Dag 28: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 28

Aan die Here kom die lof toe
1Van Dawid.
Ek roep na U, Here, my Rots,
moet tog nie doof wees vir my nie.
As U bly swyg, sal ek wees soos 'n sterwende.
2Hoor my smeekstem
as ek na U roep om hulp,
as ek my hande in gebed uitsteek na die allerheiligste deel van u tempel.
3Moet my tog nie uitroei saam met die goddeloses,
die mense wat onreg doen nie.
Hulle praat vriendelik met hulle bure,
maar daar is kwaadwilligheid in hulle harte.
4Vergeld hulle volgens hulle dade
en volgens hulle skandelike gedrag.
Vergeld hulle volgens die werk van hulle hande
en laat hulle kry wat hulle verdien,
5want hulle let nie op die dade van die Here
en op die werk van sy hande nie.
Daarom sal Hy hulle afbreek
en nooit weer opbou nie.
6Aan die Here kom die lof toe,
want Hy het my smeekstem gehoor.
7Die Here is my sterkte en my beskermer,
op Hom het ek vertrou.
Hy het my gehelp.
Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied.
8Die Here is 'n sterkte vir sy volk,
'n veilige beskutting vir sy gesalfde.
9Red u volk en seën dié wat aan U behoort;
wees vir hulle 'n herder
en sorg altyd vir hulle.

Psalm 58

Daar is tog 'n God wat reg laat geskied
1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig.
2Julle wat mag besit, is julle uitsprake werklik regverdig?
Is julle beslissings in die sake tussen mense billik?
3Nee, julle optrede in die land is die ene korrupsie,
met geweld gaan julle deur die lewe.
4Slegte mense loop van hulle geboorte af 'n verkeerde pad,
vandat hulle in die wêreld gekom het, dwaal hierdie bedrieërs af.
5Hulle is soos giftige slange,
soos adders wat hulle doof hou,
6wat hulle nie steur aan die stem van die slangbesweerder nie,
hoe vernuftig hy ook mag wees.
7Ruk hulle tande uit hulle mond uit, o God!
Slaan dié leeus se slagtande uit, Here!
8Laat hulle verdwyn soos water wat wegsyfer,
laat hulle fyngetrap word soos droë gras.
9Laat hulle wegraak soos slakke wat net slym agterlaat,
laat hulle word soos misgeboortes, sonder lewe.
10Laat hulle, voor hulle dit weet, uitgeroei wees soos onkruid,
laat 'n gloeiende wind hulle wegwaai in die fleur van hulle lewe.
11Die regverdige sal bly wees as hy sien daar is vergelding,
as die bloed van die goddeloses oor sy voete loop.
12Die mense sal sê: Daar is tóg 'n beloning vir die regverdige,
daar is tóg 'n God wat reg op die aarde laat geskied!

Psalm 88

Laat my gebed nie tevergeefs wees nie
1'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Heman die Esragiet.
2Here my God wat my altyd help,
ek roep elke dag om hulp,
elke nag bid ek tot U.
3Laat my gebed nie tevergeefs wees nie,
hoor my geroep.
4Die swaarkry het vir my te veel geword:
ek vat al aan die doderyk,
5ek staan al met die een voet in die graf,
ek het geen krag meer nie.
6Dit is asof ek al tussen die dooies is,
tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê,
dié aan wie U nie meer dink nie
en van wie U u hand teruggetrek het.
7U het my onder in die put laat beland,
in diepe duisternis.
8U gramskap rus swaar op my,
U laat al u golwe oor my breek. Sela
9U laat my bekendes ver van my af staan
en maak my vir hulle iets afskuweliks;
ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.
10My oë is al dof van ellende;
die hele dag deur roep ek na U, Here,
en steek ek my hande in gebed na U uit.
11Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur?
Kan gestorwenes opstaan en U loof? Sela
12Word daar in die graf vertel van u troue liefde?
Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel?
13Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood,
u redding in die land van vergetelheid?
14Ek roep na U om hulp, Here,
vroeg in die môre al bid ek tot U.
15Waarom verstoot U my, Here,
waarom trek U U van my af terug?
16Ek ly swaar, ek kwyn al weg van my jeug af.
Dit is 'n swaar las waarmee U my teister.
Ek weet geen raad meer nie.
17U toorn rus op my,
U tref my met skrik en vernietig my.
18Dit bedreig my heeldag soos vloedwater,
dit sak op my toe van alle kante af.
19U laat my vriende en my bure ver van my af staan,
die duisternis van die dood is my geselskap.

