Dag 16: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 16

Niks goeds nie behalwe by God
1'n Gedig van Dawid.
Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:
“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.
3Die afgode in die land, so aantreklik vir baie –
met hulle wil ek niks te doen hê nie.
4Mag elkeen wat 'n ander god vereer, baie smart beleef.
Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie,
hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.”
5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6'n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.
7Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.
9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.

Psalm 46

God is vir ons 'n toevlug
1Vir die koorleier. Van die Koragiete. Op die wysie van “Jong Vroue”. 'n Lied.
2God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
3Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
4al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.Sela
5Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad,
in die heilige woning van die Allerhoogste.
6God is daar; die stad sal nie wankel nie.
God sal hom help nog voor die môre kom.
7Nasies kan raas en koninkryke wankel,
maar as God sy stem laat hoor,
smelt die aarde weg.
8Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons 'n beskutting.Sela
9Kom kyk wat die Here gedoen het,
watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:
10die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou,
pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend,
oorlogswaens verbrand Hy met vuur.
11Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
12Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons 'n beskutting.Sela

Psalm 76

God kom om die hulpeloses te red
 
1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Psalm van Asaf. 'n Lied.
2God het Hom in Juda bekend gemaak,
sy Naam is groot in Israel;
3sy tuiste is in Salem, sy woning op Sion.
4Daar het Hy die brandpyle, die skild en die swaard vernietig,
die aanval van die vyand afgeslaan.Sela
5Die glans waarmee U verskyn het,
was skitterender as dié op die hoogste berge.
6Die dapper soldate van die vyand
is in hulle slaap oorval en geplunder;
nie een van die krygsmanne kon 'n hand oplig nie.
7Toe U ingegryp het, God van Jakob,
was strydwa en perd daarmee heen.
8As u toorn ontbrand,
laat U die mens sidder en beef.
Wie kan dan voor U staan?
9Uit die hemel het U u uitspraak bekend gemaak.
Die mensdom het bang geword en stilgebly
10toe God gekom het om te oordeel,
om al die hulpeloses op die aarde te red.Sela
11Ook die woede van 'n mens dien u lof,
selfs die laaste reste van die woede
gebruik U in u diens.
12Bring aan die Here julle God die dankoffers
wat julle belowe het!
Almal rondom Hom moet geskenke bring vir die Ontsagwekkende,
13vir Hom wat die oormoed van maghebbers breek,
vir Hom voor wie die konings van die aarde sidder.

Psalm 106

Wie kan sy lof ten volle verkondig?
 
1Prys die Here!
Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring?
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
3Dit gaan goed met mense wat die reg handhaaf,
wat by elke geleentheid geregtigheid doen.
4Dink aan my, Here, in u liefde vir u volk,
sluit my ook in by u redding,
5dat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag aanskou
en mag deel in die blydskap van u volk,
my mag verheug saam met dié wat aan U behoort.
6Ons het gesondig, net soos ons voorvaders,
ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig.
7Ons voorvaders het in Egipte nie ag geslaan op u magtige dade nie,
hulle het nie gedink aan al u dade van trou nie,
hulle het teen U in verset gekom by die Rietsee.
8Maar Hy het hulle gered ter wille van die eer van sy Naam
en om sy mag bekend te maak.
9Hy het die Rietsee aangespreek en dit het opgedroog,
Hy het sy volk oor die seebodem laat trek soos oor droë grond.
10So het Hy hulle gered uit die hand van hulle haters,
hulle bevry uit die mag van die vyand.
11Die waters het hulle teëstanders verswelg,
nie één het oorgebly nie.
12Tóé het sy volk sy beloftes geglo
en sy lof besing.
13Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het
en nie op sy leiding gewag nie.
14Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn,
daar in die barre wêreld het hulle die geduld van God beproef.
15Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het,
maar hulle van siekte laat wegteer.
16Langs die trekpad het hulle hulle in afguns teen Moses verset
en teen Aäron wat aan die Here gewy was.
17Toe het die aarde geskeur en vir Datan verslind,
dit het die bende van Abiram verswelg.
18'n Vuur het hulle hele bende verteer,
die goddelose het in die vlamme omgekom.
19By Horeb het hulle 'n kalf gemaak,
voor 'n god van metaal gekniel.
20Hulle het die magtige teenwoordigheid van God
verruil vir die beeld van 'n bees wat gras vreet.
21So het hulle vir God, hulle redder, vergeet,
Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het,
22wonderdade in die land van Gam,
magtige dade by die Rietsee.
23Die Here wou hulle verdelg,
maar Moses, sy uitverkorene,
het by Hom vir hulle in die bres getree
om sy gramskap af te keer,
sodat Hy hulle nie vernietig het nie.
24Hulle het 'n waardevolle land versmaai
en die belofte van die Here nie geglo nie;
25hulle het in hulle tente gesit en mor
en nie na die Here geluister nie.
26Toe het Hy 'n eed afgelê
dat Hy hulle in die woestyn sou laat omkom,
27hulle nageslag sou laat sterf onder heidense nasies,
hulle oor die wêreld sou verstrooi.
28Hulle het Baäl-Peor aangehang
en geëet van wat aan die dooie afgode geoffer is.
29Hulle het die Here uitgetart met wat hulle gedoen het,
en 'n plaag het onder hulle uitgebreek.
30Pinehas het opgetree en die skuldiges gestraf,
en die plaag het opgehou.
31Dié optrede is deur al die geslagte heen
vir Pinehas as 'n daad van geregtigheid toegereken.
32Die volk het die Here se toorn by die Meribawaters laat ontvlam,
en Moses het die wrange vrugte van hulle optrede gepluk:
33hulle het hom so verbitterd laat raak
dat hy onbesonne dinge gesê het.
34Hulle het nie die ander volke uitgeroei
soos die Here hulle beveel het nie,
35maar hulle met die heidene vermeng
en húlle praktyke aangeleer:
36hulle het die afgode van die heidene begin dien
en daarin verstrik geraak.
37Hulle het hulle seuns en dogters aan veldduiwels geoffer
38en onskuldige bloed vergiet,
die bloed van hulle seuns en dogters
wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het.
So is die land met bloed bevlek.
39Die volk het hulle verontreinig deur hulle optrede
en het troubreuk gepleeg deur hulle dade.
40Die toorn van die Here het teen sy volk ontvlam,
Hy het 'n weersin gekry in die volk wat aan Hom behoort
41en hulle aan heidene oorgegee,
sodat hulle haters oor hulle geheers het.
42Hulle vyande het hulle verdruk
en hulle onder hulle gesag laat buig.
43Talle kere het die Here sy volk gered,
maar hulle het opstandig gebly
en dieper in hulle sonde weggesink.
44Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood gesluit nie;
Hy het hulle smeekgebede verhoor.
45Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink,
en in sy groot liefde was Hy genadig.
46Hy het hulle medelye laat vind
by dié wie se gevangenes hulle was.
47Red ons, Here ons God,
maak ons bymekaar tussen die volke uit,
dat ons u heilige Naam kan loof
en ons in u lof kan verheug.
48Aan die Here die God van Israel kom die lof toe
tot in die allerverste toekoms.
Die hele volk moet sê: “Amen!
Prys die Here!”

