Dag 30: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 30

Vir altyd sal ek U loof
1'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die tempel. Van Dawid.
2Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered
en my vyande nie laat bly wees oor my nie.
3Here my God, ek het na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my gered van die doderyk,
my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.
5Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien,
loof sy heilige Naam!
6Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik,
maar sy goedheid lewenslank.
Gisteraand was daar nog trane
en vanmĂŽre lag ek al weer.
7Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesĂȘ:
“Niks sal my ooit laat wankel nie.”
8Deur u goedheid het U my op 'n veilige berg laat staan, Here.
Maar toe U U aan my onttrek het,
het ek baie bang geword.
9Ek het na U geroep, Here.
Ek het U om genade gesmeek:
10“Watter voordeel is daar in my ondergang
as ek die graf moet ingaan?
Kan stof U loof?
Kan dit u trou verkondig?
11Luister, Here, en wees my genadig!
Help my, Here!”
12Ek was in die rou,
maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek
en vir my feesklere aangetrek.
13Daarom sal ek sing tot u eer;
ek sal nie stilbly nie.
Here my God, vir altyd sal ek U loof!

Psalm 60

Help ons tog teen die vyand
1Vir die koorleier: op die wysie van “Die lelie”. 'n Getuienis. 'n Gedig van Dawid, vir onderwys bedoel, 2na aanleiding van sy geveg teen die ArameĂ«rs van MesopotamiĂ« en die ArameĂ«rs van Soba toe Joab twaalf duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.
3U het ons verstoot, o God,
ons uitmekaar geskeur.
U was kwaad vir ons.
Laat dit tog weer met ons goed gaan.
4U het die land laat bewe en dit oopgekloof.
Genees tog die wonde, want ons gaan tot niet.
5U het 'n ramp oor u volk gebring,
U het ons wyn laat drink wat ons laat steier het.
6Trek tog u dienaars saam onder u vaandel
dat hulle veilig kan wees teen die boog van die vyand. Sela
7Red ons deur u groot mag, en help ons,
sodat hulle vir wie U liefhet, gered kan word.
8God het in sy heilige woning gesĂȘ:
“As oorwinnaar sal Ek Sigem verdeel
en die Sukkotlaagte uitdeel!
9Aan My behoort Gilead, aan My behoort Manasse!
Efraim is my vernaamste vesting,
Juda my koninklike gebied.
10Moab is tot my beskikking,
Edom neem Ek in besit,
oor Filistea juig Ek as oorwinnaar.”
11Wie sal ons na Edom toe lei,
ons bring na sy versterkte stad?
12U het ons verstoot, o God,
U trek nie saam met ons leërs uit nie, o God!
13Help U ons tog teen die vyand,
want die hulp van mense – dit is niks.
14Met God aan ons kant sal ons oorwin,
Hy self sal ons vyande vertrap.

Psalm 90

Van ewigheid tot ewigheid is U God
1'n Gebed van Moses, die man van God.
Here, U was vir ons 'n toevlug
van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore is,
voordat U die wĂȘreld voortgebring het,
ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!
3U laat die mens sterwe:
U sĂȘ net: “Word weer stof!”
4Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is,
soos een enkele wagbeurt in die nag.
5U maak 'n einde aan 'n mens,
hy gaan die doodslaap in.
Hy is soos gras wat in die mĂŽre afgesny word:
6in die mĂŽre is dit nog groen, maar dit word afgesny
en teen die aand is dit verlep en dit verdroog.
7Ons vergaan onder u toorn,
ons gaan te gronde onder u gramskap.
8U sien ons oortredinge raak,
U bring die sondes wat ons wou wegsteek, aan die lig.
9Onder u toorn vlieg ons dae
en skiet ons jare verby soos 'n gedagte.
10Ons lewe maar sewentig jaar,
of, as ons baie sterk is, tagtig,
en dié is vol swaarkry en leed.
Dit is gou verby,
ons vlieg na ons einde toe.
11Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars?
Wie ken u gramskap beter?
12Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid bekom.
13Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom?
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees.
15Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het,
soveel jare as dié waarin ons gely het,
gee ons soveel jare van blydskap.
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.

