Dag 19: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 19

Die openbaring van die Here is volmaak
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur aan die ander
en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan 'n boodskap uit oor die hele wêreld
en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel 'n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin om sy baan te volg,
is hy soos 'n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud,
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Psalm 49

Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word nie
1Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.
2Luister hierna, al julle volke,
gee aandag, julle almal wat die wêreld bewoon,
3elke mens, sonder uitsondering,
ryk en arm!
4My mond gaan suiwer wysheid praat;
wat ek gaan sê, sal van insig getuig,
5want ek hoor 'n woord wat my wysheid gee
en terwyl ek op die lier speel, wil ek 'n geheimenis verklaar.
6Waarom sou ek my in moeilike tye kwel
as ek bedreig word deur die onreg van bedrieërs,
7van mense wat net op hulle besittings vertrou
en met hulle groot rykdom spog?
8Een mens kan tog nie 'n ander loskoop van die dood
en aan God 'n losprys vir hom betaal nie?
9Die prys vir 'n mens se lewe is te hoog.
Wat hy kan betaal, sal nooit genoeg wees
10dat hy vir altyd sal lewe
en die dood nooit sal smaak nie.
11Elkeen sien dit tog:
wyse mense sterwe net soos dwase en sotte,
en laat hulle besittings aan ander na.
12Die graf is vir altyd hulle tuiste;
van geslag tot geslag is dit hulle woonplek,
al het hulle eenmaal grond op hulle naam gehad.
13Met weelde en al leef die mens nie vir altyd nie;
soos die diere, so kom die mens ook tot 'n einde.
14Dit is die lot ook van mense wat op hulleself vertrou,
die uiteinde van dié wat ingenome is met hulleself.Sela
15Soos skape is hulle bestem om te sterwe;
die dood is hulle wagter.
Sonder meer daal hulle in die graf in;
in die doderyk verdwyn alles waarop hulle vertrou het;
vir hulle bestaan dit nie meer nie.
16Maar vir my sal God loskoop uit die mag van die dood;
ek sal aan Hom behoort.Sela
17Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word,
dat hulle besittings baie word nie,
18want as hulle sterf, neem hulle niks saam nie;
hulle besittings sal hulle nie volg nie.
19Al verlustig 'n mens hom in 'n voorspoedige lewe,
en al prys die mense hom omdat dit met hom goed gaan,
20soos sy voorvaders sal ook hy moet sterwe
en hy sal die lig nooit weer sien nie.
21Die mens wat met weelde en al 'n dwaas bly,
is soos 'n dier wat vergaan.

Psalm 79

Help ons, o God, ons Redder
 
1'n Psalm van Asaf.
Heidene het u land binnegedring, o God,
hulle het u heilige tempel ontwy
en Jerusalem in puin gelê.
2Hulle het die lyke van u dienaars
aan die voëls gegee om te vreet,
die vleis van u troue dienaars aan die wilde diere.
3Hulle het die bloed van u dienaars
rondom Jerusalem laat vloei soos water.
Niemand het hulle begrawe nie.
4Ons het 'n bespotting vir ons buurvolke geword,
ons word gespot en uitgejou deur almal rondom ons.
5Hoe lank sal dit nog aanhou, Here?
Sal u toorn dan vir altyd duur,
u woede soos 'n vuur bly brand?
6Laat u gramskap die heidene tref: hulle dien U nie;
laat dit die koninkryke tref wat u Naam nie aanroep nie.
7Dit is hulle wat vir Jakob tot niet gemaak
en sy woonplek verwoes het.
8Moet tog nie die ongeregtighede van vorige geslagte
op ons laat neerkom nie,
ontferm U tog gou oor ons,
want ons kragte is gedaan.
9Help ons, o God, ons Redder,
ter wille van die eer van u Naam,
red ons, vergewe ons ons sondes
tot die eer van u Naam.
10Waarom moet die heidene sê:
“Waar is hulle God nou?”
Laat ons aanskou hoe u straf die heidene tref
oor die bloed van u dienaars wat vergiet is.
11Slaan tog ag op die gesug van die gevangenes.
Red deur u groot mag dié wat met die dood bedreig word.
12Betaal ons bure dubbel en dwars terug, Here,
vir die bespotting wat U van hulle moes verduur.
13Ons, u volk en u kudde, sal U altyd loof,
van geslag tot geslag sal ons van u roemryke dade vertel.

Psalm 109

U is goed en getrou, red my tog!
 
