Dag 13: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 13

Hoe lank nog, Here?
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?
Vir altyd?
Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?
3Hoe lank moet ek nog my eie planne maak
en my dae met kommer deurbring?
Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?
4Luister tog en antwoord my, Here my God!
Gee my tog nuwe lewenskrag.
Ek wil nie sterwe nie,
5anders sê my vyand hy het my oorwin
en juig my verdrukkers oor my ondergang.
6Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het.

Psalm 43

Stuur u lig en u waarheid
1Laat tog reg aan my geskied, o God,
behartig tog my saak teen 'n godlose bende,
red my van vals en misdadige mense.
2Net U is my skuiling, my God;
waarom verstoot U my dan?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?
3Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei
en my bring na u heilige berg,
na u woning!
4Laat my ingaan na die altaar van God,
die God oor wie ek wil jubel en juig,
dat ek U kan loof met die lier,
o God, my God!
5Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Psalm 73

Dit is vir my goed om naby God te wees
 
1'n Psalm van Asaf.
God is vir Israel baie goed,
vir dié wat rein van hart is.
2Tog het ek daaraan begin twyfel,
ek het byna koers verloor,
3want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën
toe ek hulle voorspoed sien.
4Hulle het geen kwellings nie,
hulle is sterk en gesond,
5hulle het nie sorge soos ander mense nie,
hulle het nie teëspoed soos ander nie.
6Daarom hang die trots aan hulle soos 'n halssnoer
en kleef geweld aan hulle soos 'n kleed.
7In die weelde van hulle voorspoed
matig hulle hulle enigiets aan;
8smalend stook hulle kwaad,
hooghartig dreig hulle met geweld.
9Hulle laster teen die hemel
en beledig links en regs op die aarde.
10Tog hang die volk hulle aan
en drink gretig hulle woorde in.
11Hulle vra: “Hoe sal God dit uitvind?
Hoe sal die Allerhoogste dit weet?”
12Dit is hoe die goddelose mense is!
So gaan hulle ongehinderd voort om rykdom op te hoop!
13Dat ek die kwaad vermy het
en met 'n eed my onskuld verklaar het,
het dus niks gehelp nie,
14want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring
en elke nuwe môre straf.
15Maar as ek so sou aanhou praat,
sou ek dié verloën wat aan U behoort.
16Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan
en was dit vir my bitter moeilik
17totdat ek in die heiligdom van God ingegaan
en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is.
18U laat hulle op gladde plekke loop,
U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei.
19In 'n oogwink word hulle iets afgrysliks,
gaan hulle te gronde, tref 'n verskriklike einde hulle.
20Net soos 'n droom wat ophou as 'n mens wakker word,
so verdwyn hulle, Here, as U ingryp.
21Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het,
22was ek dom en sonder insig;
soos 'n redelose dier het ek my teenoor U gedra.
23Tog was ek nog altyd by U,
want U vat my aan die hand.
24U lei my met u raad
en aan die einde sal U my in ere by U opneem.
25Daar is niks in die hemel of op die aarde
wat vir my meer beteken as U nie.
26Al is ek afgetakel na liggaam en gees,
God is my sterkte;
aan Hom behoort ek vir altyd.
27Dié wat ver van U af is, gaan verlore,
U vernietig dié wat aan U ontrou is.
28Maar wat my aangaan, dit is vir my goed
om naby God te wees.
Ek het die Here my God gekies as my toevlug!
Ek sal van al u werke bly vertel.