Psalm 120

Ek het vrede begeer
1'n Pelgrimslied.
In my nood het ek na die Here geroep
en Hy het my gebed verhoor.
2Red my uit die mag van leuenaars, Here,
uit die mag van bedrieërs.
3Wat sal God aan jou doen, jou bedrieër?
Hoe sal Hy teen jou optree?
4Hy sal jou tref met die skerp pyle van 'n krygsman,
met gloeiende kole.
5Hoe ellendig was dit toe ek as vreemdeling in Mesek gewoon het
en tussen die inwoners van Kedar gebly het!
6Te lank moes ek woon by mense wat vrede haat.
7Ek het vrede begeer,
maar sodra ek iets gesĂȘ het, was hulle op oorlog uit!

Psalm 150

Laat alles wat asemhaal, die Here prys
1Prys die Here!
Prys God in sy heiligdom,
prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf!
2Prys Hom oor sy kragtige dade,
prys Hom in sy magtige grootheid!
3Prys Hom met die ramshoring,
prys Hom met harp en lier!
4Prys Hom met tamboeryn en koordanse,
prys Hom met snaarinstrumente en fluite!
5Prys Hom met simbale,
prys Hom met galmende simbale!
6Laat alles wat asemhaal, die Here prys!
Prys die Here!

Spreuke 30

1Die woorde van Agur seun van Jake. 'n Belangrike uitspraak.
Die man het vir ItiĂ«l gesĂȘ, vir ItiĂ«l en vir Ukal:
2Ek is meer dier as mens,
ek het nie die verstand van 'n mens nie.
3Ek het nie wysheid geleer nie,
ek ken nie die heilige God nie.
4Wie het na die hemel toe opgegaan en weer afgekom?
Wie het die wind in sy twee hande gevat?
Wie het die water in 'n doek toegedraai?
Wie het die grense van die aarde vasgestel?
Wat is sy naam en wat is sy seun se naam, as jy dit weet?
5Elke belofte van God is betroubaar;
Hy beskerm dié wat by Hom skuil.
6Moet niks byvoeg by wat Hy gesĂȘ het nie;
Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as 'n leuenaar.
7Net twee dinge vra ek van U;
moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf:
8moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie;
moet my nie arm maak of ryk nie,
gee my net die kos wat ek nodig het,
9sodat ek nie te veel het en U verloën
en sĂȘ: “Wie is die Here?” nie,
en sodat ek nie arm word en steel
en my God se Naam oneer aandoen nie.
10Moenie 'n slaaf by sy eienaar beskinder nie;
dalk vervloek die slaaf jou en moet jy die gevolge dra.
11Daar is 'n soort mens wat sy vader vervloek
en vir sy moeder nie 'n goeie woord het nie,
12'n soort mens wat homself as rein beskou,
maar van wie die vuilheid nie afgewas is nie,
13'n soort mens wat vol hoogmoed,
vol eiewaan is,
14'n soort mens wat koelbloedig en wreed is in sy hebsug
en wat teer op die hulpeloses en armes in die land.
15Die bloedsuier het twee dogters, hulle is “Gee!” en “Gee!”
Daar is drie, nee, vier wat nooit genoeg kry nie,
wat nooit sĂȘ: “Genoeg!” nie:
16die doderyk,
die onvervulde begeerte om moeder te word,
grond wat nie deurnat is nie
en 'n vuur wat nooit sĂȘ “Genoeg!” nie.
17Die oë van 'n man wat met sy vader spot
en vir wie dit benede hom is om sy moeder te gehoorsaam,
sal uitgepik word deur die kraaie,
opgevreet word deur die roofvoëls.
18Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is,
wat ek nie verstaan nie:
19hoe 'n aasvoël in die lug bly,
hoe 'n slang teen 'n rots op seil,
hoe 'n skip op die diepsee vaar
en hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk.
20Die ontroue vrou het haar eie manier:
sy eet en vee haar mond af en sĂȘ:
“Ek het niks verkeerds gedoen nie.”
21Daar is drie, nee, vier wat die lewe ondraaglik maak,
wat onuitstaanbaar is:
22'n slaaf nadat hy koning geword het,
'n ongemanierde sot nadat hy hom vol geëet het,
23'n vrou wat eers nie 'n man kon kry nie en toe tĂłg getroud is,
en 'n slavin nadat sy haar eienares se plek ingeneem het.
24Daar is vier goed in die wĂȘreld wat klein is
maar buitengewone wysheid het:
25miere is nie sterk nie
en tog sit hulle in die somer vir hulle kos weg;
26dassies het nie veel krag nie
en tog maak hulle hulle tuis teen die kranse;
27sprinkane het nie 'n koning nie
en tog trek die hele swerm in formasie;
28'n geitjie kan jy met die hand vang
en tog kry jy hom in koninklike paleise.
29Daar is drie, nee, vier wat statig stap,
wat 'n statige houding het:
30'n leeu, die magtigste van al die diere,
wat vir niks stuit nie;
31'n spoghaan;
'n bokram;
en 'n koning met sy leër by hom.
32As jy verwaand opgetree en jou aangestel het,
of as jy slegte bedoelings het, hou op daarmee.
33As jy melk karring, kom daar botter;
as jy iemand op die neus slaan, kom daar bloed uit;
as jy mense kwaad maak, kom daar rusie.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 30