Psalm 136

Aan sy liefde is daar geen einde nie
 
1Loof die Here, want Hy is goed.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
2Loof die oppermagtige God.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
3Loof die magtigste van alle maghebbers.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
4Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
5Hy het die hemel met soveel insig gemaak.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
6Hy het die aarde op die waters gevestig.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
7Hy het die groot hemelligte gemaak,
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
8die son om te heers oor die dag,
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
9die maan en die sterre om te heers oor die nag.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
10Hy het die Egiptenaars getref met die dood van hulle eersgeborenes
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
11en Israel onder hulle uit gelei
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
12met sy groot mag en krag.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
13Hy het die Rietsee in twee gekloof
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
14en Israel daar deur laat trek,
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
15maar die farao met sy leërmag in die Rietsee gestort.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
16Hy het sy volk deur die woestyn laat trek.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
17Hy het groot konings oorwin,
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
18magtige konings laat sneuwel:
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
19koning Sihon van die Amoriete,
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
20koning Og van Basan.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
21Hy het hulle land as geskenk gegee,
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
22as geskenk aan Israel, sy dienaar.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
23Hy het aan ons gedink in ons vernedering
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
24en ons uit die mag van ons teëstanders bevry.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
25Hy gee voedsel aan al wat lewe.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.
26Loof die God van die hemel!
Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Spreuke 16

1'n Mens kan sy voornemens hê,
maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.
2In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg,
maar die Here ondersoek die gesindheid.
3Laat wat jy doen, aan die Here oor,
dan sal jou voornemens geluk.
4Die Here het alles gemaak met 'n doel,
ook die goddelose vir die dag van straf.
5Die Here het 'n afsku van 'n verwaande mens;
dit staan vas: so 'n mens sal nie ongestraf bly nie.
6Liefde en trou bring versoening
waar daar verkeerd gehandel is;
kwaad word vermy deur die Here te dien.
7As die Here tevrede is met 'n mens se lewe,
laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe.
8Liewer min hê en reg lewe
as baie inkomste hê deur onreg.
9'n Mens beplan sy pad,
maar die Here bepaal hoe hy loop.
10As die koning praat, is dit met Goddelike gesag;
as hy uitspraak lewer, maak hy nie fout nie.
11Die norme vir die regspraak kom van die Here af;
Hy bepaal die maatstawwe.
12Konings het 'n afsku van verkeerde dade,
want 'n troon word deur regverdigheid bestendig.
13Eerlike mense geniet die koning se goedgesindheid;
hy hou van mense wat die waarheid praat.
14Die woede van die koning dra die boodskap van die dood;
'n wyse mens bring dié woede tot bedaring.
15As die koning vriendelik is, is jy seker van jou lewe;
sy goedgesindheid is soos 'n wolk wat lentereëns bring.
16Probeer liewer wysheid bekom as goud,
liewer insig as silwer.
17Opregte mense vermy die kwaad op hulle lewensweg;
wie nougeset lewe, hou homself in die lewe.
18Op hoogmoed volg ondergang,
op selfverheffing volg die val.
19Liewer eenvoud saam met nederiges
as om saam met hoogmoediges van roof te lewe.
20Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet;
wie op die Here vertrou,
met hom gaan dit goed.
21'n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem,
en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer.
22Insig is 'n bron van lewe vir wie dit het;
onderrig deur dwase bly dwaasheid.
23'n Wyse mens praat verstandig
en kies sy woorde so dat hy ander kan leer.
24Aangename woorde is heuning,
soet en geneeskragtig vir die mens.
25Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk,
maar die uiteinde daarvan is die dood.
26'n Werker se honger laat hom werk,
sy behoefte aan kos dryf hom.
27'n Kwaadwillige mens bring net teenspoed;
wat hy sê, is soos 'n verterende vuur.
28Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis,
iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.
29Iemand wat niks ontsien nie, mislei sy naaste
en laat hom 'n verkeerde pad loop.
30Wie met sy oog knik, wil die waarheid verdraai;
wie sy lippe saampers, is vasbeslote oor 'n boosheid.
31Ouderdom is 'n sierlike kroon;
dit word bereik deur dié wat reg lewe.
32'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter,
'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem.
33Mense kan loot,
maar die Here bepaal hoe dit uitkom.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 16