Psalm 103

Onverganklik is die liefde van die Here
 
1Van Dawid.
Ek wil die Here loof,
met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.
2Ek wil die Here loof
en nie een van sy weldade vergeet nie.
3Dit is Hy wat al my sonde vergewe,
wat al my siekte genees,
4wat my red van die graf
en my met liefde en ontferming kroon,
5wat my die goeie in oorvloed laat geniet,
my die jeugdige krag van die arend skenk.
6Die Here laat geregtigheid en reg geskied
aan almal wat verdruk word.
7Aan Moses het Hy sy wil bekend gemaak,
aan Israel wat Hy van plan was om te doen.
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
10Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
13Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.
14Hy weet waarvan ons gemaak is,
Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.
15Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras,
soos dié van 'n veldblom wat oopgaan:
16as die woestynwind daaroor waai, is dit weg
en sy plek vir altyd leeg.
17Maar onverganklik is die liefde van die Here
vir dié wat Hom dien,
sy trou vir opeenvolgende geslagte,
18vir dié wat getrou bly aan sy verbond
en sy voorskrifte nakom.
19Die Here het sy troon in die hemel gevestig,
sy heerskappy strek oor alles en almal.
20Loof die Here, magtige engele
wat sy opdragte uitvoer,
sy bevele gehoorsaam.
21Loof die Here, alle hemelwesens
wat Hom dien en sy wil doen!
22Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here
op al die plekke waar Hy heers!
Ek wil die Here loof!

Psalm 133

As broers eensgesind saam woon
 
1'n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën:
'n lang, lang lewe.

Spreuke 13

1'n Wyse seun laat hom leer deur sy vader,
'n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie.
2'n Mens kan voorspoedig word
deur altyd die regte woorde te gebruik;
onbetroubare mense is net uit op geweld.
3Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe;
wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet.
4Die luiaard se honger word nie gestil nie;
hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet.
5Die regverdige haat leuens;
die goddelose maak hom gehaat en veragtelik.
6Die opregte bly behoue
deur sy gehoorsaamheid aan die Here;
ongehoorsaamheid laat die sondaar te gronde gaan.
7Party mense hou hulle ryk maar het niks nie;
party doen hulle arm voor maar besit baie.
8Met sy rykdom moet 'n ryk man hom soms loskoop;
'n arm man kom nie in so 'n gevaar nie.
9Die lewe van die regverdiges is vol vreugde;
die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.
10Selfverheffing lei altyd tot twis;
dié wat goeie raad aanneem, het wysheid.
11Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik;
wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk.
12'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig;
'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.
13Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie,
sal die gevolge dra;
wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.
14Wat wyse mense jou leer, is 'n bron van lewe;
dit laat jou die strikke van die dood vermy.
15Iemand wat goeie insig het, geniet goedgesindheid;
die pad van onbetroubare mense lei tot vernietiging.
16Alles wat 'n verstandige mens doen, word met kennis gedoen;
wie nie wysheid het nie, begaan een dwaasheid na die ander.
17'n Onbetroubare boodskapper kom in die moeilikheid;
'n gesant op wie jy kan staatmaak, stel sake weer reg.
18Armoede en vernedering wag vir iemand
wat hom nie wil laat leer nie,
wie 'n teregwysing ter harte neem, word geëer.
19'n Begeerte wat vervul is, bring vreugde.
Dwase het 'n afkeer daarvan om kwaad te vermy.
20Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid;
wie hom met dwase ophou, word self sleg.
21Teenspoed volg die sondaars op hulle pad;
die regverdige word met voorspoed vergoed.
22'n Goeie mens laat 'n erfenis na ook vir sy kleinkinders;
die besittings van die sondaar
kom in die hande van die regverdige.
23Grond wat die eerste keer geploeg is,
lewer genoeg kos vir die armes,
maar waar daar nie wet en orde is nie,
word die kos van hulle af weggevat.
24Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie;
as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is.
25Die regverdige het meer as genoeg om te eet;
goddelose mense bly honger.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 13

Vertrou op die Here
1Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2Hoe lank sal U my bly vergeet,
Here?
Vir altyd?
Hoe lank nog sal U
anderpad kyk?
3Hoe lank
moet ek alleen planne maak,
elke dag deurbring
met droefheid in my hart?
Hoe lank sal my vyand
die oorhand hê?
4Kyk tog en antwoord my,
Here my God!
Verlig tog weer my oë
dat ek nie
die doodslaap ingaan nie,
5anders sê my vyand:
“Ek het hom oorwin!”
en is my teenstander bly
oor my ondergang.
6Maar ek maak self staat
op u troue liefde.
Ek wil juig
omdat U my gered het.
Ek wil sing tot eer van die Here
omdat Hy vir my goed was.