Droefheid verander in
vreugde
1’n Dawidspsalm. ’n Lied vir die
inwyding van die tempel.
2Ek sal u lof verkondig, Here,
want U het my gered.
U het my vyande verhinder
om bly te wees oor my.
3Here my God,
ek het na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4Here,
U het my gered
van die doderyk,
U het verhoed
dat ek saam met ander wegsak
in die graf.
5Sing tot eer van die Here,
julle wat getrou is!
Loof sy heilige Naam.
6Sy toorn
duur net ’n oomblik,
maar sy genade
is lewenslank!
In die nag
vloei die trane,
maar in die oggend
is daar vreugde.
7Toe ek voorspoedig was,
het ek gesĂȘ:
“Niks sal my ooit beweeg nie!”
8U goedheid, Here,
was vir my
soos ’n stewige berg.
Maar toe U van my af wegdraai,
was ek verskrik.
9Ek het na U geroep, Here.
Ek het by U, Here, gepleit
om genade:
10“Wat sal dit U baat
as ek sterf,
as ek wegsak in die graf?
Kan my stof U loof
in die doderyk?
Kan my stof u trou
daar verkondig?
11Luister, Here,
en wees my genadig.
Help my tog, Here!”
12U het my droefheid verander
in ’n dans van vreugde.
U het my rouklere weggeneem
en my met vreugde geklee.
13Daarom sal ek sing tot u eer
en nie swyg nie.
Here my God,
ek sal U dank vir altyd.

Psalm 60

God is die Oorwinnaar
1Vir die koorleier: Op die wysie van “Die
lelie”. ’n Getuienis. ’n Gedig van Dawid, bedoel vir onderwysing 2met verwysing na sy geveg teen die ArameĂ«rs van
Mesopotamië en die Arameërs van Sob,
toe Joab teruggekeer het en 12 000
Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.
3U het ons verstoot, o God,
ons verdediging afgebreek.
U was vir ons kwaad;
herstel tog u guns oor ons.
4U het ons land geskud
en dit oopgeskeur.
Heel tog die krake,
want dit stort ineen.
5U het u volk
laat swaarkry,
ons wyn laat drink
wat ons laat slinger.
6Vir dié wat U dien,
het U ’n vaandel gehys,
’n versamelplek
teen die boogskutters.
Sela
7Red ons met u krag en help ons
sodat U u geliefde volk kan red.
8In sy heilige woonplek
het God gesĂȘ:
“As oorwinnaar
sal Ek Sigem verdeel
en die vallei van Sukkot uitmeet.
9Gilead is Myne,
ook Manasse behoort aan My.
Efraim sal my krygsmanne
voortbring
en Juda sal my konings oplewer.
10Moab sal my dienaar word
en Edom sal my slaaf wees.
Oor Filistea juig Ek
as oorwinnaar.”
11Wie sal my lei
na die versterkte stad?
Wie sal my na Edom toe bring?
12Het U ons verwerp, o God?
Sal U, o God,
saam met ons leërs opruk?
13Help ons tog
teen ons vyande,
want menslike hulp
is waardeloos.
14Met God se hulp
sal ons seëvier,
want Hy sal ons vyande vertrap.