Psalm 118

Die Here doen kragtige dade
1Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!Vgl. Ps. 136
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
3Die huis van Aäron moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
4Dié wat die Here dien, moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
5In my nood het ek na die Here geroep,
die Here het my gebed verhoor en my bevry.
6Die Here is by my, ek ken geen vrees nie;
wat kan 'n mens aan my doen?
7Die Here is by my, Hy help my:
ek sal neerkyk op dié wat my haat.
8Om by die Here te skuil,
is beter as om op mense te vertrou.
9Om by die Here te skuil,
is beter as om op hoë mense te vertrou.
10Nasies het van alle kante af op my afgestorm.
In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.
11Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm.
In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.
12Hulle het soos bye om my gepak,
maar hulle het verdwyn soos doringtakke in 'n vuur.
In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.
13My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk,
maar die Here het my gehelp.
14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
15Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is 'n wonder in ons oë!
24Dit is die dag wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God; Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Psalm 148

Sy Naam alleen is hoog verhewe
1Prys die Here!
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here prys,
want Hy het beveel en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee,
vir hulle 'n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,
vrugtebome, al die seders,
10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem van al sy troue dienaars,
die Israeliete, die volk naby wie Hy is.
Prys die Here!

Spreuke 28

1Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie;
die regverdiges het die moed van 'n leeu.
2As daar opstand is in 'n land, is daar baie wat na mag gryp;
as daar iemand met wysheid en kennis is, bly hy lank aan die bewind.
3'n Man wat self arm is en arm mense uitbuit,
is soos 'n reën wat alles verspoel,
sodat daar niks te ete oorbly nie.
4Wie die wet van die Here verontagsaam, praat met lof van goddelose mense;
wie die wet onderhou, beveg hulle.
5Slegte mense het geen begrip van wat reg is nie;
dié wat na die wil van die Here vra, het 'n goeie begrip van alles.
6Liewer arm wees en eerbaar lewe
as oneerlik lewe en ryk wees.
7'n Verstandige seun hou hom aan die wet van die Here;
as die seun maats maak met mense wat vir niks eerbied het nie,
bring hy skande oor sy vader.
8Wie groot rykdom versamel deur mense uit te buit,
versamel dit vir iemand wat hom oor arm mense sal ontferm.
9As iemand hom doof hou vir die wet van die Here,
sal die Here 'n afsku hê van so 'n man se gebed.
10Wie eerlike mense mislei sodat hulle die verkeerde pad loop,
sal self in die gat val wat hy gegrawe het;
die opregte sal voorspoed geniet.
11'n Ryk man kan dink hy het die wysheid in pag,
maar 'n arm mens met insig sien deur hom.
12As regverdiges rede tot blydskap het, praat almal met trots daaroor,
as goddelose mense aan die bewind kom, kruip die mense weg.
13Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie;
wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.
14Dit gaan goed met 'n mens wat altyd versigtig is;
maar iemand wat moedswillig is, sal ondergaan.
15'n Brullende leeu, 'n beer wat wil rondstorm,
so is 'n goddelose regeerder oor 'n weerlose volk.
16As 'n heerser verstandigheid kortkom,
is daar baie verdrukking;
wie uitbuiting haat, lewe lank.
17'n Man wat moord op sy gewete het,
moet op die vlug bly tot sy dood toe.
Niemand moet hom help nie.
18Wie 'n eerbare lewe lei, sal hulp ontvang;
wie 'n oneerlike lewe lei, sal onverwags tot 'n val kom.
19Wie sy grond bewerk, het volop om te eet;
wie hom besig hou met nuttelose dinge, word brandarm.
20'n Betroubare man is baie voorspoedig;
een wat gou ryk wil word, sal sy straf kry.
21Dit is nie reg dat mense partydig is en sondig nie,
selfs nie ter wille van 'n stukkie kos nie.
22'n Inhalige mens wil gou ryk word;
hy besef nie dat daar vir hom gebrek wag nie.
23Wie iemand teregwys, kry eerder agterna dank
as wat 'n vleier dit kry.
24Wie sy ouers besteel en sê:
“Ek doen niks verkeerds nie,”
is niks anders as 'n rower nie.
25'n Gierige mens veroorsaak rusie;
een wat op die Here vertrou, is voorspoedig.
26Wie op homself vertrou, is 'n dwaas;
wie hom deur wysheid laat lei, is veilig.
27Wie vir 'n arm mens iets oor het, sal self niks kortkom nie,
maar wie anderpad kyk, sal baie verwensings hoor.
28As goddelose mense aan die bewind kom, kruip die mense weg,
as die goddeloses ondergaan, kry die regverdiges die mag.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 28

