Dag 21: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 21

Die koning vertrou op die Here
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2Here, dit is oor die openbaring van u mag
dat die koning so bly is,
dit is oor die oorwinning wat U hom gegee het,
dat hy so jubel en juig.
3Die wens van sy hart het U vervul.
Wat hy gevra het, het U hom nie geweier nie.Sela
4U skenk hom voorspoed en geluk,
U plaas 'n goue kroon op sy kop.
5Lewe het hy van U gevra;
U het hom dit gegee – 'n lang, lang lewe.
6Omdat U uitkoms gegee het, is hy hoog in aansien,
met roem en eer het U hom oorlaai.
7U maak hom altyd voorspoedig,
U skenk hom oorvloedige blydskap deur u nabyheid.
8Die koning vertrou op die Here
en deur die trou van die Allerhoogste struikel hy nie.
9U hand sal al u vyande vind,
u regterhand sal u haters tref.
10Wanneer U verskyn, Here,
sal U hulle verteer soos in 'n oond.
In u toorn sal U hulle vernietig,
en die vuur sal hulle verteer.
11U sal hulle kinders van die aarde af verdelg
en die mensheid verlos van hulle nageslag.
12As hulle kwaad teen U beraam,
bose planne uitdink,
sal hulle niks uitrig nie.
13Wanneer U met die boog na hulle mik,
slaan hulle op die vlug.
14Laat u mag seëvier, Here,
dan sal ons u krag besing en daaroor roem.

Psalm 51

Neem tog my sonde weg!
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan 2dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.
3Wees my genadig, o God, in u troue liefde,
wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap en vreugde belewe.
U het my verbrysel; laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my 'n rein hart, o God,
vernuwe my gees en maak my standvastig.
13Moet my tog nie van U af wegdryf
en u Heilige Gees van my af wegneem nie!
14Laat my weer die blydskap ervaar
van iemand wat deur U verlos is,
laat my U weer met toewyding dien.
15Dan sal ek oortreders leer wat U van 'n mens verwag;
dat die sondaars hulle tot U sal bekeer.
16Red my van ondergang, o God, my Redder,
dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.
17Here, gee my die woorde
om u lof te verkondig.
18'n Offer vra U nie,
anders sou ek dit bring;
'n brandoffer wil U nie hĂȘ nie.
19Die offer wat U wil hĂȘ, o God, is verootmoediging:
U sal 'n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.
20Laat Sion u liefde en u goedheid ondervind:
herbou tog die mure van Jerusalem.
21Dan sal die offers wat voorgeskryf is,
weer vir U aanneemlik wees:
offerdiere wat heeltemal verbrand word.
Dan sal hulle weer bulle op u altare offer.

Psalm 81

As my volk maar na My wou luister
 
1Vir die koorleier: met musiek. Van Asaf.
2Jubel tot eer van God ons sterkte,
juig tot eer van die God van Jakob!
3Sing, en slaan die tamboeryn,
laat hoor die lieflike klanke van die lier en die harp.
4Blaas die ramshoring op nuwemaan,
met volmaan, op ons feesdag, 5want dit is 'n instelling vir Israel,
'n verordening van die God van Jakob.
6Hy het dit vir die nageslag van Josef as 'n dure plig opgelĂȘ
toe hulle uit Egipte weggetrek het.
Wat hulle toe nog nie geweet het nie, het hulle gehoor:
7“Ek het die swaar drag van julle skouers afgehaal,
julle kon die mandjies neersit.
8In julle nood het julle geroep en Ek het julle gered;
Ek het julle uit 'n donderwolk geantwoord,
julle by die waters van Meriba op die proef gestel.Sela
9Luister, my volk, Ek gee julle 'n opdrag.
Israel, luister na My:
10‘Daar mag vir julle geen ander god wees nie,
julle mag voor geen vreemde god neerbuig nie.
11Ek is die Here julle God
wat julle uit Egipte laat wegtrek het.
Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee.’
12“Maar my volk het nie na My geluister nie,
Israel wou niks met My te doen hĂȘ nie.
13Daarom het Ek hulle laat begaan in hulle koppigheid
en hulle het hulle eie sin en wil gevolg.
14Ag, as my volk maar na My wou luister,
as Israel maar my wil wou doen,
15hoe gou sou Ek hulle vyande nie op die knieë bring
en hulle teĂ«standers met my eie hand verslaan nie.”
16Dié wat voorgee dat hulle die Here dien, maar Hom haat,
hulle straf sal vir altyd duur.
17Maar vir julle sal Hy voed met die beste koring,
julle versadig met heuning uit 'n rots.