Psalm 90

BOEK VIER (Psalm 90-106)
Die ewige Here en sterflike
mens
1’n Gebed van Moses, man van God.
Here, U was ons toevlug
van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore is
en U die wĂȘreld
voortgebring het,
van ewigheid tot ewigheid,
is U God.
3U laat mense
weer terugkeer tot stof,
en sĂȘ:
“Keer terug, mensekinders!”
4Vir U is duisend jaar
soos gister wat verbygaan,
soos ’n nagwaak
wat gou verby is!
5U vee mense weg
soos drome wat verdwyn,
soos gras
wat in die oggend opkom:
6Soggens skiet dit op en groei,
in die aand verdroog dit
en verwelk.
7Inderdaad, ons kwyn weg
onder u toorn;
ons is oorweldig
deur u woede.
8Ons sondes is oop en bloot
voor U,
ons geheime sondes
word bekend
in die lig van u teenwoordigheid.
9Al ons dae gaan verby
onder u toorn,
ons eindig ons lewe soos ’n sug.
10Die getal van ons jare
kan 70 wees,
of as ons sterk is, 80.
Maar selfs die beste daarvan
is vol swaarkry en verdriet.
Die lewe is gou verby,
en ons bestaan nie meer nie.
11Wie ken die krag van u toorn?
Wie ken die vrees
van u woede?
12Leer ons ons dae sĂł gebruik
dat ons wysheid kan bekom.
13Kom terug, Here!
Hoe lank gaan U nog uitstel?
Ontferm U tog oor u dienaars!
14Vul ons met u genade
in die oggend,
dan sing ons van vreugde
al ons dae.
15Gee ons vreugde
na al ons lyding,
na al die jare van onheil
wat ons beleef het.
16Laat al u dienaars
u werke sien,
en hulle kinders u heerlikheid.
17En mag die Here ons God
sy goedheid aan ons bewys,
en die werk van ons hande
bevestig.
Ja, bevestig die werk
van ons hande!

Psalm 120

Red my van misleiding
1’n Pelgrimslied.
In my nood
het ek na die Here geroep
en Hy het my gebed verhoor.
2Here, red my
van lippe wat lieg,
en van ’n tong wat mislei.
3Wat sal Hy met jou doen?
Hoe sal Hy jou straf vermeerder,
lasterlike tong?
4Hy sal toeslaan
met skerp pyle van ’n soldaat,
met gloeiende kole.
5Dit was ellendig vir my
om as vreemdeling
in Mesek te woon,
en saam te bly
met die tentbewoners
van Kedar.
6Ek het te lank gewoon
tussen mense wat vrede haat.
7Ek begeer vrede,
maar wanneer ek praat,
soek hulle oorlog.

Psalm 150

Loof Hom met
musiekinstrumente
1Loof die Here!
Loof God
in sy heiligdom!
Loof Hom
onder sy magtige uitspansel!
2Loof Hom vir sy magtige dade.
Loof Hom
vir sy eindelose grootheid.
3Loof Hom
met die ramshoring.
Loof Hom met lier en harp!
4Loof Hom
met tamboeryn en koordanse.
Loof Hom
met snaarinstrumente
en fluite!
5Loof Hom met die klank
van simbale.
Loof Hom
met galmende simbale.
6Laat alles wat lewe,
die Here loof!
Loof die Here!