Die Here is ’n veilige
skuilplek
1’n Dawidspsalm.
Here, ek roep na U, my Rots.
Hou U nie doof vir my nie.
Want as U bly swyg,
sal ek wees soos hulle
wat afdaal na die doderyk.
2Luister tog na my gebed
as ek tot U roep,
wanneer ek my hande uitsteek
na u allerheiligste toe.
3Moenie my wegsleep
saam met die goddeloses,
met hulle
wat bose dinge doen nie;
wat vriendelik praat
met hulle bure,
maar in hulle harte
is daar kwaadwilligheid.
4Straf hulle
volgens wat hulle doen,
volgens hulle bose praktyke.
Vergoed hulle
volgens hulle dade!
Vergeld hulle
volgens verdienste.
5Hulle begryp nie
die Here se werk,
dit wat sy hande verrig nie.
Hy sal hulle afbreek
en nie weer opbou nie.
6Laat die Here geprys word,
want Hy
het my smekinge gehoor.
7Die Here is my krag,
my beskermer
wat ek met my hele hart vertrou.
Hy help my
en my hart is vol vreugde.
Daarom dank ek Hom
met my lied.
8Die Here is ’n sterkte
vir sy volk,
’n veilige skuilplek
vir sy gesalfde.
9Red tog u volk
en seën hulle
wat aan U behoort!
Wees vir hulle ’n herder
en versorg hulle vir altyd.

Psalm 58

God se oordeel is regverdig
1Vir die koorleier: Op die wysie van
“Moenie verwoes nie”. Van Dawid.
’n Gedig.
2Julle wat regeer,
is julle uitspraak
regtig regverdig?
Is julle beslissings oor mense billik?
3Nee! In julle gedagtes
beplan julle reeds boosheid,
met julle eie hande
versprei julle geweld in die land.
4Bose mense is so
vanaf geboorte;
van kleintyd af
praat hulle leuens.
5Hulle gif is soos die gif
van slange;
hulle is soos ’n adder
wat doof is
6en nie luister
na die slangbesweerder nie,
hoe bedrewe die besweerder
ook al is.
7God, slaan hulle tande stukkend
in hulle mond.
Here, breek die slagtande
van hierdie leeus.
8Laat hulle verdwyn
soos water wat wegsypel.
Laat hulle vertrap word
soos droë gras,
9soos ’n misgeboorte
wat wegsmelt,
soos ’n doodgeborene
wat nie die son sien nie.
10Vinniger
as wat ’n pot warm word
oor ’n doringvuur
sal God hulle wegvee,
sowel jonk as oud.
11Die getroue sal bly wees
by aanskoue
van die vergelding.
Die bloed van die goddeloses
sal hy afwas van sy voete.
12Dan sal almal sê:
“Daar is regtig beloning
vir dié wat toegewyd lewe;
daar is beslis ’n God
wat regverdig oordeel op aarde.”

Psalm 88

’n Noodroep
1’n Lied. ’n Psalm van die Koragiete.
Vir die koorleier: Met fluitspel.
’n Gedig. Van Heman, die Esragiet.
2Here, God van my verlossing,
dag en nag roep ek tot U.
3Luister tog nou na my gebed;
hoor my hulpgeroep.
4Want my lewe is vol ellende,
en die dood kom al nader.
5Ek word getel saam met dié
wat op pad is na die graf.
Ek het geword soos ’n sterk man
met geen krag meer oor nie.
6Ek word saam met dooies getel,
saam met gesneuweldes
in die graf,
hulle vir wie U nie meer onthou nie,
wat afgesny is
van u versorging.
7U het my heel onder
in die diepste kuil gesit,
in die donkerste dieptes.
8U toorn rus swaar op my,
u golwe het oor my geslaan.
Sela
9U het my vriende
van my weggeneem.
U het gemaak
dat hulle my verafsku.
Ek is vasgevang
en kan nie ontsnap nie.
10My oë is dof van droefheid.
Here, elke dag roep ek U
om hulp,
en sprei my hande uit na U
in gebed.
11Is u wonders
vir die dooies bestem?
Staan dooies op om U te loof?
Sela
12Word u liefde
in die graf verkondig,
en u trou in die plek van verderf?
13Is u wonders bekend
in die donkerte,
u regverdigheid
in die plek van vergetelheid?
14Maar ek roep na U om hulp,
Here.
Elke oggend
is my gebed voor U.
15Here, waarom verstoot U my?
Waarom draai U weg van my?
16Vanaf my jeug het ek gely
en was ek naby my dood.
Die las van u verskrikking
het my in verwarring.
17U toorn het my oorweldig;
u verskrikking
het my vernietig.
18Die hele dag omring hulle my
soos vloedwater
en sak op my toe van alle kante.
19U het geliefdes en vriende
van my weggeneem.
Duisternis
is my enigste geselskap.

