Dag 20: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 20

Die Here sal die oorwinning gee
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2Mag die Here u gebed verhoor op die dag van nood,
mag die Naam van die God van Jakob u beskerm.
3Mag Hy u te hulp kom uit die heiligdom,
u bystaan uit Sion.
4Mag Hy al u graanoffers onthou
en u brandoffers aanneemlik vind.Sela
5Mag Hy u gee wat u hart begeer
en al u voornemens laat geluk.
6Ons sal juig oor u oorwinning
en in die Naam van ons God die vaandels ontplooi.
Mag die Here alles gee wat u vra.
7Dit weet ek:
die Here sal aan sy gesalfde die oorwinning gee!
Uit die heilige hemel verhoor die Here sy gebed;
die Here gee deur sy groot mag aan hom die oorwinning.
8Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde,
maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.
9Húlle sal struikel en val,
maar óns sal regop en vas bly staan.
10Here, gee tog aan die koning die oorwinning.
Mag die Here ons gebed verhoor wanneer ons na Hom roep.

Psalm 50

Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red
1'n Psalm van Asaf.
Die Here is God, Hy alleen is God.
Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,
van waar die son opkom tot waar hy ondergaan.
2Uit Sion, stad van volmaakte prag,
verskyn God in glans.
3Ons God kom, Hy bly nie stil nie.
Voor Hom uit brand 'n vuur,
rondom Hom woed 'n storm.
4Hy roep die hemel en die aarde op vir die saak teen sy volk:
5“Maak bymekaar dié wat aan My getrou is
en met 'n offer 'n verbond met My gesluit het.”
6Die hemel getuig: “God is regverdig, en Hý is die regter.”Sela
7“Luister, my volk, Ek wil my saak stel,
Ek wil teen jou getuig, Israel.
Ek is God, Ek is jou God!
8Dit is nie omdat jy nie offer dat Ek rekenskap van jou eis nie;
jou brandoffers is immers gedurig voor My.
9Ek wil geen jong bul uit jou stal hê
of bokke uit jou krale nie,
10want al die diere in die bos is Myne,
die wild op duisende berge.
11Ek ken al die voëls van die berge;
al wat roer op die veld, is Myne.
12Ek sou jou nie vra as Ek honger sou kry nie,
want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My.
13Eet Ek miskien die vleis van die bulle wat julle offer,
of drink Ek die bloed van bokke?
14Lof is die offer wat jy aan God moet bring.
Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.
15Roep My aan in die dag van benoudheid:
Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”
16Maar vir die goddelose sê God:
“Waarom sê jy my voorskrifte een vir een op
en beroep jy jou op my verbond,
17jy wat 'n afkeer het van wat Ek jou leer
en jou nie steur aan wat Ek sê nie?
18As jy 'n dief raakloop, breek jy saam met hom in,
en as jy die kans kry, pleeg jy egbreuk.
19As jy jou mond oopmaak, praat jy kwaad;
jou tong ryg bedrog aanmekaar.
20Jy sit en praat teen jou broer,
jou eie broer beswadder jy.
21“Moet Ek stilbly as jy sulke dinge doen?
Dan sal jy dink Ek het soos jy geword!
Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan!
22Julle moet luister na hierdie waarskuwing,
julle wat nie met God rekening hou nie,
anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red.
23“Die mens wat My eer,
is die een wat lof as 'n offer bring.
Hy wat reg lewe,
vir hom sal Ek red.”

Psalm 80

Verskyn tog tot ons redding
 
1Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. 'n Getuienis van Asaf. 'n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef soos 'n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon, verskyn tog aan ons!
3Openbaar u mag aan die stamme Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan, o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons 'n beker vol verdriet laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.
8Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!
9U het 'n wingerdstok in Egipte uitgehaal
en dit hier kom plant nadat U die nasies uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak,
sy wortels het gegroei en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek,
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see,
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom,
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God, kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer oor hierdie wingerdstok,
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U met u eie hand geplant het,
die wingerdstok wat U vir Uself gekweek het!
17Laat dié wat hom soos onkruid verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe, dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

Psalm 110

Kom sit aan my regterhand
 
1Van Dawid. 'n Psalm.
Die Here het vir my heer die koning gesê:
“Kom sit aan my regterhand,
en Ek sal jou vyande aan jou onderwerp.”
2As die Here die septer, simbool van u mag,
uit Sion aan u oorhandig,
heers dan oor u vyande!
3U volk is gereed
vir die dag waarop u u magte monster.
U jongmanne is u krag
as hulle teen dagbreek aantree,
geklee vir die heilige stryd.
4Die Here het 'n eed afgelê
en Hy sal dit nie herroep nie:
“Jy sal altyd priester wees
in die priesterorde van Melgisedek.”
5Die Here gee u die oorwinning,
Hy verdelg konings die dag as Hy sy toorn laat losbreek.
6Hy straf die nasies,
Hy verdelg hulle leiers,
Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke.
7Die koning drink water uit die stroom langs die pad,
hy sal die oorwinning behaal.

