Dag 5: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 5 

Help my om u wil te doen
1Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Psalm van Dawid.
2Luister tog na my woorde, Here,
hoor hoe ek sug.
3Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God,
want tot U bid ek.
4U luister na my stem in die môre, Here,
in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.
5U is nie 'n God wat onreg verdra nie,
die kwaad het by U geen plek nie.
6Hooghartiges durf nie voor U kom nie.
U haat almal wat onreg doen,
7U roei alle leuenaars uit.
Die Here verafsku moordenaars en bedrieërs.
8Maar ek, ek mag deur u groot liefde in u huis ingaan
en in u heilige tempel buig
met die eerbied wat aan U verskuldig is.
9Omdat ek vyande het, Here,
leer my tog wat reg is
en help my om u wil te doen.
10Niks wat hulle sê, is waar nie;
al waaraan hulle dink, is my ondergang;
hulle vlei my,
maar hulle wil my in die graf laat beland.
11Laat hulle daarvoor boet, o God,
laat hulle deur hulle eie planne tot niet gaan.
Dryf hulle weg oor hulle baie sondes,
want hulle is opstandig teen U.
12Maar laat almal wat by U skuil, bly wees,
laat hulle altyd jubel.
U beskerm dié wat u Naam liefhet,
en hulle juig oor U.
13U laat dit goed gaan met die regverdige, Here,
u goedheid beskerm hom soos 'n skild.

Psalm 35

Red my kosbare lewe
1Van Dawid.
Behartig my saak teen dié wat my aankla, Here,
tree op teen my vyande,
2gryp die skilde en kom help my.
3Vat die spies en keer my vervolgers.
Laat ek U hoor sê: “Ek red jou!”
4Laat hulle wat my lewe soek,
die slegste daarvan afkom en beskaamd staan.
Laat hulle wat my ondergang soek,
op die vlug slaan, teleurgestel in hulle verwagting.
5Laat die Engel van die Here hulle jaag soos kaf voor die wind.
6Maak hulle pad donker en glibberig
en laat die Engel van die Here hulle agtervolg,
7want hulle het nie rede gehad om vir my 'n strik te stel
en vir my 'n gat te grawe nie.
8Laat hulle einde skielik kom!
Laat hulle in hulle eie strik beland!
Laat hulle self in die gat val wat hulle gegrawe het!
9Maar ek sal juig in die Here,
ek sal jubel oor die redding wat Hy bring.
10My hele wese sê: “Here, wie is soos U
wat die swakke bevry van dié wat sterker is,
die swakke en die arme van dié wat hom beroof?”
11Dit is kwaadwillige getuies wat teen my optree.
Hulle beskuldig my van dinge waarvan ek niks weet nie.
12Hulle vergeld my kwaad vir goed,
hulle gebruik elke geleentheid om my by te kom.
13En tog, toe húlle siek was,
het ek getreur soos oor 'n sterfgeval:
rouklere aangetrek en myself gekasty deur nie te eet nie.
Ek het sonder ophou vir hulle gebid
14soos vir 'n vriend of 'n broer.
Ek het rondgeloop soos een wat oor sy moeder treur,
krom en in die rou.
15Maar nou dat ek in die moeilikheid is,
is dit vir hulle lekker en span hulle saam teen my.
Sonder dat ek weet waaroor,
skeur hierdie skoorsoekers my uitmekaar
en hulle kry nie end nie.
16Nou dat ek struikel, lag hulle daaroor;
nou kom dreig hulle my.
17Hoe lank, Here, sal U dit duld?
Red my kosbare lewe van die aanslag van hierdie mense
wat my soos leeus bedreig.
18Dan sal ek U in 'n volle vergadering dank
en voor die hele gemeente prys.
19Moenie dat hulle wat sonder rede my vyande is,
hulle verlustig in my leed nie.
Moenie dat dié wat my sonder aanleiding haat,
hulle verlustig in my leed nie.
20Hulle wil nie vrede hê nie,
hulle kom met vals beskuldigings teen vredeliewende mense.
21Hulle rek hulle monde teen my oop
en sê: “Ja, ons het dit self gesien.”
22Maar U het gesien dit is nie so nie, Here.
Moet tog nie swyg nie.
Moenie ver van my af bly nie, Here.
23Tree tog vir my in, my God.
Doen tog iets aan my saak, Here.
24U is regverdig, Here my God,
laat reg aan my geskied,
sodat hulle hulle nie in my leed verlustig nie.
25Moenie dat hulle vir hulleself sê:
“Dis mos wat ons wou gehad het” nie.
Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig” nie.
26Laat almal wat bly is oor my ellende,
teleurgestel word in hulle verwagting
en self in die ellende beland.
Laat oor hulle wat op my neersien,
skande en smaad kom.
27Maar dié wat wil hê ek moet vrygespreek word,
laat hulle juig en bly wees,
laat hulle altyd weer sê:
“Die Here is groot.
Hy sorg dat sy dienaar vrede het.”
28My tong sal nie stil word oor u trou nie,
dag vir dag sal ek U loof.

