Dag 24: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 24

Die Here is die magtige koning
1'n Psalm van Dawid.
Die aarde en alles wat daarop is,
die wĂȘreld en diĂ© wat daar woon,
alles behoort aan die Here,
2want Hy het die fondamente daarvan in die see gelĂȘ
en dit stewig gevestig in die waters.
3Wie mag die berg van die Here opgaan
en wie mag in sy heiligdom gaan staan?
4Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is,
wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflĂȘ nie.
5So iemand sal van die Here seën ontvang,
en God, sy redder, sal reg aan hom laat geskied.
6Die mense wat na sy wil vra en Hom dien,
is die geslag van Jakob.Sela
7Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan!
8Wie is hierdie magtige Koning?
Die Here, sterk en geweldig,
die Here, oorwinnaar in elke stryd.
9Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan!
10Wie is Hy, hierdie magtige Koning?
Die Here, die Almagtige,
Hy is die magtige Koning.Sela

Psalm 54

Die Here hou my lewe in stand

1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Gedig van Dawid, 2na aanleiding daarvan dat die Siffiete gekom en vir Saul gesĂȘ het: Dawid kruip by ons weg.
3Red my deur u mag, o God,
laat aan my reg geskied deur u krag.
4Hoor my gebed, o God,
luister na my woorde,
5want vyande staan teen my op,
geweldenaars soek my lewe,
hulle hou geen rekening met God nie.Sela
6Maar vir my help God altyd,
die Here hou my lewe in stand.
7Laat die onheil wat my teëstanders beplan, op hulleself neerkom.
U is getrou: vernietig hulle.
8Dan sal ek offers aan U bring, selfs meer as wat U vra,
ek sal u Naam loof, Here, want U is goed,
9U het my uit elke benoudheid gered
en my oor my vyande laat triomfeer.

Psalm 84

Hoe lief het ek u woning, Here
1Vir die koorleier: met musiek. Van die Koragiete. 'n Psalm.
2Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!
3Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;
met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.
4Selfs 'n mossie het 'n nes
en 'n swaeltjie 'n plek vir haar kleintjies
daar by u altare, Here, Almagtige,
my Koning en my God!
5Dit gaan goed met mense vir wie u huis 'n tuiste is:
hulle hou nie op om U te prys nie.Sela
6Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind
en graag na u tempel toe gaan.
7Vir hulle gaan daar fonteine oop
wanneer hulle deur 'n dorre laagte trek
en die vroeë reëns sy seëninge bring.
8Keer op keer ontvang hulle nuwe krag
totdat hulle voor God in Sion verskyn.
9Here, almagtige God, hoor my gebed,
luister tog, God van Jakob!Sela
10Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God;
hou u gesalfde onder u sorg.
11Waarlik, Ă©Ă©n dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.
Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God
as om te woon in huise sonder God.
12Die Here God is ons krag en ons beskerming,
die Here gee genade en eer,
Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.
13Here, Almagtige,
dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!

Psalm 114

Die aarde moet bewe as die Here verskyn
 
1Toe Israel uit Egipte getrek het,
toe die nageslag van Jakob getrek het,
weg van die volk met die onverstaanbare taal af,
2het Juda sy gewyde besit geword
en Israel sy magsgebied.
3Die see het dit gesien en op die vlug geslaan,
die Jordaan het teruggedraai,
4die berge het rondgespring soos ramme,
die rante soos lammers.
5Wat is dit met jou, see, dat jy op die vlug slaan,
wat is dit, Jordaan, dat jy terugdraai,
6berge, dat julle soos ramme rondspring,
en julle, rante, soos lammers?
7Bewe, aarde, as die Here verskyn,
as die God van Jakob verskyn,
8Hy wat rots in waterkuile verander,
harde klip in fonteine.