Psalm 140

Die Here behartig die regsaak van die hulpelose
 
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2Red my van mense wat sleg is, Here,
beskerm my teen mense wat geweld pleeg,
3wat slegte dinge bedink
en elke dag vyandskap aanblaas.
4Hulle tonge is so giftig soos slange,
hulle woorde so venynig soos adders.Sela
5Hou my uit die mag van die goddeloses, Here,
beskerm my teen mense wat geweld wil pleeg,
wat planne maak om my uit die pad te kry.
6Hovaardige mense stel vir my strikke,
hulle span toue om my te vang,
hulle stel 'n valstrik op my pad.Sela
7Ek sê vir die Here: U is my God!
Here, luister tog na my smeekgebed.
8O Here my God aan wie ek behoort,
my kragtige Redder,
U beskerm my wanneer die goddeloses my aanval.
9Moet tog nie dat hulle hulle sin kry nie, Here,
moet tog nie dat hulle planne slaag nie.Sela
10Dié wat my van alle kante bedreig, verhef hulle teen U;
laat hulle dreigemente hulleself tref.
11Laat gloeiende kole op hulle val,
gooi hulle in modderputte
dat hulle nie weer daar uitkom nie.
12Laat daar geen skindertong in die land wees nie,
laat onheil dié wat geweld pleeg, elke keer weer tref!
13Ek weet, die Here behartig die regsaak van die hulpelose,
Hy sorg vir die reg van die arme.
14Die regverdiges sal u Naam loof,
die opregtes sal by U woon.

Spreuke 20

1Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak;
niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie.
2Die koning wek net soveel vrees as die brul van 'n leeu;
as jy die koning kwaad maak, is jou lewe in gevaar.
3Dit is eerbaar om 'n rusie te vermy;
enige dwaas kan 'n rusie begin.
4'n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie
en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie.
5'n Oorwoë mening is diep waters;
'n verstandige mens skep daaruit.
6Baie gee te kenne dat hulle getrou is,
maar wie kan 'n werklik betroubare mens vind?
7Wie reg doen en eerlik lewe,
met sy kinders gaan dit goed.
8Wanneer die koning moet regspreek,
sien hy ál wat verkeerd is, raak.
9Wie kan sê: “Ek is rein,
ek is onskuldig, sonder sonde”?
10Die Here het 'n afsku van mate en gewigte
wat nou sus en dan so is.
11Selfs 'n jongmens word geken aan wat hy doen,
uit sy optrede blyk of hy eerlik en opreg is.
12Die oor wat hoor, die oog wat sien –
die Here het altwee gemaak.
13As jy nie wil arm word nie, moenie lief wees vir slaap nie;
staan vroeg op, en jy sal oorgenoeg hê om te eet.
14“Sleg! Sleg!” sê die koper,
maar as hy weg is, spog hy met sy winskopie.
15Daar is goud, daar is edelstene,
maar om met kennis van sake te praat, is nog kosbaarder.
16As 'n vreemde vir iemand borg staan, vat sy klere van hom af
en hou dit as pand, want hy is 'n uitlander.
17Kos wat oneerlik verkry is, smaak miskien goed,
maar agterna sal jy klippe kou.
18Planne wat op goeie raad steun, slaag;
vra raad voor jy oorlog maak.
19Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit;
bly weg van iemand wat baie praat.
20As jy jou vader en moeder vervloek,
is jou lewe daarmee heen en bly net die pikdonker oor.
21Besittings wat oneerlik verkry is,
maak jou op die lang duur nie gelukkig nie.
22Moenie sê: “Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is” nie;
vertrou op die Here, en Hy sal jou help.
23Die Here het 'n afsku van gewigte wat nou sus en dan so is;
'n skaal wat nie reg weeg nie, is vir Hom nie goed nie.
24Die Here bepaal 'n mens se koers;
hoe sal 'n méns weet waarheen hy moet gaan?
25Jy stel vir jouself 'n strik as jy oorhaastig iets aan die Here wy
en agterna eers besef wat jy belowe het.
26'n Wyse koning sif die skuldiges uit
en straf hulle genadeloos.
27Die Here gee aan die mens die lewe.
Die Here sien deur die hele mens.
28Liefde en trou maak 'n koning veilig;
deur liefde staan sy troon sterk.
29Die trots van jongmanne lê in hulle krag;
die versiering van oumense is hulle grysheid.
30'n Pak slae laat 'n mens ophou kwaaddoen;
dit laat jou selfs ophou dink aan kwaad.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 20