Psalm 65

U laat die mense juig
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. 'n Lied.
2Aan U, o God, kom 'n lofsang toe in Sion:
geloftes moet betaal word 3aan U wat die gebed verhoor.
Na U toe sal alle mense kom 4om hulle skuld te bely.
Ons sondes het ons ingehaal, maar U maak ons daarvan vry.
5Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies
en laat naderkom om in u tempel te bly.
Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet,
die goeie dinge in u heilige woning.
6In u trou antwoord U ons met kragtige dade,
o God, ons Verlosser,
op wie ook die mense in afgeleë lande
en op verre seë vertrou.
7U is met mag omgewe,
U laat deur u krag die berge vas bly staan;
8U laat die gedruis van die see,
die geraas van die golwe,
die rumoer van die nasies bedaar,
9sodat ook die mense in afgeleë lande
ontsag kry vir die tekens van u mag;
in die ooste en in die weste
laat U die mense juig.
10U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water,
U laat die koring welig staan.
Alles is u werk!
11U maak die ploegvore vol water en die kluite nat,
U laat hulle sag word van die reëns,
U laat alles welig groei.
12U kroon die jaar met u goeie gawes.
Waar U ook gaan, is daar oorvloed!
13Daar is volop weiding in die woestyn;
die bulte juig,
14die velde wemel van die kleinvee,
die vlaktes staan vol koring;
hulle juig en hulle sing.

Psalm 95

Hy is ons God en ons is sy volk
1Kom, laat ons jubel tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind,
2laat ons na Hom toe gaan met lof,
laat ons Hom toejuig met lofsange,
3want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4Die dieptes van die aarde behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
6Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
7Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg.
As julle vandag maar na Hom wou luister:
8“Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa in die woestyn nie,
9waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het.
10Veertig jaar lank het Ek 'n weersin in daardie geslag gehad,
Ek het gesê: ‘Hulle is 'n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11Daarom het Ek in my toorn 'n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.”

Psalm 125

Die Here beskerm sy volk
 
1'n Pelgrimslied.
Dié wat op die Here vertrou,
is soos Sionsberg
wat nie wankel nie
en altyd vas bly staan.
2Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm,
so beskerm die Here sy volk,
nou en vir altyd.
3Oor die grondgebied van die regverdiges
sal 'n goddelose nie die mag kry nie,
sodat die regverdiges nie in misdaad verval nie.
4Here, doen goed aan dié wat goed is,
die opregtes van hart!
5Maar dié wat die verkeerde pad loop,
mag die Here hulle vernietig
saam met dié wat onreg doen.
Mag daar vir Israel vrede wees!

Spreuke 5

1My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer,
luister na my goeie raad.
2Dan sal jy self ook met oorleg kan optree
en met die nodige kennis praat.
3Die slegte vrou se lippe drup van die heuning,
haar tong is gladder as olie,
4maar agterna is alles so bitter soos wildeals;
sy is so gevaarlik soos die skerpste swaard.
5Haar pad is dié van die dood,
elke stap saam met haar bring die ondergang nader.
6Sy hou jou weg van die pad van die lewe af,
sy laat jou dwaal, en jy weet dit nie.
7Luister na my, my seun,
bly by wat ek jou sê:
8Bly weg van haar af,
moenie naby haar huis se deur kom nie
9dat jy nie jou mooiste jare verspil nie,
jou beste jare aan 'n hartelose mens gee nie,
10dat vreemdes hulle nie vol eet
aan die vrug van jou arbeid nie,
dat dit waarvoor jy gewerk het,
nie in die huis van 'n ander beland nie.
11Jy sal lê en kreun as jou einde nader,
met die vleis aan jou liggaam weggevreet,
12en jy sal sê: “Ek het my opvoeding versmaai,
ek het my nie gesteur aan die onderrig nie.
13As ek maar geluister het na my leermeesters
en my ore oopgemaak het toe hulle my geleer het!
14Hier sit ek nou in die grootste ellende
voor die oë van almal.”
15Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met water:
drink die strome uit jou eie fontein.
16Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop,
jou strome water oral heen vloei?
17Hulle is tog net joune,
en jy sal hulle nie met 'n ander wil deel nie.
18Sing die lof van jou eie fontein,
verheug jou oor jou eie vrou,
19so vol liefde, so mooi
soos 'n takbok, soos 'n ribbok.
Geniet voluit van haar liefkosings,
laat dit jou deurentyd bedwelm.
20Waarom sou jy jou laat bedwelm deur 'n slegte vrou, my seun,
waarom sou jy in die arms van 'n ander vrou gaan lê?
21'n Mens se lewe lê oop voor die Here,
elke tree wat jy gee, sien Hy.
22Die oortreding van die goddelose agterhaal hom,
hy draai hom vas in sy sonde.
23Hy sterf deur sy gebrek aan selfbeheersing,
sy dwaasheid het hom op die verkeerde pad gebring.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 5

