophef
sodat jy die land sal besit
en die goddelose se uitwissing sal sien.
35Ekself het dit sien gebeur:
Hoogmoedige en bose mense
floreer soos welige bome.
36Maar toe ek weer kyk, was hulle weg!
Hoewel ek hulle gesoek het,
kon ek hulle nie kry nie!
37Maar kyk na hulle
wat eerlik en opreg is,
want die toekoms van so ’n mens
is vol vrede.
38Maar oortreders
word saam vernietig;
hulle toekoms
sal tot ’n einde kom.
39Die Here red die regverdiges;
Hy is ’n toevlug
in moeilike tye.
40Die Here help hulle,
en red hulle
van goddelose mense.
Hy red hulle,
want hulle skuil by Hom.

Psalm 67

God sal ons seën
1Vir die koorleier: Met snarespel.
’n Psalm. ’n Lied.
2Mag God ons genadig wees
en ons seën.
Mag sy goedheid oor ons skyn
Sela
3sodat u werke bekend kan word
oor die aarde,
u reddende krag
onder al die nasies.
4Mag die volke U prys, o God,
mag al die nasies U loof.
5Laat die nasies bly wees
en sing van vreugde,
want met billikheid
regeer U die volke
en lei U die nasies op die aarde.
Sela
6Mag die volke U prys, o God.
Mag al die volke U loof.
7Die aarde het oeste gelewer.
God, ons God, sal ons seën.
8God sal ons seën,
en mense oor die hele aarde
sal Hom dien.

Psalm 97

Die grootheid van die Here
1Die Here regeer!
Laat die aarde juig.
Laat die talle eilande bly wees.
2Wolke en duisternis
omring Hom.
Reg en geregtigheid
is die grondslag van sy troon.
3Vuur gaan voor Hom uit
en al sy teenstanders verbrand.
4Sy weerligte verlig die wêreld.
Die aarde sien dit en bewe.
5Berge smelt
soos was voor die Here,
voor die Here
van die hele wêreld.
6Die hemele verkondig
sy geregtigheid;
elke volk sien sy heerlikheid.
7Almal wat beelde vereer,
is tot skande gebring,
almal wat roem
op hulle nietige afgode;
want alle gode
moet voor Hom buig.
8Sion het dit gehoor en is bly,
en die stede van Juda juig
oor u oordele, Here!
9Want U, Here,
is hoog verhewe
bo die hele aarde;
U is verhewe
ver bo alle gode.
10Julle wat die Here liefhet,
haat dan wat boos is!
Hy beskerm die lewe
van sy getroues,
Hy red hulle
uit die mag
van goddeloses.
11Oor regverdiges
skyn daar lig,
en daar is blydskap vir hulle
wat opreg is.
12Regverdiges,
wees bly in die Here,
en prys sy heilige Naam!

Psalm 127

As die Here nie ...
1’n Pelgrimslied. Van Salomo.
As die Here
die huis nie bou nie,
is die bouers se arbeid tevergeefs.
As die Here
die stad nie beskerm nie,
waak die wagte tevergeefs.
2Tevergeefs werk julle so hard,
van vroegoggend tot laatnag,
soos julle swoeg om te bestaan.
Maar vir hulle wat Hy liefhet,
gee Hy dit in hulle slaap.
3Kinders is ’n gawe van die Here;
die vrug van die moederskoot
is ’n beloning.
4Soos pyle
in ’n krygsman se hande,
so is seuns gebore in ’n mens se jeug.
5Gelukkig is die man
wie se pylkoker vol van hulle is.
Hy sal nie beskaam word
wanneer hy in die stadspoort
met sy vyand onderhandel nie.