’n Roepstem in nood
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2Mag die Here, in tye van nood,
antwoord op jou roepstem.
Mag die Naam
van die God van Jakob
jou beveilig teen gevaar.
3Mag Hy jou te hulp snel
uit die heiligdom,
en uit Sion jou versterk.
4Mag Hy dink
aan al jou graanoffers,
en jou brandoffers gunstig aanvaar.
Sela
5Mag Hy jou hartsbegeertes
vervul,
en al jou planne verwesenlik.
6Mag ons juig oor u oorwinning,
en baniere hys
in die Naam van ons God.
Mag die Here
al jou gebede verhoor.
7Nou weet ek: die Here red
sy gesalfde koning.
Vanuit sy heilige hemel
verhoor Hy hom
en red hom deur sy groot mag.
8Sommige volke vertrou
op strydwaens en perde,
maar ons vertrou
op die Naam van die Here
ons God.
9Daardie volke sal val
en ineenstort,
maar ons sal opstaan
en regop staan.
10Gee tog oorwinning
aan ons koning, Here!
Mag die Here antwoord
wanneer ons na Hom roep.

Psalm 50

Net die Here is God
1’n Asafpsalm.
Die Here is God, net Hy is God.
Hy praat
en roep die hele aarde op
van waar die son opkom
tot waar dit ondergaan.
2Vanuit Sion, in volmaakte prag,
skyn God in heerlikheid.
3Ons God kom nader,
maar nie in stilte nie:
Voor Hom verteer ’n vuur
en rondom Hom
woed ’n storm.
4Hy roep die hemel
en die aarde
om sy getuies te wees
wanneer Hy regspreek
oor sy volk:
5“Versamel dié
wat getrou is aan My,
en met offers
’n verbond met My sluit.”
6Die hemele
maak sy regverdigheid bekend,
want God self is die regter.
Sela
7“My volk, luister as Ek praat,
Ek sal teen jou getuig, Israel.
Ek is God, jou God!
8Dis nie weens jou offers
dat Ek jou berispe,
of oor jou brandoffers
wat gedurig voor My is nie.
9Ek soek geen bul uit jou stal,
of bokke uit jou kraal nie.
10Want al die diere van die bos
is Myne,
ook die wild op duisende berge.
11Ek ken elke voël op die berge;
al wat roer in die veld
is Myne.
12Sou Ek honger wees,
sal Ek jou dit nie sê nie,
want aan My behoort die aarde
en alles daarop.
13Eet Ek dalk die vleis van bulle,
of drink Ek die bloed
van bokke?
14Offer dankoffers aan God,
en betaal jou geloftes
aan Hom die Allerhoogste.
15Roep na My
in die dag van nood.
Ek sal jou verlos
en jy sal My eer.”
16Maar vir die goddelose
sê God:
“Hoe durf jy
my bepalings voorhou
en jou op my verbond beroep?
17Want jy verwerp
my vermanings
en verontagsaam my opdragte.
18Wanneer jy ’n dief sien,
maak jy soos hy;
en met egbrekers
vereenselwig jy jou.
19Jou mond verkondig kwaad,
en jou tong praat bedrog.
20Jy sit en beswadder jou broer,
en praat
tot nadeel van jou eie broer.
21Dit alles het jy gedoen,
maar Ek het stilgebly,
en jy het gedink
Ek het soos jy geword.
Maar nou eis Ek rekenskap
van jou
en sal jou openlik beskuldig.
22Luister hierna,
julle wat My misken,
anders sal Ek julle
uitmekaarskeur
sonder dat iemand julle verlos.
23Hy wat ’n dankoffer bring,
eer My.
Aan hom wat my pad volg,
sal Ek my verlossing
bekendmaak.”