Luister na my, Here
1Vir die koorleier: Met fluitspel.
’n Dawidspsalm.
2O Here,
luister tog na my gebed;
gee aandag
aan my versugting.
3Luister tog
na my geroep om hulp,
my Koning en my God,
want dis tot U dat ek bid.
4Here,
in die oggend
sal U my stem hoor.
Soggens bring ek my versoeke
vol verwagting na U toe.
5O God,
U verdra geen boosheid nie;
en sonde
vind by U geen tuiste nie.
6Verwaandes
kan nie voor U kom nie;
U haat almal
wat kwaad bewerk.
7U vernietig hulle
wat leuens vertel.
Die Here verafsku
moordenaars en bedrieërs.
8Maar ek kan u huis binnegaan
op grond van u troue liefde;
in u heilige tempel
sal ek met ontsag aanbid.
9Leer my tog wat reg is, Here,
vanweë my vyande,
en u pad,
maak dit voor my reguit.
10Hulle praat nie
die waarheid nie,
en begeer ander se vernietiging.
Hulle keel is ’n ope graf,
hulle tong is pure vleiery.
11O God, verklaar hulle skuldig.
Laat hulle gevang word
deur hulle eie planne.
Jaag hulle weg
oor hulle baie sondes,
want hulle is opstandig
teen U.
12Laat almal wat by U skuil,
bly wees,
laat hulle altyd juig.
Beskerm dié
wat u Naam liefhet
sodat hulle oor U
kan jubel.
13Want U seën die vromes, Here,
u genade beskerm hulle
soos ’n skild.

Psalm 35

As U my red, sal ek U prys
1Van Dawid.
Kla dié aan wat my aankla,
Here.
Val húlle aan wat vir my aanval.
2Vat kleinskild en grootskild.
Maak gereed
en kom tot my redding.
3Neem u spies en werpspies op
teen hulle wat my agtervolg.
Laat ek hoor dat U sê:
“Ek is jou redding!”
4Verneder hulle
wat my lewe soek,
en maak hulle tot skande.
Laat hulle wat kwaad
teen my beplan,
in verwarring omdraai.
5Laat hulle wees
soos kaf voor die wind
wat die engel van die Here
wegblaas.
6Maak hulle pad donker
en glibberig
terwyl die engel van die Here
hulle agtervolg.
7Al het ek hulle
geen kwaad aangedoen nie,
het hulle
vir my ’n strik gestel.
Al het ek hulle nie benadeel nie,
het hulle vir my
’n gat gegrawe.
8Daarom,
laat sy verderf skielik kom:
Laat hy in sy eie strik
gevang word.
Laat hy val in die gat
wat hy gegrawe het.
9Dan sal ek juig in die Here,
ek sal my verheug
oor sy redding.
10My hele wese sal uitroep:
“Here, wie is soos U
wat die hulpelose red
uit die mag van die sterke,
en die armes en behoeftiges
van dié wat roof?”
11Kwaadwillige getuies
staan teen my op.
Hulle vra vir my dinge
waarvan ek niks weet nie.
12Die goeie wat ek doen,
vergoed hulle met boosheid
terwyl ek siek is
van wanhoop.
13Maar toe hulle siek was,
het ek van droefheid
rouklere gedra.
Ek het myself verneder
deur te vas,
maar my gebede
het teruggekom
sonder ’n antwoord.
14Soos ’n vriend of ’n broer
het ek opgetree,
soos een wat treur oor sy moeder,
geboë en in rou.
15Maar nou is hulle bly
wanneer ek struikel.
Hulle kom bymekaar,
en lasteraars
span saam teen my.
Dié wat ek nie eers ken nie,
trek my uitmekaar
sonder ophou.
16Toe ek gestruikel het,
het hulle my gespot,
teen my hulle tande gekners.
17Hoe lank, Here,
sal U net toekyk?
Red my van hulle vernietiging,
beskerm my van hulle wat my lewe
soos leeus bedreig.
18Dan sal ek U dank
in die groot vergadering;
ek sal U prys
voor die groot skare
van mense.
19Moenie toelaat
dat my verraderlike vyande
oor my lekkerkry,
of dat hulle
wat my sonder rede haat,
hulle verlekker
oor my leed nie.
20Hulle praat nie oor vrede nie,
maar bedink vals
beskuldigings
teen onskuldige mense.
21Hulle rek hulle monde oop
teen my
en sê: “Aha! Aha!
Ons het dit met ons eie oë gesien!”
22Here, U het alles gesien.
Moenie stilbly nie!
Here, moenie ver van my af
wees nie.
23Word wakker! Staan op!
Kom tot my verdediging!
Verdedig my saak,
my God en my Here!
24Gee uitspraak oor my
in ooreenstemming met u
regverdigheid,
Here my God.
Moenie dat hulle
oor my lekkerkry nie.
25Moenie dat hulle sê:
“Dis net wat ons wou hê!” nie.
Moenie dat hulle sê:
“Ons het hom vernietig!” nie.
26Mag hulle wat juig
oor my nood,
verneder word
en in skande kom.
Mag hulle
wat op my neersien
met skaamte en oneer
bedek word.
27Laat hulle wat juig
oor my vryspraak,
uitroep van vreugde
en blydskap.
Laat hulle voortdurend sê:
“Groot is die Here
wat Hom verheug
in die vrede van sy dienaar.”
28Ek sal u geregtigheid verkondig,
ek sal U die hele dag lank prys.