1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.
U is die God wat ek altyd loof,
moet tog nie my gebede onverhoord laat nie!
2Dit is goddelose mense en leuenaars wat my aankla.
Hulle getuig vals teen my,
3met woorde vol haat tref hulle my van alle kante,
sonder enige rede val hulle my aan.
4My liefde beantwoord hulle met vyandskap,
en dit terwyl ek nog altyd vir hulle gebid het.
5So vergeld hulle my met kwaad vir goed
en haat vir liefde, en hulle sê:
6“Stel 'n misdadiger aan as sy regter,
laat een wat vyandig is, hom aankla;
7sorg dat hy skuldig bevind word,
laat selfs sy gebed teen hom tel as 'n misdaad.
8Laat sy lewe kort wees
en laat 'n ander sy amp oorneem!
9Mag sy kinders wees word,
sy vrou 'n weduwee!
10Laat sy kinders as bedelaars rondswerf
en tussen die puinhope van hulle huise kos soek.
11Laat die skuldeiser beslag lê op al sy besittings,
laat vreemdes plunder wat hy met moeite bymekaargemaak het!
12Laat niemand aan hom liefde bewys nie,
laat niemand hom die lot van sy kinders aantrek nie.
13Laat sy nageslag uitgeroei word,
laat hulle naam binne een geslag uitgewis wees!
14Mag die Here die ongeregtigheid van sy voorvaders nie vergeet nie,
mag die sonde van sy moeder nooit uitgewis word nie!
15Laat dit voortdurend vir die Here bly bestaan,
maar laat hulle naam van die aarde af gevee word
16omdat hy nie daaraan gedink het om liefde te bewys nie:
hy het die mens in nood en die arme,
dié wat plat geslaan is, tot die dood toe vervolg.
17Hy het graag vervloek, laat die vloek hóm tref!
Hy het nie graag geseën nie, laat seën ver van hóm af wees!
18Om mense te vervloek, is vir hom soos klere dra,
soos water drink,
soos lyfolie aansmeer.
19Laat sy vloek hom aankleef soos sy klere,
soos 'n gordel wat hy deurentyd dra!”
20Mag die Here dit alles oor my teëstanders laat kom,
oor dié wat my sulke vreeslike dinge toewens.
21U is die Here my God,
handel met my só dat u Naam geëer sal word.
U is goed en getrou, red my tog.
22Ek is hulpeloos en arm,
my hart is inmekaargekrimp in my.
23Soos 'n skaduwee wat lank word, is my einde naby,
en ek word weggevee soos 'n sprinkaan.
24My knieë knak al soos ek gevas het,
my liggaam is uitgeteer en maer.
25Ek het die spot van die mense geword;
hulle kyk met veragting na my
en knik met voldoening die kop.
26Help my, Here my God,
red my in u troue liefde,
27dat mense kan weet dat dit u hand is,
U, Here, wat dit gedoen het.
28Húlle vloek my, maar U sal my seën.
Hulle kla my aan, maar hulle sal verloor,
en ek, u dienaar, sal bly wees.
29Laat my teëstanders met skande oordek word,
laat vernedering hulle aankleef soos hulle klere.
30Dan sal ek my lof aan die Here laat weerklink
en Hom voor 'n groot skare prys,
31want Hy staan by die arme
en red hom van dié wat hom ter dood wil veroordeel.

Psalm 139

U omsluit my van alle kante
 
1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie 'n woord op my tong nie
of U, Here, weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.
7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,
of die lig rondom my om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.
13U het my gevorm,
my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
14Ek wil U loof,
want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,
hoe magtig hulle almal!
18As ek hulle sou wou opnoem –
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.
19As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God!
Gaan weg van my af, julle moordenaars!
20Dit is hulle wat bose planne teen U smee,
wat so vals teen U optree.
21Moet ek u haters dan nie haat nie, Here,
moet ek nie 'n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie?
22Ek haat hulle met 'n uiterste haat,
want hulle is ook my vyande.
23Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,
ondersoek my, sien tog my onrus raak.
24Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad!

Spreuke 19

1Liewer arm wees en opreg lewe
as 'n leuenaar en boonop 'n dwaas.
2Ywer sonder kennis deug nie;
oorhaastigheid bring foute.
3Sy eie dwaasheid bring 'n mens op die verkeerde pad
en dan is hy kwaad vir die Here.
4Rykdom vergader baie vriende;
'n arm mens word van sy enigste vriend vervreem.
5'n Vals getuie bly nie ongestraf nie;
wie leuens kwytraak, kom nie vry nie.
6Almal soek die goedgesindheid van 'n man met mag,
elkeen is die vriend van iemand wat geskenke uitdeel.
7As 'n arm man se broers almal niks met hom te doen wil hê nie,
bly sy vriende ook van hom af weg,
en om hulle te soebat, help nie.
8Wie homself liefhet, sorg dat hy wysheid verwerf;
hy stel prys op insig sodat hy voorspoed kan geniet.
9'n Vals getuie bly nie ongestraf nie;
wie leuens kwytraak, gaan tot niet.
10Weelde pas nie by 'n dwaas nie,
nog minder behoort 'n slaaf oor mense van aansien te regeer.
11'n Verstandige mens beteuel sy humeur
en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.
12'n Koning se woede is soos die brul van 'n leeu,
en sy goedgesindheid soos dou op die gras.
13'n Dwase seun is sy vader se ondergang;
die gekyf van 'n vrou is soos die gedrup uit 'n dak wat lek.
14Van sy ouers kan iemand 'n huis en besittings erf,
maar 'n verstandige vrou is 'n geskenk van die Here.
15Luiheid laat 'n mens diep slaap;
'n lui mens ly honger.
16Wie prys stel op die gebod van die Here, stel prys op sy eie lewe;
wie nie omgee hoe hy lewe nie, sterf.
17Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here,
en Hy sal hom ten volle vergoed.
18Behandel jou seun streng, dan is daar hoop,
maar moet jou nie te buite gaan en hom doodmaak nie.
19'n Opvlieënde mens boet vir wat hy doen,
maar as jy hom een keer help, sal jy dit elke keer weer moet doen.
20Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word,
sodat jy uiteindelik wysheid kan hê.
21Al maak mense hoeveel planne,
wat die Here besluit, staan vas.
22'n Mens wy sy lewe aan wat hy begeer,
maar dit is beter om arm te bly as om te bedrieg.
23Wie die Here dien, se lewe is veilig;
so 'n mens slaap rustig, geen ramp tref hom nie.
24'n Luiaard steek sy hand in die skottel,
maar bring dit nie terug na sy mond toe nie.
25As jy 'n ligsinnige mens klap, leer dié wat nog onervare is, daaruit;
as jy 'n verstandige mens straf,
word hy nog verstandiger.
26'n Seun wat sy pa mishandel en sy ma verstoot,
is skaamteloos en veragtelik.
27My seun, hou gerus maar op met luister na wat jou geleer word
as jy jou nie wil steur aan verstandige raad nie.
28'n Kwaadwillige getuie maak 'n bespotting van die reg;
wat goddelose mense sê, bring onreg.
29Ligsinnige mense moet straf te wagte wees,
en dwase moet slae verwag.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 19