Psalm 144

U is my krag
1Van Dawid.
Geloof sy die Here, Hy is my rots.
Hy leer my hande om oorlog te maak,
my vingers om te veg.
2U is my krag en my skuilplek,
my veilige vesting en my redder,
my beskermer by wie ek skuil,
wat my volk aan my onderdanig maak.
3Here, wat is 'n mens dat U hom sou wil ken,
'n mensekind dat U aan hom sou dink?
4'n Mens, hoe verganklik is hy tog:
sy dae gaan soos 'n skaduwee verby.
5Buig u hemele, Here, en daal neer,
raak die berge aan dat hulle rook!
6Laat die weerligstrale blits en jaag die vyande uitmekaar,
stuur u pyle en jaag hulle op loop!
7Strek u hand van bo af uit,
bevry my, red my uit die geweldige waters,
uit die mag van vreemdelinge
8wie se woorde en dade leuens en bedrog is.
9Ek wil tot u eer 'n nuwe lied sing, o God,
tot u eer wil ek sing met begeleiding van die lier,
10U wat aan konings die oorwinning skenk,
wat u dienaar Dawid red.
11Red my van die swaard wat my bedreig,
bevry my uit die mag van vreemdelinge
wie se woorde en dade leuens en bedrog is.
12Mag ons seuns wees soos plante
wat hoog groei in hulle jeug,
ons dogters soos hoekpilare,
uitgebeitel soos vir 'n paleis.
13Mag ons skure vol wees
en oorloop van kant tot kant.
Mag ons kleinvee in hulle duisende aanteel,
in hulle tienduisende vermenigvuldig op ons weivelde.
14Mag ons beestrop 'n groot kalweroes lewer.
Mag ons nooit oorval en weggevoer word nie,
mag daar geen klaagkreet op ons pleine gehoor word nie.
15Gelukkig is die volk met wie dit so gaan.
Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!

Spreuke 24

1Moenie slegte mense beny nie,
moenie by hulle wil wees nie;
2al waaroor hulle dink, is geweld,
en al waaroor hulle praat, is moeilikheid maak.
3Daar is verstand nodig om 'n huis te bou,
insig om sy fondamente te lĂȘ,
4kennis om sy kamers te vul
met allerhande kosbare en mooi goed.
5Dit is die wyse man wat sterk is,
die een wat kennis het, wat werklik mag het.
6Jy maak oorlog nĂĄ beraadslaging,
en die oorwinning kom deur baie raadgewers.
7Wysheid is bo 'n dwaas se begrip;
hy kan dit nie waag om sy mond oop te maak
waar leiers beraadslaag nie.
8Een wat beplan om kwaad te doen,
kry die naam van 'n knoeier.
9'n Dwaas se geknoei loop op niks uit nie;
mense verafsku 'n ligsinnige mens.
10As jy weifel op die dag van nood,
is jy nie opgewasse daarvoor nie.
11Red dié wat na hulle dood toe gesleep word,
dié wat val-val op pad is
om doodgemaak te word as jy nie keer nie.
12As jy sou sĂȘ: “Ons weet daar niks van af nie”,
sal God wat die gedagtes toets,
weet wat die waarheid is.
Hy wat oor jou wag hou, Hy weet
en Hy vergeld 'n mens vir wat hy gedoen het.
13Eet heuning, my seun, dit is lekker;
die stroop is soet in jou mond.
14So smaak die kennis, die wysheid ook;
as jy dié gekry het, het jy 'n toekoms,
en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.
15Moenie soos 'n slegte mens die regverdige by sy huis gaan voorlĂȘ
en sy woonplek verwoes nie.
16Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op,
maar die goddeloses word deur rampe vernietig.
17Moet jou nie verheug oor jou vyand se val nie,
moenie juig wanneer hy ondergaan nie.
18Die Here sal sien wat jy doen, en dit sal verkeerd wees in sy oë,
en Hy sal jou vyand nie verder straf nie.
19Moet jou nie ontstel oor skelms,
jou kwel oor goddelose mense nie,
20want 'n slegte mens het nie 'n toekoms nie;
die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.
21Dien die Here, my seun, en ook die koning;
moet jou nie ophou met oproermakers nie.
22Hulle ondergang kom skielik;
niemand weet wanneer die Here
en die koning hulle vernietig nie.
23Wat nou volg, is ook afkomstig van wyse mense.
Dit is nie reg om partydig te wees in die regspraak nie.
24'n Regter wat 'n skuldige onskuldig verklaar,
sal deur die hele bevolking vervloek word,
deur almal verwens word.
25Maar met regters wat regverdig straf, sal dit goed gaan;
hulle sal geseën word met voorspoed.
26Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend.
27Sit eers jou werk buite aan die gang
en bewerk jou lande; daarna kan jy huis bou.
28Moenie teen jou naaste getuig as hy jou nie rede gegee het nie;
moenie mense mislei met wat jy sĂȘ nie.
29Moenie sĂȘ: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen,
ek sal hom terugbetaal vir wat hy gedoen het” nie.
30Ek het by 'n lui mens se land verbygestap,
by 'n onverstandige mens se wingerd:
31dit was heeltemal oortrek van die onkruid,
toegegroei onder die bossies,
en die klipmuur was omgeval.
32Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink
en daar iets uit geleer:
33nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer,
nog 'n bietjie handevou om te slaap,
34en daar kom jou armoede aangestap,
daar oorval die gebrek jou soos 'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 24