By die Here is vreugde
1’n Gebed van Dawid.
Beskerm my, o God,
want ek kom na U toe
vir skuiling.
2Ek sê vir die Here:
“U is my Here!
Alle goeie dinge
kry ek van U alleen.”
3Die sogenaamde heiliges
in die land,
vervloek is elkeen
wat vreugde in hulle vind.
4Mag hulle
wat ander gode najaag
baie droefheid beleef.
Drankoffers van bloed
sal ek nie uitgiet nie,
of die name van hulle afgode
op my lippe neem nie.
5Here, U alleen is my erfenis,
my beker van seën.
U waarborg
my lotsbestemming.
6’n Pragtige plek
is vir my afgemeet.
Wat ek geërf het,
is vir my mooi!
7Ek prys die Here
wat my insig gee;
ook in die nag
is ek daarvan bewus.
8Die Here is altyd by my.
Ja, Hy is aan my regterhand;
daarom sal ek nie struikel nie.
9Hieroor is my hart vol vreugde.
Ek besing sy lof,
en woon in veiligheid.
10Want aan die doderyk
sal U my nie prysgee,
of toelaat dat u getroues
in die graf ontbind nie.
11U wys vir my die lewenspad;
in u teenwoordigheid
is vreugde,
en aan u regterhand
is daar blydskap vir altyd.

Psalm 46

God is ons toevlug
1Vir die koorleier: ’n Psalm van die
Koragiete. Op die wysie van “Jong
vroue”. ’n Lied.
2God is ons toevlug en ons krag;
in nood is Hy gereed
om te help.
3Daarom sal ons nie bang wees nie,
al bewe die aarde,
al verskuif die berge
diep in die see;
4al bruis en skuim die waters,
al skud die berge
as die waters styg!
Sela
5Die strome van die rivier
bring vreugde
in die Godstad,
in die heilige woning
van die Allerhoogste.
6God self woon daar;
dit sal nie beweeg nie.
As die dag breek,
sal God kom help.
7Die nasies rumoer
en koninkryke wankel.
God praat,
en die aarde versmelt.
8Die Here, die Almagtige,
is by ons;
ons skuilplek
is die God van Jakob.
Sela
9Kom, aanskou die werke
van die Here,
wat verwoesting bring
op die aarde
10en oorloë beëindig
oor die hele aarde.
Hy verbreek die boog
en vernietig die spies.
Die skilde
verbrand Hy met vuur.
11“Wees stil en weet Ek is God!
Ek sal vereer word
deur die nasies,
verhewe wees
oor die hele aarde.”
12Die Here, die Almagtige,
is by ons.
Ons skuilplek
is die God van Jakob.
Sela

Psalm 76

Wie kan voor God
standhou?
1Vir die koorleier: Met snarespel.
’n Asafpsalm. ’n Lied.
2God het Hom bekendgemaak
in Juda;
sy Naam is groot in Israel.
3Hy woon in Salem;
Sionsberg is sy woning.
4Daar het Hy
die brandpyle vernietig,
skilde, swaarde en oorlogswapens.
Sela
5Die glans van u verskyning
is heerliker
as die hoogste berge.
6Dapper soldate is geplunder,
in hulle slaap oorweldig.
Geen soldaat
kon ’n hand oplig nie.
7Toe U hulle bestraf,
o God van Jakob,
het ruiter en perd
dood neergeval.
8U moet gevrees word, ja, U!
Wie kan voor U standhou
wanneer u toorn ontbrand?
9Uit die hemel
het U uitspraak gelewer;
die wêreld was bang en stil.
10God het opgestaan
om te oordeel,
om die verdruktes op aarde
te red.
Sela
11Die woede van mense –
dit verander U tot lof.
Wat nog daarvan oorbly,
gebruik U in u diens.
12Maak geloftes
aan die Here jou God,
en voer dit uit.
Laat almal rondom Hom
geskenke bring
aan Hom, die Ontsagwekkende.
13Hy breek die moed van prinse;
konings van die aarde
is bang vir Hom.

