Dag 26: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 26

Ek is onskuldig
1Van Dawid.
Laat reg aan my geskied, Here,
want ek is onskuldig.
Ek het op die Here vertrou
en nie getwyfel nie.
2Toets my, Here, keur my,
ondersoek my deur en deur.
3Ek laat my deur u liefde lei
en ek lewe deur u trou.
4Ek hou my nie op met bedrieërs nie
en met agterbakse mense gaan ek nie om nie.
5Ek vermy die geselskap van misdadigers
en hou my nie op met goddeloses nie.
6As 'n onskuldige, Here, was ek my hande
en draai ek na u altaar toe
7om my loflied te sing
en van al u wonders te vertel.
8Here, u woonplek,
die tuiste van u heerlikheid, het ek lief.
9Moet my tog nie saam met die sondaars,
met die moordenaars laat omkom nie.
10Daar is bedrog in hulle hande,
hulle regterhande is vol omkoopgeld.
11Maar ek is onskuldig.
Red my en wees my genadig;
12dan is my pad vorentoe gelyk
en sal ek die Here prys in die samekoms van die gemeente.

Psalm 56

In God stel ek my vertroue
1Vir die koorleier: op die wysie van “Die duif in die hoë bome”. Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat die Filistyne hom in Gat gevange geneem het.
2Wees my genadig, o God, want daar is mense wat my jaag,
vyande wat my vervolg van die môre tot die aand.
3Vroeg en laat jaag my teëstanders my,
en ek het baie vyande, o Allerhoogste.
4Die dag as ek bang word,
vertrou ek net op U.
5In God, wie se woord ek prys,
in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.
Wat kan 'n blote mens aan my doen?
6Hulle vergal my lewe gedurig met beskuldigings teen my,
al hulle bose planne is teen my gerig.
7Hulle lê op die loer en hou my dop,
hulle bly op my hakke,
so gretig wag hulle op my dood.
8Moenie dat hulle ongestraf bly vir hierdie vyandigheid nie!
Laat u toorn hulle vernietig, o God!
9My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie,
U het op my trane gelet.
In u boek staan hulle opgeteken.
10Die dag wanneer ek na U roep om hulp,
val my vyande terug.
Dít weet ek: God is aan my kant.
11In God, wie se woord ek prys,
in die Here, wie se woord ek prys,
12in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.
Wat kan 'n mens aan my doen?
13Ek moet my geloftes aan U nakom, o God,
ek wil U met dankoffers betaal,
14want U het my van die dood gered,
my voet nie laat struikel nie,
en met God by my kon ek my pad aanhou loop
en die lewenslig bly sien.

Psalm 86

Gee U my tog krag!
 
1'n Gebed van Dawid.
Luister tog na my, Here, verhoor my gebed,
want ek is hulpeloos en arm.
2Beskerm my, want ek is u troue dienaar,
red my, want U is my God, op U vertrou ek.
3Wees my genadig, Here,
ek roep die hele dag deur na U.
4Maak my bly, Here,
ek hunker na U.
5U is goed, Here, U vergewe altyd weer,
U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.
6Luister na my gebed, Here,
gee tog ag op my smeekgebed.
7Op die dag van my nood roep ek na U,
U sal my gebed verhoor.
8Daar is geen god soos U nie, Here,
niks kan met u werk vergelyk word nie.
9U het al die nasies gemaak;
hulle sal voor U kom buig, Here,
en aan u Naam die eer gee,
10want U is groot en doen magtige dade,
U alleen is God.
11Leer my u pad, Here,
ek wil wandel in u waarheid;
leer my U met toewyding dien.
12Met my hele hart sal ek U prys, Here my God,
u Naam altyd eer,
13want u liefde vir my was groot:
uit die dieptes van die dood het U my gered.
14Dit is hovaardige mense wat my aanval, o God,
'n bende geweldenaars wat my wil doodmaak,
mense wat met U nie rekening hou nie.
15U, Here, is 'n barmhartige en genadige God,
lankmoedig, vol liefde en trou.
16Sien my, u dienaar van my geboorte af, in genade aan,
gee U my tog krag en red my.
17Maak my 'n voorbeeld van u goedheid,
sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien
dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.