Psalm 65

U is die hoorder van gebed
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
’n Lied.
2O God, lof kom U toe in Sion.
Ons geloftes sal ons betaal.
3O Hoorder van gebed,
na U toe sal alle mense kom.
4Wanneer sondige dade
my oorweldig,
vergewe dan tog
my opstandigheid.
5Geseënd is dié
vir wie U uitkies,
hulle wat U laat naderkom
en in u tempel laat woon.
Mag ons oorlaai word
met die goedheid van u huis,
in u heilige tempel.
6God ons verlosser,
U antwoord ons
met magtige dade
en in geregtigheid.
Tot aan die einde van die aarde
en vanaf die verste seë
hoop mense op U.
7Deur u krag
is die berge gevorm;
Uself is met mag omgord.
8U bedaar die gedruis
van die see,
die dreuning van die golwe,
en die rumoer van die nasies.
9Mense in afgeleë plekke
kry ontsag vir u wonders.
Van waar die son opkom
tot waar dit ondergaan,
laat U hulle sing van vreugde.
10U versorg die aarde,
en laat dit reën,
U maak dit ryk en vrugbaar.
Die riviere van God is vol water;
U verskaf graan
soos U bepaal het.
11U vul die leivore met water,
en deurweek die kluite;
U laat hulle sag word van reën
en laat alles welig groei.
12U kroon die jaar
met u goeie gawes;
in u spore volg daar oorvloed.
13Die woestyn word ’n weiland,
die heuwels is oordek
met vreugde.
14Die weivelde wemel
van kleinvee,
en die valleie
is oordek met graan.
Hulle juig en sing van vreugde!

Psalm 95

Kniel voor die groot God
1Kom, laat ons sing
tot eer van die Here!
Laat ons juig
oor die rots van ons redding!
2Laat ons met lofsange
voor Hom kom,
Hom met lofliedere besing,
3want die Here is ’n groot God,
die groot Koning
bo alle gode.
4Die dieptes van die aarde
is in sy hand,
selfs die toppe van die berge
is Syne.
5Die see is Syne;
Hy het dit gemaak.
Sy hande het die droë grond
gevorm.
6Kom, laat ons aanbid
en neerbuig,
en kniel voor die Here
ons Maker,
7Hy is ons God en ons is sy volk,
die skape onder sy sorg.
Ag, dat julle vandag
na Hom sal luister!
8Moenie julle harte verhard
soos destyds by Meriba,
soos by Massa
in die woestyn nie.
9Daar het julle voorouers
My beproef,
My getoets,
al het hulle my werke gesien.
1040 jaar lank
het Ek ’n afkeer gehad
aan hierdie geslag,
en Ek het gesê:
“Dis ’n volk wat ontrou bly.
Hulle ken nie my paaie nie.”
11In my toorn
het Ek ’n eed afgelê:
“Hulle sal my rusplek
nie binnegaan nie.”