Psalm 106

Die Here se genade op
genade
 
1Prys die Here!
Dank die Here,
want Hy is goed!
Sy trou ken geen einde nie.
2Wie kan die magtige dade
van die Here beskryf,
of sy lof ten volle bekendmaak?
3Gelukkig is hy
wat geregtigheid laat geskied
en wat altyd doen
wat reg is.
4Dink aan my, Here,
wanneer U aan u volk
guns bewys;
kom my met u redding
tot hulp
5sodat ek deel kan hê
aan die voorspoed
van u uitverkorenes,
my verheug in die vreugde
van u nasie,
en U loof saam met u eie volk.
6Ons en ons voorouers
het gesondig.
Ons het oortree en is skuldig.
7In Egipte het ons voorouers
die Here se wonders
gering geag,
en sy baie dade
van goedheid vergeet.
By die Rietsee het hulle
teen Hom in opstand gekom.
8Tog het Hy hulle gered
ter wille van
die eer van sy Naam,
om sy mag
bekend te maak.
9Op sy bevel
het die Rietsee opgedroog
sodat Israel op die seebodem
kon trek.
Dit was so droog
soos ’n woestyn.
10Uit die vyand se mag
het Hy hulle gered
en hulle uit hulle teenstanders
se mag verlos.
11Water het toe hulle vyande
bedek.
Nie een van hulle
het dit oorleef nie.
12Toe eers het Israel
sy beloftes geglo
en het hulle sy lof besing.
13Tog het hulle
gou sy dade vergeet
en nie op sy leiding gewag nie.
14In die woestyn
het hulle begeertes opgevlam.
In die wildernis
het hulle God se geduld
beproef.
15Hy het gegee
wat hulle gevra het,
maar hulle ook getref
met ’n siekte.
16In die kamp
was hulle jaloers op Moses,
en ook Aäron,
wat aan die Here gewy was.
17Die aarde het oopgegaan,
Datan ingesluk,
en Abiram en sy bende begrawe.
18Onder die bende
het vuur gewoed,
vlamme het die bose mense verteer.
19By Horeb
het hulle ’n kalf gemaak,
en ’n beeld van metaal aanbid.
20Hulle roemryke God
het hulle verruil
vir die beeld van ’n bees
wat gras vreet.
21Hulle het God vergeet,
hulle redder
wat in Egipte
groot dinge gedoen het:
22wonderlike dinge
in die land Egipte,
ontsagwekkende dade
by die Rietsee.
23Hy het gesê
Hy sou hulle vernietig,
maar Moses, sy uitverkorene,
het vir die volk
in die bres getree
en gepleit
dat God hulle nie
in sy toorn vernietig nie.
24Maar die volk
het die vrugbare land verwerp,
en nie sy beloftes geglo nie.
25Hulle het in hulle tente gekla
en nie na die Here
geluister nie.
26Daarom het Hy ’n eed afgelê
dat Hy hulle in die woestyn
sal laat omkom,
27dat hulle nakomelinge
onder die nasies sou sterf,
en oor die aarde
verstrooi sou word.
28Maar hulle het Baäl-Peor
vereer
en geëet van die offers
wat aan dooie afgode gewy is.
29Met hulle dade
het hulle Hom getart
sodat ’n plaag hulle getref het.
30Maar Pinehas
het tussenbeide getree,
en so is die plaag gestuit.
31Hy is beskou
as ’n regverdige man,
geslag na geslag, vir altyd.
32By die waters van Meriba
het hulle die Here
kwaad gemaak,
en so het hulle vir Moses
ernstige probleme besorg.
33Hulle het hom opstandig gemaak
sodat hy onbesonne dinge
gesê het.
34Israel
het nie die nasies uitgeroei
soos die Here
hulle beveel het nie
35en het eerder
met die nasies vermeng
en hulle bose gewoontes
aangeleer.
36Hulle het die nasies se afgode
vereer,
en dit het vir hulle
’n strik geword.
37Hulle het hulle seuns
en dogters
aan demone geoffer.
38Hulle het onskuldige bloed
vergiet,
bloed van hulle seuns en dogters
wat hulle geoffer het
aan die afgodsbeelde
van Kanaän,
en so die land met bloed bevlek.
39Hierdie dade
het hulle onrein gemaak,
net soos iemand
wat egbreuk pleeg.
40Die Here se toorn
het teen sy volk ontbrand,
en Hy het sy eie volk verafsku.
41Hy het hulle oorgegee
aan die nasies;
hulle haters
het oor hulle geheers.
42Hulle vyande
het hulle verdruk
en aan hulle mag onderwerp.
43Baie kere
het Hy sy volk verlos,
maar hulle het opstandig gebly
en verder in hulle sondes
weggesink.
44Tog het Hy
hulle ellende raakgesien,
en geluister na hulle hulpgeroep.
45Hy het gedink
aan sy verbond met hulle,
en Hy was genadig
op grond van
sy onfeilbare liefde.
46Hy het bewerk
dat hulle veroweraars
hulle met medelye behandel het.
47Here ons God, red ons!
Versamel ons weer
uit die nasies
sodat ons u heilige Naam
kan prys,
in U bly kan wees,
en U kan loof.
48Geseënd is die Here,
God van Israel,
van ewigheid tot ewigheid!
Laat die hele volk sê: “Amen!”
Prys die Here!

Psalm 136

Geen einde aan sy liefde
nie
1Prys die Here, want Hy is goed!
Aan sy liefde is geen einde nie.
2Prys die God van die gode.
Aan sy liefde is geen einde nie.
3Prys die Heer van die here.
Aan sy liefde is geen einde nie.
4Hy wat alleen
magtige dade doen.
Aan sy liefde is geen einde nie.
5Hy wat die hemele
met insig gemaak het.
Aan sy liefde is geen einde nie.
6Hy wat die aarde
oor die waters uitgesprei het.
Aan sy liefde is geen einde nie.
7Hy het die groot ligte gemaak,
Aan sy liefde is geen einde nie.
8die son
om te heers oor die dag,
Aan sy liefde is geen einde nie.
9die maan en die sterre
om te heers oor die nag.
Aan sy liefde is geen einde nie.
10Die eerstelinge van Egipte
het Hy getref
Aan sy liefde is geen einde nie.
11en Israel onder hulle uitgelei
Aan sy liefde is geen einde nie.
12met ’n sterk hand
en uitgestrekte arm.
Aan sy liefde is geen einde nie.
13Hy het die Rietsee oopgekloof
Aan sy liefde is geen einde nie.
14en Israel veilig laat deurtrek,
Aan sy liefde is geen einde nie.
15maar Farao en sy leër
in die Rietsee gegooi.
Aan sy liefde is geen einde nie.
16Hy het sy volk
deur die woestyn gelei.
Aan sy liefde is geen einde nie.
17Hy het magtige konings
uitgeroei,
Aan sy liefde is geen einde nie.
18en magtige konings
doodgemaak:
Aan sy liefde is geen einde nie.
19Sihon, die koning van die Amoriete,
Aan sy liefde is geen einde nie.
20en Og, die koning van Basan.
Aan sy liefde is geen einde nie.
21Hy het hulle land
as ’n erfdeel gegee,
Aan sy liefde is geen einde nie.
22’n erfdeel vir Israel,
sy dienaar.
Aan sy liefde is geen einde nie.
23Hy het aan ons gedink
toe ons moedeloos was
Aan sy liefde is geen einde nie.
24en ons gered van ons vyande.
Aan sy liefde is geen einde nie.
25Hy gee kos aan al wat lewe.
Aan sy liefde is geen einde nie.
26Loof die God van die hemel!
Aan sy liefde is geen einde nie.