Psalm 118

Sy goedheid duur vir
altyd
1Loof die Here, want Hy is goed!
Sy goedheid duur vir altyd.
2Laat Israel sê:
“Sy goedheid duur vir altyd.”
3Laat die huis van Aäron sê:
“Sy goedheid duur vir altyd.”
4Laat almal wat die Here dien, sê:
“Sy goedheid duur vir altyd.”
5In my nood
het ek tot die Here gebid.
Die Here het my geantwoord
en my bevry.
6Die Here is by my,
ek sal nie bang wees nie.
Wat kan ’n mens aan my doen?
7Die Here is by my,
Hy help my.
Ek sal neersien op my haters.
8Dit is beter
om by die Here te skuil
as om staat te maak op mense.
9Dit is beter
om by die Here te skuil
as om op vername mense
te vertrou.
10Al die nasies het my omsingel;
in die Naam van die Here
het ek hulle afgeweer.
11Hulle het my inderdaad
van alle kante omsingel,
maar in die Naam van die Here
het ek hulle afgeweer.
12Soos bye
het hulle om my geswerm,
maar soos brandende
doringtakke
is hulle geblus.
In die Naam van die Here
het ek hulle afgeweer.
13Hulle het probeer
om my heeltemal om te stoot,
maar die Here het my gehelp.
14Die Here is my sterkte
en my beskerming;
Hy het my redder geword.
15Vreugdeliedere van redding
word gesing
in die tente van die regverdiges.
Die Here se regterhand
het roemryke dinge gedoen.
16Die Here se regterhand
is triomfantlik omhoog.
Die Here se regterhand
het roemryke dinge gedoen.
17Ek sal nie sterf nie,
maar lewe,
en van die Here se werke vertel.
18Die Here
het my swaar gestraf,
maar nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak oop vir my
die poorte van regverdigheid,
dan sal ek ingaan
en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here;
die regverdiges gaan hier in.
21Ek prys U
omdat U my verhoor het
en my redder geword het.
22Die klip
wat die bouers afgekeur het,
het nou die sluitsteen geword.
23Dit is die werk van die Here,
en wonderlik vir ons
om te aanskou.
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het.
Laat ons daaroor juig
en bly wees.
25Here, red ons tog,
Here, gee ons tog voorspoed.
26Geseënd is die een
wat kom
in die Naam van die Here.
Ons seën julle
uit die tempel van die Here.
27Die Here is God,
Hy laat sy lig oor ons skyn.
Begin die optog, wuif die takke!
Stapel dit op
tot by die horings van die altaar.
28U is my God, en ek wil U prys!
My God,
ek sal U hemelhoog prys!
29Wees dankbaar teenoor die Here,
want Hy is goed!
Sy goedheid duur vir altyd!

Psalm 148

Laat die hele wêreld U prys
1Prys die Here!
Prys die Here
vanuit die hemel!
Prys Hom in die hoë hemele!
2Prys Hom, al sy engele,
prys Hom,
al die hemelse wesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom,
alle skitterende sterre!
4Prys Hom, hoogste hemel,
en waters bokant die uitspansel!
5Laat hulle
die Naam van die Here prys,
want Hy het beveel,
en dit alles het ontstaan.
6Hy het hulle gevestig vir altyd.
Hy het grense bepaal,
en sal dit nooit herroep nie.
7Prys die Here vanuit die aarde:
seemonsters
en die diepwaters,
8weerlig en hael,
sneeu en miswolke,
stormwind
wat Hom gehoorsaam,
9berge en alle heuwels,
vrugtebome en alle seders,
10wilde diere
en al die lewende hawe,
kruipende diere en voëls,
11konings van die aarde
en alle volke,
heersers en regters van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met kinders.
13Laat hulle
die Naam van die Here loof.
Want net sy Naam is verhewe.
Sy majesteit
is bo die aarde en hemel.
14Hy het sy volk sterk gemaak.
Dít is die lof
van al sy troue dienaars,
die volk Israel,
wat na aan Hom is.
Prys die Here!