Spreuke 7

Wysheid woon by jou
1Bly altyd by wat ek vir jou sê,
my seun.
Koester wat ek vir jou voorskryf
in jou binneste.
2Bly daarby sodat jy kan lewe.
Laat dit wat ek vir jou leer
vir jou so kosbaar wees
soos die appel van jou oog.
3Sit dit aan jou vingers
soos ’n ring.
Skryf dit uit
op die tafel van jou hart.
4Sê vir die wysheid:
“Jy is my suster.”
Maak insig ’n lid van jou familie.
5Dit sal jou weghou
van die onsedelike vrou af.
Dit sal jou beskerm
teen die vreemde vrou
met haar verleidelike praatjies.
’n Verhaal van verleiding
6Ek was eendag by die venster
van my huis,
ek het deur die gordyn staan en kyk.
7Ek sien toe jongmense op straat
wat nog baie moet leer.
Tussen hulle was ’n jong man
wat nie van beter
geweet het nie.
8Hy het met die straat afgekom
en naby die hoek
van hierdie vrou se huis
verbygegaan.
9Dit was so teen skemeraand,
die donker het begin toesak.
10Die vrou,
aangetrek soos ’n prostituut,
het na hom toe geloop.
Sy het slim planne gehad.
11Sy was luidrugtig en uitdagend
en kon nie by die huis bly nie.
12Dán was sy in die strate
en dán weer
op die stad se plein,
by elke hoek
het sy gestaan en rondloer.
13Sy het by die jong man gekom
en hom omhels.
Ewe skaamteloos sê sy vir hom:
14“My maaltydoffers
het ek vandag gebring,
en my geloftes betaal.
15Ek het nou na jou toe gekom.
Ek het na jou gesoek
en hier het ek jou nou gekry.
16Ek het my bed oorgetrek
met beddegoed
van bont Egiptiese linne.
17Ek het my bed geurig gemaak
met mirre, aalwyn en kaneel.
18Kom ons verlustig ons
in liefdeslus,
dwarsdeur die nag
tot môre-oggend.
19My man is nie by die huis nie.
Hy is weg op ’n lang reis.
20Hy is weg
met ’n beursie vol geld.
Eers met volmaan
sal hy weer terugkom.”
21So oorreed sy die jong man
met haar mooipraatjies.
Sy verlei hom
met haar gladde tong.
22Hy loop dadelik agter haar aan.
Hy was soos ’n bees
wat na die slagpale gelei word.
Hy was soos ’n wildsbok
wat in die slagyster trap
23en ’n pyl kloof sy hart.
Hy was soos ’n voël
wat blindelings
in ’n vangnet vasvlieg.
Hy het nie geweet
dat sy lewe verby is nie.
24Luister na my, my seuns.
Slaan ag op wat ek sê.
25Moenie julle ophou
met so ’n vrou nie.
Bly uit haar pad uit.
26Baie is al op haar kerfstok.
Sy het al talle sterk mans
so laat ondergaan.
27Haar huis
is die kortpad na die doderyk,
die voorportaal
van die dood.

Die Boodskap

Psalm 7

1’n Lied wat Dawid gesing het om die Here te eer nadat Kus van Benjamin met hom gepraat het
2Here, U is my God. Ek skuil by U!
Red my van almal wat my wil seermaak.
Hou hulle ver van my af weg!
3Hulle is net soos honger leeus wat rondkyk om iets te kry wat hulle kan opeet.
Help my, want daar is niemand anders wat dit kan doen nie.
4Here, my God, as ek dinge gedoen het wat nie reg is in u oë nie, wys dit tog vir my!
5As ek mense wat my wou help, of mense wat teen my was, sleg behandel het, kan hulle my maar in die grond in trap.
Dan kan hulle my maar slegsê.
6Mag my vyand my dan in die hande kry, en my bykom en verneder.
7Staan asseblief op, Here! Gryp tog in!
Word ’n slag kwaad vir daardie spul wat so vol woede teen my baklei.
Pas my op. U wil mos hê dat mense reg behandel word.
8Laat al die mense in die wêreld in ’n kring gaan sit. Dan gaan sit U op u troon in die hemel, daar van waar U die wêreld beheer.
U is die sterkste, U heers oor almal.
9Daarom kan U die regte besluite oor elkeen se lewe neem.
En daarom kan ek nou by U pleit: kyk tog dat ek die regte dinge gedoen het, Here!
Ek is onskuldig. Ek verdien nie om so sleg behandel te word nie.
10Maak ’n einde aan slegte mense se planne wat weier om na U te luister.
Maar help hulle wat U liefhet, o God.
U weet mos of mense reg leef en of hulle vertrou kan word. U tree altyd regverdig op.
11U beskerm my, want U help almal wat reg voor U leef.
12God is ’n eerlike regter. Hy neem altyd die regte besluite.
U word kwaad vir mense wat verkeerde dinge doen.
As iemand nie sy sondes laat staan en doen wat U wil hê nie, straf U hom.
13Dan is U soos ’n jagter wat u swaard skerp maak
en pyl en boog span om die slagoffer te skiet.
14U sit dodelike gif aan u pyl om u prooi te skiet. Almal wat skuldig is, doen dinge waarvan U niks hou nie.
15Hulle doen aanmekaar kwaad en bedrieg ander.
Met hulle gebeur presies wat die spreekwoord sê:
16Grawe ’n gat vir ander, dan val jy self daarin.
17Deur hulle eie geknoei kom hulle tot ’n val.
Die gewelddadige dinge wat hulle vir ander beplan, gebeur met hulleself.
18Ek sal die Here prys omdat Hy regverdig teenoor alle mense is!
Ek sal liedere sing om die allerhoogste Here se Naam te loof!