Psalm 111

Die werke van die Here is groot
 
1Prys die Here!
Met my hele hart wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes, in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade laat ervaar,
Hy het aan hulle die land van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd stand.

Psalm 141

Sit 'n wag voor my mond, Here!
 
1'n Psalm van Dawid.
Ek roep na U, Here, kom tog gou na my toe,
luister tog na my, ek roep na U.
2Mag my gebed voor U wees soos 'n wierookoffer,
die uitstrek van my hande soos 'n graanoffer in die aand.
3Sit 'n wag voor my mond, Here,
hou tog wag oor wat ek sĂȘ.
4Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge,
dat ek nie in sonde verval
saam met manne wat onreg doen nie,
en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.
5'n Regverdige kan my in liefde slaan en teregwys,
maar van die goddeloses sal ek nie eens gasvryheid aanvaar nie,
want my gebede is gedurig teen hulle boosheid gerig.
6As hulle leiers van 'n krans afgegooi word,
sal hulle my hoor sĂȘ: “Goed so!”
7Soos 'n land vol kluite lĂȘ as die ploeĂ«r dit oopbreek,
so sal hulle bene versprei lĂȘ by die bek van die doderyk.
8Op U, Here my God aan wie ek behoort, is my oë gerig,
by U skuil ek, moenie dat my lewe wegkwyn nie.
9Beskerm my teen die strik wat hulle vir my gestel het,
teen die valstrikke van dié wat onreg doen.
10Laat die goddeloses gevang word in hulle eie nette,
maar laat my ongedeerd verbykom.

Spreuke 21

1Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here;
soos 'n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.
2In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg,
maar die Here toets die gesindheid.
3Die Here verkies dat 'n mens doen wat regverdig en reg is
eerder as dat jy offers bring.
4Die sonde van goddeloses begin altyd met selfverheffing en eiewaan.
5Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig,
maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.
6Skatte wat met bedrog versamel is,
verdwyn in die wind en bring die dood.
7Die geweld van goddelose mense vernietig hulleself,
want hulle weier om reg te doen.
8'n Slegte mens loop krom paaie;
'n eerbare mens tree eerlik op.
9Liewer bo-op 'n dak woon
as saam met 'n twisgierige vrou onder een dak.
10'n Slegte mens smag na meer kwaad;
hy het nie medelye met sy naaste nie.
11As jy 'n ligsinnige mens laat boet vir sy dade,
leer onervare mense wysheid daaruit;
as jy iemand onderrig wat wysheid het,
leer hy self daaruit.
12Die regverdige God sien wat in die goddelose se huis aangaan
en Hy bring die goddelose tot 'n val.
13As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van 'n arm mens,
sal jĂœ ook nie antwoord kry as jĂœ roep nie.
14'n Geskenk in die stilte paai 'n man wat kwaad is;
as dit versigtig aangebied word, laat dit heftige woede bedaar.
15As daar reg geskied, is mense wat reg doen, bly,
en staan dié wat onreg doen, verskrik.
16As iemand ophou om verstandig te lewe,
beland hy tussen die dooies.
17Wie plesier voorop stel, word arm;
wie lief is vir wyn en lekker kos, word nie ryk nie.
18Jy ruil maklik 'n slegte mens uit vir een wat reg doen
en 'n onbetroubare vir 'n eerlike.
19Liewer in 'n woestyn woon
as by 'n twisgierige vrou wat aanhou neul.
20In die woning van 'n wyse mens is daar altyd kosbare besittings en olie;
'n dwase mens bring sy goed deur.
21Wie na reg en liefde strewe,
aan hom word 'n vol lewe en eer geskenk.
22'n Wyse man kan selfs 'n stad vol dapper verdedigers oorwin
en die vesting waarop hulle vertrou, laat val.
23Wie sy mond en sy tong in toom hou,
hou hom uit gevaar.
24'n Ligsinnige mens is hovaardig en aanmatigend,
sy hovaardige optrede het geen perke nie.
25'n Lui mens soek sy dood,
want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie;
26hy sit die hele dag net en wens.
Die regverdige kan gee sonder om suinig te wees.
27Die Here het 'n afsku in die offers van goddeloses,
te meer as hulle dit bring met slegte bedoelings.
28'n Vals getuie gaan sy dood tegemoet.
'n Betroubare getuie se getuienis het betekenis.
29'n Slegte mens gee voor dat hy weet wat hy doen;
'n eerlike mens bly by die koers wat hy gekies het.
30Teenoor die Here geld geen menslike wysheid, insig of besluit nie.
31Perde kan afgerig word vir oorlog,
maar dit is die Here wat die oorwinning gee.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 21