Psalm 43

Stuur u lig en u waarheid
1Spreek my vry, o God!
Verdedig my saak
teen ’n goddelose volk.
Red my van mense
wat vals en boos is.
2Want U, o God,
is my veilige skuilplek.
Hoekom het U my dan verstoot?
Hoekom moet ek rou
omdat vyande my verdruk?
3Stuur u lig en u waarheid;
laat dit my lei.
Laat dit my bring
na u heilige berg,
na die plek waar U woon.
4Ek sal ingaan
na die altaar van God,
na God,
die bron van vreugde
en blydskap.
Ek sal U loof met die harp,
o God, my God!
5Hoekom is ek so neerslagtig?
Hoekom so verontrus?
Ek sal op God vertrou!
Ek sal Hom weer prys,
Hy is my redder
en my God!

Psalm 73

BOEK DRIE (Psalm 73-89)
Ek wil naby God bly
1’n Asafpsalm.
Waarlik, God is goed vir Israel,
vir hulle
wat suiwer van hart is.
2Maar my voet
het byna gestruikel.
Ek het my vastrapplek
byna verloor.
3Want ek het die verwaandes
beny,
die goddeloses se voorspoed
het ek gesien.
4Hulle het geen lyding nie,
en is vet en gesond.
5Hulle het nie sorge
soos sterflinge,
of teëspoed
soos ander mense nie.
6Daarom is trots hulle halssnoer;
geweld is vir hulle
soos ’n kleed.
7Hulle uiterlike
spel net voorspoed;
hulle verwaandheid is grensloos.
8Hulle spot en praat net kwaad;
hooghartig dreig hulle
met geweld.
9Hulle lippe
laster teen die hemel
en hulle tonge
spog op die aarde.
10So draai sy volk na hulle toe,
en neem alles in wat hulle sê.
11“Besef God wat aangaan?”
vra hulle.
“Weet die Allerhoogste
wat gebeur?”
12Kyk, so is goddelose mense:
altyd sorgvry,
besig om rykdom te vermeerder.
13Het ek dan tevergeefs
die kwaad vermy,
en my onskuld
met ’n eed bevestig?
14Die hele dag lank moes ek ly,
elke oggend
is ek opnuut gestraf.
15As ek sou sê: “Ek sal só praat,”
sou ek u kinders verloën het.
16Ek het nagedink
om dit te verstaan;
tog was dit vir my
’n moeilike taak,
17totdat ek ingegaan het
in die heiligdom van God,
en die uiteinde gesien het
van die goddeloses.
18U plaas hulle op gladde plekke
en laat hulle verval
tot ’n puinhoop.
19In ’n oogwink
is hulle vernietig,
verslind deur verskrikking.
20Soos ’n droom wat ophou
wanneer ’n mens
wakker word,
so verdwyn hulle beeld
wanneer U ontwaak, o Here.
21Ek was verbitterd in my hart
en verskeurd in my binneste.
22Ek was dwaas en onnosel;
ek was dom
soos ’n dier voor U.
23Tog is ek nog altyd by U;
U hou my regterhand vas.
24U lei my met u raad,
daarna sal U my opneem
en in heerlikheid ontvang.
25Wie het ek in die hemel
behalwe U?
Ook op aarde soek ek net vir U.
26My liggaam en my hart
kan kwyn,
maar God is my blywende krag
en my erfdeel vir altyd.
27Dié wat ver van U is,
sal omkom;
dié wat ontrou is aan U,
vernietig U.
28Maar wat my betref,
dit is vir my goed
om naby God te wees!
Ek het geskuil
by die oppermagtige Here,
en sal bly vertel
van al u wonders.

Psalm 103

Loof die Here wat
vergewe
 
1’n Dawidspsalm.
 