Psalm 80

Herstel ons tog, Here!
1Vir die koorleier: Op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis. ’n Asafpsalm.
2Luister tog,
Herder van Israel,
U wat Josef soos ’n kudde
gelei het.
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog in u heerlikheid
3aan Efraim, Benjamin
en Manasse.
Toon ons u magtige krag!
Kom tot ons redding!
4O God, herstel ons tog!
Laat u guns
weer oor ons skyn
sodat ons gered kan word.
5Here, God die Almagtige,
hoe lank sal U kwaad bly
ten spyte van u volk se gebede?
6U het vir hulle trane
as kos gegee,
’n beker vol droefheid
laat drink.
7U maak ons
tot ’n voorwerp van twis
vir ons bure.
Ons vyande
dryf met ons die spot.
8God Almagtig, herstel ons tog.
Laat u guns
weer oor ons skyn
sodat ons gered kan word.
9U het ’n wingerdstok
uit Egipte gaan haal.
U het nasies verdryf
en dit hier geplant.
10U het die grond
vir hom reggemaak;
sy wortels het gegroei
en die land gevul.
11Die berge is oordek
met sy skaduwee;
die magtige seders met sy takke.
12Sy ranke het na die
Middellandse See toe uitgestoot,
en sy takke na die Eufraatrivier toe
uitgesprei.
13Hoekom het U sy mure
afgebreek
sodat verbygangers
dit kan stroop?
14Wildevarke van die bos
verwoes dit,
en die wilde diere
vreet dit op.
15God Almagtig,
kom tog terug!
Kyk neer vanuit die hemel.
Ontferm U tog
oor hierdie wingerdstok,
16die loot wat U self geplant het,
en oor hierdie seun
wat U vir Uself
grootgemaak het.
17Laat dié wat u wingerdstok
verbrand
en aan stukke gekap het,
tot niet gaan
wanneer U hulle teregwys.
18Versterk die man
aan u regterhand,
die mensekind
wat U vir Uself
grootgemaak het.
19Dan sal ons U nie weer
verlaat nie.
Laat ons herlewe,
dan sal ons
weer u Naam aanroep.
20O Here, God die Almagtige,
herstel ons tog.
Laat u guns
weer oor ons skyn
sodat ons
gered kan word.

Psalm 110

Die kroning van die
koning
 
1’n Dawidspsalm.
 
Die Here het vir my heer gesê:
“Sit op die ereplek
aan my regterkant
totdat Ek jou vyande
verneder het
tot ’n voetbankie
onder jou voete.”
2Uit Sion sal die Here
u heerskappy uitbrei;
u sal heers oor u vyande.
3U volk
sal as vrywilligers diens doen
op die dag van u magsbetoon.
Op die heilige berg,
wanneer die dag breek,
kom u jong manne soos die dou.
4Die Here het ’n eed afgelê
en sal dit nie herroep nie:
“Jy is priester vir altyd,
volgens die orde
van Melgisedek.”
5Die Here staan
aan u regterhand.
Op die dag van sy toorn
sal Hy konings verpletter.
6Hy sal die nasies oordeel
en hulle dooies sal oral lê.
Hy sal hulle leiers verpletter
oor die hele aarde.
7Maar Hy sal Hom verkwik
uit die spruite langs die pad,
want Hy sal seëvierend wees.

Psalm 140

Red my van bose mense
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2Red my van bose mense, Here,
beskerm my van gewelddadiges
3wat in hulle harte
boosheid beplan
en die hele dag
vyandskap aanhits.
4Hulle tonge is giftig
soos ’n slang;
hulle woorde venynig
soos adders.
Sela
5Here, hou my uit die hande
van goddeloses.
Bewaar my
van gewelddadige mense
wat saamspan
om my te laat val.
6Trotsaards het vir my
’n strik gestel;
’n net van toue
het hulle gespan,
en op die pad
vir my wippe gestel.
Sela
7Ek het vir die Here gesê:
U is my God!
Luister tog, Here,
na my gebed om genade!
8Oppermagtige Here,
my sterke redder,
U bewaar my
op die dag van die veldslag.
9Here, moenie toegee
aan begeertes
van bose mense nie.
Moenie toelaat dat hulle planne
suksesvol is nie.
Sela
10Mag die leiers
wat my omsingel,
oorspoel word met die boosheid
waarvan hulle praat.
11Laat gloeiende kole
op hulle val,
laat vuur op hulle val.
Uit modderputte
sal hulle nie kan kom nie.
12Moenie toelaat dat lasteraars
hulle in ons land vestig nie.
Laat mense van geweld
keer op keer
met rampe getref word.
13Maar ek weet
die Here behartig die regsaak
van die hulpeloses
en die regte van die armes.
14Die regverdiges
sal u Naam prys,
en in u teenwoordigheid
sal die opregtes lewe.