Wie mag voor die Here
verskyn?
1’n Dawidspsalm.
Die aarde behoort
aan die Here,
met alles wat daarop is,
die wĂȘreld
en alles wat daarop lewe.
2Die fondamente van die aarde
het Hy in die oseane gelĂȘ,
en dit op die riviere gevestig.
3Wie mag opklim
teen die berg van die Here?
Wie mag staan
in sy heilige plek?
4Net hulle
wie se dade onskuldig,
wie se denke
sonder bybedoeling is;
wat nie bedrog pleeg nie
en nie ’n eed valslik aflĂȘ nie.
5So ’n persoon
sal die seën van die Here ontvang
en God sy redder
sal aan hom reg laat geskied.
6SĂł lyk die mense wat Hom dien
en die God van Jakob aanbid.
Sela
7Word hoër, o poorte!
Word nog hoër,
eeue oue deure,
sodat die roemryke Koning
kan ingaan.
8Wie is die roemryke Koning?
Die Here, sterk en magtig,
die Here,
onoorwinlik in die stryd.
9Gaan oop, o poorte!
Gaan oop, eeue oue deure,
sodat die roemryke Koning
kan ingaan.
10Wie is die roemryke Koning?
Die Here, die Almagtige,
HĂœ is die roemryke Koning.
Sela

Psalm 54

Geweldenaars soek my
lewe
1Vir die koorleier: Met snarespel.
’n Gedig van Dawid,2met verwysing na
die gebeurtenis toe die Siffiete gekom het
en vir Saul gesĂȘ het: Dawid kruip weg
by ons.
3O God, red my
deur die mag van u Naam!
Laat aan my reg geskied
deur u krag.
4O God, luister na my gebed.
Gee aandag aan my smeking.
5Want vreemdelinge val my aan;
geweldenaars soek my lewe.
Hulle steur hulle nie
aan God nie.
Sela
6Maar God is my Helper.
Die Here ondersteun my!
7Laat my vyande
se onheilsplanne
teen hulle draai.
Maak tog ’n einde aan hulle,
want U is getrou.
8Ek sal ’n vrywillige dankoffer
aan U bring.
Ek sal u Naam loof, Here,
want dit is goed.
9Uit al my benoudheid
het U my bevry.
Die triomf oor my vyande
kon ek self sien.