Ek wil die Here prys.
Met alles wat binne-in my is,
wil ek sy heilige Naam
prys.
2Ek wil die Here prys
en nie al sy goeie dade
vergeet nie.
3Hy vergewe al jou sondes,
en genees al jou siektes.
4Hy verlos jou lewe van die dood,
bekroon jou met liefde
en medelye.
5Hy vul jou lewe met goeie dinge,
vernuwe jou jeug
soos ’n arend s’n.
6Die Here
laat regverdigheid geskied,
en reg aan almal
wat verdruk word.
7Hy het sy optrede
aan Moses openbaar
en sy dade aan die volk Israel.
8Die Here is barmhartig
en genadig,
geduldig en vol onfeilbare liefde.
9Hy sal nie
voortdurend aankla,
of vir altyd kwaad wees nie.
10Hy straf ons nie
soos ons sondes verdien nie,
en vergeld ons nie
volgens ons oortredings nie.
11Want so ver soos die hemele
van die aarde af is,
so groot is sy onfeilbare liefde
teenoor hulle wat Hom dien.
12So ver as die ooste is
van die weste,
so ver verwyder Hy
ons oortredings van ons.
13Soos ’n vader hom ontferm
oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom
oor hulle wat Hom dien.
14Hy weet tog
waarvan ons gemaak is;
Hy weet
dat ons net stof is.
15Die mens se lewensduur
is soos gras,
soos veldblomme
wat welig blom.
16As die wind daaroor waai,
is dit weg,
’n mens sien die plek waar dit was
nie meer nie.
17Maar die liefde van die Here
is altyd daar
vir hulle wat Hom dien.
Sy trou geld
vir geslag na geslag,
18vir dié wat getrou is
aan sy verbond
en sy gebooie gehoorsaam.
19Die Here het sy troon
in die hemel gevestig;
Hy heers oor almal.
20Prys die Here,
julle magtige engele,
julle wesens
wat sy woord uitvoer,
wat luister na sy woord!
21Ja, prys die Here,
sy hemelse leërmagte
wat Hom dien en sy wil uitvoer!
22Prys die Here,
al sy skeppingswerke,
oral in sy koninkryk.
Ek wil die Here prys.

Psalm 133

Eensgesindheid
1’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind
saamwoon!
2Dit is soos kosbare olie
op die kop
wat afloop op die baard,
op die baard van Aäron,
tot op die soom van sy kleed.
3Dit is soos
die dou van Hermonberg
wat neersak op die berge van Sion.
Want daar gee die Here sy seën:
’n baie lang lewe.

Spreuke 13

1’n Wyse seun laat sy pa toe
om hom reg te help.
Een wat met alles spot,
steur hom nie eens
aan dreigemente nie.
2Wat ’n mens sê,
kan goeie dinge vir jou bring.
Hulle wat afvallig is,
soek net na geweld.
3Iemand wat op sy woorde let,
bewaar sy lewe.
’n Eindelose gepratery
kan alles ruïneer.
4Luiaards begeer baie dinge,
maar hulle kry dit nie.
Mense wat hard werk,
kry alles
wat hulle begeer.
5Regverdige mense haat leuens.
Goddelose mense
bring skade en skande
oor hulleself.
6Geregtigheid bewaar dié
wat onberispelik lewe.
Goddeloosheid
vernietig die sondaar.
7Sommige mense gee voor
hulle is ryk,
maar hulle het eintlik niks nie.
Ander maak of hulle arm is,
maar intussen besit hulle baie.
8Die ryk man het geld
om homself mee los te koop.
Die arm man
kan nooit
afgedreig word nie.
9Die lewe van die regverdiges
is vol vreugde.
Die lewenslig van goddeloses
word uitgedoof.
10Selfvoldaanheid
lei altyd tot rusies.
Hulle wat na ander luister,
het wysheid.
11Rykdom wat maklik kom,
verdwyn net so maklik.
Wie bietjie vir bietjie
bymekaarmaak,
het naderhand baie.
12Verwagtings
wat nie realiseer nie,
lei tot mismoedigheid.
’n Begeerte wat vervul word,
is soos ’n boom wat lewe gee.
13Hy wat hom nie steur
aan raad nie,
soek na moeilikheid.
Hy wat hom aan die reëls steur,
sal die goeie vrugte daarvan pluk.
14Die raad wat wyse mense gee,
is soos ’n fontein
met water wat lewe gee;
as jy dit volg,
ontsnap jy die lokvalle
van die dood.
15Mense het respek vir iemand
wat goeie insig het.
’n Onbetroubare mens
loop ’n pad van vernietiging.
16’n Verstandige mens
dink voor hy iets doen.
Dwase mense
verkondig hulle dwaasheid
aan die wêreld.
17’n Onbetroubare boodskapper
kry moeilikheid.
’n Gesant wat jy kan vertrou,
bring voorspoed.
18Hy wat hom
nie wil laat reghelp nie,
beland in armoede
en vernedering.
Hy wat ’n teregwysing
ter harte neem,
ontvang eer.
19Begeertes wat vervul word,
bring vreugde;
dwase mense het ’n afkeer daaraan
om kwaad te vermy.
20Hy wat met wyse mense meng,
verkry self ook wysheid.
Meng jou met dwase
en jy word self soos hulle.
21Teëspoed lê op die hakke
van die sondaars.
Die regverdiges
word met voorspoed beloon.
22’n Goeie mens
laat iets na vir kleinkinders.
’n Sondaar se besittings
beland by die regverdiges.
23Wanneer armes se grond
bewerk is,
gee dit genoeg kos vir hulle;
maar deur onreg
word die kos
van hulle af weggevat.
24Hy wat sy seun
nie dissipline leer nie,
het hom nie regtig lief nie.
As hy hom liefhet,
sal hy hom dissiplineer.
25Die regverdige mens
het oorgenoeg om te eet.
Goddelose mense
bly altyd honger.