Spreuke 30

1Die woorde van Agur seun van
Jake. ’n Uitspraak.
Die man het vir ItiĂ«l gesĂȘ,
vir Itiël en vir Ukal:
2Ek is te onkundig
om ’n mens te wees.
Ek het nie eens die verstand
van ’n mens nie.
3Ek het nie wysheid
aangeleer nie.
Ek ken nie die heilige God nie.
4Wie kan na die hemel toe gaan
en van daar af ondertoe kom?
Wie kan die wind
in sy twee hande vashou?
Wie kan die waters
in sy jas toedraai?
Wie het die wye wĂȘreld gemaak?
Wat is sy naam?
En die naam van sy seun?
SĂȘ tog as jy dit weet!
5Elke woord van God
is getoets.
Hy beskerm elkeen
wat beskerming
by Hom kom soek.
6Moenie iets byvoeg
by wat Hy gesĂȘ het nie.
Hy sal jou straf.
Jy sal leuenaar genoem word.
7Twee dinge wil ek van U vra.
Moenie dit weier
solank ek leef nie.
8In die eerste plek,
keer tog dat ek lieg.
In die tweede plek,
laat my nie arm of ryk
wees nie.
Gee asseblief vir my
net dit wat nodig is.
9As ek te veel het,
sal ek U verloën
en vra: “Nou wie is die Here?”
As ek te arm is, sal ek steel
en my God se Naam beswadder.
10Moet nooit ’n slaaf
vals beskuldig
by sy eienaar nie.
Hy sal jou vervloek
en dan moet jy
die gelag betaal.
11Party mense vervloek
hulle pa
en weier
om hulle ma te seën.
12Dis mense wat dink
hulle is foutloos,
maar die vuil kan nooit
van hulle afgewas word nie.
13Hulle is vol hoogmoed
en vol van hulleself.
14Hulle het tande soos swaarde
en slagtande soos messe.
Hulle teer op die hulpeloses
en die armes onder mense.
15Die bloedsuier
het twee dogters.
Die een se naam is “Gee!”
en die ander s’n ook “Gee!”.
Daar is drie dinge,
nee, eintlik vier,
wat nooit tevrede is nie:
16die doderyk,
die onvervulde begeerte
om ma te word,
grond wat uitgedor is,
’n vuur wat alles wil verteer.
17Die oĂ« van ’n man
wat spot met sy pa,
en hy wat ongehoorsaam is
aan sy ma –
die kraaie in die droë lope
sal sy oë uitpik;
en roofvoëls sal hom opvreet.
18Daar is drie dinge
wat vir my te verbasend is,
nee, eintlik is daar vier
wat ek glad nie kan verstaan nie:
19hoe ’n arend
in die lug kan bly,
hoe ’n slang
teen ’n rots kan uitseil,
hoe ’n skip
op die see kan vaar
en hoe ’n man
die hart van ’n meisie wen.
20Net so verbasend is dit
wanneer ’n wellustige vrou
haar seksuele sin kry,
haar mond afvee
en dan kan sĂȘ:
“Ek het niks verkeerds
gedoen nie.”
21Daar is drie,
nee, eintlik vier dinge
wat die lewe op aarde
ondraaglik maak:
22’n slaaf
wat koning geword het,
’n dwaas
wat hom vol geëet het,
23’n vrou
wat nie ’n man kon kry nie
en toe tog getrou het,
en ’n bediende
wat by haar eienares
oorgeneem het.
24Daar is vier goed op aarde
wat klein is,
maar uitsonderlik wys:
25miere
wat nie sterk is nie,
maar tog reeds weet
om in die somer kos weg te sit;
26dassies
wat nie baie krag het nie,
maar tog tussen die rotse bly;
27sprinkane
wat nie ’n koning het nie,
en tog in gelid beweeg;
28geitjies
wat jy met die hande vang,
maar tog
in paleise van konings bly.
29Daar is drie, nee, eintlik vier
wat pronkerig kan beweeg:
30’n leeu, die koning van die diere,
wat vir niks uitdraai nie;
31’n oorlogsperd;
’n bokram;
’n koning omring
deur sy leër.
32As jy dom opgetree het
deur jou aan te matig
of slegte dinge beplan het,
sit dan jou hand voor jou mond.
33Melk wat gekarring word,
maak botter.
’n Hou op die neus
laat die bloed loop.
As jy mense kwaad maak,
gaan daar rusie kom.