Psalm 84

Ek verlang na u woning
1Vir die koorleier: Met musiek. Van die
Koragiete. ’n Psalm.
2Hoe lief het ek u woonplek,
o Here, die Almagtige!
3Here, ek verlang, ek hunker
na u woning.
Met my hele wese,
liggaam en gees,
wil ek jubel
oor die lewende God.
4Selfs ’n mossie kry hier ’n plek,
en die swaeltjie bou haar nes
en maak haar kleintjies groot
naby u altare, Here, die Almagtige,
my Koning en my God!
5Gelukkig is hulle
wat in u huis woon,
waar hulle U deurentyd kan loof.
Sela
6Gelukkig is hulle
wie se krag van U kom,
wat hulle harte rig
op ’n pelgrimstog.
7Gaan hulle deur ’n droĂ« vallei,
word dit omskep
tot ’n fonteinedal.
Vroeë reëns
bring vir hulle seëninge.
8Hulle kragte sal vermeerder
tot hulle in Sion
voor God verskyn.
9Here God, die Almagtige,
luister na my gebed.
Luister, o God van Jakob!
Sela
10O God, ons beskermer, kyk tog,
betoon genade aan u gesalfde!
11Een dag in u tempel
is beter as duisend elders!
Ek staan liewer by die drumpel
van die huis van my God
as dat ek woon
in huise van goddeloses.
12’n Son en skild
is die Here God.
Die Here gee genade en eer.
Hy sal die goeie nie weerhou
van hulle wat doen
wat reg is nie.
13Here, die Almagtige,
gelukkig is hy
wat op U vertrou.

Psalm 114

Bewe in sy
teenwoordigheid
 
1Toe die Israeliete
uit Egipte getrek het,
die nageslag van Jakob
uit die land
met ’n vreemde taal,
2het Juda
God se heiligdom geword
en Israel sy koninkryk.
3Die see het dit gesien en gevlug,
die Jordaanrivier
het teruggedraai.
4Berge het soos ramme
rondgespring,
die heuwels soos lammers.
5Wat is verkeerd, see,
dat jy vlug,
Jordaanrivier, dat jy wegdraai,
6berge,
dat julle soos ramme spring,
en julle, heuwels,
soos lammers?
7Bewe, aarde,
in die teenwoordigheid
van die Here,
in die teenwoordigheid
van die God van Jakob,
8Hy wat die rots verander
na poele water,
die vaste rots
na fonteine van water.

Psalm 144

’n Nuwe lied as U ingryp
1’n Dawidspsalm.
Geseënd is die Here, my rots,
wat my hande leer om te veg,
my vingers om oorlog te maak.
2Hy is my troue hulp
en my toevlug,
my veilige vesting en my redder.
Hy is my beskermer
by wie ek skuil,
wat volke aan my onderwerp.
3Here, wat is die mens
dat U hom raaksien,
’n mensekind
dat U vir hom omgee?
4Die mens is soos ’n asemteug,
soos ’n skadu
gaan sy dae verby.
5Here, buig u hemele
en daal neer!
Raak die berge aan
sodat hulle rook!
6Laat weerligstrale
u vyande verstrooi,
u pyle
hulle in verwarring laat vlug.
7Reik af uit u hemel
en verlos my;
bevry my van woeste waters,
red my uit die mag
van vreemdelinge
8wie se monde vol is van leuens,
wat lieg selfs as
hulle ’n eed aflĂȘ.
9Ek sing ’n nuwe lied vir U, o God!
Ek sing lofsange
met begeleiding van die harp.
10U wat oorwinning gee
aan konings,
wat vir Dawid, u dienaar,
van die bose swaard gered het.
11Red my en verlos my
uit die mag van vreemdelinge
wie se monde vol is van leuens,
wat lieg selfs as
hulle ’n eed aflĂȘ.
12Dan sal ons seuns in hulle jeug
opgroei
soos goed versorgde plante.
Ons dogters sal hoekpilare wees,
uitgebeitel soos vir ’n paleis.
13Ons voorraadskure
sal vol wees
van allerlei soorte
lewensmiddels.
Ons kleinvee sal vermeerder
by die duisende,
selfs by die tienduisende
op ons velde.
14Ons beeste sal baie kalwers hĂȘ.
Daar sal geen breuk in ons mure,
en geen ballingskap
meer wees nie;
geen klaagkrete sal weer
op ons pleine
gehoor word nie.
15Gelukkig is die volk
met wie dit so goed gaan.
Gelukkig is die volk
wie se God die Here is.