Spreuke 16

1Mense kan planne maak,
maar die finale besluit
kom van die Here af.
2Alles wat hy doen,
kan vir die mens reg lyk.
Die Here weet egter
waarom hy dit alles doen.
3Alles wat jy doen,
moet jy opdra aan die Here,
dan sal jou planne slaag.
4Die Here het alles gemaak
vir ’n bepaalde doel,
ook die goddelose
vir die dag van straf.
5Die Here verafsku
elke verwaande mens.
Maar wees verseker,
hulle sal nie ongestraf bly nie.
6Liefde en lojaliteit
bring versoening
vir oortredings.
Kwaad word vermy
wanneer daar respek is
vir die Here.
7As die Here gelukkig is
met die manier
waarop iemand lewe,
sal Hy selfs sy vyande
in vrede met hom laat lewe.
8Dis beter om arm te wees
en regverdig,
as om ryk en oneerlik te wees.
9’n Mens beplan sy koers,
maar die Here bepaal
sy bestemming.
10As die koning praat,
is dit met Goddelike gesag.
Sy uitsprake mag nooit
onregverdig wees nie.
11Die Here vereis eerlikheid
en billikheid in die handel.
Hy bepaal die maatstawwe daarvoor.
12Die koning verafsku misdade.
Sy regering berus
op regverdigheid.
13Die koning is tevrede
wanneer mense eerlik praat.
Hy stel dit op prys
as mense die waarheid praat.
14Die koning se woede
is ’n draer van die dood.
’n Wyse mens probeer
sy woede afkoel.
15As die koning glimlag,
is daar lewe.
Sy goedgesindheid is soos wolke
wat lentereëns bring.
16Om wysheid te bekom,
is beter as goud,
en insig is beter as silwer.
17Die regverdige se pad
stuur weg van die kwaad.
Iemand wat daardie pad volg,
beveilig sy lewe.
18Hoogmoed lei tot ondergang.
Hooghartigheid
kom net voor die val.
19Eerder nederig lewe
saam met armes
as om buit te deel
met hoogmoediges.
20Hy wat na onderrig luister,
sal voorspoed geniet.
Dit gaan goed met elkeen
wat op die Here vertrou.
21Iemand wat wys is,
word ’n verstandige genoem.
As hy welsprekend is,
kan hy ook ander leer.
22Vir iemand met insig
is dit die bron van sy lewe.
Om dwase tereg te wys
is dwaasheid.
23’n Mens wat wys is,
sê verstandige dinge.
Hy kan ander mense onderrig.
24Mooi woorde is soos heuning;
dit is goed vir die gees
en bevorderlik vir die lewe.
25Dit kan lyk
of ’n mens reg lewe.
Agterna gesien
is dit die pad na die dood.
26’n Werker se honger
motiveer hom om te werk,
sy behoefte aan kos dryf hom.
27’n Nikswerd mens
stook kwaad,
wat hy sê,
is soos ’n vernietigende vuur.
28Iemand wat leuens verkoop,
sit rusie aan die gang.
Iemand wat skinder,
bring verwydering
tussen vriende.
29Iemand wat geweld voorstaan,
mislei sy naaste
en lei hom op ’n verkeerde pad.
30Iemand wat met sy oog knik,
is besig
om slinkse planne uit te dink.
Hy pers sy lippe opmekaar,
so vasberade is hy
oor sy boosheid.
31Grys hare
is soos ’n pragtige kroon,
’n mens kry dit by persone
wat reg lewe.
32Dis beter om geduldig te wees
as dapper.
Selfbeheersing is beter
as om ’n stad in te neem.
33Mense kan lootjies trek,
maar die Here sal bepaal
wat die uitkoms sal wees.

Die Boodskap

Psalm 16

’n Gedig wat aan Dawid opgedra is
1Beskerm my, o God, want ek kom kruip by U weg.
U pas my op.
2Ek het vir die Here gesê: U alleen is my Heer.
U is die heel belangrikste in my lewe.
Ek is deel van ’n skare mense wat U dien en eer. Ek is bly as ek tussen hulle is.
3Maar daardie mense wat dooie gode dien se hartseer word by die dag net groter.
4Sulke afgode, hoe mooi hulle ook al mag lyk, sal ek nooit dien nie.
Ek sal selfs nie eens hulle name noem nie.
5Alles wat die Here vir my doen, maak my vol vreugde. Hy is die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het. U sorg vir my, Here.
6U het die mooiste dinge in die lewe vir my gegee.
Ek kan nie uitgepraat raak oor al die wonderlike dinge nie.
Dit maak my baie gelukkig. Ek bly in ’n mooi land.
7Ek sal die Here prys.
Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my hand vat en my op die regte pad lei.
Selfs as ek slaap, weet ek Hy is by my.
8Daar is nie ’n oomblik van die dag dat ek nie aan die Here dink nie.
Hy is die belangrikste in my lewe.
Hy is altyd by my.
9By Hom is ek veilig; Hy hou my op die regte pad.
Ek is baie bly;
my blydskap hou nooit op nie.
U sal nie toelaat dat die dood my onkant betrap nie.
10Die dood kan niemand wat U liefhet uit u hand wegruk nie.
Ek sal nie in die graf beland nie.
11U sal my leer om reg te lewe.
Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie.
U gee altyd vir u kinders die heel beste.
Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U.