Psalm 37

Vir Dawid
1Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie.
Moenie loop en kla dat hulle loskom met hulle skelmstreke nie. Moenie op hulle jaloers wees nie.
2Hulle verdwyn sommer op ’n dag.
Vandag is hulle daar; môre is hulle weg.
3Glo liewer in die Here.
Doen goeie dinge vir ander mense. Doen wat jy moet doen, en bly getrou aan die Here.
4Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê.
5Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg.
6Hy sal jou op die regte pad hou.
Die Here sal vir almal wys dat jy reg leef.
7Buig laag voor die Here. Wag op Hom sonder om veel te sê.
Hou op om jou so om te krap oor hoe goed dit met skelms gaan.
8Moenie kwaad word oor alles wat hulle doen nie.
Op die ou end bring dit net vir jou moeilikheid.
9Slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn.
Net mense wat in die Here glo, sal dan oorbly. Die land sal aan hulle behoort.
10Net ’n klein rukkie nog,
dan sal daar nie meer mense wees wat niks van God wil weet nie.
Jy sal na hulle soek, maar hulle sal weg wees.
11Maar mense wat nie te veel van hulleself dink nie, sal die hele aarde erf.
Hulle sal bly wees oor hoe goed dit met hulle gaan.
12Slegte mense hou niks van die Here se kinders nie.
Hulle probeer dié mense uit die weg ruim.
13Maar die Here lag vir hulle. Hy weet hulle tyd raak min! Hulle dag kom.
14Slegte mense wil hulpelose mense en arm mense en mense wat die regte pad loop, doodmaak,
15maar binnekort is hulle almal dood. Mense wat sonder God leef, sal deur hulle eie toedoen doodgaan. Al hulle wapens sal vernietig word.
16Dis beter om net ’n paar besittings te hê en die Here lief te hê as om ’n sak vol geld te hê, maar jy glo nie in Hom nie.
17Onthou: slegte mense sal nie vir altyd baasspeel hier op aarde nie.
Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle.
18Hy sorg altyd vir hulle. Wat hulle geërf het, behou hulle vir altyd.
19Wanneer almal rondom hulle swaarkry, sal hulle genoeg hê om van te leef. As ander honger ly, sal hulle genoeg hê om hulle versadig te eet.
20Maar die Here se vyande sal in rook en vlamme vergaan. Mense wat sonder God leef, sal tot niet gaan.
21Mense wat sonder God leef, leen geld by ander, maar betaal dit nooit terug nie.
Goeie mense kry ander mense jammer en help hulle.
22Mense met wie die Here tevrede is, sal eendag alles op die aarde besit.
Maar mense vir wie die Here sy rug keer, sal ondergaan. Hulle sal uitgeroei word.
23Die Here bepaal wat in die lewe van mense gebeur met wie se optrede Hy tevrede is.
Hy laat dit goed gaan met hulle.
24As hulle op die grond neerslaan, bly hulle nie lê nie.
Die Here kom buk by hulle en tel hulle weer op.
25Ek is nou al oud, maar ek het nog nie gesien dat mense wat reg voor God leef
ooit alleen is nie.
Nêrens staan gelowiges op straathoeke en bedel nie.
Hulle kinders gaan slaap nooit honger nie.
26Gelowiges gee regtig om vir ander mense. Hulle klou nie aan hulle geld vas nie. Hulle leen geld sonder om rente te hef.
Ook met hulle kinders sal dit goed gaan.
27Moenie die verkeerde doen nie. Doen net goeie dinge,
dan sal jy vir altyd naby aan Hom leef.
28Die Here hou baie van almal wat reg optree.
Sulke mense los Hy nooit alleen nie. Hy sal hulle altyd beskerm,
maar slegte mense verdwyn soos mis voor die son. Hulle word uitgeroei.
29Die Here se kinders sal die land kry en vir altyd daarin lewe.
30Die monde van mense wat reg lewe, praat wyse dinge. Hulle sê die regte dinge.
31God se wil oorheers hulle lewe;
daarom verdwaal hulle nooit in die sonde nie. Hulle slaan nie neer in die gemors nie.
32Slegte mense probeer goeie mense doodmaak. Hulle soek ’n kans om mense wat reg lewe, by te kom.
33Maar die Here pas sy kinders op. Hy laat hulle nie in die hand kom van mense wat sonder Hom leef nie. Hy laat nie toe dat hulle skuldig bevind word nie.
34Hou die Here se hand styf vas; doen net wat Hy sê.
Op die regte oomblik sal Hy jou hoog bo al jou probleme uitlig. Hy sal sorg dat reg aan jou geskied wanneer jy voor die hof gedaag is.
Jy sal sien hoe die sondaars ondergaan.
35Ek het al baie keer gesien hoe gewetenlose mense wat sonder God leef met ’n groot lawaai op die toneel verskyn, 36maar toe ek weer kyk, was hulle weg. Net mooi niks het van hulle oorgebly nie.
37Maar kyk ’n bietjie na mense wat na die Here luister, mense van vrede.
Hulle het ’n toekoms.
38Mense wat hulle nie aan die Here steur nie, leef in ’n doodloopstraat. Hulle word uitgeroei. Hulle het geen toekoms nie.
39Maar mense wat reg lewe, word deur die Here gehelp. Hulle skuil by Hom.
40Hy red hulle as hulle die dag swaarkry.
Die Here gee baie vir hulle om.
Daarom red Hy hulle wanneer slegte mense hulle wil seermaak.
By die Here is daar redding. Altyd!