Psalm 116

Ek het die Here lief
 
1Ek het die Here lief,
want Hy verhoor my smeekgebede.
2Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.
3Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4Toe het ek die Naam van die Here aangeroep:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos, maar Hy het my gered.
7Ek moet nou tot rus kom,
die Here het goed aan my gedoen:
8U het my van die dood gered,
U het 'n einde gemaak aan my trane,
U het gesorg dat ek nie weer struikel nie.
9Ek kon voor die Here bly wandel
in die land van die lewendes.
10Ek het in U bly glo,
selfs toe ek gedink het dit is klaar met my
11en toe ek in my vertwyfeling besef het:
ek kan op geen mens staatmaak nie.
12Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?
13Met 'n drankoffer sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.
16Ek is u dienaar, Here,
van my geboorte af is ek al u dienaar:
U het my vrygemaak.
17Ek wil U loof met 'n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk,
19in die voorhowe van die huis van die Here,
binne-in jou, Jerusalem!
Prys die Here!

Psalm 146

Prys die Here!
 
1Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op 'n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom, hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd.
Sion, jou God regeer van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Spreuke 26

1Soos sneeu in die somer en reën in die oestyd,
so min pas dit dat 'n dwaas eer ontvang.
2Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie,
so gaan 'n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie.
3'n Sweep vir 'n perd, 'n toom vir 'n donkie,
en 'n lat vir 'n dwaas.
4Moenie 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier beantwoord nie;
hy sal dink jy is soos hy.
5Beantwoord 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier,
anders dink hy hy het wysheid.
6As jy 'n dwaas met 'n boodskap stuur,
kan jy net so wel nie 'n boodskap stuur nie
en aanvaar dat daar moeilikheid kom.
7'n Lam mens se bene hang nutteloos aan hom;
net so nutteloos is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas.
8Om 'n klip in 'n slingervel vas te bind,
dit is wat dit beteken om aan 'n dwaas mag te gee.
9'n Doring in 'n dronk man se hand,
so is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas.
10'n Boogskutter wat nie omgee wie hy raakskiet nie,
so is iemand wat 'n dwaas of sommer 'n verbyganger huur.
11Soos 'n hond wat na sy braaksel toe terugkom,
so is 'n dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan.
12Jy sien self: vir iemand wat dink hy het die wysheid in pag,
is daar minder hoop as vir 'n dwaas.
13Die luiaard se verskoning is:
“Daar is 'n leeu in die pad!
Daar is 'n leeu in die straat!”
14'n Deur bly op sy skarnier draai;
'n luiaard bly omdraai op sy bed.
15Die luiaard steek sy hand in die skottel,
maar hy is te lui om dit terug te bring na sy mond toe.
16Die luiaard dink hy het meer wysheid
as sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee.
17Iemand wat 'n kwaai hond sommer aan die ore pak,
so is iemand wat woedend instorm in 'n rusie wat hom nie aangaan nie.
18Soos 'n mal mens wat dodelike pyle rondskiet,
19so is iemand wat 'n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.”
20Sonder hout bly 'n vuur nie brand nie;
sonder 'n kwaadstoker hou 'n rusie nie aan nie.
21Daar is houtskool nodig vir gloeiende kole, hout vir 'n vuur,
en 'n twissiek mens vir rusie stook.
22'n Geskinder is soos lekker kos,
mense sluk dit so maklik.
23Soos om 'n potskerf met silwer oor te trek,
so is dit om slegte bedoelings agter mooi woorde weg te steek.
24Iemand kan sy haat verbloem met wat hy sê,
maar binne hou hy by sy valsheid.
25As hy vriendelik praat, moet hom nie glo nie;
hy is vol bose bedoelings.
26Hy verberg sy haat agter 'n valse skyn,
maar van die onheil wat hy gaan doen, sal almal weet.
27Wie 'n gat vir 'n ander grawe, val self daarin;
die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom.
28'n Leuenaar haat dié wat hy seermaak;
'n vleier bewerk 'n ander se ondergang.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 26

Ek is onskuldig
1’n Dawidspsalm.
Laat aan my reg geskied, Here,
want ek was opreg
in my doen en late.
Ek het op die Here vertrou
sonder om te twyfel.
2Toets my, Here,
en ondervra my.
Ondersoek my motiewe
en my toegeneentheid.
3Want ek is gedurig bewus
van u liefde;
ek het volgens u waarheid
gelewe.
4Met leuenaars
gaan ek nie om nie;
met skynheiliges
gaan ek nie saam nie.
5Ek verag die byeenkoms
van bose mense,
en by die goddeloses sit ek nie.
6Ek was my hande
as teken van my onskuld
en verskyn voor u altaar, Here,
7terwyl ek ’n danklied sing
en vertel van al u wonders.
8Here, u woonplek het ek lief,
die plek
waar u heerlikheid woon.
9Moenie my saam met
sondaars wegvee nie.
Moenie dat ek
saam met moordenaars
omkom nie.
10Hulle hande is gevul
met bose planne,
hulle regterhande
vol omkoopgeld.
11Maar ek lewe
in opregtheid;
red my en wees my genadig.
12My voete staan vas
op gelyke grond.
Daarom prys ek die Here
in die vergadering.