Die heerlikheid van God
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2Die hemele verkondig
die heerlikheid van God.
Die uitspansel getuig
van die werk van sy hande.
3Die een dag vertel
vir die ander dag;
die een nag vir die volgende nag.
4Hulle praat sonder woord of klank,
geluidloos is hulle stem;
5hulle boodskap gaan uit
oor die hele wêreld,
hulle woorde
tot die uiterste van die aarde.
Die son se woonplek is in die hemel,
waar God dit geplaas het.
6Soos ’n bruidegom
verskyn hy uit sy kamer,
soos ’n held op die baan,
ywerig om weg te spring.
7Aan die een kant van die horison
kom hy op
en aan die ander kant
gaan hy onder.
Niks kan sy hitte ontkom nie.
8Die Here se voorskrifte is volkome,
dit gee nuwe lewenskrag.
Die bepalings van die Here
is betroubaar;
dit maak die eenvoudige
verstandig.
9Die Here se bevele is reg,
dit bring vreugde vir die hart.
Die opdragte van die Here
is duidelik;
dit gee insig vir die lewe.
10Die gebooie van die Here
is suiwer,
dit bly vir altyd staan.
Die Here se voorskrifte is reg;
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as die fynste goud.
Hulle is soeter as heuning,
as druppels
uit ’n heuningkoek.
12Dis ’n waarskuwing
vir u dienaar,
en ’n groot beloning
vir dié wat dit gehoorsaam.
13Wie kan sy eie oortredings
verstaan?
Spreek my vry
oor verborge sondes,
14en bewaar my
van opsetlike sondes!
Laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek vry wees van skuld,
en onskuldig
aan groot oortredings.
15Mag die woorde van my mond
en die gedagtes van my hart
vir U aanneemlik wees,
Here, my rots
en my Verlosser.

Psalm 49

God sal my loskoop
1Vir die koorleier: Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Luister hierna, al julle volke!
Gee ag,
al julle bewoners van die wêreld:
3eenvoudiges
en mense van aansien,
dié wat ryk is
en dié wat arm is!
4My mond
sal wyse woorde praat,
my gedagtes
sal getuig van insig.
5Ek sal luister na spreuke
en raaisels oplos
by die speel van die lier.
6Waarom sal ek bang wees
in tye van nood,
wanneer bose bedrieërs
my omsingel,
7hulle wat vertrou
op hulle welvaart,
wat spog met hulle rykdom?
8Geen mens
kan enigsins ’n ander loskoop
deur ’n losprys
aan God te gee nie.
9Die redding van ’n mens
is te duur.
Niemand kan ooit genoeg betaal
10sodat hy vir altyd sal lewe
en die dood nie sal sien nie.
11Almal kan sien:
Wyse mense sterf,
ook die dwaas
en die stommerik,
en laat hulle rykdom agter
vir ander.
12Hulle graf
is hulle tuiste vir altyd.
Daar sal hulle bly
van geslag tot geslag,
selfs al het hulle die grond
na hulleself vernoem.
13Die mens in weelde
leef nie vir altyd nie,
maar sterf self
net soos die diere.
14Dit is die lot van dwase mense,
en dié
wat hulle woorde beaam.
Sela
15Soos skape
is hulle vir die doderyk bestem,
daar waar die dood
hulle herder sal wees.
Die opregtes
sal oor hulle seëvier
wanneer die dag aanbreek;
hulle sal verrot in die graf
wat vir hulle
’n tuiste sal wees.
16Maar God
sal my verseker loskoop
uit die mag van die doderyk
en my saam met Hom neem.
Sela
17Moenie ontsteld word
as die goddelose ryk word
en sy woning
nog mooier maak nie.
18Hy kan niks
met hom saamneem
wanneer hy sterf nie;
sy besittings
sal hom nie volg nie.
19Hoewel hy
voorspoedig kan wees,
en hulle hom toejuig
oor sy sukses,
20sal hy sterf
soos sy voorouers voor hom
wat nie weer die daglig
sal sien nie.
21Die mens met rykdom
sonder insig
is net soos diere wat vergaan.

Psalm 79

Sal U dan vir altyd kwaad
wees?
1’n Asafpsalm.
O God,
heidense nasies het gekom,
en u eie erfdeel binnegeval.
Hulle het u heilige tempel
verontreinig
en Jerusalem
’n puinhoop gemaak.
2Hulle het die lyke
van u dienaars
vir die voëls gegee om te vreet,
die vleis van u getroues
was kos vir wilde diere.
3Hulle bloed het soos water
rondom Jerusalem gevloei,
en daar was niemand
om hulle te begrawe nie.
4Ons is ’n bespotting
vir ons bure,
verag en gespot
deur almal om ons.
5Hoe lank nog, o Here?
Sal U vir altyd
kwaad wees?
Sal u jaloesie
brand soos vuur?
6Stort u toorn uit
oor die nasies
wat weier om U te erken
en oor koninkryke
wat u Naam nie aanroep nie.
7Want hulle
het Jakob verslind,
en sy woonplek verwoes.
8Moenie die sondes
van ons voorouers
teen ons hou nie.
Ontferm U gou oor ons,
want ons
is baie mismoedig.
9God van ons verlossing,
help ons,
red ons tog
ter wille van die eer
van u Naam,
en vergewe ons sondes
ter wille van u Naam.
10Hoekom sou die nasies spot
en vra:
“Waar is hulle God?”
Laat ons sien
hoe U die nasies
vergeld
weens die bloedvergieting
wat hulle
oor u dienaars gebring het.
11Luister na die versugting
van hulle
wat gevange geneem is.
Gebruik u groot krag
en red hulle
wat die dood
in die gesig moet staar.
12Vergeld ons bure sewe maal,
Here,
oor die veragting
wat hulle teen U
geslinger het.
13Dan sal ons, u volk,
die skape van u weiding,
U vir altyd dank,
en U prys
van geslag tot geslag.