Psalm 67

1Vir die musiekleier se aandag:
’n Psalm wat met snaarbegeleiding gesing word
2Mag God sy hart vir ons oopmaak en vir ons voorspoed gee.
Mag Hy self kom om ons te red.
3Almal op aarde moet sien hoe groot en goed U is.
Volke wat U nie ken nie, moet besef dat U mense red.
4God, al die volke moet U prys. Hulle almal moet u Naam saam prys.
5Volke wat U nie ken nie, sal bly wees en juig omdat U
regverdig teenoor hulle optree.
U heers oor al die volke op aarde. En U lei alle mense.
6God, al die volke moet U prys.
Hulle almal moet u Naam saam grootmaak.
7Op die landerye staan daar goeie oeste.
God is ons God. Hy gee vir ons voorspoed.
8God gee vir ons voorspoed.
Mense uit alle uithoeke van die aarde moet dit sien.
Dan sal hulle Hom eer.

Psalm 97

1Die Here regeer! Sy skepping moet oorloop van blydskap.
Van hier tot in die laaste hoekie van die wêreld moet hierdie blydskap weerklink.
2Waar die Here is, is daar nie plek vir oneerlikheid nie.
Wat Hy doen, is altyd reg en goed.
3Soos ’n vuur wat ’n veld tot as verbrand, vernietig Hy elkeen wat Hom probeer teëgaan.
4As sy weerlig slaan, staan die aarde in verwondering en vrees in die helder lig.
5As die Here, wat oor hierdie wêreld heers, verskyn, smelt berge weg soos botter in die warm son.
6Uit die hemel kom die boodskap dat wat die Here doen, reg is,
en dat almal en alles sal sien hoe groot en belangrik Hy is.
7Die mense wat afgode aanbid, sal hulle kop in skaamte moet laat sak.
Elkeen wat ’n afgod sy god maak, sal met ’n rooi gesig staan.
Al hierdie gode sal voor die Here neerval, want Hy is die Here wat oor alles heers.
8Elkeen wat aan die Here behoort, juig uitbundig oor die goeie nuus dat U in hierdie wêreld laat gebeur wat reg is, o Here.
9Niemand is groter as U nie. Geen afgod kan u plek vat nie.
10As jy vir die Here lief is, hardloop dan weg van alles waarvan Hy nie hou nie.
Hy sal jou oppas en beskerm teen enigiemand wat jou wil seermaak.
11As jy Hom gelukkig maak, sal sy geluk jou soos lig omvou.
As jy aan Hom behoort, sal jou hart van vreugde oorloop.
12Laat God se kinders van geluk oorloop omdat hulle aan die Here behoort.
Prys en dank die Here vir wie Hy is.