Die Here seën die koning
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2Die koning is bly oor u mag,
Here,
vol vreugde oor u verlossing.
3U het hom
sy hartsbegeerte gegee;
niks wat hy gevra het,
het U geweier nie.
Sela
4U gaan hom tegemoet
met seëninge van voorspoed.
Op sy kop sit U ’n kroon
van suiwer goud.
5Lewe het hy van U gevra,
en U het dit gegee –
’n lang lewe wat steeds voortduur.
6U oorwinning
besorg hom groot eer;
met glans en majesteit
het U hom beklee.
7U het hom bekroon
met seëninge vir altyd,
en hom gegee
die blydskap van u nabyheid.
8Want die koning
vertrou op die Here.
Die trou van die Allerhoogste
sal hom
van struikeling bewaar.
9U hand
sal al u vyande tref.
U sterke hand
sal al u haters vernietig.
10U sal hulle vernietig
soos in ’n oond
die oomblik wanneer U verskyn.
Die Here sal hulle
in sy toorn verslind,
soos vuur sal Hy hulle verteer.
11U sal hulle kinders
van die aarde af uitwis,
hulle nageslag
uit die mensheid verwyder.
12Al sou hulle teen U
in opstand kom,
hulle bose planne
sal nie slaag nie.
13Want U sal hulle laat omdraai en vlug
wanneer U pyle op hulle rig.
14Verhef U in u mag, Here.
Ons wil U prys
en oor u grootheid sing.

Psalm 51

Here, maak my ’n nuwe
mens
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm,
2toe die profeet Natan na hom toe
gekom het oor sy owerspel met Batseba.
3Wees my genadig, o God,
volgens u troue liefde.
Wis tog my sonde uit,
op grond van u barmhartigheid.
4Was my skoon van my skuld.
Reinig my van my sonde.
5Want ek ken my oortredings
en my sonde
is gedurig voor my.
6Teen U, U alleen,
het ek gesondig;
ek het gedoen
wat vir U verkeerd is.
Daarom is u uitspraak reg
en u oordeel regverdig.
7Want ek is as sondaar gebore,
en was dit toe my ma
swanger geword het.
8Maar U verwag waarheid
in die hart.
U leer my om wysheid te besit.
9Neem weg my sonde met hisop
sodat ek skoon kan wees,
was my
dat ek witter as sneeu kan wees.
10Gee my tog weer
blydskap en vreugde;
U het my stukkend gebreek,
laat my weer
vol vreugde wees.
11Moenie let op my sondes nie,
en wis al my oortredings uit.
12Skep vir my ’n rein hart,
o God.
Gee my ’n nuwe,
standvastige gees.
13Moenie my verban
wég van u teenwoordigheid nie,
en moenie u Heilige Gees
van my af wegneem nie.
14Gee my tog weer die vreugde
van u redding
en maak my gewillig
om U te gehoorsaam.
15Dan sal ek oortreders
u weë leer,
sodat sondaars
hulle tot U sal bekeer.
16Verlos my
van bloedvergieting,
God, my Redder-God.
Dan sal ek voluit sing
van u regverdigheid.
17Help my om te praat, Here,
sodat ek u lof kan verkondig.
18U verlang nie offers nie,
anders sou ek dit bring.
Selfs brandoffers
wil U nie hĂȘ nie.
19Die offer wat U wil hĂȘ, o God,
is ’n gebroke gees.
’n Gebroke en berouvolle hart
sal U nie verwerp nie, o God.
20Wees genadig oor Sion,
volgens u goedheid;
herbou tog die mure
van Jerusalem.
21Dan sal
die voorgeskrewe offers
vir U aanneemlik wees,
brandoffers, ja, offers
wat heeltemal verbrand word.
Dan sal hulle weer bulle
op u altaar offer.