Spreuke 20

1Wyn maak jou tong los.
Sterk drank
maak jou lawaaierig.
Hy wat hom aan drank vergryp,
is nie verstandig nie.
2’n Koning wek net soveel vrees
as ’n leeu wat brul.
Jy stel jou lewe in gevaar
as jy hom kwaad maak.
3Dit is eerbaarder
om op te hou met ’n rusie;
dis net dwase wat rusie soek.
4’n Luiaard ploeg nie
wanneer dit saaityd is nie.
Wanneer hy oestyd na iets soek,
is daar niks om te oes nie.
5Wat ’n mens dink,
is onpeilbare diep waters,
maar verstandiges
sal voordeel daaruit trek.
6Baie mense sal voorgee
dat hulle lojale vriende is,
maar waar is daar iemand
wat regtig betroubaar is?
7Hy wat opreg en eerlik leef,
se kinders is baie gelukkig.
8Wanneer die koning
op sy troon sit
om oor ’n saak te besluit,
moet hy uitsorteer wat reg
en wat verkeerd is.
9Wie is daar wat kan sê:
“Ek het my hart gesuiwer,
ek het my gereinig
van al my sonde”?
10Die Here het nie tyd
vir dubbele standaarde
en vals mate nie.
11Selfs ’n jongmens
word beoordeel
volgens wat hy doen;
aan sy optrede word bepaal
of dit suiwer en opreg is.
12Die oor wat hoor,
die oog wat sien –
die Here het al twee gemaak.
13Moenie lief wees vir slaap nie;
jy kan in armoede verval.
Wees wakker,
en jy sal genoeg hê om te eet.
14Die koper sê:
“Nikswerd!
Dis niks werd nie!”
Wanneer hy weggaan,
spog hy met sy winskopie.
15Woorde wat uit kennis kom,
is kosbaarder as baie goud
en edelstene.
16Vat klere as ’n pand
van iemand wat borg staan
vir ’n buitelander,
kry by hom ’n waarborg
wanneer hy instaan
vir ’n vreemde se skuld.
17Kos wat gesteel is,
proe aanvanklik lekker.
Agterna word dit klippies
in jou mond.
18Planne slaag
wat op goeie raad gebaseer is.
Kry eers raad
voor jy oorlog maak.
19Iemand wat loop en skinder,
lap geheime uit.
Bly weg van iemand
wat alte maklik praat.
20Wie sy pa en ma vervloek,
se lewe eindig onverwags
soos ’n lamp wat doodgaan
in pikdonker.
21Besittings oneerlik verkry,
maak jou op die lang duur
nie gelukkig nie.
22Moenie sê:
“Ek sal my wreek op die kwaad
wat aan my gedoen is” nie.
Wag eerder op die Here.
Hy sal jou saak hanteer.
23Die Here verafsku
twee stelle maatstawwe.
’n Skaal wat nie reg weeg nie,
aanvaar Hy nie.
24Die Here bepaal ’n mens se lewe.
Hoe kan ’n mens verstaan
wat met hom moet gebeur?
25Jy stel vir jouself ’n strik
as jy ewe maklik
iets aan die Here belowe
en eers agterna besef
wat jy belowe het.
26’n Wyse koning
sorteer die skuldiges uit
en laat dan sy straf oor hulle gaan.
27Die soeklig van die Here
val op die mens se lewe.
Hy bring die diepste motiewe
aan die lig.
28Liefde en lojaliteit
hou wag oor ’n koning.
Sy troon word versterk
deur liefde.
29Jong manne se mooiheid
lê in hulle krag.
Dit is hulle grysheid
wat oumense mooi maak.
30’n Pak slae suiwer die kwaad.
Straf maak die binnekant skoon.

Die Boodskap

Psalm 20

1’n Psalm van Dawid vir die leier van die orkes
2Mag die Here jou gebed verhoor die dag as dit met jou swaar gaan.
Mag die God van Jakob jou veilig hou.
3Mag Hy jou spesiaal help en bystaan uit die plek waar Hy bly.
4Ja, mag die Here onthou hoe getrou jy Hom gedien en vir Hom geoffer het. Mag dit Hom bly maak.
5Mag Hy vir jou gee wat jy graag wil hê. Mag Hy jou planne suksesvol laat wees.
6Ons sal vrolik en bly wees as jy wen.
Ons sal vir almal sê en wys wie die Here regtig is.
Ja, mag die Here vir jou gee wat jy graag wil hê.
7Een ding weet ek nou. Die Here sal die persoon wat Hy koning maak,
ook ’n oorwinnaar maak.
Hy sal sy gebede beantwoord vanuit sy woonplek.
Omdat die Here so sterk is, sal die Here hom altyd laat wen.
8Party mense dink hulle goeie oorlogswapens en vegvoertuie gaan hulle laat wen. Ons weet van beter.
Dit is die Here ons God wat ons laat wen. Ons vertrou op Hom.
9Daardie ander mense sak inmekaar. Hulle kan nie bly staan nie.
Maar ons bly onwrikbaar staan.
10Laat die koning asseblief wen, o Here. Luister asseblief as ons bid.