Psalm 109

Tree tog op, Here!
 
1Vir die koorleier. ’n Dawidspsalm.
 
O God, vir wie ek prys,
moenie stilbly nie,
2want bose en vals mense
kla my aan
en vertel leuens oor my.
3Hulle omring my
met woorde van wraak
en sonder rede val hulle my aan.
4As antwoord op my liefde
is hulle my aanklaers,
en dit terwyl ek vir hulle bid!
5Hulle vergeld my kwaad vir goed
en haat vir die liefde
wat ek gee.
6Stel ’n bose persoon aan
teen hom
en ’n aanklaer aan sy regterkant.
7Wanneer hy geoordeel word,
laat hy skuldig bevind word,
en sy gebede
as sonde gereken word.
8Laat sy dae min wees;
laat iemand anders
sy plek inneem.
9Mag sy kinders wese word
en sy vrou ’n weduwee;
10mag sy kinders
as bedelaars rondswerf,
en kos soek tussen die bouvalle
van hulle wonings.
11Laat skuldeisers beslag lê
op al sy besittings,
en vreemdelinge alles vat
waarvoor hy hard gewerk het.
12Mag niemand
vir hom goed wees
of sy weeskinders bejammer nie.
13Mag al sy afstammelinge sterf,
en hulle naam
in een geslag uitgewis word.
14Mag die Here nooit
sy voorouers se sondes
vergeet nie;
mag sy moeder se sondes
nooit uitgevee word nie.
15Laat hierdie sondes voortdurend
voor die Here wees,
maar laat sy kinders se nagedagte
uitgewis word
uit die geheue van mense.
16Hy was nie goed
vir ander mense nie,
maar het die arm en behoeftige,
ook dié wat moedeloos is,
tot die dood toe vervolg.
17Hy het daarvan gehou
om te vervloek;
laat hy dit nou self ervaar.
Ander het hy nooit geseën nie;
laat seën vir hom
ook veraf wees.
18Vervloeking was vir hom
soos klere,
soos water vir sy liggaam,
soos olie vir sy beendere.
19Mag sy vervloeking wees
soos klere wat hy dra,
soos ’n gordel
wat hy altyd aanhet.
20Mag dit die Here se beloning
vir my aanklaers wees,
vir hulle wat slegte dinge
van my sê.
21Maar mag U,
oppermagtige Here,
met my handel
tot eer van u Naam!
Red my, want u getrouheid
is so goed.
22Ek is arm en in nood,
en my hart is hewig ontsteld
binne-in my.
23Soos ’n skadu wat lank word,
so kwyn ek weg.
Ek is soos ’n sprinkaan
wat afgeskud word.
24My knieë is swak
omdat ek vas;
ek is net vel en been.
25Mense spot met my;
as hulle my sien,
skud hulle die kop.
26Help my, Here my God!
Red my
op grond van u troue liefde.
27Laat hulle sien
dat dit u werke is,
dat U dit self gedoen het, Here.
28Hulle vervloek my,
maar U sal my seën!
My aanvallers
sal beskaam word,
maar u dienaar sal bly wees!
29Laat my aanklaers
met skande bekleed wees,
toegewikkel in oneer
soos met klere.
30Ek sal aanhou
om die Here te dank,
Hom prys
te midde van ’n menigte.
31Want Hy staan
langs die behoeftige,
gereed om hom te red
van hulle wat veroordeel.

Psalm 139

U ken my deur en deur
1Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Psalm.
Here, U deursoek my
en ken my.
2U weet of ek sit
en of ek opstaan,
U ken my gedagtes van ver af.
3Of ek op pad is,
en of ek gaan lê,
elke oomblik
weet U waar ek is.
4Selfs voordat ek praat, Here,
weet U al presies wat ek gaan sê.
5U sluit my in van voor
en van agter.
U hand van seën is op my.
6Dié kennis
laat my in verwondering,
dit is vir my te hoog
om te begryp!
7Waarheen sou ek kon gaan
om u Gees te ontwyk?
Of waarheen sou ek kon uitwyk
om u teenwoordigheid
te ontvlug?
8Gaan ek op na die hemel toe,
is U daar;
gaan lê ek in die doderyk,
dan is U ook daar!
9Vlieg ek met die daeraad
na die ooste,
of gaan woon ek
in die verre weste,
10selfs daar sal u hand my lei,
en u regterhand my ondersteun.
11Sou ek sê:
“Mag duisternis my oorweldig
en die lig
nag word rondom my,”
12dan is die nag vir U
nie donker nie,
maar is so helder soos dag,
want duisternis
is vir U soos lig.
13U self het my diepste wese
gemaak,
my in die moederskoot gevorm.
14Ek loof U omdat U my
so besonder wonderlik
gemaak het.
U werke is wonderbaar,
ek weet dit alte goed!
15My bene was vir U sigbaar
toe ek stilletjies gevorm is
in die dieptes
van die moederskoot.
16U het my gesien
voor ek gebore is.
In u boek is alles opgeteken;
elke dag is bepaal
voordat een van hulle daar was.
17Kosbaar is u gedagtes vir my,
o God!
Hoe onmeetlik is die totaal!
18As ek dit sou moes tel,
sou hulle meer wees
as sandkorrels!
Wanneer ek daarmee klaar is,
sal ek nog steeds by U wees.
19As U net die goddeloses
sal uitroei, o God!
Gaan weg van my,
julle moordenaars!
20Hulle smee bose planne
teen U,
u vyande misbruik u Naam.
21Moet ek hulle nie haat
wat vir U haat nie, Here?
Moet ek nie ’n afkeer hê
van dié wat teen U
in opstand kom nie?
22Ja, ek haat hulle
met ’n volkome haat,
want u vyande
is my vyande.
23Deursoek my, o God,
en ken my hart;
toets my en ken my onrustige gemoed.
24Kyk of daar enige sondige neiging
by my is,
en lei my op die ewige pad.