Psalm 56

U het my trane opgeskryf
1Vir die koorleier: Op die wysie van “Die
duif in die veraf bome”. Van Dawid. ’n Gedig, met verwysing na die gebeurtenis
toe die Filistyne hom in Gat gevang het.
2Wees my genadig, o God.
Daar is mense
wat my agtervolg.
Die hele dag
val my vyande my aan.
3My aanvallers agtervolg my
sonder ophou,
en baie val my aan,
o Allerhoogste.
4Die dag wanneer ek bang word,
sal ek net op U vertrou.
5In God, wie se woord ek prys,
in God is my vertroue;
ek sal nie vrees nie.
Wat kan mense aan my doen?
6Die hele dag verdraai hulle
wat ek sê;
hulle bose gedagtes
is teen my gerig.
7Hulle span saam
en hou my dop,
en beloer my tree vir tree,
gretig om my dood te maak.
8In die lig van hulle sondes,
kan hulle enigsins ontsnap?
O God, bring hulle tot ’n val
in u toorn.
9U het my ellende raakgesien.
U het my trane opgevang.
U het dit opgeskryf
in u boek.
10Die dag dat ek na U roep om hulp,
val my vyande terug.
Dat God aan my kant is,
weet ek beslis.
11In God, wie se woord ek prys,
in die Here, wie se woord
ek prys,
12in God
stel ek my vertroue.
Daarom sal ek
nie bang wees nie!
Wat kan ’n gewone mens
aan my doen?
13My geloftes aan U
sal ek nakom, o God,
aan U sal ek dankoffers bring.
14Want U het my
van die dood gered.
U het my voete
van struikeling bewaar
sodat ek saam met God kan loop
en kan lewe in sy lig.

Psalm 86

U help en vertroos my
1’n Dawidsgebed.
Luister tog na my gebed, Here!
Antwoord my,
want ek is arm en ellendig.
2Beskerm my,
want ek is getrou aan U.
Red my, want ek is u dienaar.
U is my God op wie ek vertrou.
3Wees my genadig, Here,
want die hele dag roep ek tot U.
4Gee tog vir my blydskap,
want na U is my verlange,
Here.
5U is waarlik goed, Here, U vergewe.
U is vol liefde vir almal
wat by U hulp soek.
6Luister goed na my gebed,
Here,
gee tog ag op my hulpgeroep.
7In tye wanneer ek in nood is,
sal ek U aanroep,
want U sal my antwoord.
8Daar is nie ’n god soos U nie,
Here.
Niemand kan u werke
naboots nie.
9Al die nasies wat U gemaak het,
sal kom
en voor U neerbuig, Here;
hulle sal u Naam verheerlik.
10Want U is groot
en doen wonderdade.
U alleen is God.
11Leer my u weë, Here,
sodat ek in u waarheid
kan wandel.
Gee my ’n onverdeelde trou
om so u Naam te dien.
12Met my hele hart sal ek U prys,
Here, my God.
Ek sal u Naam
vir altyd verheerlik,
13want u liefde vir my
is baie groot.
U het my uit die doderyk gered.
14O God, verwaande mense
het my aangeval.
Geweldenaars wil my doodmaak,
mense met geen agting vir U nie.
15U, Here, is barmhartig
en genadig,
U is stadig om kwaad te word,
vol liefde en trou.
16Sien my raak
en wees my genadig.
Gee sterkte aan u dienaar,
red die seun van u dienares.
17Stuur my ’n teken van u guns.
My haters sal toekyk
en verslae wees,
want U, Here,
help en vertroos my.

Psalm 116

Hoe kan ek die Here
vergoed?
 