Psalm 50

’n Psalm van Asaf
1God, die Here, wat alles kan doen wat Hy wil, praat. Hy alleen is God.
Hy roep die hele wêreld nader. Almal moet na Hom luister.
2Sion is ’n ongelooflike mooi stad.
Daar verskyn God soos ’n verblindende lig.
3Ons God kom. Hy bly nie stil nie.
Dit is of ’n storm rondom Hom losbreek
en ’n vuur alles voor Hom wegbrand.
4Hy roep almal in die hemel en op aarde nader om te hoor wat Hy van sy volk gaan sê. Hy gaan sy volk oordeel.
5“Maak die mense bymekaar wat My so getrou dien.
Ons het mos ’n ooreenkoms met mekaar.”
6Almal in die hemel stem saam: “God doen altyd wat reg is, ook as Hy mense oordeel.”
7“My mense, luister. Ek wil vir julle sê wat Ek teen julle het. Ek getuig teen julle. Ek is God, julle God.
8Ek is nie ongelukkig omdat julle nie vir My geskenke bring nie. Ek onthou altyd julle offers. Dis nie daaroor dat Ek rekenskap van julle eis nie.
9Ek het nie julle bokke of beeste nodig wat julle so offer nie.
Alles behoort in elk geval aan My.
10Daar is duisende wilde diere wat Myne is.
Ja, al die beeste wat jy op die berge sien wei, behoort aan My.
11Die voëls wat vlieg en die diertjies wat in die veld kruip, is almal Myne.
12Sê nou Ek is honger, sou Ek vir jou kos vra?
Nee, want alles in die wêreld behoort aan My.
13Ek het nie jou bokke of beeste nodig nie. Ek benodig nie hulle vleis en hulle bloed nie.
14Wat Ek wel wil hê, is dat jy met jou lewe vir My dankie moet sê.
Gee en doen vir My, die Allerhoogste, wat jy belowe het.
15As jy probleme het, roep My om te help en Ek sal jou help.
En jy moet vir My dankie sê.”
16Vir die slegte mens sê God: “Hoekom praat jy nog oor die wil van die Here asof dit vir jou saak maak?
Hoekom maak jy asof ons met mekaar ’n ooreenkoms het?
17Jy wil nie luister wat Ek jou leer nie. Jy doen ook nie wat Ek vra nie.
18Jy is tuis tussen diewe en mense wat niks van die huwelik dink nie. Jy maak nes hulle.
19As jy jou mond oopmaak, lieg en bedrieg en skinder jy;
20jy gee nie eens om of dit jou eie broer is wat jy so behandel nie. Jy smeer hom swart.
21“Terwyl jy so woes aangegaan het, moet Ek stilbly?
Dan dink jy dalk Ek maak soos jy. Nee, Ek gaan jou laat deurloop. Jy gaan mooi verstaan waaroor dit gaan. Ek kla jou aan.
22Luister asseblief mooi as Ek julle waarsku, julle wat leef asof God nie daar is nie.
As Ek julle begin straf, sal niemand julle meer kan help nie.
23“Weet julle watter geskenk maak my hart bly?
As julle vir My dankie sê en loof deur julle optrede.
Die mense wat so leef, sal Ek altyd help.”