Psalm 81

As my volk maar na My
wou luister!
1Vir die koorleier: Met musiek.
Van Asaf.
2Jubel tot eer van God,
ons sterkte!
Jubel tot eer
van die God van Jakob!
3Sing! Slaan die tamboeryn!
Laat hoor die klank van lier
en harp!
4Blaas die ramshoring
op nuwemaan
en wanneer dit volmaan is,
op die dag van ons fees!
5Want dit is die instelling
vir Israel,
die voorskrif
van die God van Jakob.
6Dit is as ’n herinnering
vir Josef bepaal
toe God
teen Egipte
opgetrek het.
Ek het in ’n vreemde taal
gehoor:
7“Die las op jou skouer
het Ek afgehaal;
jou hande
kon die mandjie los.
8In nood het jy geroep,
en Ek het jou gered;
uit ’n donderwolk
het Ek geantwoord.
By die waters
van Meriba
het Ek julle
op die proef gestel.
Sela
9“Luister, my volk,
Ek wil julle waarsku.
Israel, as julle maar net
na My wou luister!
10Julle mag nie
’n ander god dien,
of voor ’n vreemde god buig nie.
11Want Ek is die Here julle God
wat julle
uit Egipte gebring het.
Maak julle mond wyd oop,
dan sal Ek dit vol maak.
12“Maar nee,
my volk het nie geluister nie.
Israel wou niks van My weet nie.
13Daarom
het Ek hulle laat begaan,
hulle prysgegee
aan hulle koppigheid
om te doen
volgens hulle eie begeerte.
14Ag, as my volk maar
na My wou luister!
As Israel net
my weg wou volg!
15Dan sal Ek gou
hulle vyande onderwerp,
hulle aanvallers
eiehandig verslaan!”
16Mag hulle wat die Here haat,
voor Hom kruip.
Mag hulle onderwerping
vir altyd geld.
17Maar Hy sal julle versadig
met die beste koring.
Ek sal julle versadig
met heuning uit ’n rots.

Psalm 111

Hy is genadig en
barmhartig
 
1Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die vergadering
van die gemeente,
in die byeenkoms
van die opregtes.
2Die dade van die Here is groot!
Almal wat daaroor bly is,
dink hieroor na.
3Heerlik en vol majesteit
is sy werke.
Sy geregtigheid
hou vir altyd stand.
4Sy wonders
sal altyd onthou word.
Genadig en barmhartig is ons Here!
5Hy voed hulle wat Hom dien;
Hy onthou altyd sy verbond.
6Hy het sy kragtige dade
aan sy volk getoon
deur die land van ander nasies
aan hulle te gee.
7Alles wat Hy doen, is waar en reg,
en al sy voorskrifte is betroubaar.
8Hulle is vir altyd geldig,
en met trou en opregtheid
moet dit gehoorsaam word.
9Hy het ’n losprys vir sy volk betaal,
en sy verbond vir altyd gewaarborg.
Heilig en ontsagwekkend
is sy Naam!
10Eerbied vir die Here
is die begin van wysheid.
Dié wat sy voorskrifte navolg,
het goeie insig.
Hy sal vir altyd geprys word!

Psalm 141

U is my toevlug
1’n Dawidspsalm.
Here, ek roep tot U;
maak tog gou!
Luister na my
wanneer ek na U roep!
2Aanvaar my gebed
soos wierook voor U,
en my uitgestrekte hande
soos ’n offer in die aand.
3Sit ’n wag voor my mond,
Here,
hou wag oor wat ek sĂȘ.
4Bewaar my
van verkeerde begeertes
wat lei na bose dade,
saam met mense
wat sonde doen
en so saam eet
aan hulle lekkernye.
5Regverdiges kan my slaan
in liefde,
en my ook teregwys.
Dis soos salwing van die kop
met olie,
wat ek nie sal weier nie.
My gebede is gedurig
teen boosdoeners gerig.
6As hulle leiers afgegooi word
van ’n krans,
dĂĄn sal hulle my woorde hoor
en weet dit was goed.
7Soos wanneer een wat ploeg
die aarde oopbreek,
so verspreid lĂȘ ons beendere
by die bek van die doderyk.
8Maar my oë is op U gerig,
oppermagtige Here.
U is my toevlug;
moenie my oorgee
aan die dood nie.
9Bewaar my van die strikke
wat hulle vir my gestel het,
van die vangnet
van hulle wat onreg doen.
10Laat die goddeloses
in hulle eie vangnette val,
maar laat my vrykom daarvan.