1Ek het die Here lief,
want Hy antwoord
my smeekgebed.
2Omdat Hy na my geluister het,
sal ek Hom aanroep
solank ek lewe.
3Bande van die dood
het my omring,
angs van die doderyk
het my oorval.
Vrees en verdriet
het my oorweldig.
4Toe roep ek die Here se Naam aan:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig
en regverdig.
Ons God bewys barmhartigheid.
6Die Here beskerm
die eenvoudiges.
Ek was in nood,
maar Hy het my gered.
7Nou kan ek weer gerus wees,
want die Here
was goed vir my.
8U het my van die dood gered,
my oë van trane bevry,
my voete van struikeling
weerhou.
9Daarom wandel ek
voor die Here
in die land van die lewendes.
10Ek het geglo
toe ek gesê het:
“Ek is in groot ellende.”
11In my angs het ek uitgeroep:
“Alle mense is leuenaars!”
12Hoe kan ek die Here vergeld
vir al sy goeie dade aan my?
13Ek sal die beker van redding
optel
en die Naam van die Here
aanroep.
14My geloftes aan die Here
sal ek betaal
in die teenwoordigheid
van sy hele volk.
15Die dood
van sy getroue dienaars
is kosbaar vir die Here.
16Here, ek is u dienaar.
Ja, ek is u dienaar,
seun van u dienares.
U het my bevry van my bande!
17Ek sal ’n dankoffer
aan U bring
en die Naam van die Here
aanroep.
18My geloftes aan die Here
sal ek betaal
in die teenwoordigheid
van sy hele volk
19in die voorhowe
van die huis van die Here,
in die hart van Jerusalem.
Prys die Here!

Psalm 146

Hy wat hoop op God
1Prys die Here!
Met my hele wese
wil ek die Here loof.
2Ek wil die Here prys
solank ek lewe.
Ek wil lofliedere bring aan my God
terwyl ek nog daar is.
3Moenie op magtiges vertrou,
of op mense
wat nie kan red nie.
4Sy asem hou op,
en hy word weer grond.
Skielik kom al sy planne
tot ’n einde.
5Gelukkig is hy wie se hulp
die God van Jakob is,
wat sy hoop vestig
op die Here sy God
6wat hemel en aarde gemaak het,
die see en alles daarin,
en wat altyd sy beloftes nakom;
7wat reg laat geskied
aan verdruktes,
en kos gee
vir dié wat honger is.
Die Here bevry
die gevangenes.
8Die Here laat die blindes
weer sien.
Die Here ondersteun dié
wat swaarkry.
Die Here het die regverdiges lief.
9Die Here beskerm
die vreemdelinge.
Hy ondersteun weeskinders
en weduwees,
maar die pad van bose mense
maak Hy skeef.
10Die Here regeer vir altyd.
Sion, jou God is koning,
geslag na geslag!
Prys die Here!

Spreuke 26

1Eer pas net so min
by ’n dwaas
soos sneeu in die somer
en reën in oestyd.
2Ongeregverdigde vervloeking
is soos dartelende voëltjies
en ’n swaeltjie wat wegvlieg.
Daar sal niks van kom nie.
3Stuur ’n perd met ’n sweep,
’n donkie met ’n toom
en ’n dwaas met ’n lat vir sy rug.
4Moenie ’n dwaas antwoord
volgens sy dwaasheid nie
anders word jy net soos hy.
5Antwoord ’n dwaas
volgens sy dwaasheid
sodat hy nie homself
as wys beskou nie.
6Om ’n boodskap
saam met ’n dwaas te stuur,
is net so goed
as om jou voet af te kap
of om gif te drink.
7’n Spreuk uit ’n dwaas se mond
is net so onbruikbaar
soos die bene
van ’n verlamde persoon.
8Om ’n dwaas te vereer,
is soos om ’n klip
in ’n slingervel vas te bind.
9’n Spreuk uit ’n dwaas se mond
is soos ’n doring
in ’n dronk mens se hand.
10Iemand wat ’n dwaas
of ’n verbyganger
van die straat af huur,
is soos iemand
wat sommer blindelings
’n pyl afskiet.
11’n Dwaas wat sy foute herhaal,
is soos ’n hond wat terugkom
na sy eie braaksel toe.
12Daar is meer hoop vir ’n dwaas
as vir iemand
wat dink hy is baie slim.
13’n Luiaard se verskoning is:
“Daar is ’n leeu op straat,
’n leeu is tussen die huise!”
14’n Luiaard draai om en om
op sy bed,
soos ’n deur heen en weer swaai
op sy skarnier.
15’n Luiaard
steek sy hand in die skottel,
maar sy hand is te moeg
om dit weer terug te bring
na sy mond.
16Die luiaard dink hy weet meer
as sewe ander mense
wat goeie antwoorde kan gee.
17Om sommer in die verbygaan
in te meng
in ander mense se rusie
is soos om ’n kwaai hond
sommer aan sy ore te gryp.
18Soos ’n kranksinnige wat
dodelike wapens afvuur,
19so is iemand wat ander bedrieg
en sê:
“Ek het net ’n grappie gemaak.”
20Soos ’n vuur uitbrand
as jy nie hout opgooi nie,
so hou ’n rusie op
as daar nie skinderpraatjies is nie.
21’n Bakleierige mens
veroorsaak rusies,
net soos gloeiende kole
’n vuur laat opvlam
en soos droë hout
’n vuur laat vlam vat.
22Na skinderstories
luister mense graag,
maar dit word maklik
deel van jou lewe.
23Glasuur oor ’n potskerf,
so is vleiende woorde
wat uit ’n bose hart kom.
24Iemand wat in sy hart haat
en bedrog koester,
steek dit weg agter sy woorde.
25Wanneer so iemand
mooi dinge sê,
moet jy dit glad nie glo nie.
Hy is vol bose bedoelings.
26Al steek hy sy haat
vernuftig weg,
sy kwaad sal in die gemeenskap
duidelik word vir almal.
27Iemand wat ’n vanggat
vir ’n ander mens grawe,
val self daarin.
Die klippe wat hy
in ’n ander se pad rol,
sal na hom toe terugkom.
28Iemand wat leuens vertel,
haat dié wat hy benadeel.
’n Persoon wat ander vlei,
veroorsaak ellende.