Spreuke 28

1Goddeloses vlug weg,
al jaag niemand hulle nie.
Regverdiges is so dapper
soos leeus.
2As daar opstand is in ’n land
wissel die leiers vinnig.
As ’n wyse en kundige
aan bewind kom,
is daar lank vastigheid
in die land.
3’n Man wat self arm is
en ander arm mense uitbuit,
is soos stortreën
wat alles wegspoel
sodat daar niks kos oorbly nie.
4Mense wat die wet van God
verwerp,
praat met lof
van die goddelose mense.
Mense wat die wet onderhou,
weerstaan hulle.
5Mense wat kwaad doen,
het geen begrip van die reg nie.
Wie vra na die wil van die Here
verstaan dit volkome.
6Dit is beter om arm te wees
en eerbaar te lewe
as om oneerlik te lewe
en ryk te wees.
7’n Verstandige seun
gehoorsaam die eise van God.
Een wat hom ophou
met ligsinnige mense
bring sy pa in die skande.
8Wie ryk word
deur onbillike rente
en onregverdige wins
sal dit moet oorgee
aan iemand
wat hom oor armes ontferm.
9Elkeen wat hom doof hou
vir die eise van God,
se gebede sal verwerp word.
10Wie eerlike mense wegrokkel
na die verkeerde pad,
sal in sy eie strik trap.
Mense wat onberispelik lewe,
sal goeie dinge erf.
11’n Ryk man dink dalk
dat hy boonop wys is,
maar ’n arm mens met insig
kan dwarsdeur hom kyk.
12Wanneer regverdiges vreugde beleef,
is almal bly daaroor;
wanneer goddeloses oorneem,
kruip al die mense weg.
13Wie sy oortredings verswyg,
sal nie voorspoedig wees nie.
Wie sy sonde bely
en daarvan afsien,
sal genade ontvang.
14Die mens wat altyd versigtig is,
sal gelukkig wees.
’n Hardkoppige persoon
sal in kwaad verval.
15’n Goddelose regeerder
is vir sy weerlose volk
soos ’n leeu wat brul
en ’n beer wat wil aanval.
16’n Heerser sonder insig
neig om ander te verdruk.
’n Regeerder wat uitbuiting haat,
bly lank aan bewind.
17’n Moordenaar se gewete
dryf hom die graf in.
Niemand moet probeer
om hom te help nie.
18Hy wat ’n eerbare lewe lei,
sal veilig wees.
Iemand wat ’n dubbele lewe lei,
sal daardeur tot ’n val kom.
19Iemand wat sy grond bewerk,
sal volop hê om te eet.
Wie met nuttelose dinge boer,
sal armoede oes.
20’n Betroubare man
sal geseën word.
Een wat ten alle koste
gou ryk wil word,
gaan moeilikheid kry.
21Dit is verkeerd
om partydig te wees;
tog sal sommige verkeerd optree
vir ’n stukkie brood.
22’n Geldgierige
wil vinnig ryk word.
Ongelukkig weet hy nie
dat hy gebrek gaan ly nie.
23Die een wat ander berispe,
kry op die einde eerder waardering
as die persoon
wat ander vlei.
24Iemand wat sy ouers besteel
en dan nog sê:
“Ek doen niks verkeerds nie,”
is so goed as ’n moordenaar.
25’n Gierige persoon
veroorsaak rusie.
Wie op die Here vertrou,
sal voorspoed ervaar.
26Wie op sy eie insig vertrou,
is ’n dwaas.
Wie hom deur wysheid laat lei,
word bevry.
27Hy wat iets gee
vir ’n arm mens
sal self nooit iets kortkom nie.
Iemand wat sy oë vir hulle sluit,
sal vervloek wees.
28Wanneer goddeloses
die regering oorneem,
kruip die mense weg.
Wanneer die goddelose omkom,
floreer die regverdiges.

Die Boodskap

Psalm 28

Vir Dawid
1Ek bid ernstig tot U, Here. U beskerm my.
Moenie stilbly en my laat voel of ek teen die dak vasbid nie.
As U my nie help nie, sal ek so goed soos dood wees.
2Help my tog as ek by U pleit.
Ek het u hulp dringend nodig.
Ek lig my hande op na U in u woonplek.
3Moet my nie laat doodgaan saam met mense wat nie in U glo nie.
Hulle doen verkeerde dinge.
Hulle is skynheilig. Hulle praat mooi woordjies, maar agteraf dink hulle slegte goed uit.
4Straf hulle vir die slegte dinge wat hulle aanvang.
Laat hulle boet. Betaal hulle met gelyke munt terug vir wat hulle doen.
5Want hulle sien nie raak wat die Here alles op aarde doen nie. Daarom sal Hy slegte mense se lewe verpletter. Hulle steur hulle nie aan wat Hy doen nie.
6Kom prys die Here, want Hy het my gehelp toe ek na Hom geroep het.
7Die Here gee my krag. Hy beskerm my.
Ek het op Hom vertrou en Hy het my gehelp.
Daarom is ek baie bly.
Ek sal ’n lied sing om Hom te prys.
8Die Here gee sy kinders krag.
Hy beskerm en help leiers wat Hom vra om by hulle te wees.
9Help u kinders, Here.
Laat hulle wat aan U behoort, genoeg hê om van te leef.
Sorg vir hulle soos ’n herder vir sy skape omgee. Tel hulle op en dra hulle elke dag.