Psalm 127

Vir Salomo. ’n Lied vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien
1As die Here die huis nie bou nie,
bou die bouers ’n bouval wat enige oomblik inmekaar kan stort.
As die Here die stad nie oppas nie,
help dit net mooi niks dat die polisie die strate patrolleer nie.
2Dit is ’n vermorsing van tyd om vroeg op te staan en tot laatnag wakker te bly en jou morsdood te werk.
Die Here gee vir almal wat Hy liefhet al hierdie goeie dinge in hulle slaap.
3Kinders is ’n wonderlike geskenk van die Here,
hulle kom direk uit die Here se hand.
4Kinders in ’n huis maak dit vol vreugde,
dit maak ouerharte vol blydskap!
5Hoe gelukkig is elke pa en ma wie se huis die vrolikheid van kinderstemme ken!
Hulle hoef nooit bang te wees vir hulle vyande nie.

Spreuke 7

Hoe kan ’n vrou ’n man darem nie verlei nie
1Jong vriend, onthou wat ek jou oor die lewe geleer het. Bêre my voorskrifte in jou gemoed. Leef daarvolgens en jy sal gelukkig wees.
2Laat my voorskrifte vir jou so kosbaar soos die lewe self wees. Bind dit soos ’n stukkie lint aan jou vinger. 3Graveer dit so diep in jou hart dat jy dit nooit vergeet nie. 4Maak die spreuke se wysheid so jou eie dat dit vir jou soos ’n geliefde suster sal wees. Word met die spreuke se voorskrifte so bekend soos ’n mens ’n familielid baie goed leer ken. 5Dan sal dit jou teen die los vrou beskerm, teen die soet, verleidelike woorde van ’n vreemde vrou.
6Op ’n dag het ek by my venster gesit. 7Deur die kantgordyn het ek ’n klomp mense gesien. Hulle was dom. Hulle het nie geweet hoe om reg en gelukkig te leef nie. Onder hulle was daar veral een jongman. Hy was nog dommer as die ander. 8Hy het opgetree asof hy nie verstand het nie.
9Net voordat dit heeltemal donker was, het hy ongemerk na die straathoek toe gestap. 10Dit was die plek waar daar altyd ’n vrou gestaan het. Hy wou nog vinnig met die trappe na haar huis opdraf toe die vrou hom sien. ’n Mens kon aan haar kleredrag sien sy is ’n straatvrou. 11Sy was listig, slu en geslepe. Haar huis het te klein vir haar geword. Sy moes net uit. 12In die strate, op die markpleine en elke straathoek het sy mans ingewag.
13Sy het die jongman vriendelik nader geroep. Sy sou alles doen om sy weerstand te breek. Haar strategie was fyn beplan, alles netjies uitgewerk. 14Sy vertel hom hoe sy vroeër die dag by die tempel was. Sy het geoffer en haar geloftes betaal. 15’n Deel van die offervleis moes sy dié aand saam met ’n ander gelowige geniet. En die jongman was net die regte een. Hy moes by haar gaan eet. Hoe kon hy weier? Alles lyk dan so goed en reg.
16Toe die jongman nog weifel, vertel sy hom van haar beddeken. Dit was nou ’n pragstuk. Kleurryk en van Egiptiese linne. Hy moes dit net sien. 17Boonop het sy die bed met lekkerruikgoed bestrooi. Daar is geen uitkomkans nie. Hy moes gaan kyk.
18In die kamer kyk hy angstig rond. Dalk is haar man daar. Sy stel hom egter gerus: “Moenie bang wees nie. 19My man is nie hier nie. 20Hy is ver weg op ’n sakereis en sal nie gou terugkom nie.” 21Hulle praat nog so, toe sy dit reguit sê: “Kom ons neem ons kans waar en slaap saam. Ons kan mekaar se liggame geniet, mekaar liefhê. En daar is geen haas nie. Ons kan tot vroegoggend aanhou.”
22Die jongman het toegegee. Sy het hom oortuig. Haar stroperige woorde het hom verlei. Sonder om ’n oomblik verder te dink, doen hy wat sy sê. Dit is verskriklik. Hy is soos ’n bees wat slagpale toe loop, soos ’n voëltjie wat oopoë in ’n lokval instap. 23Hy kom nie agter dat sy lewe op die spel is nie. Soos die ringe om haar voet word hy stadig maar seker vasgeketting. Soos ’n koeël iemand se liggaam deurboor, so sal hierdie vrou sy lewe vernietig.
24Jong vriend, luister nou mooi na wat ek sê. Neem my woorde ernstig op. 25Moet nooit agter haar aanloop nie. Moet nooit na haar huis toe gaan nie. 26Sy het al baie mans verlei. 27Vandag is hulle spyt daaroor, want haar huis is soos die dood. Daar word jou lewe geheel en al verwoes.
Jong vriend, dit is nie die moeite werd nie.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!