Die Boodskap

Psalm 30

1’n Lied toe die tempel ingewy is. Opgedra aan Dawid
2Here, ek sal u Naam prys, want U het my gered.
U het my vyande gekeer om met my te spot.
3Here, my God, ek het gebid dat U my moet help.
Toe het U my gesond gemaak.
4Here, U het my uit die dood teruggeruk na die lewe toe.
Ek het nie doodgegaan nie. U het my weer lewendig gemaak.
5Sing lofliedere om die Here se Naam groot te maak.
Julle almal wat Hom dien, prys sy Naam!
Dink met respek na oor alles wat Hy doen.
Hy is heeltemal anders as mense.
6As Hy kwaad word, is dit net vir ’n paar sekondes. Maar Hy is lewenslank goed vir ons.
Kyk maar: ons het deur die nag gehuil. Maar vanmĂŽre lag ons van vreugde. Dis net die Here wat so iets laat gebeur.
7Toe dit nog met my goed gegaan het, het ek maklik gepraat.
Ek het gesĂȘ: “Niks sal ooit met my verkeerd loop nie.”
8U was vir my goed en U het my beskerm, Here. Maar toe het U van my af weggekyk.
Eers was daar net ’n doodse stilte van u kant af.
Ek het gebewe, so bang was ek.
9Ek het ernstig tot U gebid, Here. Ek het gevra dat U tog weer vir my sal goed wees.
10Ek het vir U gesĂȘ: “Wat help dit U as ek doodgaan?
Kan iemand wat dood is, U prys?
’n Dooie kan tog nie vertel hoe goed U is nie.
11Help my, Here. Maak u hart vir my groot oop. Wees weer goed vir my.”
12Ek was baie hartseer, maar U het my lewe met blydskap volgemaak.
Nou huil ek nie meer nie.
Ek spring in die lug van vreugde.
U het my ’n groot eer aangedoen. Ek vier fees.
13Daarom sal ek lofliedere vir U sing.
Ek sal nie stilbly nie.
Here, my God, ek sal nooit ophou om U te prys nie.

Psalm 60

1-2Aan die musiekleier. Op die wysie van “’n Lotusblom”. ’n Dawidsgedig wat mense iets wil leer. Na Dawid se stryd met die ArameĂ«rs van MesopotamiĂ« en Soba. Joab, Dawid se leĂ«rhoof, het teruggekom en twaalf duisend Edomiete in die Soutdal verslaan
3God, U het ons van U af weggestoot!
U het ons in stukke geskeur toe U baie kwaad vir ons was.
Maak asseblief weer soos voorheen die lewe vir ons mooi.
4U het die hele wĂȘreld rondom ons uitmekaargeskud.
U het ons hele lewe uitmekaar laat val.
Wil U nie al die stukkende dele weer bymekaarsit nie? Maak ons weer heel. Ons is moedeloos.
5U het u kinders die harde kant van die lewe laat sien.
Ons was soos dronk mense wat rondgeslinger het.
6U beskerm almal wat by U kom wegkruip.
U spaar almal wat U dien se lewe. U beskerm hulle teen hulle vyande.
7Red nou al u kinders met u groot krag. U het ons lief. Red ons!
8Daar uit die plek waar Hy aanbid word, het God vir sy kinders gesĂȘ:
“Daar is baie plekke in die land wat Ek vir julle sal gee.
9Die hele land is Myne.
Ek het vir julle elkeen plek gemaak.
In Juda se gebied bly die koning.
10Ook die gebiede rondom julle is Myne om daarmee te maak wat Ek wil.
Ek het mag oor julle bure, Ek regeer oor hulle.”
11Die Here se kinders het gesĂȘ: Daar is niemand wat ons kan help om ons vyande te verslaan nie. Hulle bly in sterk stede.
12God, U het ons van U af weggestoot.
God, U lei en beskerm ons soldate nie meer nie.
13Help ons teen ons vyande.
Om op mense te vertrou help ons nie.
14As die Here ons help, is ons aan die wenkant.
Hy sal met ons vyande afreken.