Die Boodskap

Psalm 26

Dink voor jy doen
1Sneeu in die somer pas nie. Reën op die verkeerde tyd kan rampspoedig wees. So pas eerbetoon ook nie by iemand wat nie weet hoe om reg te leef nie.
2Al wens iemand jou slegte dinge toe, niks daarvan sal waar word nie. Soos verskrikte voëltjies wat wegvlieg, sal dit in die niet verdwyn.
3Soos ’n sweep ’n perd op die regte pad hou, so moet ’n dom mens die regte dinge op die harde manier leer.
4Dink baie mooi voordat jy ’n dom mens antwoord. Soms moet jy liewer stilbly. As jy iets sê, dink hy jy is ook dom. 5Ander kere moet jy weer praat, want hy moenie dink sy nonsens is reg nie. Wys hom dan reguit op sy domheid.
6Iemand wat ’n dom mens met ’n boodskap stuur, moet weet dat daar moeilikheid gaan kom.
7Soos ’n lam man se bene nutteloos hang, so is al hierdie spreuke in die mond van ’n dwaas. Dit beteken vir hom niks nie. 8’n Geweer sonder koeëls beteken niks in ’n oorlog nie. So het dit ook geen sin om ’n dom mens te prys nie. Hy sal tog nie reg leef nie. 9’n Dronk mens kom nie agter as ’n doring in sy hand steek nie. Almal sien dit en lag vir hom. So weet ’n dwaas ook nie eens as hy een van hierdie spreuke gebruik nie. Mense hoor dit, maar steur hulle nie daaraan nie.
10Moenie sommer enige een wat verbystap vir tuinwerk huur nie. Hy kan groot skade maak. Hy is soos ’n wag wat beheer verloor en op verbygangers skiet.
11Soos ’n hond wat na sy eie braaksel terugkeer, so is ’n dwaas wat dom dinge oor en oor doen.
12Ken jy ’n mens wat wys is in sy eie oë? Hy weet mos altyd beter. Wel, daar is ’n groter kans dat ’n dwaas sal verander as hy.
13’n Lui mens dink die vreeslikste verskonings uit waarom hy nie wil gaan werk nie. ’n Leeu sal hom opvreet as hy dit sou waag om sy voete buite te sit. Of dalk vang die leeu hom op pad werk toe.
14Soos ’n deur aan ’n skarnier vas is, so is ’n lui mens aan sy bed vas. Soos ’n deur aan sy skarnier draai, so draai die lui mens om en om op sy bed.
15’n Lui mens sal nog aan die tafel sit, maar is te lui om die kos in sy mond te sit.
16’n Lui mens dink mos hy weet baie meer as selfs die slimste mense.
17Om in te meng by ’n rusie waarmee jy niks te make het nie, is dom. Jy sal groot moeilikheid kry. Dis soos om ’n kwaai hond aan sy ore te gryp.
18Iemand wat onverantwoordelik is met wapens, is dom. Hy kan mense doodmaak. 19Net so kan jy nie jou vriend seermaak en dan sê dit was ’n grap nie. 20As daar nie hout is nie, gaan die vuur dood. En as daar nie ’n kwaadstoker is nie, is daar ook nie rusie nie.
21Soos gloeiende houtskool ’n sukkelende vuurtjie aanhelp en fyn houtjies groot vlamme maak, so veroorsaak ’n rusiemaker oral moeilikheid.
22Brokkies skindernuus is soos lekkergoed. Almal wil dit hoor. Hulle glo ook alles wat aan hulle vertel word.
23Verf laat ’n goedkoop kleipot mooi lyk. So verbloem mooi praatjies en goeie maniere dikwels iemand se bose planne.
24’n Huigelaar se haat en venyn word deur mooi woorde verberg. As hy praat, moet hom nie glo nie. 25Binne-in hom beplan hy die allerverskriklikste dinge. Hy sal alles doen om jou om die bos te lei. 26Eendag sal jy en die ander gelowiges sy boosheid uitvind.
27Dan sal julle weet dat wie ’n gat vir ander grawe, self daarin val. Wie ander wil vernietig, gaan self onder. 28Pas dus op vir die man met die gladde mond. Eintlik haat hy jou. En ’n vleier wil eintlik net mense se lewens verwoes.