Die Boodskap

Psalm 13

1Vir die musiekleier se aandag:
’n Dawidspsalm vir snaarbegeleiding
2Hoe lank gaan U my nog alleen los, Here?
Gaan U my aanmekaar bly vergeet?
As U my nie help nie, voel dit of my swaarkry ’n ewigheid lank aanhou.
Hoe lank gaan U niks aan my krisis doen nie?
3Hoe lank moet ek myself uit hierdie moeilikheid probeer kry?
Ek is moeg daarvoor om aanmekaar bekommerd te wees.
Hoe lank gaan my vyande my nog teen die planke vasdruk?
4Gee tog aandag en antwoord my, Here my God;
maak my weer gelukkig.
Anders is daar geen ander uitweg vir my as die dood nie.
5Moenie dat hulle wat niks van my hou nie, sê: “Ek het hom op sy plek gesit!” nie.
My vyande sal bly wees as ek dood neerslaan.
6Maar ek het op u getroue liefde staatgemaak.
In my binneste borrel dit van vreugde omdat U my uit my moeilikheid help.
Ek sal die Here se Naam met vreugde grootmaak omdat Hy so goed is vir my!

Psalm 43

1Sorg asseblief dat ek reg behandel word, o God!
Maak soos ’n regter in die hof:
hy verdedig onskuldige mense teen ’n klomp boewe.
Beskerm my teen oneerlike skelms wat my mishandel.
2By U voel ek veilig, God. U beskerm my.
Maar hoekom los U my nou alleen? U verwerp my.
Hoekom moet ek hartseer rondloop omdat my vyande my laat swaarkry?
3Maak my lewe vol met u lig. Wys my wat reg en goed is. Help my.
U gee tog om vir u kinders. Wys vir my wat om te doen.
Sit my voet op die regte pad sodat ek U weer voluit kan dien. En bring my terug na u woonplek toe.
4Ek wil U aanbid, God. U maak my hart altyd bly.
God, ek wil u Naam prys. U is my God! Ek loof U met musiekinstrumente.
5Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Waarom so hartseer?
Vertrou net op God.
Ek gaan Hom loof, al kry ek swaar.
Dit is Hy wat my uit my swaarkry red. Hy is my God.