Psalm 125

Soos berge rondom
Jerusalem
 
1’n Pelgrimslied.
 
Hulle wat op die Here vertrou,
is soos Sionsberg;
hulle is onbeweeglik
en sal vir altyd bly bestaan.
2Soos daar berge is
rondom Jerusalem,
so is die Here rondom sy volk
nou, en vir altyd.
3Die septer van goddeloses
sal nie bly heers oor die land
wat aan regverdiges gegee is nie,
anders kan ook húlle
in kwaad verval.
4Here, doen goed
aan dié wat goed is,
hulle wat opreg van hart is.
5Maar mag die Here dié verwyder
wat saam met boosdoeners
op verkeerde paaie loop.
Mag daar vir Israel vrede wees.

Spreuke 5

Die gevaarlike vrou
1My seun,
slaan ag op my wysheid.
Dink goed na oor my raad.
2Dan sal jy self
ook goeie oordeel
aan die dag kan lê.
Jy sal met gesag kan praat.
3Die onsedelike vrou
kom met soet woordjies.
Haar tong is gladder as olie.
4Die einde daarvan
is egter so bitter soos gif.
Sy is so gevaarlik
soos ’n tweesnydende swaard.
5Haar pad lei na die dood.
Elke tree saam met haar
is ’n tree nader aan die graf.
6Sy gee niks om
of jy reg lewe nie.
Sy loop met jou ’n koers
wat sy self nie eers weet
waarheen dit gaan nie.
7My seuns, luister na my.
Moenie afdwaal
van my woorde nie.
8Bly ver weg van hierdie vrou.
Kom nie naby haar huis se deur nie.
9Jy gaan jou lewenskrag
aan ander afstaan.
Jy gaan jou beste jare
op ’n hartelose mens vermors.
10Buitelanders
sal die voordeel
van jou besittings geniet.
Jou swaar verdiende inkomste
sal in die huis
van vreemdes beland.
11Jy gaan teen die einde van jou lewe
lê en kreun
wanneer jou liggaam
verteer word.
12Jy gaan jouself verwyt:
“Ek wou nie luister
na vermaning
en my steur
aan teregwysing nie.
13Waarom het ek
nie liewer geluister
na wat my leermeesters
gesê het nie?
Waarom het ek
nie my ore oopgemaak
toe hulle my geleer het nie?
14Amper het ek geheel en al
in slegtigheid verval,
voor die oë
van die hele samelewing.”
15Drink die water uit jou eie put.
Drink by jou eie fontein.
16Moet jou fonteine
in die strate uitloop?
Moet jou water
die pleine oorstroom?
17Hou jou water vir jouself.
Deel dit nie met vreemdelinge nie.
18Laat jou eie fontein
vir jou tot seën wees.
Geniet jou eie jong vrou.
19Sy is die bokkie wat jy liefhet.
Laat haar borste
vir jou vreugde gee.
Laat haar liefkosings
jou die hele tyd oorweldig.
20My seun,
waarom sou jy meegevoer raak
deur ’n slegte vrou?
Waarom sou jy liefde
by ’n vreemde vrou gaan soek?
21Die Here sien alles
wat ’n mens doen.
Hy weeg elke tree wat jy gee.
22Die goddelose mens
se eie sondes
maak van hom ’n gevangene.
Dit draai hom vas
in sy eie sonde.
23Hy kon homself nie beheer nie;
daarom gaan hy sterf.
Hy verdwaal
omdat hy dwase dinge doen.