Psalm 46

1Geskryf vir die koor van Korag. Sing die lied op die wysie van “Jong vroue”
2As ons in ons nood wil vlug, kan ons na God toe vlug. Hy is baie sterk.
As ons beskerming soek, sal die Here ons beskerm.
As ons in die moeilikheid is, sal Hy ons help.
3Daarom skrik ons vir niks nie.
Al sou die aarde bewe en dit lyk of die berge in die see wil wegsak, ons is nie bang nie.
4Al druis en skuim die see, en al skud dit die berge heen en weer.
5Die vloei van ’n waterstroom bring vreugde in die Godstad.
God self bly daar. 6Daarom sal niks slegs dit kan tref nie.
Voor hulp nog nodig is, het God reeds gehelp.
7Mense is verskrik en sterk regerings bewe.
Maar God hoef maar net te praat, dan verkrummel alles letterlik voor Hom.
8Die Here, vir wie niks onmoontlik is nie, is by ons. Hy is ons groot Bevelvoerder.
Die God van Jakob sal ons self beskerm.
9Kom kyk wat die Here alles op die aarde doen. Dit is verstommend.
10Hy maak oral ’n einde aan die bakleiery tussen mense.
Die wapens waarmee mense oorlog maak, vernietig Hy met vuur.
11Wees stil en weet Ek is God. Ek regeer oor nasies, oor die hele aarde.
Elke mens sal erken dat Ek die belangrikste is.
Niks en niemand is en kan so belangrik wees soos Ek nie.
12Die Here, vir wie niks onmoontlik is nie, is by ons. Hy is ons groot Bevelvoerder.
Die God op wie Jakob ook vertrou het, sal ons beskerm.

Psalm 76

1Asaf het hierdie psalm vir ’n koor geskryf sodat dit saam met musiekbegeleiding gesing kan word
2Almal in Juda ken God. Vir die mense in Israel is Hy baie belangrik.
3Hy bly in die tempel in Jerusalem. Sy woonplek is op Sionsberg. 4Daar het Hy al die oorlogswapens opgefrommel. Hy het die oorlog gewen.
5Waarmee kan ek U vergelyk?
U is groter en magtiger as die hoogste berge.
6U het die vyand oorwin sonder dat hulle ’n vinger kon verroer.
Hulle is in hulle slaap oorval.
Hulle is heeltemal verslaan. Nie een van hulle kon iets daaraan doen nie.
7As U praat, o God van Israel, steek perde met ruiters en al viervoet vas.
8Geen wonder mense het soveel respek en ontsag vir U nie.
As U kwaad raak, wie sal dan nie skrik nie? Wie kan dan waag om voor U regop te staan?
9U het u vyande uit die hemel uit op hulle plek gesit. U het gesê wat U van hulle dink.
Die mense op aarde kon maar net stilbly en bewend toekyk 10hoe God die kwaaddoeners kom oordeel het, en die mense wat swaarkry sonder iemand wat hulle kon red, kom help het.
11U grootheid kan ook gesien word in die manier waarop U mense straf.
Straf is ook ’n instrument in u diens.
12Doen wat julle die Here beloof het.
Almal wat naby Hom is, moet vir Hom geskenke van dankbaarheid bring.
Alle mense op aarde moet vir die Een wat gedien moet word, geskenke bring.
13Die regeerders van hierdie wêreld is niks voor Hom nie.
Hy breek sommerso hulle mag.
Hulle staan maar net in ontsag voor sy grootheid.