Psalm 73

Van Asaf
1God is goed vir almal wat doen wat Hy sê. Vir seker!
2Maar op ’n dag het ek begin twyfel of dit regtig so is.
Ek het amper ophou glo, 3want toe ek rondom my kyk, het ek gesien hoe goed dit met slegte mense gaan. Hulle is so hoogmoedig.
En hulle word by die dag al hoe ryker. En ek was jaloers op hulle.
4Niks bekommer hulle nie. Hulle is spekvet en gesond.
5Hulle is oor niks besorg nie. Hulle het geen moeilikheid nie.
6Hulle loop ewe trots rond. Want met hulle gewere en hulle vuiste los hulle al hulle probleme op.
7Hulle is vet, en hulle doen net wat hulle wil.
8Hulle het g’n respek vir iemand nie. Hulle spot met mense en dreig almal. 9Selfs God loop onder hulle tonge deur. En op aarde beledig hulle links en regs.
10Almal hang aan hulle lippe. Mense kan nie genoeg van hulle kry nie.
11Hulle sê vir almal:
“God is vas aan die slaap. Wat weet die Allerhoogste van wat ons doen?”
12Hulle kom weg met moord! Niemand keer hulle nie terwyl hulle al meer geld maak.
13Ek het verniet gedoen wat God sê.
Tevergeefs dat ek onskuldig is.
My gebede het niks gehelp nie.
Dit was ’n mors van tyd,
14want elke nuwe dag het daar ’n vrag vol nuwe probleme op my gewag.
Daar was geen einde aan my swaarkry nie.
Ek is elke dag soos ’n vloerlap behandel.
15Maar wag! As ek aanhou praat soos nou, sal ek ’n verraaier wees.
Ek sal al u kinders verraai, Here!
16Ek het mooi probeer dink, maar ek kon nie verstaan hoekom ek so moes ly nie.
17Totdat ek op ’n dag in u heilige plek ingestap het.
Toe het ek skielik die volle prentjie gesien: ek het besef waar goddeloses uiteindelik beland.
18Ek het besef dat slegte mense op ’n baie gladde pad stap.
Op ’n dag laat U hulle planne skeefloop, dan beland hulle in die gemors.
19In ’n oogwink verander hulle lewe in chaos. Hulle kom tot ’n verskriklike einde.
20Hulle verdwyn so vinnig soos ons drome wanneer ons wakker word.
Here, U vee slegte mense in ’n oogwink uit die pad uit.
21Toe ek kwaad vir U was en gevoel het dat U my verontreg, 22was ek baie dom, net soos ’n dier sonder verstand. Ek het my onnosel voor U gedra.
23Gelukkig het U my toe nie alleen gelos nie.
U het my nog nooit alleen gelos nie. U hou my hand elke dag vas.
24U sal my op die pad lei waarop U wil hê ek moet loop.
Later sal U ook vir my ’n plek daar by U gee.
25Here, daar is niemand so belangrik soos U in die hemel nie, ook nie hier op aarde nie.
U is my hele lewe. Ek wil niks anders as U hê nie.
26Al gee my kragte in en al sit ek op moedverloor se vlakte: U, God, is steeds my krag.
U is die Rots by wie ek altyd wegkruip. Ek behoort aan U vir altyd.
27Kyk net: almal wat U verwerp, gaan dood; U skryf hulle af.
28Maar ek geniet dit om dag na dag by God te wees.
Ek kruip by die Here my God weg.
Die lewende Here is my huis.
Ek vertel vir almal hoe goed U is.

Psalm 103

Vir Dawid
1Ek wil die Here loof.
Met alles in my wil ek die Here se grootheid prys.
2Ek wil nooit vergeet hoe goed die Here vir my is nie. Ek loof Hom!
3Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond.
4Hy red my uit die kloue van die dood.
Hy maak dat ek vir ander mense omgee en goeie dinge vir hulle doen.
5Die Here oorlaai my met al die goeie dinge in die lewe.
Hy gee my arms vol krag. Hy maak my so sterk soos ’n jongmens.
6Die Here help almal wat onderdruk word. Hy is goed.
Hy sorg dat reg aan hulle gedoen word.
7Dink net hoe Hy vir Moses gesê het wat Hy van hom verwag
en hoe Hy sy kinders gaan help.
8Die Here se hart is baie sag. Hy gee graag goeie dinge aan ons.
Hy is geduldig. Hy het sy kinders baie lief.
9Die Here sal jou nie aanhou straf vir die verkeerde dinge wat jy gedoen het nie.
Ook bly Hy nie vir altyd kwaad oor iets nie.
10Hy straf ons nie volgens dit wat ons regtig verdien nie.
Hy vergeld ons nie op dieselfde manier vir al ons slegte dade nie.
11So ver as wat die verste punt in die heelal van ons af is, so groot, en nog groter, is die Here se liefde vir elkeen wat Hom dien.
12So ver as wat die verste punte van die heelal van mekaar af is, so ver, en nog verder, vat Hy ons sondes se straf van ons af weg.
13Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde.
14Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is.
15’n Mens leef net vir ’n kort rukkie.
Jy is maar soos gras wat daarbuite groei.
16Wanneer die wind begin waai en die son begin skroei, dan hou dit nie lank nie.
Die gras gaan net daar dood.
So gaan dit ook met mense.
17Daar is geen grense aan die Here se liefde nie. Dit sal vir altyd aanhou vir mense wat hom dien, vir geslagte lank.
18Elkeen wat Hom dien en die ooreenkoms nakom wat Hy gesluit het,
kan op sy liefde reken.
Oor die jare heen help Hy mense.
Die Here help almal wat na Hom luister.
19Die Here regeer uit die hemel. Hy is die sterkste van almal. Hy heers oor alles.
20Kom prys die Here, sterk engele wat vir die Here werk!
Julle maak Hom baie gelukkig omdat julle doen wat die Here wil hê.
21Kom prys die Here, al julle ontelbare skares in die hemel wat Hom gelukkig maak!
22Kom prys die Here, almal en alles wat deur Hom gemaak is!
Prys Hom op elke plek waar Hy regeer.
Ek wil ook die Here prys met my hele lewe!