Die Boodskap

Psalm 5

1Opgedra aan die musiekleier.
’n Lied wat met fluitbegeleiding gespeel kan word. ’n Dawidspsalm
2Hoor tog wat ek sê, Here!
Luister hoe ek my hart teenoor U leegmaak. Ek kreun.
3Red my as ek om hulp kom smeek. U is my God, die Een wat my lewe beheer.
Daarom bid ek tot U.
4U sal hoor as ek soggens vroeg met U praat, Here.
Soggens sal ek my hart oopmaak en wag op u antwoord.
5Here, U hou niks van slegte dinge nie.
Daarom sal iemand wat kwaad doen, nooit by U tuis voel nie.
6Hulle wat dink hulle is beter as ander, sal ongemaklik by U wees.
U hou niks van mense wat lelike dinge aan ander doen nie.
7U bring ’n einde aan oneerlike mense wat lieg en kwaadpraat.
Hulle wat doodmaak en bedrieg, maak U sommer baie kwaad.
8U sal my toelaat om naby U te kom, want ek wil U aanbid.
Omdat U u kinders baie liefhet, mag ek na U toe kom.
Uit eerbied mag ek voor U neerkniel.
9Here, help my om reg te lewe, want mense wat niks van my hou nie, hou my fyn dop.
Help my om op die reguit pad te loop wat U gelukkig maak.
10Mens kan niks glo wat daardie oneerlike mense sê nie.
Hulle is net daarop uit om mense te vernietig.
Hulle praat mooi woordjies, hulle vlei mense,
maar met ’n gladde mond bring hulle ander tot ’n val.
11God, straf hulle daarvoor! Laat hulle hulle skuld dra.
Laat hulle geknoei tot hulle eie val lei.
Jaag hulle weg omdat hulle baie slegte dinge gedoen het.
Hulle wil niks met U te doen hê nie.
12Maar laat almal wat by U kom wegkruip, vol vreugde wees!
Laat hulle sing van blydskap.
Beskerm hulle! Hulle is bly oor U, want hulle is vir U lief.
13Laat hulle wat U liefhet, juig oor dit wat U vir hulle doen.
U gee arms vol geluk vir mense wat U liefhet, Here.
U omring hulle met u liefde.

Psalm 35

Opgedra aan Dawid
1Here, baklei vir my teen hulle wat met my baklei.
Veg teen hulle wat teen my veg. 2Kom help my teen mense wat my aanval.
3Keer daardie mense wat agter my aanloop om my tot ’n val te bring.
Gee my weer nuwe moed! Sê hard en duidelik vir my: “Ek sal jou red.”
Keer daardie spul wat my wil doodmaak. Loop bo-oor hulle.
4Gee dat al die rampe wat vir my beplan is, hulle tref.
Laat hulle skaam kry oor wat hulle aanvang. Laat die mense wat wil hê ek moet val, terugsteier. Laat hulle rooi word van skaamte.
5U is so sterk, u engel kan hulle van die aarde afvee. Hulle sal soos kaf in die wind verdwyn wanneer U die dag ingryp.
6Daar moet vir hulle geen toekoms wees nie. Agtervolg hulle deur u engele.
7Slegte mense wil my sonder rede tot ’n val bring.
Ek het niks aan hulle gedoen nie, maar hulle wil my vernietig.
8Laat ’n ramp hulle skielik tref sonder dat hulle mooi weet wat aan die gang is. Laat die rampe wat hulle vir ander mense beplan, oor hulle kom. Laat hulle self in die gat val wat hulle vir my gegrawe het.
9Ek is baie bly oor wat die Here doen. Ek sal opgewonde jubel omdat Hy my lewe red.
10Alles in my sal uitroep: “Daar is niemand soos die Here nie!
Dis net U wat mense wat swak is in hulle nood red.
U bevry hulle van mense wat baie sterker is as hulle.
U help swak mense uit die kloue van ’n klomp diewe.”
11Die mense wat my wil seermaak, staan reg om leuens oor my te vertel.
Hulle praat kwaad teen my.
Hulle beskuldig my van ’n klomp goed waarvan ek niks weet nie.
12As ek vir hulle goed is, betaal hulle my terug met slegte dinge. Hulle wil my om elke hoek en draai bykom.
13Toe hulle siek was, was ek hartseer oor hulle lyding.
Ek kon selfs nie eet nie. Ek het gevas.
Die hele tyd het ek sonder ophou vir hulle gebid. 14Ek het hulle behandel soos my beste vriend, soos my broer.
Ek het oor hulle gehuil soos ’n mens oor jou ma treur wanneer sy doodgaan. Ek was krom van hartseer.
15Noudat probleme my skielik onderkry, is daardie selfde klomp baie bly.
Hulle span saam teen my.
Almal van hulle het lekker oor my geskinder. Hulle het my verskriklik beledig.
Hulle kry nie end nie.
16Toe ek struikel, het hulle daaroor gelag. Hulle gee niks vir my om nie. Hulle dreig my.
17Here, hoe lank gaan U nog toelaat dat daardie mense my laat swaarkry?
Red my kosbare lewe uit die kloue van daardie spul.
Hulle is soos ’n klomp honger leeus wat hulle prooi wil opeet.
18Dan sal ek U prys as al u kinders weer saam is!
Tussen die menigte gelowiges sal ek U loof!
19Moenie dat ander bly wees as ek swaarkry nie.
Hulle haat my sonder dat ek iets aan hulle gedoen het.
Keer tog dat hulle bly is omdat dit sleg gaan met my.
20Hulle wil nie in vrede met my leef nie. Hulle vertel lelike dinge oor my.
21Hulle beskuldig my van goed wat ek nooit gesê of gedoen het nie.
22Here, U weet tog wat regtig gebeur het!
Moenie die saak net so laat nie! Moenie my alleen los nie, Here!
23Kom verdedig my. Kom op vir my, Here.
U is tog my God. Help my. 24U tree altyd reg op, Here, my God. Tree ook nou regverdig teenoor my op.
Moenie dat hulle dit geniet as ek swaarkry nie.
25Daardie klomp moenie onder mekaar sê: “Goed so, presies net wat ons wou hê, het met hom gebeur” nie.
Hulle moenie spog en sê: “Ons het hom tot ’n val gebring” nie.
26Laat almal wat bly is oor my probleme, tweede kom.
Laat hulle self in die ellende beland. Laat hulle skaam en verleë staan.
27Maak almal wat my wil help se lewe vol vreugde. Laat hulle juig.
Hulle moet aanmekaar sê: “Die Here is baie groot!
Hy sorg dat elkeen wat Hom dien in vrede leef.”
28Ek sal ook vir almal van u regverdigheid vertel, Here.
Ek sal U heeltyd prys omdat U goed is vir ons.