Psalm 106

1Prys die Here! Hy is goed.
Sy goedheid hou net aan en aan, vir altyd!
2Wie op aarde het ooit genoeg woorde om te sê hoe groot en sterk die Here is?
Wie kan sy Naam genoeg loof?
3God hou baie van elkeen wat doen wat reg is,
wat elke kans aangryp om sy wil te doen. Hy laat dit goed gaan met sulke mense.
4Here, onthou my tog wanneer U vol vreugde is oor u kinders.
Sluit my in wanneer U hulle help,
5sodat ek kan sien hoe almal wat U uitgekies het, oorloop van geluk.
Ek wil bly wees saam met al u kinders.
Ek wil feesvier saam met elkeen wat aan U behoort.
6Ons het baie verkeerde dinge gedoen, nes ons voorgeslagte.
Ons het nie op die regte pad gestap nie.
Ons het U elke keer in die steek gelaat.
7Daar in Egipte het ons voorouers hulle nie gesteur aan die groot dinge
wat U gedoen het nie.
Hulle het gou-gou vergeet hoe vol liefde en goedheid U is.
Daarom was hulle so hardkoppig daar by die Rietsee.
8Maar die Here het hulle gered, om sy reputasie te beskerm.
Hy wou vir hulle wys hoe groot Hy is.
9Hy het met die Rietsee gepraat, en in ’n oogwink was dit kurkdroog!
Hy het hulle dwarsdeur die see laat stap asof dit ’n droë woestyn is.
10Hy het hulle gered uit die hand van hulle haters.
Hulle is bevry uit die greep van die mense wat hulle laat swaarkry het.
11Die waters van die see het oor hulle vyande gespoel. Nie een het bly leef nie.
12Toe het die volk geglo dat die Here doen wat Hy sê.
Hulle het Hom geloof en geprys!
13Maar hulle het gou-gou weer vergeet wat die Here gedoen het.
Hulle was nie bereid om te wag totdat Hy vir hulle sê wat om te doen nie.
Daar in die woestyn het hulle net aan hulleself gedink.
14Met hulle aanhoudende gekla het hulle God kwaad gemaak. Hulle het sy geduld beproef deur te eis dat Hy vir hulle kos gee.
15Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het,
maar Hy het hulle geestelik laat uithonger.
16Hulle het op ’n dag jaloers geraak op Moses en op Aäron, die een wat in die Here se diens gestaan het.
17Die aarde het toe oopgegaan en Datan ingesluk.
Abiram se klomp handlangers is ook van die aardbol afgevee.
18’n Vuur het onder hulle gebrand.
Daar het niks van almal wat nie voor God wou buig oorgebly nie.
19By die berg Horeb het die volk ’n kalf van metaal gemaak,
hulle eie handewerk aanbid.
20Hulle het die allerheiligste God verruil vir ’n dooie beeld,
vir ’n beeld van ’n bul wat gras vreet.
21Hulle het heeltemal vergeet hoe God hulle gered het.
Hulle het vergeet watter groot dinge Hy daar in Egipte gedoen het,
22sy magtige dade in die land van Gam
en sy reusewonderwerk by die Rietsee.
23God se geduld met sy volk was op.
Hy wou Israel vernietig,
maar Moses, sy kneg, het Hom gesmeek om dit nie te doen nie.
Hy het God se woede laat bedaar
en gekeer dat die volk weggevee word.
24Die volk het die wonderlike land wat op hulle gewag het, deur hulle vingers laat glip;
hulle het die Here nie op sy woord gevat nie.
25Al wat hulle gedoen het, was om in hulle woonplekke te sit en kla.
Hulle het hulle ore toegedruk as die Here met hulle praat.
26Toe het God besluit: Genoeg is genoeg!
Hy het gesê dat nie een van hulle die woestyn lewendig sou verlaat nie.
27Hulle kinders sou oor die aarde verstrooi word,
hulle sou tussen ongelowiges gaan bly.
28Die volk het ook voor Baäl-Peor gebuig,
hulle het kos geëet wat aan afgode wat dood is, geoffer is.
29Wat hulle gedoen het, het die Here baie kwaad gemaak;
daarom dat ’n verskriklike siekte hulle getref het.
30Gelukkig het Pinehas ingegryp en die skuldiges gestraf.
Toe het die siekte opgehou.
31Pinehas het gedoen wat reg is, sy nageslag sal dit altyd onthou.
32Daar by die fonteine van Meriba het die volk die Here weer kwaad gemaak,
selfs Moses het gely onder hulle sonde.
33Omdat hulle vir die soveelste keer ongehoorsaam aan God was,
het Moses kwaad geword en dinge gesê wat hy nie moes sê nie.
34Hulle het nie die goddelose volke uitgeroei
soos die Here vir hulle gesê het om te doen nie,
35maar links en regs met ongelowiges begin trou.
Kort voor lank het hulle net soos hierdie mense begin leef.
36Hulle het selfs hierdie mense se afgode aanbid
en vasgevang geraak in afgodery.
37Hulle het hulle kinders geoffer op die altare van die duiwels.
38Hulle het onskuldige kindertjies doodgemaak,
hulle eie seuns en dogters is aan Kanaän se dooie gode geoffer.
Die hele land is met onskuldige bloed besoedel.
39Wat hulle gedoen het, het die Here gewalg.
Soos sedelose vroue het hulle agter elke nuwe sonde op die mark aangehardloop.
40Toe het die Here baie kwaad geword vir sy volk.
Hy wou niks meer met sy eie mense te doen hê nie.
41Hy het toegelaat dat hulle vyande bo-oor hulle loop,
hulle is swaar verdruk deur hulle nuwe heersers.
42Hulle vyande het geen genade geken nie, hulle het Israel baie swaar laat ly.
43Keer op keer het God sy volk uit die gemors kom haal,
maar hulle wou eenvoudig nie voor Hom buig nie,
hulle het net al hoe dieper in hulle sonde weggesink.
44Maar God het gesien hoe swaar hulle kry,
Hy het geluister as hulle Hom smeek om hulle te kom help.
45Hy het onthou dat Hy sy ooreenkoms met hulle gemaak het.
Omdat sy hart oorloop van goedheid, het Hy sy hand weer na hulle toe uitgesteek.
46Hy het gemaak dat hulle verdrukkers hulle jammer gekry het.
47Ag, Here ons God, kom help ons tog!
Kom haal ons hier tussen die nasies uit sodat ons u heilige Naam kan loof
en bly kan wees oor al u goedheid!
48Die Here, die God van Israel, moet geloof word,
nou en vir altyd.
Laat die hele volk sê: “Amen! Dit is waar!
Prys die Here!”