Spreuke 19

1Dit is beter
om arm
en eerlik te lewe
as om met leuens te lewe
en ’n dwaas te wees.
2Geesdrif sonder kennis
help niks.
Oorhaastigheid
stuur jou
in die verkeerde koers.
3’n Mens se eie dwaasheid
ontwrig jou lewe,
dan verkwalik jy nog
die Here daarvoor.
4Rykdom
bring baie mooiweersvriende.
’n Arm mens
het geen vriende nie.
5’n Vals getuie
bly nie sonder straf nie.
’n Leuenaar
sal die oordeel nie vryspring nie.
6Almal probeer
om gewild te wees
by ’n belangrike man.
Almal is vriende met die man
wat geskenke uitdeel.
7As ’n arm man se broers
niks met hom te doen wil hê nie,
hoeveel te meer sal sy naaste
hulle nie aan hom steur nie?
Hy smeek verniet by hulle.
Hulle is weg.
8Iemand wat vir homself omgee,
kry wysheid in die hande.
Iemand wat insig vashou,
geniet voorspoed.
9’n Vals getuie kom nie vry nie.
Iemand wat leuens rondstrooi,
gaan tot niet.
10Weelde pas nie by ’n dwaas nie.
’n Slaaf
behoort nog minder te regeer
oor belangrike mense.
11’n Verstandige mens
hou sy humeur in bedwang.
Hy stel sy eer daarin
om ander se oortredings
oor te sien.
12As ’n koning kwaad word,
is dit soos ’n leeu wat brul.
Sy goeie gesindheid
is soos dou op die gras.
13’n Dwase seun
is ’n ramp vir sy pa.
’n Vrou wat bly neul,
is soos water
wat van die dak af drup.
14Van sy pa kan iemand
’n huis of rykdom erf,
’n verstandige vrou
kry jy net by die Here.
15Luiheid laat jou diep slaap.
’n Lui mens ly honger.
16Iemand wat vashou
aan die gebod van die Here,
sal sy lewe behou.
Iemand wat dit verag,
gaan dood.
17Om na ’n arm mens om te sien,
is ’n lening aan die Here.
Hy sal jou daarvoor vergoed.
18Voed jou seun streng op,
dan is daar ’n toekoms.
Moenie jou te buite gaan
en hom skade aandoen nie.
19’n Humeurige mens
betaal self die prys daarvoor.
As jy hom eers een keer oorsien,
moet jy dit elke keer herhaal.
20Luister na raad.
Wees bereid
om tereggewys te word
sodat jy die res van jou lewe daardeur
wysheid kan hê.
21’n Mens kan hoeveel planne maak,
maar op die ou einde gebeur
wat die Here besluit het.
22’n Mens se lojaliteit
is prysenswaardig.
Dit is beter om arm te bly
as om te bedrieg.
23Iemand wat respek het vir die Here
se lewe is veilig.
Hy kan rustig slaap.
Geen ramp sal hom tref nie.
24’n Luiaard steek sy hand
in die skottel,
maar hy is te lui
om dit na sy mond te bring.
25As jy iemand wat spot,
bestraf,
leer jy dié wat nog onervare is.
Wanneer jy
’n verstandige teregwys,
word hy nog verstandiger.
26’n Seun wat sy pa aanrand
en sy ma uit die huis jaag,
is ’n veragtelike
en skandelike mens.
27My kind,
wanneer jy ophou
om te luister na teregwysing,
draai jy jou rug
op verstandige raad.
28’n Nuttelose getuie
maak van ’n hofsaak
’n bespotting.
Goddelose mense
verorber kwaad.
29Straf is opgeskryf vir mense
wat ander belaglik maak,
en slae wag vir die dwase.

Die Boodskap

Psalm 19

1Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm
2As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal.
Sy eer is oral in die lug opgeteken.
In die blou hemelruim sien jy wat Hy alles met sy eie hande gemaak het.
3Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister.
Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor.
4Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie.
Hulle boodskap word versprei sonder klanke.
5Daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie.
Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien,
is vol van sy eer.
As jy opkyk na die hemel, lyk dit of die Here ’n blou tent opgeslaan het.
6Hy het die son soos ’n lig daarin opgehang om helder te skyn.
Wanneer die son in die môre helder opkom, lyk hy soos ’n gelukkige bruidegom wat na die eerste nag by sy bruid met ’n glimlag by die huis uitstap.
Sy gesig straal.
Die son is so sterk en dapper soos ’n oorlogsheld
wat sy taak vir die dag vol moed aanpak.
7Hy begin met sy werk aan die een kant van die wêreld en loop heeltemal om tot by die ander punt.
So straal die son sy hitte op elke millimeter van die wêreld uit.
8So werk die Here se wet ook. Daar is geen foute in nie.
Soos die son oor alles skyn, so speel die wet ’n rol in ons hele lewe.
Dit bring nuwe krag in jou lewe.
Jy kan altyd op die wet staatmaak.
Dit is betroubaar,
want dit leer mense wat nog nie ervaring het nie hoe om gelukkig te lewe.
Die Here wil hê mense moet die regte dinge doen.
Dan sal hulle vol blydskap wees.
9Die Here se opdragte is baie duidelik. Dit leer jou watter pad die regte een is.
En dit maak jou bly as jy op die regte pad loop. As jy die Here dien, bly verkeerde dinge ver van jou af weg.
Wat die Here sê, laat jou gesig skitter.
10Die Here verwag dat sy kinders na Hom moet luister. God se wet geld vir altyd.
Dit wys ons hoe om te leef soos God wil hê. Wat Hy sê, is reg. Sy woorde leer jou om reg en regverdig te lewe.
11Wat God wil hê, is vir jou lewe kosbaarder as goud; dit is baie meer werd as ’n hele hoop suiwer goud.
Om God se wil te doen bring groter vreugde as die soetste heuning wat daar is.
12Elkeen wat U dien, leer uit u wet.
Iemand wat u wet gehoorsaam, se lewe is vol en ryk.
Hy word oor en oor daarvoor beloon.
13Ongelukkig sien ’n mens nie altyd die dinge raak wat jy verkeerd doen nie.
Here, vergewe al my foute waarvan ek nie weet nie, wat ek gedoen het sonder dat ek besef het hoe verkeerd dit is.
14En keer my as ek van plan is om opsetlik verkeerde dinge te doen.
Moenie dat slegte dinge oor my lewe baasspeel nie.
As U my help, sal ek sonder foute wees.
Dan sal ek nie aanhou om oor en oor die verkeerde dinge te doen nie.
15Ek hoop U sal bly wees oor alles wat ek sê en dink.
Here, ek wil U baie graag bly maak, want U pas my baie goed op. U verlos my!