Spreuke 21

1Die Here stuur die koning
soos Hy wil.
Dit is soos ’n stroom water
wat Hy afkeer waarheen Hy wil.
2’n Mens dink dalk
alles wat hy doen, is reg.
Die Here besluit egter
oor die bedoeling daaragter.
3Die Here hou meer daarvan
dat iemand reg doen
en regverdig optree
as dat hy offers vir Hom bring.
4Hovaardige oë
en hoogmoedige harte
is ’n kenmerk van goddeloses,
dit is hulle sonde.
5Getroue werk lewer wins op.
Afskeepwerk lei tot gebrek.
6Skatte met leuens verwerf,
beteken niks
en bring net die dood.
7Die geweld van goddeloses
sleur hulle mee.
Hulle weier mos
om te doen wat reg is.
8’n Skuldige mens
loop kronkelpaaie.
’n Mens wat opreg is,
loop ’n reguit pad.
9Dit is beter
om op die hoek
van ’n platdak te bly,
as binne-in ’n huis saam met ’n vrou
wat oor alles stry.
10’n Slegte mens
wens ander net sleg toe.
Hy het niks oor
vir sy medemens nie.
11Wanneer jy iemand
wat ander belaglik maak,
laat boet vir sy dade,
leer onervare mense
wysheid daaruit.
Wanneer jy iemand onderrig
wat reeds wysheid het,
leer hy nog meer daaruit.
12Die regverdige God
sien wat gebeur
in die huis van goddelose mense.
Hy bring teëspoed
oor die goddelose mense.
13Iemand wat sy ore toedruk
vir die hulpkreet van ’n arme,
sal self ook verniet roep
as moeilikheid hom tref.
14’n Geskenk ongesiens gegee,
koel die man wat kwaad is af.
As ’n omkoopgeskenk
onopsigtelik gegee word,
laat dit driftige woede bedaar.
15Dit maak regverdige mense bly
wanneer reg opgetree word.
Dit maak dié wat kwaad doen, bang.
16As iemand wegdwaal
van die verstandige weg,
beland hy in die geselskap
van die dooies.
17Wie agter plesier aan loop,
word ’n arm mens.
Wie lief is vir wyn en weelde,
word nooit ryk nie.
18Soms word ’n slegte mens
geruil vir een wat reg doen,
en die onbetroubare mens
vir die eerlike persoon.
19Dit is beter
om iewers in die woestyn
te gaan bly
as saam met ’n stryerige vrou
wat oor alles neul.
20In ’n wyse mens se huis
is altyd kosbare besittings
en uitgesoekte olie.
’n Dwase mens gebruik alles op
wat hy in sy huis het.
21Iemand wat hom beywer
vir reg en liefde,
verkry ’n vol lewe,
geregtigheid en eer.
22’n Wyse man
kan ’n stad oorwin
al is dit vol dapper soldate.
Selfs die vesting
waarop hulle vertrou,
kan hy laat val.
23Wie ’n wag voor sy mond het
en stilbly,
hou homself uit die moeilikheid.
24Dis bekend dat ’n spotter
hovaardig en aanmatigend is.
Sy hovaardige optrede
ken geen perke nie.
25Die begeertes van ’n lui mens
lei na sy dood.
Hy weier om sy hande
uit sy moue te steek.
26Elke dag
begeer hy net meer en meer.
Die regverdige gee
sonder om iets terug te hou.
27God verafsku die offers
wat goddeloses bring,
veral as hulle dit doen
met allerlei bymotiewe.
28’n Vals getuie sal omkom.
’n Betroubare getuie
se getuienis staan vas.
29’n Slegte mens
maak asof hy dapper is.
’n Opregte mens
oorweeg elke tree wat hy gee.
30Geen menslike wysheid,
of insig, of besluit
kan voor die Here bly staan nie.
31Perde kan afgerig word
vir oorlog,
maar die oorwinning
kom net van die Here.

Die Boodskap

Psalm 21

1’n Psalm van Dawid vir die leier van die orkes
2O Here, die koning is baie bly omdat U vir hom gewys het hoe sterk U is,
ja, omdat U hom gehelp het om te wen. Daaroor juig hy.
3U het na sy gebed geluister en vir hom gegee wat hy graag wou hĂȘ.
4U kom na hom toe. Dan gee U vir hom wonderlike geskenke.
U sit tot vir hom die pragtigste kroon van goud op sy kop.
5Hy wou lank saam met U leef - U het dit vir hom gegee - vir baie, baie lank.
6Mense dink baie van hom omdat U hom gehelp het.
Daarom bewys mense groot respek en eer aan hom.
7U laat dit altyd goed gaan met hom.
Hy loop oor van blydskap omdat U altyd naby hom is.
8Die koning vertrou die Here heeltemal. Omdat die Allerhoogste getrou is, loop niks vir hom verkeerd nie.
9U sal u vyande in die hande kry en hulle oorweldig.
10Soos ’n vuur wat alles voor hom wegbrand, so sal die Here sy vyande uitwis.
Die Here sal hulle van die aarde afvee omdat Hy vir hulle kwaad is.
11Mense sal nie eens meer van hulle of hulle kinders weet nie. Hulle nageslag sal nie bestaan nie.
12Hulle sal allerhande planne teen U maak,
maar nie een plan sal uitwerk nie.
13Want U sal hulle straf. U sal maak dat hulle ver weghardloop. Hulle sal vlug.
14Wys tog vir ons hoe sterk U is, Here.
Dan sal ons opgewonde ons liedere sing om vir almal te vertel hoe sterk U regtig is.