Psalm 56

1Opgedra aan die musiekleier. Op die wysie van “’n Duif in die hoë bome”.
Vir Dawid. ’n Gedig wat geskryf is toe die Filistyne Dawid in Gat gevang het
2Wees goed vir my, God, want daar is mense wat my in die grond in wil trap;
hulle voer die hele dag deur ’n stryd teen my.
Hulle maak die lewe vir my bitter moeilik.
3Hulle jaag my die hele dag.
Daar is baie trotse mense wat teen my baklei.
4As ek begin bang word, Here, besluit ek net daar om op U te vertrou.
5Ek prys God vir sy belofte dat Hy my sal help.
Op Hom vertrou ek sonder om bang te wees.
Mense kan niks aan my doen nie. Hulle is maar klein en swak.
6Daardie slegte mense is oneerlik. Hulle verdraai aanmekaar wat ek sê;
hulle dink die hele tyd slegte planne uit om my seer te maak.
7Hulle hou my dop vir ’n geskikte geleentheid om my dood te maak.
8Sal hulle loskom met al die verkeerde dinge wat hulle doen?
Nee, laat almal wat U nie dien nie, tot ’n val kom, o God!
Laat hulle u woede voel.
9U weet deur hoeveel pyn en hartseer ek al is.
My trane sal ’n dam volmaak. U het daarvan boek gehou, U weet.
10As ek U die dag om hulp kom vra, sal almal wat nie van my hou nie weghardloop.
Ek weet dat God aan my kant is. Hy staan by my.
11Ek prys God omdat Hy belowe het dat Hy my sal help.
Ek loof die Here. Hy hou sy woord.
12Ek vertrou op God; daarom is ek nie bang nie.
Mense kan niks aan my doen nie!
13God, aan U het ek ook beloftes gemaak. Ek sal dit nakom.
Ek wil U loof om dankie te sê dat U my help.
14Dis wat ek vir U wil terugdoen, want U het my uit die dood gered.
U het my gehelp om saam met U op die pad van die lewe te bly, al was dit baie moeilik.
U het my in die lewe gehou.

Psalm 86

’n Dawidsgebed
1Here, luister tog as ek bid. Help my, want ek is in ’n krisis.
Beskerm my, want ek is in die nood. Ek is desperaat.
2My God, U help mos u kind wat U dien en op U vertrou. Red my,
want ek het U as my God gekies.
3Wys tog dat U vir my omgee, Here.
Ek bid heeldag tot U sonder om op te hou.
4Maak my weer bly, want my hele lewe draai om U, Here. Ek dien U. En ek wens heeldag dat U by my is.
5Here, U is goed vir al u kinders wat tot U bid.
U vergewe maklik. U het u kinders baie lief. As hulle na U roep om hulle te help, antwoord U gou.
6Here, help my as ek bid. Luister as ek om hulp smeek.
7Ek weet as ek die dag in ’n groot krisis is, kan ek maar net tot U bid, want U antwoord my.
8Here, U is die enigste ware God.
Niemand kan die dinge doen wat U doen nie.
9Selfs mense wat U nie dien nie, is u handewerk.
Ook hulle sal nog kom om U te aanbid, Here.
Hulle sal u Naam kom grootmaak en U eer.
10Ja, U is baie groot. U laat wonders gebeur. U is die enigste ware God.
11Help my om te doen wat U wil hê, Here. Ek sal doen wat U van my vra.
Maak my gehoorsaam sodat ek u Naam kan eer en U dien.
12Here, U is my God. Ek wil U met alles in my prys.
U Naam wil ek altyd grootmaak.
13Ja, U het my baie lief. U het my uit my grootste krisis gered.
U het my van die dood af weggehou.
14Slegte mense het my lewe bedreig.
’n Klomp wrede skurke wou my doodmaak.
Hulle maak asof U nie bestaan nie.
15Here, U het ’n sagte hart. U gee maklik goeie dinge aan ons.
En U het baie geduld met ons.
U is vol goedheid. U het almal baie lief wat aan U behoort. En U is getrou aan hulle.
16Help my, Here! Maak u hart vir my oop.
Gee my krag. Red my. Ek dien U mos.
Ek is deel van ’n familie wat U dien.
17Mense moet aan my lewe kan sien dat U regtig vir u kinders omgee.
As mense wat my haat, sien hoe U my help, sal hulle baie skaam word.
Hulle moet sien hoe U al my trane afdroog en my help.