Psalm 136

1Loof die Here, want Hy is baie goed,
sy liefde hou nooit op nie.
2Loof God wat hoog bo al die gode uittroon,
sy liefde hou nooit op nie.
3Loof Hom wat baie sterker is as al die magtiges hier op aarde,
sy liefde hou nooit op nie.
4Die Here het groot wonders gedoen, Hy alleen,
sy liefde hou nooit op nie.
5Hy het die heelal met soveel wysheid gemaak,
sy liefde hou nooit op nie.
6Hy het die aarde bo-oor die oseane uitgesprei,
sy liefde hou nooit op nie.
7Hy het die hemelruim verlig,
sy liefde hou nooit op nie.
8Die son hou wag oor die dag,
sy liefde hou nooit op nie.
9Die maan en sterre hou wag oor die nag,
sy liefde hou nooit op nie.
10Al die oudste seuns in Egipte het Hy met die dood getref,
sy liefde hou nooit op nie.
11Hy het Israel daar tussen hulle gaan uithaal,
sy liefde hou nooit op nie.
12Hy het Israel met groot krag tot binne-in sy hand opgetel,
sy liefde hou nooit op nie.
13Hy het die Rietsee in twee geskeur,
sy liefde hou nooit op nie.
14Hy het Israel kurkdroog daardeur laat stap,
sy liefde hou nooit op nie.
15Maar Hy het Farao en sy leër in die see laat verdrink,
sy liefde hou nooit op nie.
16Hy het sy volk deur die woestyn gelei,
sy liefde hou nooit op nie.
17Die Here het magtige konings links en regs verslaan,
sy liefde hou nooit op nie.
18Beroemde heersers is voor Hom weggevee,
sy liefde hou nooit op nie.
19Hy het koning Sihon van die Amoriete verslaan,
sy liefde hou nooit op nie.
20Hy het koning Og van Basan verslaan,
sy liefde hou nooit op nie.
21-22Hulle grond het Hy aan sy dienskneg Israel present gegee,
sy liefde hou nooit op nie.
23Die Here het aan ons gedink toe ons swaargekry het,
sy liefde hou nooit op nie.
24Hy het ons kom red uit die hand van ons vyande,
sy liefde hou nooit op nie.
25Hy sorg vir almal, Hy laat ons leef,
sy liefde hou nooit op nie.
26Loof God, Hy wat in die hemel bly,
sy liefde hou nooit op nie.

Spreuke 16

Ken die Here in jou planne
1’n Mens maak baie planne, maar die Here besluit of dit suksesvol sal wees of nie.
2Alles wat ’n mens doen, lyk vir hom reg. Maar die Here weet waarom ons dit aanpak.
3Ken die Here in alles wat jy wil doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer.
4Die Here het alles vir ’n doel gemaak, selfs die slegte mense se dag van oordeel.
5Die Here verag arrogante mense wat op ander trap. Hulle sal sekerlik nog gestraf word. Liefde kan skewe verhoudings weer regmaak. 6Respek vir mekaar laat ’n vriendskap blom. Liefde vir die Here hou ’n mens van die kwaad af weg.
7As die Here iemand liefhet, sal sy vyande dit raaksien. Hulle sal op goeie voet met hom wil wees.
8Liewer eerlik wees en min besit as ’n sak vol geld wat oneerlik verkry is. 9Elke mens beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af.
10Eerlike regters is vir die Here belangrik. Hulle moet regverdige beslissings lewer.
11Winkeleienaars en kafeebase moenie mense uitbuit nie. Die Here haat ’n kullery.
12Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik.
13’n Leier moet die waarheid liefhê. Vir eerlike mense moet hy respek hê.
14’n Woedende baas kan jou groot ellende veroorsaak. Tree altyd kalm op. So sal jy ’n moeilike situasie goed kan hanteer.
15Wie in die baas se goeie boekies is, kan goeie dinge verwag. Sy guns kan vir jou baie beteken.
16Om reg te leef is baie meer werd as goud. Wie weet hoe om elke dag gelukkig te lewe is ryker as die rykste mense.
17Wie die Here volg, bly uit die moeilikheid. Wie gelukkig wil wees, sal versigtig leef.
18Wie dink hy is beter as ander, word verneder. Trots lei tot ondergang. 19Dit is beter om niks van jouself te dink nie en saam met die eenvoudiges te leef, as om baie geld te hê en saam met hoogmoediges te bly.
20Wie na die Woord luister, sal die goeie van die lewe ervaar. Wie op die Here vertrou, is lewenslank gelukkig.
21Mense respekteer iemand wat wys leef. Iemand wat mooi praat, oortuig mense maklik.
22Vir iemand wat weet hoe om reg te leef is wysheid ’n onuitputlike bron van kennis. ’n Domme sal nooit leer nie. Hy sal altyd die verkeerde dinge doen.
23Soos ’n mens dink, praat hy ook. ’n Goeie spreker kan mense baie dinge leer.
24Mooi woorde is soos iets lekkers. Aangenaam om te eet. Goed vir die liggaam.
25Soms lyk ’n lewenstyl goed en reg. Uiteindelik bring dit net ellende.
26Om te leef moet jy werk. Honger laat ’n mens werk soek.
27Iemand wat nie wil werk nie, is sleg. Al wat hy doen, is om verkeerde dinge te beplan. Sy woorde vernietig mense se lewens.
28Mense wat ompaaie met die waarheid loop, veroorsaak oral rusie. ’n Skindertong vernietig mooi vriendskappe.
29’n Hartelose mens gee vir niemand om nie. Selfs sy beste vriend maak hy seer.
30Wie skelmpies vir ander knipoog, beplan iets verkeerds. Wie met sy hand op sy mond sit, swyg oor wat verkeerd is.
31Iemand wat lewenslank naby aan die Here geleef het, se oudag is mooi.
32Wie sy humeur kan beteuel, is sterker as die sterkste mens. Wie sy drange en emosies kan beheer, is magtiger as baie magtiges.
33’n Mens wik en weeg. God sê egter die laaste woord.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!