Psalm 51

1Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm.2Toe die profeet Natan met Dawid kom praat het nadat hy by Batseba geslaap het
3God, wees my genadig. U het tog u kinders baie lief.
Vergewe my al my sonde omdat U u kinders oorlaai met arms vol liefde.
Vat my verkeerde dade baie ver van my af weg.
4Delg die skuld van my sondes uit.
Maak my skoon omdat my sondes my vuilgesmeer het.
5Ek weet dat ek groot foute in u oë gemaak het.
Ek kan nie ophou om daaraan te dink nie. My gewete pla my aanmekaar.
6Ek was baie ongehoorsaam aan U, en dit teenoor U alleen.
Maar U sal reg optree as U oor my lewe moet besluit.
U sal nie die verkeerde ding doen nie.
7Vandat ’n mens die dag gebore word, ja, vandat jou ma begin verwag, is verkeerde dinge deel van jou lewe.
Ek sien dit in my eie lewe.
Vandat my ma my in die wĂȘreld gebring het,
dryf iets my om ongehoorsaam aan die Here te wees.
8U wil hĂȘ ’n mens moet altyd eerlik en opreg wees, Here.
Ek wil bitter graag weet wat U van my verwag. Hoe wil U hĂȘ moet ek lewe?
9Vat asseblief al die verkeerde dinge wat ek gedoen het ver van my af weg, Here.
Kyk op ’n splinternuwe manier na my.
Sien my weer as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie.
My lewe moet so skoon wees soos die witste wol.
10Help my om weer opgewonde en bly te wees.
Help my om te jubel van vreugde, al het U my swaar gestraf.
11Moet nooit weer dink aan die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Vat alles weg uit my lewe wat nie reg is in u oë nie. 12Maak my opreg, God!
Maak my van kop tot tone nuut sodat ek kan vasstaan. Moet my nie van U af wegstoot nie.
13Jaag my nooit voor U weg nie. Laat u Goddelike krag ook nie van my af weggaan nie.
U krag sorg dat ek doen wat U vra.
14Laat ek weer bly wees. U alleen kan die lewe weer vir my nuut maak.
Help my om U te dien met alles wat in my is.
15Ek wil baie graag mense help wat nie doen wat U sĂȘ nie.
Ek wil vir hulle sĂȘ om hulle sondes te laat staan en na U toe terug te kom.
16God, help my om nie ander mense se lewe te vernietig nie!
U is die God wat my lewe heelmaak.
Help my om vol blydskap vir ander te vertel van die goeie dinge wat U doen.
17Here, sit al die regte woorde waarmee ek U kan prys in my mond.
18Here, U wil nie hĂȘ dat ons U moet probeer vergoed vir alles wat U vir ons doen nie.
Anders sou ek dit doen. U vra nie offers van ons nie.
19Al wat U wil hĂȘ, is dat iemand laag voor U buig
en kom sĂȘ hy is jammer oor sy verkeerde dade.
God, U sal nooit iemand wat sleg voel oor sy sonde van U af wegstoot nie.
20Wees goed vir u kinders, Here. Bou u mense se lewe weer op.
Dan sal hulle weer dinge doen wat U gelukkig maak.
21Dan sal hulle U weer voluit dien met alles wat hulle het.
Hulle sal vir U hulle heel beste gee.