Spreuke 24

1Moenie slegte mense beny
en hulle geselskap begeer nie.
2Hulle dink net aan geweld.
Hulle praat net daaroor
om moeilikheid te maak.
3Met wysheid
word ’n huis gebou.
Insig is nodig
om dit te onderhou.
4Kennis is nodig
om sy kamers te meubileer
met allerhande kosbare
en waardevolle artikels.
5’n Wyse man het krag.
Iemand met kennis is sterk.
6Jy gaan maak eers oorlog
nadat jy goed beplan het.
Oorwinning kom
wanneer baie raadgewers
koppe bymekaargesit het.
7Wysheid is buite die begrip
van ’n dwaas.
Wanneer hulle in die stadspoort
beraadslaag,
is hy nie in staat
om sy mond oop te maak nie.
8Iemand wat altyd sit
en beplan om kwaad te doen
word ’n knoeier genoem.
9Die knoeiery van die dwaas
is sonde.
Almal verag spotters.
10As jou knieë knak
wanneer die krisis opduik,
is jou krag maar baie min.
11Red die mense wat onskuldig
na die galg toe gesleep word.
Hulle sal doodgemaak word
as jy nie keer nie.
12Moenie jou verontskuldig
en sĂȘ:
“Ons het nie geweet nie.”
Hy wat die gedagtes toets,
weet mos wat waarheid is.
Hy wat sy hand oor jou hou,
weet wat waar is.
God roep elkeen
tot verantwoording
vir wat hy gedoen het.
13My kind, jy moet heuning eet.
Dit is goed vir jou.
Heuningstroop is lekker
in die mond.
14Net so, moet jy weet,
is wysheid vir jou lewe.
As jy daarop afgekom het,
is daar vir jou ’n toekoms.
Jou hoop
sal nie verydel word nie.
15Moenie ’n regverdige mens
by sy huis gaan voorlĂȘ
en soos ’n goddelose mens
sy woonplek verwoes nie.
16Selfs al val ’n regverdige mens
sewe keer,
hy sal elke keer weer opstaan.
Die goddelose mens sal bly lĂȘ
na net een ramp.
17Jy moenie bly wees
as jou vyand val nie.
Moenie jou daarin verheug
dat hy gestruikel het nie.
18Die Here sal sien wat jy doen
en sal ontevrede wees.
Hy sal jou vyand
nie verder straf nie.
19Moenie jou ontstel
oor kwaaddoeners nie.
Moenie afgunstig wees
op goddelose mense nie.
20Vir iemand wat kwaad doen,
is daar geen toekoms nie.
Die lewenslig van goddeloses
gaan dood.
21My kind, betoon eerbied
aan die Here en die koning.
Moet jou nie ophou met mense
wat teen hulle in opstand is nie.
22Hulle ondergang kom skielik;
niemand weet watter teëspoed
God of die koning
oor hulle gaan bring nie.
23Die woorde hieronder
kom ook van wyse mense.
Moenie bevooroordeeld wees
wanneer jy moet regspreek nie.
24Die volk kryt ’n regter uit
wat vir ’n skuldige sĂȘ:
“Jy is onskuldig.”
Mense en volke
is verontwaardig daaroor.
25Wanneer regters
’n regverdige beslissing maak,
word hulle geprys
en oorvloedig geseën.
26Eerlike antwoorde
is soos ’n soen op die mond.
27Maak eers buite reg
en bewerk jou landerye.
Daarna kan jy
jou huis bou.
28Moenie teen iemand getuig
as hy jou nie rede daarvoor
gegee het nie.
Moenie mense mislei
met wat jy sĂȘ nie.
29Moenie sĂȘ nie:
“Soos hy aan my gedoen het,
sal ek aan hom doen.
Ek sal hom in gelyke munt
terugbetaal.”
30Ek het
by ’n lui mens se landerye
verbygeloop.
Die wingerd was die eiendom
van ’n onverstandige mens.
31Onkruid
het dit heeltemal ingeneem.
Dit was toegegroei
onder bossies.
Sy klipmuur
het omgeval.
32Ek het nagedink
oor wat ek gesien het.
Ek het iets daaruit geleer.
33Nog ’n bietjie verder slaap,
nog ’n bietjie sluimer,
nog ’n bietjie handevou
om agteroor te sit,
34dan kom jou armoede
aangestap,
en oorval behoeftes jou
soos ’n gewapende inbreker
by jou huis.