Psalm 58

1Opgedra aan die musiekleier. Op die wysie met die naam “Moenie vernietig nie”. ’n Gedig vir Dawid
2God het vir al die magtige mense gevra: Neem julle die regte besluite?
Is julle regverdig as julle in die sake tussen mense oordeel?
3Nee, want julle is sleg.
Oral waar julle kom, baklei julle.
Julle ken net die taal van geweld.
4Hulle is van kleins af al op die verkeerde pad.
Van jongs af praat hulle nie die waarheid nie.
5Hulle is baie gevaarlik.
Soos slange wat pik, doen hulle dinge om mense seer te maak.
Hulle luister na niemand nie.
6Hulle kan ook niks hoor nie. Daarom luister hulle nie na goeie raad nie.
7God, keer tog dat daardie slegte mense kwaad doen!
Keer dat hulle soos jong leeus ander mense seermaak, Here!
8Laat hulle verdwyn soos water wat in die grond wegsyfer.
Gee dat hulle wapens geen skade aan ander mense aanrig nie.
9Hulle moet wegraak, soos ’n slak verdwyn as jy sout op hom gooi. Laat hulle soos ’n dooie baba wees na ’n miskraam. Sorg dat hulle nooit eens die lewe sien nie.
10Raak ontslae van hulle soos ’n mens onkruid uittrek en weggooi. Laat die wind hulle wegwaai terwyl hulle jonk is.
11Mense wat U dien, sal bly wees as hulle sien hoe U slegte dinge straf.
Hulle sal vol vreugde wees as hulle sien hoe U slegte mense vergeld vir hulle slegte dade.
12Almal wat dit raaksien, sal sê: Kyk, die Here beloon diegene wat Hom dien!
Ja, daar’s regtig ’n God wat sorg dat reg op die aarde geskied.

Psalm 88

1’n Lied. ’n Koragpsalm. Opgedra aan die musiekleier. Geskik vir fluitbegeleiding. ’n Gedig van Heman om iemand te leer
2Here, U is die God wat my help.
Elke dag vra ek ernstig dat U my moet help.
Ook in die nag hou ek nooit op met bid nie. 3Wys asseblief dat U my gebed hoor! Ek bid nie tevergeefs nie. Luister na my as ek om hulp smeek!
4Ek is siek en sat daarvan om swaar te kry. Dis net te veel vir my.
Die dood lê en loer vir my.
5Ek is nie meer ver van doodgaan af nie. Mense dink dat ek klaar dood is. Ek het nie meer krag oor nie.
6Ek voel soos ’n dooie, soos iemand wat in die oorlog vir dood laat lê is. Dit lyk of U niks meer vir so iemand omgee nie. Dit lyk of U u hand teruggetrek het.
7U het my in hartseer en ellende gedompel. Dit voel of ek in ’n diep donker put lê.
8U is kwaad vir my.
As ek wil opstaan, slaan U my plat soos ’n brander wat jou van jou voete afvee.
9U maak dat hulle wat vir my lief is, nie naby my wil kom nie; hulle vermy my asof ek ’n verskriklike siekte het. Ek kan nie opstaan nie. Ek kan nie wegvlug nie.
Ek voel so vasgekeer soos iemand wat in die tronk toegesluit is; ek kan niks doen nie.
10Ek sien geen uitkomkans nie.
Ek het geen hoop meer nie, my probleme is te groot.
Here, ek bid dwarsdeur die dag baie ernstig tot U.
Ek vra baie mooi dat U my moet help.
11U kan tog nie met mense wat klaar dood is wonderwerke doen nie!
U kan nie dooies weer lewendig maak sodat hulle U kan prys nie!
12Dooie mense kan nie van die goeie dinge vertel wat U gedoen het nie. Mense wat in die graf lê, ervaar tog nie dat U hulle liefhet nie.
13Tussen die dooies weet niemand meer dat U wonders doen nie.
Dit is of hulle alles vergeet. U red hulle nie daar nie.
14Maar Here, ek bid ernstig dat U my moet help.
Ek begin al vroeg in die môre bid.
15Here, waarom stoot U my weg? Waarom help U my nie? Waarom kyk U weg?
16Van jongs af kry ek al swaar. U maak my aanhoudend bang.
Ek weet nie meer wat om te doen nie.
17U het met u woede op my afgekom. Dit maak my baie bang.
U vernietig my lewe.
18Dit voel of my kop onder die water gedruk word. My moeilikheid omsingel my.
19U laat almal wat vir my omgee, die rug vir my keer. Hulle gaan staan ver weg van my.
My enigste geselskap is die donker skaduwees van die dood.