Psalm 90

’n Gebed wat opgedra is aan Moses, die groot man van God
1Here, in die verlede het U ons en ons ouers beskerm. So was dit nog altyd.
2Nog voordat die berge daar was en voordat U die wĂȘreld gemaak het,
ja, van altyd en altyd af is U die ware God.
3U laat toe dat die mens doodgaan.
U sĂȘ: “Mens, word weer stof waaruit jy gemaak is.” En so keer die mens terug na die grond toe waaruit U hom gemaak het.
Die mens se lewe gaan baie gou verby.
4In die Here se oĂ« word tyd nie met ’n horlosie gemeet of volgens die almanak bepaal nie, want 1 000 jaar is vir U presies dieselfde as een dag.
5Die lewe is kort. U vat die lewe terug.
Dit gaan so vinnig verby soos een dag se werk vinnig agter die rug is.
Die een jaar na die ander laat U soos water wegspoel.
Dit gaan so gou verby soos tyd as ’n mens slaap.
Die lewe is soos gras.
6In die mĂŽre sien jy nuwe grassies opkom; dit is groen en vol lewe, maar teen die aand se kant het dit uitgedroog. Dan moet jy dit afsny.
7U woede bring ’n vinnige einde aan ons lewe.
Ons is baie bang vir u woede, 8want U weet van al ons slegte dade.
Selfs die verkeerde dinge wat ons vir U probeer wegsteek, is oop en bloot voor U.
9Elke dag van ons lewe gaan vinnig verby as U vir ons kwaad is.
Die lewe skiet so vinnig soos ’n gedagte by ons verby.
10Die meeste van ons word maar so 70 jaar oud.
Mense wat sterker is, kan dalk nog 80 haal. Maar die lewe loop hand aan hand met swaarkry en hartseer.
En dit gaan so bitter gou verby.
Die dood kom nog vinniger as wat ons dink.
11Here, ons het ervaar hoe kwaad U vir ons kan word.
Wie weet beter as ons hoe groot U woede is.
Ons dien U nie soos U regtig verdien nie. Ons skiet ver te kort.
12Daarom vra ons: Help ons om U te dien en om gelukkig te lewe. Maak ons slim sodat ons elke dag sal gebruik om reg te doen.
13Here, hoe lank gaan U nog kwaad bly? Wanneer kom help U ons?
Omvou almal wat U dien met u liefde! 14Gee ons elke dag arms vol van u groot liefde!
Dan sal ons vir die res van ons lewe juig en bly wees.
15Gee vir ons net soveel blydskap as die swaarkry wat ons gehad het.
16Laat almal wat U dien, raaksien wat U doen.
Wys vir ons wat ’n vol en gelukkige lewe U gee, ook vir ons kinders.
17Ons bid dat die Here ons God vir ons baie goed sal wees.
Maak al ons planne voorspoedig.
Gee sukses op alles wat ons begin doen het.

Psalm 120

Die lied is geskryf vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien
1Toe ek in baie groot moeilikheid was, het ek tot die Here gebid.
Hy het na my geluister en my gehelp.
2Here, beskerm my asseblief teen mense wat lieg en bedrieg.
3Bedrieërs, as julle maar weet wat die Here aan julle gaan doen.
4Julle sal voel soos iemand wat met ’n klomp pyle geskiet is.
Dit sal voel of julle op ’n klomp brandende kole lĂȘ.
5Dit is vir my baie swaar om tussen mense te bly wat niks van my hou nie.
Hulle behandel my soos ’n vloerlap.
Dit voel of niemand my wil hĂȘ nie en of ek niks mag doen nie.
6Ek kan dit nie meer verdra om tussen mense te wees wat net wil baklei nie.
7Vrede is vir my baie belangrik.
As ek egter daaroor begin praat, wil hulle net stry en baklei.

Psalm 150

1Kom prys die Here.
Prys God. Aanbid Hom in sy woonplek op aarde, want Hy is heilig. Loof Hom.
Hy is so groot, die wye hemelruim is net ’n stukkie van sy blyplek.
2Prys Hom omdat Hy so sterk is.
Loof Hom, want sy grootheid kan jy op geen manier meet nie.
3Prys Hom met alle musiekinstrumente.
Loof Hom met trompette, kitare en viole.
4Prys Hom met ’n instrument of deur te sing en te dans.
Loof Hom deur snare te tokkel en ’n fluit te blaas.
5Simbale se klanke roep lof aan die Here uit. Loof Hom deur die suiwer klanke.
6Elkeen wat asemhaal, luister nou: Loof die Here.
Kom prys die Here!