Die Boodskap

Psalm 24

Van Dawid
1Alles op hierdie aarde is die Here s’n.
Ja, die aarde self en alles wat daarop leef en beweeg, is Syne.
2Hy het die aarde op die see en riviere gebou.
3Wie het die reg om in die huis van die Here in te gaan?
Wie mag sommer by Hom gaan staan?
4Iemand wat nie verkeerde dinge doen nie
en nog minder daaraan dink, is by die Here welkom;
ja, iemand wat nie ander mense kul nie en wie se ja sy ja en wie se nee sy nee is.
5Vir so iemand sal die Here baie goed wees.
God, sy redder, sal sorg dat sy verhouding met Hom reg is.
6Dit is die mense wat naby die God van Jakob wil wees. Hulle soek na die Here en verlang na sy teenwoordigheid.
7Poorte, staan gereed en swaai oop,
want die magtige Koning wil ingaan. Wees bly daaroor!
8Wie is hierdie magtige Koning?
Dit is die Here. Hy is baie sterk. Niemand kan Hom wen nie. Hy is ’n Held.
9Poorte, staan gereed en swaai oop,
want die magtige Koning wil ingaan. Wees bly daaroor!
10Wie is Hy presies, hierdie magtige Koning?
Dit is die Here. Niemand is sterker as Hy nie.
Niemand kan eens naastenby by Hom kers vashou nie. Hy is die Koning.

Psalm 54

1-2Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidsgedig vir snaarbegeleiding. Toe die Siffiete na Saul gekom het om vir hom te sĂȘ: Dawid het by ons kom wegkruip
3God, red my, asseblief! U is baie sterk.
Laat die regte dinge met my gebeur.
4God, help my wanneer ek tot U bid.
Moet my nie ignoreer as ek by U kom hulp vra nie.
5Mense wat ek nie ken nie, probeer my onderkry.
Mense wat geweld gebruik, wil my doodmaak.
Vir God het hulle geen respek nie.
6Gelukkig help God my altyd! Die Here hou my lewe in sy hand vas.
7Hy sal die kwaad wat mense my wil aandoen, op hulle eie koppe laat neerkom.
Omdat U goed is vir u kinders, vra ek dat U hulle sommer vinnig van die aarde afvee.
8Ek wil graag vir U iets doen om vir U dankie te sĂȘ, selfs meer as wat U vra:
ek wil U kom loof, Here, want U is baie goed vir al u kinders.
9U het my uit my nood gered.
U het vir my gewys hoe mense wat my wou doodmaak, self sleg daarvan afkom.