Psalm 49

1Vir die hoof van die koor. ’n Psalm van die Koragiete
2Luister, luister! Maak oop julle ore, alle mense wat op aarde woon.
3Julle almal, ryk en arm, moet nou mooi luister. Niemand is uitgesluit nie.
4Ek wil vir julle wyse dinge sê wat vertel dat ek groot insig het.
5Ek het goed nagedink oor wat ek nou vir julle sê;
op die maat van musiek praat ek met julle oor God se geheime.
6Hoekom sal ek bang wees wanneer skelm mense my lewe bedreig?
7Hoekom sal ek omgekrap wees as geldgierige mense my probeer te kort doen? Hulle spog oor hulle baie skatte. Hulle vertrou op hulle besittings om hulle te red.
8God kan nie daarmee omgekoop word nie. Jy kan nie jou lewe van die dood red deur te probeer betaal nie.
9’n Mens se lewe is baie meer werd as geld. Niemand kan genoeg geld hê om vir sy lewe te betaal nie.
10Geld kan jou nie uit die kloue van die dood red nie. Jy kan nie die ewige lewe koop nie.
11Almal weet dit tog: slim mense én dwase mense gaan uiteindelik dood.
Alles wat hulle bymekaargemaak het, bly hier agter.
12Hulle nuwe adres: die dood! Daar trek hulle nooit weer weg nie.
Niemand leef vir altyd nie, al het so ’n mens ook baie eiendom besit.
13Nie eens die grootste rykdom verseker ’n lang lewe nie.
Op die ou end gaan ons almal dood, net soos die diere in die veld.
14Die dood wag vir mense wat op hulleself vertrou, vir mense wat baie van hulleself dink.
15Soos ’n klomp skape storm hulle agter die dood aan. Die dood pas hulle op.
In die doderyk verdwyn hulle binne ’n sekonde.
Al wat van hulle oorbly, is ’n verlate grafsteen êrens in ’n begraafplaas. Niks bly oor van alles waarop hulle vertrou het nie.
16Ek glo dat God my nooit in die kloue van die dood sal laat beland nie.
Hy sal my daar uithaal en reguit na Hom toe vat.
17Hoekom dan bekommerd wees oor ryk mense, as hulle al meer kry?
18Al hulle geld bly hier agter as hulle die dag doodgaan. Hulle vat niks saam nie.
19Wat help dit dat hulle die hele wêreld aan hulle voete het met hulle baie geld? Wat help dit dat jy bly is oor al jou voorspoed, of ons mense jou prys oor jy so goed is?
20Op die ou end stap hulle met leë hande uit hierdie wêreld uit.
Net soos almal voor hulle gaan hulle dood.
En in die graf sien hulle nooit weer die lig nie.
21Ryk mense wat nie die Here dien nie, is dom.
Hulle sal soos diere doodgaan.

Psalm 79

’n Psalm van Asaf
1God, ongelowiges het dit wat aan U behoort, verwoes.
Wat vir U en u kinders kosbaar is, u blyplek,
het hulle sonder enige eerbied platgeloop.
Vreemdes het Jerusalem in ’n ashoop verander.
2Hulle het u kinders doodgemaak en net so laat lê.
Die voëls en roofdiere het hulle kom opvreet.
U kinders is by die hope doodgemaak sonder dat hulle begrawe is.
3Die mense wat U dien se bloed het in strome rondom Jerusalem gevloei. Daar was niemand wat die lyke kon begrawe nie.
4Almal wat om ons bly, het hierdie vernedering gesien. Hulle het ons gespot. Hulle jou ons uit.
5Hoe lank gaan U nog u woede op ons laat afkom, Here? Gaan dit altyd aanhou?
Dit bring baie pyn.
Dit brand soos ’n vuur wat niemand kan doodkry nie.
6Wees eerder kwaad vir hulle wat U nie ken nie.
Tref eerder die nasies wat nie na U kom nie.
7Hulle het u kinders kom doodmaak
en die plek waar ons bly met die grond gelykgemaak.
8Moet ons nie straf vir die verkeerde dinge wat ons oupas en oumas gedoen het nie!
Maak gou en kom vou ons toe met u liefde, want ons krag is op.
Ons is baie swak. 9Help ons tog, God! Dit is net U wat ons kan verlos.
U goeie Naam is ook op die spel.
Vat al ons sondes weg sodat u goeie Naam nie gespot word nie.
10Want die mense wat U nie dien nie, spot met ons.
Hulle sê: “Waar is daardie mense se God dan?”
Straf daardie spul wat u kinders doodgemaak het.
Betaal hulle in eie munt terug terwyl ons toekyk.
11Luister tog na al die klagtes van u kinders wat oorgebly het.
Hulle is nou gevangenes. Red hulle met u groot krag sodat hulle kan leef.
12Maar betaal daardie mense terug wat met U gespot het. Betaal hulle dubbel en dwars terug daarvoor.
13Ons is u kinders, Here.
Ons is soos skape en U is ons herder.
U sorg vir ons. Ons sal U altyd prys.
Ons en ons kinders sal U loof.