Psalm 65

1Vir die musiekleier. ’n Dawidspsalm om te sing
2God, U verdien dat ons U prys.
U verdien dat ons ons beloftes aan U nakom.
3Want U luister na elke gebed.
Alle mense moet na U toe kom met hulle sonde.
4Ons het verkeerde dinge gedoen. En nou het dit ons ingehaal.
Maar U sal ons vrymaak daarvan.
5Die gelukkigste mens op aarde is daardie persoon vir wie U uitkies en toelaat om by U te kom.
U bring hom na U toe sodat hy saam met U kan lewe.
Ons wil elke dag leef uit die goeie dinge wat U vir ons gee.
6Omdat U getrou is, antwoord U ons en doen groot en wonderlike dinge vir ons.
U help ons as ons bid.
U red ons. Daarom vertrou mense oor die hele aarde op U.
7U krag laat groot berge vasstaan.
Daar is geen einde aan u mag nie.
8U laat die onrustige see weer kalm word.
U maak die groot golwe stil.
U laat die bakleiery onder volke ophou.
9Mense oor die hele aarde wat dit raaksien, besef hulle moet U dien. Want U is baie sterk.
Van die een kant van die aarde tot by sy ander kant maak U mense vol blydskap.
10U kom na hulle toe en gee hulle alles wat hulle nodig het.
U maak die grond vrugbaar.
God, die water wat U gee, is meer as genoeg. Dit bring groot oeste.
Dit is alles wat U doen.
11U maak die hele aarde nat. Die harde grond word gou-gou sag na die reën wat U gee.
Alles wat in die grond geplant word, groei vinnig.
12Omdat U vir ons goed is, gee U vir die boere die beste oeste wat ’n mens kan kry.
Oral waar U ingryp, is daar meer as genoeg om van te leef.
13Selfs in die droogste dele van die land is daar genoeg kos vir die diere.
Die heuwels is so groen dat dit lyk of hulle hulle hande in die lug opsteek van blydskap.
14Al die weivelde is vol vee.
Die laagtes is toe onder koring.
Dis of niks en niemand hulle vreugde kan keer nie.