Psalm 118

1Sê vir die Here baie dankie, want Hy is goed; 2ja, sy liefde sal nooit ophou nie.
3Al die Here se kinders moet sê: “Sy liefde sal nooit ophou nie.”
4Ja, almal wat Hom dien en aanbid, moet dit sê.
5Toe ek in die moeilikheid was, het ek ernstig tot die Here gebid.
Die Here het na my geluister. Hy het my gehelp.
6Die Here is by my. Daarom is ek vir niks bang nie.
Niemand kan iets aan my doen nie. 7Die Here help my.
Mense wat nie van my hou nie, sal my nooit onderkry nie. Ek sal hulle wen.
8-9Dit is beter om die Here te vra om jou te beskerm, as om te hoop mense doen dit, al is hulle hoe belangrik.
10Mense wat nie van U hou nie, het my probeer onderkry.
Maar ek het hulle gewen, want die Here het my gehelp.
11Die spul het my van alle kante bekruip.
Maar die Here het my gehelp. Ek het hulle op hulle plek gesit omdat U by my was.
12Hulle het soos ’n swerm bye op my toegesak,
maar hulle het verdwyn soos droë grassies wat in ’n vuur wegbrand. Die Here was by my, en ek het hulle gewen.
13Hulle het alles probeer om my te vernietig, maar die Here het my gehelp.
14Die Here beskerm my. Hy gee my krag. Hy het my uit die moeilikheid gehelp.
15Almal wat die Here dien, is baie bly omdat Hy hulle so uit die moeilikheid help.
16Hulle praat oor hoe Hy hulle help. Hy is baie sterk. Hy doen ongelooflike dinge.
Die Here se kinders wen, want die Here is baie sterk.
17Ek sal nie doodgaan nie,
maar bly lewe om oor al die groot dinge te praat wat die Here doen.
18Dit het maar swaar gegaan, maar die Here het gesorg dat ek nie doodgaan nie.
19Laat ek in die kerk ingaan vir die Here dankie sê en Hom aanbid,
want Hy doen wat reg is.
20Ek wil kerk toe gaan. Ek wil vir die Here baie dankie sê. Daar voel ek naby Hom.
21Dankie dat U my gehelp het. U het my gered. U het gehoor toe ek na U geroep het.
22Soms dink mense dat iemand sommer niks is nie. Maar by God is dit anders.
Wat soms vir mense onbelangrik is, is vir die Here belangrik.
23Dit is vir ons goed om dit te weet.
Dit is die Here wat dit doen, en dit lyk vir ons na ’n wonderwerk.
24So ’n dag is baie besonders. Ons sal bly daaroor sing.
25Ag, Here, help ons asseblief. Luister, Here, maak ons tog gelukkig. Dit gaan goed met elkeen wat kom om die Here te dien.
26Julle wat die Here dien, sal baie gelukkig wees.
27Die Here is die enigste God. Hy help altyd.
As Hy jou help, is dit soos ’n lig wat in ’n donker kamer inskyn.
Kom ons hou ’n groot fees, want ons is baie bly. Ons moet vir Hom baie, baie dankie sê.
28Here, U is my God. Ek wil vir U dankie sê.
O my God, ek wil u Naam grootmaak en prys.
29Kom prys die Here, want Hy is goed.
Sy liefde sal nooit ophou nie. Daarvan kan jy seker wees.

Psalm 148

1Kom prys die Here.
Alles in die hemel, kom sê vir Hom dankie. Kom prys Hom.
2Almal wat in die hemel bly, moet Hom loof.
3Al die duisende sterre, kom prys Hom.
Loof Hom, son, maan en sterre wat lig gee.
4Alles in die verste ruimtes van die heelal, ver bokant die bloue hemel, kom loof Hom.
5Laat alles daar bo die Here vir sy grootheid prys.
Hy het net ’n woord gesê, toe was alles daar.
6Vir elke ster, elke planeet in die hemel het Hy ’n spesifieke plek gegee.
Sy natuurwette kan niemand oortree nie.
7Kom prys die Here hier van die aarde af.
Kom, julle groot seediere en onstuimige vloedwaters.
8Kom, weerligte en hael, sneeu en miswolke,
en al die stormwinde wat Hy met een woord gemaak het.
9Kom, berge en al die heuwels, vrugtebome en al die wilde bome,
10wilde diere en al die vee, kruipende diere en voëls.
11Kom, regeerders oor die aarde en alle volke, alle leiers en regters van die wêreld,
12jongmense, oumense en kinders.
13Mag almal die Here kom loof. Ja, Hy alleen is groot en belangrik.
Ver in die hemel en ook hier op aarde kan almal sien hoe groot Hy is.
Hy is so wonderlik dat woorde Hom nie kan beskryf nie.
14Van sy kinders maak Hy helde. Hy gee aan hulle mag.
Al sy kinders wat naby aan Hom lewe, sal Hom daarvoor prys.