Psalm 81

1Van Asaf vir die koor met musiek
2Sing mooi liedere om God groot te maak, want Hy gee ons krag. Wees bly terwyl julle die God van Jakob grootmaak.
3Sing en speel op die musiekinstrumente.
Maak lieflike klanke met julle musiekinstrumente.
4Maak mooi musiek op die spesiale feesdae, op die nuwemaan en volmaan. 5God hou baie daarvan en wil dit so hĂȘ. Hy het so bepaal.
6Hy het gesĂȘ sy kinders moet dit doen toe Hy hulle in Egipte kom help het.
In Egipte het ek ’n onbekende taal gehoor:
7“Ek haal die swaar vrag van julle skouers af.
Julle kan maar ophou met die harde werk.
8Toe julle hulp nodig gehad het, het julle My gevra en Ek het gehelp.
Uit die donderweer het julle My gehoor,
by Meriba het Ek gekyk of julle regtig op My vertrou.
9My kinders, luister asseblief na My. Hoor wat Ek sĂȘ. Ek gee julle ’n opdrag:
10‘Moet nooit ander gode aanbid nie. Moenie voor vreemde gode neerbuig nie.
11Ek is mos julle Here, julle God!
Dit is Ek wat julle daar in Egipte gehelp het.
Ek sal goed vir julle sorg. Wat julle nodig het, gee Ek vir julle.’
12“Maar nee, my kinders wou nie luister nie.
Hulle het mos beter geweet en die rug vir My gedraai.
13Ek het hulle toe gelos sodat hulle hulle eie pad kon loop.
Ek het hulle ’n kans gegee om hulle sin te kry.
14Ag, as my kinders maar net na My wou luister en doen wat Ek vra!
15In ’n oogwink sou Ek hulle vyande straf.
Na een veeg van my hand sou daar niks van hierdie vyande oorbly nie.”
16Mense wat nie van God hou nie, maar maak of hulle Hom liefhet, gaan baie spyt wees.
Hulle sal in vernedering voor God moet kom kruip.
God sal hulle vir altyd laat betaal.
17Met God se kinders sal dit anders wees.
Vir julle sal Hy die heel beste gee, die lekkerste kos wat jy jou kan voorstel.

Psalm 111

1Kom prys die Here!
Ek wil vir die Here dankie sĂȘ met alles wat ek het.
In die gemeente, by eredienste, in klein groepe, by bidure, ja, by enige byeenkoms van sy kinders wil ek Hom prys.
2Die Here doen baie groot dinge, dit laat jou so klein voel.
Elkeen wat opgewonde is oor wat Hy doen, sal aanmekaar daarvan praat en dink.
3Wat die Here doen, is te groot om te verstaan; dit is te wonderlik om te beskryf.
Hy doen altyd net die regte dinge.
4Die Here sorg dat mense die wonderlike dinge onthou wat Hy doen.
Hy het ’n goeie hart. Hy gee graag vir ons goeie dinge.
Hy voel gou jammer vir iemand.
5Hy sorg vir mense wat Hom dien deur vir hulle kos te gee.
Hy doen altyd wat Hy beloof het in sy ooreenkoms met ons.
6Hy het vir sy volk Israel ’n land beloof waar vreemde volke gebly het.
Toe laat Hy hulle die land met sy krag inneem.
Israel het geleer dat God sy beloftes altyd nakom.
7Die Here is getrou. Hy tree reg op. Alles wat Hy doen, getuig daarvan.
Alles wat Hy sĂȘ, kan ’n mens maar glo. 8Sy woorde staan vas.
Jy weet waar jy met Hom staan. Hy is getrou en loop nie draaie met jou nie.
9Die Here help sy kinders as hulle hulp nodig het.
Hy red hulle uit die moeilikheid.
Hy het ’n belofte aan hulle gemaak wat altyd sal bly staan.
Vir God moet jy groot respek hĂȘ.
Jy kan nie sy Naam los en vas gebruik nie.
10Om gelukkig te wees moet jy die Here dien.
Dit is die goue reël van die lewe. As jy dit doen, verstaan jy die geheim van die lewe.
Die Here verdien al die dankies wat mense Hom kan gee.

Psalm 141

’n Dawidspsalm
1Here, ek bid tot U. Help my asseblief gou. Luister na my.
Help my as ek tot U bid.
2Ek hoop dat dit vir U aangenaam is om my gebed te hoor.
My gebed is soos ’n rustige lied om vir U dankie te sĂȘ.
3Here, help my om nie onnodig te praat nie.
Leer my om versigtig te wees met wat ek sĂȘ.
4Keer my dat ek nie lus kry om slegte dinge te doen saam met mense wat U nie dien nie.
Hulle stel net in hulleself belang. Hulle doen verkeerde dinge.
Help my om nie saam met hulle slegte dinge te doen nie.
5Ek gee nie om as iemand wat die Here liefhet met my oor my verkeerde dade praat nie. Al maak dit my baie seer, weet ek dat hy dit uit liefde doen.
Daarom sal ek luister as hy my waarsku of raad gee.
Ek bid egter dat mense wat die Here nie dien nie, sal ophou met al die slegte goed wat hulle doen. Ek kuier nie eens by sulke mense nie.
6Daarom is ek baie bly om te hoor dat hulle mag gebreek is.
7Hulle bene sal oral rondlĂȘ soos grond wat omgeploeg is.
8Here, ek het U baie nodig. U beskerm my.
Moet asseblief nie dat dinge vir my skeefloop sodat dit vir my voel of die laaste bietjie lewe uit my getap word nie.
9Beskerm my teen slegte mense wat my tot ’n val wil bring.
Mense wat slegte dinge doen, probeer my op ’n skelm manier om die bos lei.
Laat hulle wat U nie dien nie, in hulle eie slaggate trap.
10Laat hulle deur hulle eie geknoei ten gronde gaan.
Maar ek, ek sal verder gelukkig lewe.