Psalm 80

1Opgedra aan die musiekleier. Gesing op die wysie van “Lelies”. ’n Psalm van Asaf wat vir mense iets wil leer
2Here, U is soos ’n herder vir u kinders.
U sorg vir al u kinders soos ’n herder sy skape oppas.
U lei u kinders.
Oor alles in die wêreld heers U. Luister tog nou na ons!
3Gryp nou in. Help ons uit ons probleme uit.
Wys vir u kinders hoe sterk U regtig is. Kom help ons!
4Laat dit weer met ons goed gaan. Red ons, God!
5Here, groot God, U is die groot Bevelvoerder oor alles en almal.
Hoe lank gaan U nog kwaad bly?
U doen niks as u kinders by U hulp vra nie.
6U het ons baie swaar laat kry.
Ons het ons oë uitgehuil oor die swaarkry wat U oor ons laat kom het.
7Ons is soos ’n bal wat rondgeskop word deur almal rondom ons.
Mense baklei met ons.
Daardie spul wat niks van ons hou nie, lag ons uit.
8Almagtige God, U is die groot Bevelvoerder. Sit ons tog weer op die wenpad.
Help ons! Laat dit weer met ons goed gaan.
9Die Israeliete was soos ’n wingerdplantjie.
U het hulle in Egipte uit die grond getrek.
U het al die vreemdes weggejaag van die plek af waar U hulle wou kom oorplant.
10U het die grond uitgekies en goed voorberei. Die plantjie het stewig begin groei.
Gou-gou was die hele land toegerank.
11So dig het dit gegroei dat dit skaduwees oor die hoë berge gegooi het.
Dit was selfs groter as die reusebome wat daar gestaan het.
12U nuwe plant het van die Middellandse See tot by die Eufraatrivier gestrek.
Die Here se kinders het die Beloofde Land volgemaak.
13Maar hoekom het U die veiligheidsmuur rondom u volk laat afbreek?
Almal wat daar verbyloop, het nou die druiwe afgesteel.
14Die diewe en skurke het alles kom opvreet.
Wilde diere het alles wat oorgebly het, kaalgepluk.
15God, U is die groot Bevelvoerder. Kom help ons!
Sorg uit u hemelse blyplek vir ons.
Ons is u wingerdplant. Kry ons weer jammer, en sorg weer vir ons!
16Beskerm die plant wat U met soveel sorg vertroetel het.
U het dit met spesiale aandag grootgemaak.
17U wingerdplant is aan die brand gesteek. Dis uitgekap.
Hulle het dit soos onkruid uitgeroei. Laat hulle nou te gronde gaan.
18Sorg nou asseblief weer vir die mense wat U gekies het om aan U te behoort.
U het hulle almal as u eie kinders grootgemaak.
19As U dit doen, sal ons U dien. Ons sal nie weer van u wegdraai nie.
Help ons om weer voluit te lewe! Dan sal ons U prys en dien.
20Here, U is die God wat die groot Bevelvoerder is.
Sit ons weer op die wenpad.
Help ons! Kom tog om ons te red!

Psalm 110

’n Psalm van Dawid
 
1Die Here het vir my heer, die koning, gesê:
“Kom sit hier op die ereplek tot Ek al jou vyande onderwerp het.”
2Die Here sal uit Sion jou koninklike mag laat voortrol: heers dan oor jou vyande.
Jou mense sal graag in die oorlog saam met jou kom veg.
3Die jongmense sal al van vroeg af reg staan, aangetrek vir die geveg.
Dit sal vir jou lekker wees om dit te sien.
4Die Here het ’n belofte gemaak waaroor Hy nie spyt sal wees nie:
“Jy sal My op ’n wonderlike wyse dien, soos Melgisedek.”
5Die Here sal jou laat wen. As Hy kwaad word, verbrysel Hy jou vyande.
6Of dit nou belangrike heersers met baie mense is, dit maak nie saak nie.
Die lyke van jou vyande en hulle leiers sal gesaai lê.
7Maar ons koning sal langs ’n stroompie water kan ontspan en daarvan drink,
want hy het gewen.

Psalm 140

1’n Psalm van Dawid vir die dirigent van die orkes
2Here, red my asseblief van mense wat slegte dinge doen.
Beskerm my teen mense wat alles met geweld wil regkry.
3Daar is mense wat net die hele tyd kyk wat hulle verkeerd kan doen.
Hulle maak net die hele tyd moeilikheid.
Al hulle praatjies maak hulle baie gevaarlik. 4Hulle is soos giftige slange.
Hulle is reg om ander mense seer te maak met wat hulle sê.
5Beskerm my, Here, teen daardie mense wat U nie wil dien nie.
Hulle wil my net kwaad aandoen.
Help my asseblief teen daardie mense wat alles vir my wil verongeluk.
Hulle konkel agteraf om my onder te kry, al moet hulle geweld gebruik.
6Mense wat dink hulle is beter as ander, probeer my aan die neus rondlei.
Hulle wil my in die moeilikheid bring sonder dat ek dit verwag.
Daarom maak hulle planne om my om die bos te lei.
7Ek het vir die Here gevra: U is my God. Help my asseblief, Here.
Ek smeek U om my asseblief te help. 8Ek is U s’n, Here.
U het al die krag om my te help.
U beskerm my as ek in die moeilikheid is.
9Here, moenie U steur aan mense wat U nie wil dien nie.
Moenie toelaat dat hulle met my maak wat hulle wil nie.
Moenie dat hulle regkry wat hulle in die mou voer nie.
Anders hou hulle net aan om te dink dat hulle beter is as ander mense.
10Laat hulle wat alles vir my wil verongeluk op hulle eie aansukkel.
Gee dat hulle self deurloop onder die slegte dinge wat hulle in die mou voer, Here.
11Laat hulle die pyn en hartseer voel wat hulle vir ander beplan het.
Mag die Here sorg dat hulle geknoei tot hulle eie dood lei; ja, hulle moet bly lê.
12Laat elkeen wat lelike dinge sê, nie regkry wat hy sê nie.
Laat die slegte dinge wat hulle aan ander wil doen, hulle self tref.
Die ongeluk moet hulle keer op keer ry.
13Ek voel gerus om te weet dat die Here vir die mense sal sorg wat hulp nodig het.
Hy sal sorg dat mense reg teenoor hulle optree, want Hy self is die regter.
14Ja, Here, almal wat U liefhet, sal U prys, want U is groot.
Elkeen wat eerlik en opreg is, sal saam met U lewe.