Psalm 84

1’n Psalm geskryf vir die koor van Korag om met musiek gesing te word
2Hoe wonderlik mooi is die plek waar U woon, o Here, groot Bevelvoerder oor alles en almal.
3Ek verlang so om net in u woonplek te staan.
Ek wil baie bly wees omdat U die God is wat leef.
4Die voëltjies maak hulle nes naby u altaar, o Here, God, groot Bevelvoerder. U is my God, en U heers oor die heelal.
5Gelukkig is die mense wat tuis voel in u huis en nie ophou om die mooiste dinge oor U te sĂȘ nie.
6Gelukkig is mense wat hulle krag by U soek en wat heeltyd droom oor hoe hulle u huis gaan besoek.
7As hulle deur ’n droĂ« vallei gaan, breek die aarde in fonteine oop en sak die vroeĂ« reĂ«n uit sodat daar oral poele water staan.
8Aan hulle is daar geen keer nie; hulle pad sal by God in Jerusalem eindig. U gee hulle die krag daarvoor.
9Luister asseblief wat ek vra, o Here, U wat alles kan doen. U is die groot Bevelvoerder, die God van Jakob. Hoor my gebed.
10Pas ons aardse heerser asseblief mooi op, o God.
Wees goed vir die een wat U spesiaal as koning gekies het. Hy moet ons beskerm.
11Dit is vir my lekkerder om een dag in u huis te wees as duisend dae sonder U in die poele van plesier.
Ek sal liewer net ’n deurwag in u huis wees as om in die grootste paleise saam met mense te bly wat nie van U hou nie.
12Die Here God wys vir ons wat ons moet doen en beskerm ons in gevaar.
Hy gee vir ons dinge wat ons nie verdien nie omdat ons reg lewe.
13As ons op U vertrou, sal U vir ons gee wat ons nodig het.
Here, U is die groot Bevelvoerder wat alles kan doen.
Die mens wat op U vertrou, is die gelukkigste van almal.

Psalm 114

1Toe Israel uit Egipte getrek het
en Jakob se mense padgegee het van daardie spul barbare af,
2toe het Juda God se spesiale grondgebied geword
en Israel die plek waar die Here sy groot mag wys.
3Die see het net een kyk na God se groot krag gegee en op die vlug geslaan.
Die Jordaan het ook vreesbevange padgegee.
4Magtige berge het soos ’n klomp skape rondgespring en die heuwels soos lammetjies.
5See, wat is fout met jou dat jy so vinnig op die vlug slaan,
en jy, Jordaan, hoekom gee jy pad?
6Berge, hoekom spring julle soos ’n klomp skape rond,
en heuwels, hoekom skarrel julle soos lammetjies rond?
7Aarde, jy moet bewe van vrees wanneer die Here op die toneel verskyn!
Bewe as die God van Jakob sy opwagting maak.
8Hy het klipharde rotse in ’n groot dam vol water verander,
harde klippe in ’n fontein vol vars water!

Psalm 144

’n Psalm van Dawid
1Ek wil vir die Here baie dankie sĂȘ. Hy beskerm my.
Hy leer my hoe om oorlog te maak.
2Hy is goed vir my en beskerm my.
Hy hou my veilig en help my as dit nodig is. By Hom voel ek veilig.
Hy laat my mense aan my gehoorsaam wees.
3Here, wat is ’n mens dat U U aan hom steur?
4Die mens is soos ’n skaduwee. Sy lewe is nie lank nie.
5Here, kom tog na ons toe.
Raak aan die berge sodat daar rook uit hulle trek.
6Laat u weerlig soos pyle slaan sodat u vyande in alle rigtings weghardloop.
7Red my van die spul vreemde mense 8wat net lieg en bedrieg,
soos U iemand uit ’n magtige rivier sou red.
9Ek wil ’n lied sing wat ek spesiaal net vir U geskryf het, o God.
Met musiekinstrumente wil ek u Naam grootmaak.
10U laat konings wen; U keer dat koning Dawid iets oorkom.
11Help my asseblief teen die klomp vreemde mense wat net lieg en bedrieg.
Wees baie goed vir ons kinders.
12Laat ons seuns sterk word soos jong bome
en ons dogters soos die mooiste pilare in die paleis wees.
13Laat ons skure vol wees van die oes en ons skape en bokke by die tienduisende aanteel en ons beeste baie kalwers hĂȘ.
14Mag ons vyande nooit ons stad inneem en ons as gevangenes daaruit weglei nie.
Mag ons mense nooit in die stad skree omdat hulle daar bang is nie.
15Die volk met wie dit so gaan, is baie gelukkig.
Ja, gelukkig is die volk wie se God die Here is.