Spreuke 21

Wees nederig
1’n Groot leier dink oor baie dinge, maar die Here rig sy denke. Hy beplan, maar God besluit wat sal gebeur.
2Elke mens dink hy doen altyd die regte ding. Die Here weet wat in elke mens se hart omgaan.
3Om die regte dinge te doen en te sĂȘ is vir die Here baie belangriker as ’n groot dankoffer.
4Dit is verkeerd om baie van jouself te dink en op ander neer te sien. Wie daarmee aanhou, kan later nie meer verander nie.
5Goeie beplanning bring sukses. Oorhaastige optrede kan jou duur te staan kom.
6Geld wat vinnig en oneerlik gemaak is, bring nie geluk nie. Wie dit doen, draai homself in die strikke van die dood vas.
7Mense wat heeltyd net verkeerde dinge doen, vernietig hulleself. En dit net omdat hulle weier om reg te leef.
8’n Slegte mens se lewe is maar krom en skeef. Die gelowige weet hoe om reg te leef.
9Dit is beter om in die buitekamer te bly as in die huis by iemand wat heeltyd stry.
10’n Slegte mens smag na alles wat verkeerd is. Hy gee niks vir ander mense om nie.
11’n Wyse kan nooit genoeg van die lewe leer nie. Wanneer ’n slegte mens vir sy dade gestraf word, moet ’n wyse ’n les daaruit leer. Wanneer ’n wyse kennis van die lewe opdoen, moet hy dit dadelik sy eie maak.
12Die Here weet wat slegte mense doen. Hy kan hulle in ’n oogwink vernietig.
13Wie ’n arme se noodkreet ignoreer, sal eendag self in die moeilikheid wees. Maar dan sal niemand help nie.
14Soms help ’n geskenk om iemand se woede te laat bedaar. Geld wat ongemerk in ’n baadjiesak gesit word, help om ’n opvlieĂ«nde humeur te temper.
15’n Gelowige is bly as goeie dinge gebeur en reg geskied. Slegte mense se verkeerde dade lei tot ongeluk en hartseer.
16Iemand wat nie reg wil leef nie het die lewe verloor. Stadig maar seker verloor hy al sy lewensvreugde. Uiteindelik gaan hy dood.
17Wie niks doen nie en net partytjie hou, sal nooit geld hĂȘ nie. Wie net lekker wil eet en drink, verwaarloos sy werk. Hy sal nooit ryk wees nie. 18Die Here straf slegte mense, maar help die gelowige. Hy vernietig die ongelowige, maar seĂ«n diĂ© wat in Hom glo.
19Dis beter om eenkant en alleen te bly as by mense wat graag stry en aanhou neul.
20’n Wyse mens het ’n fyn smaak. Hy ken die waarde van dinge en pas sy besittings mooi op. ’n Dom mens verwaarloos en vernietig alles.
21Wie reg lewe en mense liefhet, het die lewe. Mense sal hom eer en respekteer.
22’n Wyse kyk deur mense se magspeletjies. Hulle groot planne en agteraf skemas vernietig hy.
23Wie sy mond hou en sy tong beheer, bly uit die moeilikheid.
24’n Arrogante mens se naam stink. Iemand wat vermetel optree en niemand in ag neem nie word verwerp.
25’n Luiaard leef in ’n droomwĂȘreld. Hy begeer so baie dinge, maar is nie in staat om hard te werk en geld te verdien nie.
26’n Lui mens dink heeldag lank net aan sy eie selfsugtige begeertes. ’n Gelowige gee baie vir ander mense.
27Dit is verskriklik as ongelowiges iets vir die saak van die Here gee. Hulle bedoel dit tog nie.
28’n Vals getuie word maklik vasgetrek. Niemand wil na hom luister nie. Jy kan maar luister na ’n getuie wat die waarheid praat.
29’n Slegte mens is nie opreg nie. Hy doen alles vir die skyn. ’n Gelowige se liefde word aan sy manier van lewe gesien.
30Al ons wysheid, insig en planne is niks voor die Here nie. 31Ons kan hard werk en elke dag goed beplan, maar sonder die Here is alles tevergeefs.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!