Spreuke 20

Dra goeie vrugte
1Te veel wyn laat jou onsin praat. Sterk drank maak jou rumoerig. Dit is slim van jou om nie dronk te word nie.
2Die woedebuie van ’n regeerder is net so angswekkend soos ’n grommende leeu. Wie hom teëgaan, kan sy lewe verloor.
3’n Wyse mens bly weg van rusies en ’n gestry. Dit is net ’n dwaas wat sy neus oral insteek.
4Lui mense gaan ook in die môre werk toe. Daar doen hulle net mooi niks, maar aan die einde van die maand wil hulle geld hê.
5Wat mense dink, is ’n geslote boek. Niemand weet wat in hulle koppe aangaan nie. Net iemand met ’n fyn aanvoeling vir mense verstaan iets daarvan.
6Egte vriendskap is skaars. Baie sê hulle is jou vriend, maar min sal jou deur dik en dun ondersteun.
7’n Gelowige is ’n mens op wie jy kan reken. Hy doen wat hy glo. Sy kinders kan bly wees hieroor, want hulle het ’n voorbeeld om na te volg.
8’n Leier met baie lewenswysheid sien verkeerde dinge maklik raak. Hy het die mag om verkeerde dinge te stop.
9Wie is sonder sonde? Wie kan sê dat hy altyd net aan die goeie dink? Wie doen altyd die regte dinge op die regte tyd?
10Die Here haat dubbele standaarde. Besighede wat mense kul of minderwaardige produkte verkoop, is vir die Here ’n gruwel.
11’n Gelowige word aan sy vrugte geken. Dade spreek harder as woorde. 12Om te kan hoor en sien is gawes van die Here.
13Moenie lui wees nie. Moenie jou tyd met niksdoen verspil nie. Werk hard! Dan sal jy genoeg hê om van te leef.
14’n Koper sal altyd oor die prys kla. Later spog hy dat dit ’n winskoop was.
15Kennis van die lewe is kosbaar. Geen geld kan dit koop nie. Wyse woorde is onbetaalbaar.
16Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge, veral as die ander party vrot van die skuld is.
17Geld wat oneerlik verkry is, bring nie geluk nie. Dit is soos brood wat in jou mond grond word. Dit vernietig jou tande en veroorsaak pyn.
18Goeie planne kan ook op vergaderings gemaak word. Voordat jy iets aanpak, vra eers raad. Beplan dan fyn.
19Wie loop en skinder, lap ander se geheime uit. Vermy praatkouse en skinderpraatjies.
20Wie sy pa en sy ma seermaak of vloek, kwyn weg. God verwerp hom.
21Wie te vroeg op sy erfporsie aandring, het niks vir sy oudag nie.
22Moenie jou wreek oor kwaad wat jou aangedoen is nie. Los dit liewer vir die Here. Hy sal jou help.
23Die Here haat kullery, winkels wat swak produkte ten duurste verkoop, firmas wat mense uitbuit. 24Niemand weet wat môre gaan gebeur nie. Wie egter naby die Here leef, sal weet wat om te doen.
25Pas op wat jy vir die Here sê. Moenie in nood iets aan Hom beloof wat jy nie kan doen nie.
26’n Sterk leier vat bedrieërs vas. Hy stop wanpraktyke en straf korrupsie.
27Denke is ’n gawe van die Here. Dit is soos ’n lig op ons pad. Dit help ons om onsself te verstaan. Dit help ons om die regte dinge te doen en te sê.
28Goedheid en getrouheid is ’n leier se behoud. So lank as wat hy vir ander omgee, sal hy regeer.
29Fisieke krag is ’n jongman se trots. ’n Gryskop se krag is sy kennis van die lewe.
30’n Pak op sy tyd verrig wondere. Dit laat ’n kind besluit om sy nonsens te stop.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!