Spreuke 24

Systap slegte mense
1Moet niks van slegte mense wil hĂȘ nie. Moet onder geen omstandighede met hulle bevriend raak nie. 2Hulle dink net aan verkeerde dinge. Hulle maak net moeilikheid.
3’n Gelukkige gesinslewe kom nie vanself nie. ’n Mens moet hard daarvoor werk. Dit is soos ’n huis wat jy bou. Alles moet netjies beplan word. 4Baie dinkwerk is nodig om dit ’n lekker plek te maak. Fyn smaak is nodig om dit mooi te maak.
5Wysheid is beter as fisieke krag. Dit maak jou geestelik sterk. Dit help jou om jou probleme op te los. 6Mense wat die lewe ken, kan jou ook baie help. Hulle sal jou leer om jou daaglikse moeilikhede te hanteer.
7Wysheid is bo ’n dom mens se vuurmaakplek. Jy tref ’n domme ook nie aan tussen mense wat die lewe ken nie. Natuurlik omdat hy bang is hulle hoor sy domheid.
8Iemand wat net slegte dinge beplan, kry gou-gou ’n baie slegte naam. 9Waaroor hy dink en wat hy doen, is een stuk sonde. Vir die gemeenskap is hy ’n verleentheid.
10’n Krisis leer jou hoe sterk jy werklik is. As jy ondergaan, was jou kragte maar min.
11Moenie net toekyk hoe mense onregverdig behandel word nie. Doen iets! Moenie toelaat dat hulle lewens verwoes word nie. Stop dit! 12Moenie agterna sĂȘ jy het niks daarvan geweet nie. Die Here ken ons en weet wat ons dink. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie. Hy oordeel elkeen volgens sy werke.
13Heuning is gesond, lekker om te eet. 14So is die wysheid ook. Dit is goed vir die gesondheid. Dit waarop die wyse hoop, sal gebeur. 15Moenie soos ’n slegte mens op ’n medegelowige trap nie. Moenie sy eiendom beskadig of sy huismense seermaak nie.
16’n Gelowige staan elke keer na ’n terugslag weer op. Mense wat die Here nie ken nie, oorleef dit nie. Hulle het nie die moed om weer van voor af te begin nie.
17Moenie bly wees as dit met ander sleg gaan nie, al hou jy niks van hulle nie. 18As jy dit doen, stel jy die Here teleur. Op ’n goeie dag help Hy weer sulke mense.
19Moenie jou ontstel oor wat slegte mense aanvang nie. Moet niks van hulle wil hĂȘ nie. 20Hulle het niks om op te hoop nie. Hulle gaan sonder die Here dood.
21Jy moet die Here liefhĂȘ en jou leiers respekteer. Moenie jou ophou met mense wat magshonger is en net hulle eie belang soek nie. 22’n Skielike ramp kan hulle tref, dan is dit klaarpraat met hulle.
23Selfs ’n wyse regter moet hoor: “’n Partydige uitspraak is verkeerd.” 24Wie die skuldige vryspreek, sal deur niemand weer vertrou word nie. 25Wie die regte oordeel vel, sal die goeie van die lewe geniet.
26Mense hou baie van iemand wat eerlik is en reguit op vrae antwoord.
27Kry eers ’n goeie werk voordat jy ’n huis bou. Verdien eers genoeg voordat jy met ’n gesin begin.
28Moenie leuens oor ander vertel of iemand doelbewus in ’n swak lig stel nie. Moenie wraaksugtig wees nie. 29Moenie iemand terugkry vir wat hy aan jou gedoen het nie.
30Die wysheidsleraar sĂȘ: “Ek het by die huis van ’n luiaard verbygeloop. Alles was so verwaarloos. Niks word in stand gehou nie. Die gras is lank. 31Oral groei die onkruid welig. Boonop was die muur voor die huis stukkend. 32Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink. Hoekom is dit so? Uiteindelik het ek ’n antwoord gekry: luiheid bring armoede. 33Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie insluimer, nog ’n bietjie niks doen, 34en skielik oorval die armoede jou. Van die honger en die koue sal jy nog doodgaan.”

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!