Psalm 116

1Ek het die Here baie lief. Hy help my as ek Hom baie mooi vra.
2Hy het mooi na my geluister.
Daarom sal ek tot Hom bid so lank as wat ek lewe.
3Ek het so amper doodgegaan. Ek het al paniekerig daaroor begin word.
Ek was doodsbenoud en bekommerd.
4Maar toe het ek ernstig tot die Here gebid. Ek het by Hom gepleit:
“Ag, Here, spaar tog my lewe.”
5Die Here was baie goed vir my. Hy sorg dat reg aan my gedoen word.
Ons God het my soos ’n ma in sy liefde toegevou.
6Die Here beskerm mense wat aan die einde van hulle kragte gekom het.
Ek was in so ’n situasie. Toe ek op my swakste was, het Hy my gehelp.
7Ek het toe vir myself gesê: “Jy kan ontspan. Wees rustig.
Die Here was baie goed vir jou.”
8Ja, U het my lewe gespaar. U het my getroos. U het gekeer dat ek ondergaan.
9Daarom sal ek saam met die Here lewe tussen almal wat nog leef.
10Ek het die Here vertrou toe ek gedink het ek kry baie swaar.
Ek het gedink dis klaar met my.
11Toe ek bang was, het ek gesê: “Jy kan geen mens vertrou nie.”
12Hoe kan ek die Here ooit vergoed vir al die goeie dinge wat Hy vir my gedoen het?
13Maar ek sal vir Hom iets terugdoen: ek sal vir Hom dankie sê. Ek sal na Hom toe gaan.
14Ek het beloftes aan die Here gemaak. Ek sal dit hou sodat al sy kinders dit kan sien.
15Sy kinders is vir Hom baie werd.
Daarom laat Hy nie maklik toe dat een van hulle doodgaan nie.
16Ek het gesê: “Regtig, Here, ek dien U. Ook my ouers het U gedien.
U het my lewe gespaar. 17Ek sal vir U iets doen om dankie te sê: ek sal U eer en aanbid.”
18My beloftes aan die Here sal ek nakom waar al sy kinders dit kan sien.
19Binne en buite die kerk sal ek dit nakom.
Kom prys die Here!

Psalm 146

1Kom prys die Here. Ja, jy moet die Here kom loof.
2Ek wil die Here met alles in my prys.
Vol opgewondenheid wil ek vir my God liedere sing so lank as wat ek leef.
3Moenie op mense staatmaak nie.
Jy kan dalk dink dat mense in hoë posisies jou sal kan help. Moenie glo nie.
Mense bly maar net mense.
4’n Mens is net van stof gemaak en leef net ’n kort rukkie.
As hy doodgaan, word hy weer soos niks.
Sy planne hou nie lank nie. Daarom kan jy nie op ’n mens staatmaak om jou te help nie.
5Hoor mooi, jy sal nie ’n fout maak as jy op die God van Jakob vertrou om jou te help nie.
Hy het deur die geskiedenis gewys dat jy Hom kan vertrou.
Iemand wat die Here as sy God vertrou, is ’n baie gelukkige mens.
6Onthou, die Here het al die mag in die wêreld.
Hy het alles gemaak: die hemel, die aarde, die see, ja, alles wat leef en beweeg.
Hy sal nooit dit wat Hy gemaak het, in die steek laat nie. Hy bly altyd getrou.
7Die Here sorg dat mense wat swaarkry, reg behandel word.
Hy sorg dat mense genoeg het om van te leef. Hy haal mense uit die tronk.
8Die Here help mense met die grootste probleme.
Hy maak mense gesond, al is hulle hoe siek.
Die Here gee moed vir mense wat platgeslaan is; Hy tel hulle weer op.
Die Here het sy kinders baie lief.
9Hulle wat verstoot word en nie voorregte het soos ander nie, kan op die Here vertrou.
Hy sal vir hulle sorg.
Maar mense wat hulle nie aan die Here steur nie, is in groot moeilikheid.
10Die Here is Koning oor alles. Hy regeer oor almal wat leef.
Hy is jou God. Hy sal jou nooit in die steek laat nie.
Vertrou op Hom! By Hom is jy veilig.
Kom prys die Here!