Psalm 109

’n Dawidspsalm vir die leier van die musiek
1God, ek prys U altyd. Moet my asseblief nie ignoreer nie! Moenie stilbly as ek praat nie.
2Mense wat U nie wil dien nie, praat lelik van my.
Party mense is oneerlik. Hulle lieg oor my.
3Uit wat hulle sê, kan ’n mens sien dat hulle niks van my dink nie.
Hulle baklei sommer vir niks met my.
4Ek is hulle vriend, maar hulle is onbeskof met my.
Hulle gooi my liefde in my gesig terug.
Tog hou ek aan om vir hulle te bid.
5As ek iets goeds vir hulle doen, behandel hulle my net slegter.
Hulle doen net mooi die teenoorgestelde as ek.
As ek wys dat ek hulle liefhet, raak hulle al hoe leliker met my.
6Hulle sê:
“Laat hy in die hof voor ’n regter beland wat self ’n misdadiger is.
Laat sy vyand sy aanklaer wees.
7Sy lewe moet vir hom ’n nagmerrie wees.
Wanneer hy voor die hof kom, moet hy geen kans hê nie.
Die regter moet hom dadelik skuldig bevind.
As hy bid, laat dit selfs as ’n misdaad gereken word.
8Laat hom baie jonk doodgaan. Iemand anders moet sy werk kry.
9Sy kinders moet weeshuis toe gaan.
Daar moet niks wees wat sy weduwee kan erf nie. Sy moet stoksielalleen agterbly.
10Laat sy kinders loop en bedel. Hulle moet kos in asblikke gaan soek.
Mense moet hulle van die een ashoop na die ander wegjaag.
11Mense vir wie hy geld skuld, moet alles kom vat wat hy het.
Hy moet elke liewe sent betaal.
Die res van sy goed moet mense wat hy nie eens ken nie, kom steel.
12Niemand moet daardie slegte mens kan vertrou nie.
Almal moet hom in die steek laat.
Niemand moet hom eens jammer kry nie. Niemand moet hom liefhê nie.
Ook sy weeskinders moet sonder liefde grootword.
13Hy moenie ’n nageslag hê nie. Mense moenie eens van hom weet nie.
Sy kinders en kleinkinders, ja, sy hele familie moet doodgaan. Niemand mag oorbly nie. 14Die Here moet sy ouers se sonde straf.
Die Here moet nie een van die slegte dinge wat sy ma gedoen het, vergewe nie.
15Hy moet vir altyd die slegte vrugte pluk van daardie dade.
Die Here moet sorg dat niemand ooit weer aan daardie mense dink nie.
16Laat hierdie dinge gebeur omdat daardie skurk nooit iets goeds vir iemand anders gedoen het nie.
Hy het nooit mense gehelp wat arm en behoeftig is nie.
Mense wat in die moeilikheid was, het hy nog swaarder laat kry.
17Diegene wat moedeloos was, het hy heeltemal gebreek.
Hy het dit geniet om mense slegte dinge toe te wens.
Al daardie dinge moet hom nou tref.
Hy het nooit ’n goeie woord vir ander gehad nie.
Laat dieselfde met hom gebeur.
18Hy is baie lief om ander te vloek.
Van binne en buite is hy sleg. 19Dit is soos die bloed in sy are; soos die murg in sy pype.
Hy kan nie daarvan ontslae raak nie.
20Mag die Here al hierdie dinge laat kom oor hulle wat niks van my hou nie.
Hulle sê altyd lelike dinge van my. Daarom verdien hulle hierdie dinge.
21Here, wees asseblief goed vir my. U Naam is op die spel.
U is tog die Here, my God! Help my uit die moeilikheid uit.
U het u kinders baie lief.
22Ek is in die moeilikheid. Ek het u hulp nodig.
My binneste is stukkend. 23Ek is besig om stadig dood te gaan.
Daar is niks waaraan ek kan vashou nie. 24My bene vou onder my in.
Ek kan nie meer eet nie. Ek is maer. Daar is geen vet meer aan my nie. Slegte mense het op my getrap en my beledig.
25As hulle my sien, maak hulle ’n gek van my. Hulle haat my, en hulle is bly as dit sleg met my gaan.
26Here, my God, help my tog!
Help my asseblief uit die moeilikheid uit.
U het u kinders baie lief.
27Mense moet sien dat U hulle uit die moeilikheid gehelp het.
28Slegte mense kan my maar vloek, Here.
Gee U vir my goeie dinge.
Hulle wou my lelik behandel en seermaak, maar hulle kon nie.
Ek dien U. Dit maak my sommer baie bly.
29Verneder daardie mense wat teen my is. Laat hulle met hulle kop in skaamte wegstap.
30Dan sal ek die Here prys. Almal moet dit hoor.
Ek sal Hom voor baie mense loof.
31Hy help almal wat sy hulp nodig het!
Hy help mense teen skurke wat ander seermaak.