Psalm 95

1Die Here is ons God en ons is sy mense.
Kom laat ons ons Here eer.
Laat ons lofliedere uit volle bors sing, want Hy het ons gered.
2Laat ons na Hom toe gaan met al die dankies wat uit die diepte van ons hart kom.
In ons mooiste liedere moet ons dit vir Hom sê.
3Want die Here is God; Hy is die sterkste van die sterkstes.
Soos ’n onoorwinbare Heerser staan Hy in die pad van enigiemand wat sy plek wil vat.
4Gaan staan jy op die hoogste berg of in die diepste plek op aarde, dit is die Here s’n. 5Die see het Hy gemaak en soos ’n kunstenaar het Hy die aarde met sy hande gevorm.
6Kom ons buig voor God en erken Hom vir hoe groot Hy regtig is.
Kom ons kniel nederig voor die Heer wat ook vir ons gemaak het.
7Want Hy is ons God en ons is sy mense.
Hy beskerm ons soos ’n herder sy skape versorg en beskerm.
Luister asseblief tog na Hom.
8Ag, luister tog vandag wat Hy vir julle wil sê:
“Moenie soos die ou Israeliete in die woestyn maak wat destyds nie na My wou luister nie.
Hulle het die goeie dinge gesien wat Ek vir hulle gedoen het, maar hulle nogtans nie daaraan gesteur nie.
9Hulle het probeer kanse waag en probeer kyk hoe ver hulle My kon dryf voor Ek my geduld verloor. En tog was hulle die mense wat gesien het wat Ek gedoen het.
10Daardie klomp mense wat so gemaak het, het My 40 jaar lank geïrriteer.
Daarom het Ek gesê: ‘Soos stout kinders wou hulle eenvoudig nie luister nie. Hulle het geweier om te doen wat My gelukkig maak.’
11Toe my geduld op was, het Ek vas besluit: ‘Nooit, ja nooit, sal hulle in rus en vrede saam met My kan wees nie.’”

Psalm 125

Die lied is geskryf vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien
1Iemand wat die Here vertrou, is soos ’n rots wat jy met geen hyskraan of koevoet kan beweeg nie.
Hy staan vas sonder om te beweeg.
2Jerusalem word deur berge omring. Dit beskerm sy inwoners.
Net so bewaar die Here diegene wat Hom vertrou. Hy hou sy oog oor hulle.
3Wees gerus, die Here beskerm die mense wat Hom liefhet.
Slegte mense wat die Here nie dien nie, sal nie God se kinders kan mislei nie.
Hulle sal nie sy kinders kan ompraat om kwaad te doen nie.
4Here, wees goed vir goeie mense. Hulle is opreg.
5God straf mense wat aanhou om verkeerde dinge te doen.
Hulle verdien om saam met kwaaddoeners uitgeroei te word.
Mag die Here sy vrede vir julle gee!

Spreuke 5

Pas op vir die lekker los vrou
1Jong vriend, luister nou baie mooi na my goeie raad. 2Leer uit my ervaring sodat jy reg kan leef en met insig kan praat.
3Pas op vir die los vrou. Aan die begin is haar woorde so soet en aanloklik soos heuning. Met haar mooiklinkende praatjies wil sy jou vir haarself inpalm. 4Na die opwinding bly daar egter net ’n bitter nasmaak oor. Haar bitter woorde is dan erger as gal, soos ’n skerp swaard wat jou wil verwoes. 5Haar manier van leef maak mense geestelik dood. Sy vernietig jongmans se lewe. 6Sy steur haar glad nie aan ’n gelukkige lewenstyl nie. Sy leef ’n lewe van totale ondergang.
7Jong vriend, luister na my woorde. Doen dit. 8Bly weg van so ’n vrou af. Moenie eens naby haar huis se deur kom nie, 9sodat jy tog nie jou mooi liggaam vir ’n ander een gee wat dit nie eens waardeer nie, sodat jy nie jou eer by iemand verloor wat jou nie eens respekteer nie, 10sodat vreemdes nie jou geld, waarvoor jy hard gewerk het, uitmors nie.
11As jy nie versigtig leef nie, kan jy sommer ernstig siek word. Op jou sterfbed sal jy dan van die pyn skreeu omdat jou liggaam deur siekte vernietig word. 12Jy sal ook hartseer wees. Jy sal besef dit tref jou omdat jy nie na goeie raad wou luister nie. 13Jy sal jouself begin verwyt omdat jy nie na jou ouers en baie ander wyse mense geluister het nie. 14Jou gedrag maak dat jy dan voor die hele gemeente en al die gelowiges verneder word.
15Wees eerder lief vir jou eie vrou. Drink van jou eie put en van jou eie fonteinwater. Laat joune joune alleen wees. 16-17Moet dit nooit met vreemdes deel nie. Geniet die vrou van jou jeug. Laat sy jou verkwik, haar liefde jou vol vreugde maak. 18-20En as jy soveel vreugde by jou eie vrou geniet, waarom nog die omhelsing van ’n los vrou soek? Wat kan sy jou gee wat jou eie vrou nie kan nie?
21Elkeen van ons se lewe lê oop voor die Here. Hy ken ons doen en late. 22Verkeerde dade vang ’n mens in aaklige strikke vas. Sonde is soos ’n tou wat jou so vasbind dat jy nooit weer los kan kom nie. 23Uiteindelik sterf jy omdat jy sonder dissipline geleef het. Jou dwase optrede sal jou jou lewe kos.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!