Spreuke 26

Dink voor jy doen
1Sneeu in die somer pas nie. Reën op die verkeerde tyd kan rampspoedig wees. So pas eerbetoon ook nie by iemand wat nie weet hoe om reg te leef nie.
2Al wens iemand jou slegte dinge toe, niks daarvan sal waar word nie. Soos verskrikte voëltjies wat wegvlieg, sal dit in die niet verdwyn.
3Soos ’n sweep ’n perd op die regte pad hou, so moet ’n dom mens die regte dinge op die harde manier leer.
4Dink baie mooi voordat jy ’n dom mens antwoord. Soms moet jy liewer stilbly. As jy iets sê, dink hy jy is ook dom. 5Ander kere moet jy weer praat, want hy moenie dink sy nonsens is reg nie. Wys hom dan reguit op sy domheid.
6Iemand wat ’n dom mens met ’n boodskap stuur, moet weet dat daar moeilikheid gaan kom.
7Soos ’n lam man se bene nutteloos hang, so is al hierdie spreuke in die mond van ’n dwaas. Dit beteken vir hom niks nie. 8’n Geweer sonder koeëls beteken niks in ’n oorlog nie. So het dit ook geen sin om ’n dom mens te prys nie. Hy sal tog nie reg leef nie. 9’n Dronk mens kom nie agter as ’n doring in sy hand steek nie. Almal sien dit en lag vir hom. So weet ’n dwaas ook nie eens as hy een van hierdie spreuke gebruik nie. Mense hoor dit, maar steur hulle nie daaraan nie.
10Moenie sommer enige een wat verbystap vir tuinwerk huur nie. Hy kan groot skade maak. Hy is soos ’n wag wat beheer verloor en op verbygangers skiet.
11Soos ’n hond wat na sy eie braaksel terugkeer, so is ’n dwaas wat dom dinge oor en oor doen.
12Ken jy ’n mens wat wys is in sy eie oë? Hy weet mos altyd beter. Wel, daar is ’n groter kans dat ’n dwaas sal verander as hy.
13’n Lui mens dink die vreeslikste verskonings uit waarom hy nie wil gaan werk nie. ’n Leeu sal hom opvreet as hy dit sou waag om sy voete buite te sit. Of dalk vang die leeu hom op pad werk toe.
14Soos ’n deur aan ’n skarnier vas is, so is ’n lui mens aan sy bed vas. Soos ’n deur aan sy skarnier draai, so draai die lui mens om en om op sy bed.
15’n Lui mens sal nog aan die tafel sit, maar is te lui om die kos in sy mond te sit.
16’n Lui mens dink mos hy weet baie meer as selfs die slimste mense.
17Om in te meng by ’n rusie waarmee jy niks te make het nie, is dom. Jy sal groot moeilikheid kry. Dis soos om ’n kwaai hond aan sy ore te gryp.
18Iemand wat onverantwoordelik is met wapens, is dom. Hy kan mense doodmaak. 19Net so kan jy nie jou vriend seermaak en dan sê dit was ’n grap nie. 20As daar nie hout is nie, gaan die vuur dood. En as daar nie ’n kwaadstoker is nie, is daar ook nie rusie nie.
21Soos gloeiende houtskool ’n sukkelende vuurtjie aanhelp en fyn houtjies groot vlamme maak, so veroorsaak ’n rusiemaker oral moeilikheid.
22Brokkies skindernuus is soos lekkergoed. Almal wil dit hoor. Hulle glo ook alles wat aan hulle vertel word.
23Verf laat ’n goedkoop kleipot mooi lyk. So verbloem mooi praatjies en goeie maniere dikwels iemand se bose planne.
24’n Huigelaar se haat en venyn word deur mooi woorde verberg. As hy praat, moet hom nie glo nie. 25Binne-in hom beplan hy die allerverskriklikste dinge. Hy sal alles doen om jou om die bos te lei. 26Eendag sal jy en die ander gelowiges sy boosheid uitvind.
27Dan sal julle weet dat wie ’n gat vir ander grawe, self daarin val. Wie ander wil vernietig, gaan self onder. 28Pas dus op vir die man met die gladde mond. Eintlik haat hy jou. En ’n vleier wil eintlik net mense se lewens verwoes.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!