Spreuke 30

Die wyse woorde van Agur
1Die woorde van Agur, die seun van Jake, van Massa. Dit is belangrike woorde aan Itiël en Ukal.
2Ek is dom. Ek weet net mooi niks nie. 3Ek het nooit gaan leer nie. Van die Allerheiligste weet ek te min.
4Wie kan die Here deurgrond? Wie het al hemel toe gegaan en teruggekom? Dit is onmoontlik om Hom volledig te ken. Wie het al die wind met sy hande teruggehou? Wie kan al die waters van die see met sy klere opskep? Wie ken die afmetings van die aarde? As jy so ’n persoon ken, sĂȘ my wat sy naam is. Vertel my ook wat sy seun se naam is.
5Elke woord van die Here is waar. Jy kan daarop reken. Wie by Hom wegkruip, is veilig. Hy beskerm elkeen. 6Moenie die Here se woorde verdraai of verkeerd uitlĂȘ nie. Hy sal jou straf en die mense sal nie meer na jou luister nie.
7Here, daar is twee dinge wat ek van U vra. Twee dinge wat ek graag in hierdie lewe wil hĂȘ: 8laat my nie ’n vals mens wees nie, laat ek nie ander belieg en bedrieg nie. Laat my nie ryk of arm wees nie. Gee U my net wat ek elke dag nodig het 9sodat ek nie ryk word en ophou om U lief te hĂȘ, of arm word en begin steel en so u wet oortree nie.
10Moenie iemand by sy baas loop en beskinder nie. Hy sal dit uitvind en dan is jy in die moeilikheid.
11Daar is vier soorte mense uit wie se pad jy moet bly: kinders wat hulle ouers vloek en mishandel; 12mense wat dink hulle is goed, maar wat nie hulle eie tekortkomings besef nie; 13arrogante mense wat te veel van hulleself dink, en 14wrede mense wat ander doodmaak en niks vir die armes en die swakkes omgee nie.
15Iemand wat altyd meer en meer wil hĂȘ, ken net twee woorde: gee, gee.
16Daar is drie “dinge” wat nooit tevrede gestel kan word nie, vier wat nooit genoeg kry nie: dit is die dood, die moederskoot van ’n kinderlose vrou, ’n dorre landskap tydens droogte en ’n vuur wat aanhou brand.
17Iemand wat sy ouers verag en hulle sleg behandel, sal tragies sterf. Hy sal in die veld dood lĂȘ en die roofvoĂ«ls sal sy oĂ« uitpik.
18Daar is drie dinge wat net te wonderlik is om te verstaan, vier wat ek hoegenaamd nie kan begryp nie: 19die gemak waarmee ’n arend in die lug rondvlieg; die manier waarop ’n slang geruisloos oor ’n rots seil; die manier waarop ’n skip op die oop see ronddryf, en die liefde van ’n man vir ’n vrou.
20’n Los vrou verontskuldig haarself altyd. Sy is soos iemand wat skelm eet, haar mond afvee en dan sĂȘ sy het niks verkeerds gedoen nie.
21Daar is drie dinge wat ’n land op die randjie van ’n afgrond bring, vier wat hom heeltemal kan verwoes: 22die skoonmaker wat president word; ’n dom mens wat hom net vol eet, maar niks wil doen nie; 23’n vrou wat nie liefde ken nie en dan tog ’n man kry; ’n werkster in ’n lae rang wat sommer die baas word.
24Daar is vier diertjies wat baie klein is, maar buitengewoon slim is: 25miere is nie juis baie sterk nie, maar hulle weet baie goed dat hulle in die somer kos vir die winter moet wegbĂȘre; 26klipdassies is ook nie sterk nie, maar hulle het dit tog reggekry om in rotsskeure te bly; 27sprinkane het nie ’n koning nie, maar hulle tree gedurig soos een man op, en 28akkedisse is so klein, jy kan hulle sommer met jou hand optel, maar hulle weet presies hoe om in die duurste huise van die rykste mense te kom.
29Daar is drie dinge wat indruk maak, vier wat ’n mens altyd sal onthou: 30die leeu wat oor die diereryk heers en vir niemand terugstaan nie; 31die haan wat triomfantlik oor die henne heers; die ram aan die voorpunt van sy trop; die koning wat sy troepe uitlei.
32As jy so dom was om groot te praat of verkeerde dinge te beplan, hou dan dadelik daarmee op. 33So seker as wat ’n mens melk skud en dit botter word, iemand op die neus slaan en dit begin bloei, iemand kwaad maak en daar rusie ontstaan, net so seker kom jy in die moeilikheid as jy nie jou domheid los nie.

 

 

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!