Psalm 139

’n Psalm van Dawid vir die dirigent van die orkes
1Here, U kyk of ek eerlik is en vertrou kan word.
U weet wat gaan hier binne-in my aan.
2Ek kan niks wat ek doen, vir U wegsteek nie.
Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees.
3Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek vir U kan wegsteek nie.
U weet alles wat ek doen.
4Al het ek nog nie eens begin praat nie, U weet wat ek gaan sê. U ken my deur en deur.
5U beskerm my hele lewe.
Ek kan dit glad nie verstaan nie, al probeer ek.
6Dit is te oorweldigend.
7U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.
8As ek hemel toe gaan, is U daar.
As ek doodgaan, is U by my.
9Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U is daar.
Die afstand tussen oos en wes is nie vir U te ver om gou na my toe te kom nie.
10Oral hou U my vas. En U lei my op u pad.
11Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my.
12Lig en donkerte is vir U dieselfde. Niemand kan vir U iets in die donker wegsteek nie.
13Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm.
14Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk.
Ek weet dat U groot dinge kan doen.
15Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie.
U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak.
Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe.
16Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan.
U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur.
17God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou.
Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan.
18As ek dit probeer verstaan, besef ek my kop is te klein.
En as ek klaar probeer dink het oor U, het ek nog steeds met U te doen.
19God, raak tog ontslae van mense wat weier om U te dien.
Julle wat ander wil doodmaak, moet van my af weggaan.
20Here, diegene wat sulke lelike dinge doen, is mense wat met U wil baklei.
21Ek wil niks met hulle te doen hê nie.
Ek kan nie mense verdra wat nie na U wil luister nie.
22Mense wat teen U is, is ook nie my vriende nie.
23God, kyk of U my kan vertrou. Toets my gesindheid. 24Kyk of ek eerlik is.
Help my op die regte pad. Hou my weg van al die verkeerde dinge.

Spreuke 19

Oppas vir geld
1Eerder ’n arme wat die Here ken, as ’n ryke sonder enige wysheid. Hy sê en doen die domste dinge.
2Dink voordat jy begin. ’n Haastige mens wat nie dink voordat hy optree nie, misluk.
3Eiesinnigheid kan mens se planne vernietig. Daarna blameer hy die Here vir sy ellende.
4Waar daar geld is, is daar altyd baie vriende. Baie geld maak baie vriende. ’n Arme word selfs deur sy beste vriend verlaat.
5Iemand wat doelbewus vals stories versprei, sal nie ongestraf bly nie. Elke leuenaar sal aan die pen ry.
6Jabroers kruip altyd by die baas. Hulle vra allerhande gunste. Almal is mos altyd ’n vriend van die een of ander belangrike persoon. Maar hulle dink net aan hulle eie belange.
7Iemand in ’n groot finansiële verknorsing staan alleen. Sy eie familie vermy hom. Sy vriende wil niks met hom te doen hê nie. Beloftes van hulp word gou vergeet.
8’n Gelowige lewenstyl verryk ’n mens. Insig verleen kwaliteit aan die lewe.
9Onder kruisverhoor word ’n vals getuie gou vasgetrek. ’n Leuenaar sal nie maklik loskom nie.
10Rykdom pas darem nie by ’n dwaas nie. Ewe onvanpas is die verterende ambisie van ’n jongman om oor ander te heers.
11Iemand wat sy humeur in toom hou, is slim. Wie hulle vergewe wat hom beledig, word deur almal gerespekteer.
12’n Woedende baas kan soos ’n brullende leeu wees. Almal om hom wil hy verskeur. As sy bui bedaar, is hy weer so mak soos ’n lammetjie.
13’n Ongelowige seun wat nie weet hoe om reg te leef nie, kan sy ouers in ellende dompel. Iemand wat voortdurend karring, is so irriterend soos ’n dak wat op ’n reëndag drup.
14’n Huis en baie geld kan ’n mens nog by jou ouers erf, maar ’n goeie lewensmaat kom net van die Here af.
15’n Luielak doen niks nie. Hy slaap hom honger en eet hom weer vaak. Hy sal nooit sy ideale waar maak nie, nooit lekker kan leef nie.
16Wie die Here se wil ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Wie sy woord verag, gaan stadig maar seker dood.
17Wie goed is vir die arme, maak eintlik ’n lening aan die Here. Op sy eie tyd en manier sal Hy hierdie goeie daad beloon.
18Vat ’n kind vas terwyl hy nog jonk en in die ouerhuis is. Moet dit nie oordryf nie, want dan breek jy sy moed.
19Iemand met ’n verskriklike humeur moet jy aan sy eie lot oorlaat. As hy sy humeur verloor en in die moeilikheid kom, moet jy hom nie probeer help nie. As jy dit een maal doen, sal jy weer en weer moet help.
20Luister na mense wat die lewe ken. Aanvaar hulle raad. Dink goed oor hulle woorde na. Pas dit in jou eie lewe toe. Dan sal jy weet hoe om gelukkig te leef.
21’n Mens maak baie planne en koester groot ideale. Maar nie alles word waar nie. Wat die Here egter beplan, dit gebeur.
22Die mooiste ding wat ’n mens kan doen, is om lief te hê. ’n Arme wat opreg is, is baie beter as iemand wat lieg en bedrieg.
23Wie die Here liefhet, het die lewe. So ’n mens ken baie vreugde. Hy smaak die lewe in sy volheid. Hy lewe rustig.
24’n Luiaard is selfs te lui om te eet. Hy sit by die tafel, sien die lekker bord kos, sit dit op sy vurk, maar raak aan die slaap voordat dit in sy mond kom.
25Iemand wat baie van homself dink, moet eers hard aangespreek word voordat hy luister. ’n Ligte vermaning is vir ’n wyse genoeg. Hy weet wat om te doen.
26Wie sy pa sleg behandel en sy ma verneder, is ’n veragtelike en ’n verfoeilike mens.
27Jy kan net wysheid kry as jy bereid is om te leer, as jy jou voorneem om die regte dinge op die regte tyd te doen en te sê.
28’n Vals getuie verdraai die waarheid doelbewus. Hy geniet dit om ander af te kraak. So ’n mens steur hom nie aan wat reg is nie.
29Wie wysheid verwerp, word ’n ongelukkige mens. ’n Domkop wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak skandes en ly groot skade.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!