Kom prys die Here!

Spreuke 28

Luister na die Here
1’n Ongelowige se slegte gewete laat hom onrustig voel. Hy is soos iemand wat weghardloop al jaag niemand hom nie. ’n Gelowige ervaar kalmte. Hy is soos ’n leeu in sy veilige skuilplek.
2’n Land waar korrupsie en misdaad hoogty vier, kry die een slegte leier na die ander. Iemand met kennis van die lewe en praktiese vaardighede kan ’n land van die afgrond red.
3’n Arm mens wat die armes onderdruk, is soos ’n haelstorm wat alles verwoes. Hongersnood en baie ellendes is dan die armes se voorland.
4Iemand wat nie meer na die woord van die Here luister nie, is soos ’n ongelowige. Iemand wat die woord ernstig opneem, kom nie met slegte mense klaar nie.
5Slegte mense het geen begrip van wat reg of verkeerd is nie. Mense wat die Here ken, weet wat om te doen en wat om nie te doen nie.
6’n Arm mens wat reg leef, is beter daaraan toe as ’n ryke wie se lewe krom en skeef is.
7’n Seun wat die woord liefhet, is slim. Hy maak sy pa baie bly. Wie met vrate en dronklappe bevriend is, is vir sy ouers ’n verleentheid.
8Wie die kuns van geldmaak verstaan, moet hom ook oor die armes ontferm.
9Wie nie meer na die woord van die Here luister nie se gebede beteken niks nie.
10Wie verkeerde dinge teen gelowiges beplan, sal self in die put van ellende val. Wie die Here liefhet, sal die goeie van die lewe ervaar.
11’n Ryk mens is slim in sy eie oë. ’n Arme wat die lewe ken, kyk dwarsdeur hom.
12As gelowiges regeer, is daar blydskap. Almal word dan bevoordeel. As slegte mense die mag oorneem, is almal bang. Mense onttrek hulle of emigreer.
13Wie sy oortredings toesmeer, sal nooit gelukkig wees nie. Wie sy sonde bely en nooit weer slegte dinge wil doen nie, sal die Here se liefde ervaar.
14Wie die Here altyd liefhet, ervaar blydskap. Wie sy hart hard maak, sal nooit gelukkig wees nie.
15Soos ’n brullende leeu en ’n honger beer, so is ’n slegte leier wat hulpeloses en armes se regte vertrap. Hy maak hulle lewe net nog moeiliker.
16’n Regeerder sonder insig in die regte manier van lewe, sal sy mag misbruik. Wie wanpraktyke haat, sal lank regeer.
17’n Moordenaar wat onskuldige mense doodmaak, verdien geen genade nie. Tot sy dood toe sal hy van God verlate wees. Niemand moet hom probeer help nie.
18Iemand wat reg leef, is veilig in die hand van die Here. Wie verkeerde dinge doen se lewe is ’n nagmerrie.
19Wie hard werk, het genoeg om te eet. Wie rondstaan en niks doen nie, sal arm word.
20’n Betroubare mens ervaar baie seëninge. Wie vinnig ryk wil word, verbrand sy vingers.
21Om kant te kies in enige saak is verkeerd. Al het jy dit hoe nodig, omkoopgeskenke is ’n gruwel.
22’n Suinige en jaloerse mens sal alles doen om ryk te word. Op die ou einde het hy nog steeds niks nie.
23Wie die moed het om mense mooi op hulle foute te wys word meer gerespekteer as iemand wat hulle net heeltyd vlei.
24Wie sy ouers uitbuit en nie daaroor skuldig voel nie, is soos ’n dief wat vir niemand omgee nie.
25Iemand wat net aan homself dink en net homself verryk, maak mense woedend. Hulle wil niks met hom te doen hê nie. Wie op die Here vertrou, is ryk en voorspoedig.
26Iemand wat net op sy eie insigte vertrou, is dom. Wie die spreuke ernstig opneem, spaar homself baie ellende.
27Wie vir die armes omgee, sal nooit swaarkry nie. Wie blind is vir hulle ellende, sal self baie swaarkry.
28Wanneer ’n diktator aan bewind kom, maak goeie burgers hulle uit die voete. Wanneer ’n bose regering van die toneel verdwyn, kan gelowiges weer die mag oorneem.

 

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!