Psalm 133

Vir Dawid. ’n Lied van mense wat na die Here se huis gaan
1Hoe mooi, hoe wonderlik as broers en susters regtig vir mekaar lief is!
2Dit is soos baie duur parfuum wat iemand uit respek oor Aäron uitgiet;
dit is soos duur olie wat oor Aäron se kop en klere loop.
3Dit is soos dou wat vroegoggend van die Hermonberg afloop tot op Sion.
Broers en susters wat regtig vir mekaar omgee, word deur die Here geseën;
elke dag beleef hulle sy goedheid, elke dag van die lang lewe wat Hy skenk.

Spreuke 13

Rykdom in die hande van ’n wyse is goed
1’n Slim jongmens vergeet nie sy ouers se opvoeding nie. ’n Domme laat hom deur niemand leer nie, selfs al dreig jy hom.
2’n Gelowige se woorde kan baie vir ander mense beteken. Hy trek self ook voordeel daaruit. Slegte mense kan nie genoeg van geweld kry nie.
3Hy wat sy mond kan hou, bly uit die moeilikheid uit. ’n Kletskous praat maklik sy mond verby en beland in groot moeilikheid.
4’n Luiaard smag na baie dinge, maar hy kry niks daarvan nie. Iemand wat hard werk, het kos en klere. Hy het oorgenoeg om van te leef.
5’n Gelowige haat alles wat sleg is. ’n Slegte mens tree walglik op. Sy lewe stink van al die vieslikhede. 6Die regte manier van leef beskerm die gelowige teen verkeerde dinge. Sonde vernietig ’n booswig se lewe heeltemal.
7Baie mense maak asof hulle ryk is. Eintlik is hulle brandarm. Ander leef nederig terwyl hulle baie geld in die bank het.
8Rykdom help baie. As jy geld dringend nodig het, is dit beskikbaar. Armoede is sleg, want dit maak die arme weerloos. Hy is altyd aan ander se genade uitgelewer.
9’n Gelowige se vreugde skyn soos ’n helder lig wat almal kan sien. Ongelowiges se bietjie blydskap verdwyn in die sand. Dit is soos ’n lamp wat al hoe dowwer brand. 10Mense wat altyd beter weet, beland maklik in rusies. Gelowiges luister graag na ander en neem hulle standpunte in ag.
11Kitsrykdom sonder harde werk hou nie lank nie. Wie bietjie vir bietjie spaar, word ryk.
12Drome wat nie waar word nie, bring hartseer. ’n Wens wat waar word, maak die lewe die moeite werd.
13Wie die Here se woord verwerp, vernietig homself. Wie dit sy eie maak, is ’n gelukkige mens.
14Mense wat die lewe ken, kan jou baie leer. Hulle lewenswysheid is ’n onuitputlike bron van kennis. Wie dit sy eie maak, word baie ellende gespaar.
15Lewenswysheid maak dat almal van jou hou. Ongelowiges gaan onder.
16’n Slim mens dink voordat hy iets doen. ’n Dom mens weet nie wat hy doen nie. Almal sien en hoor hoe dwaas hy is.
17’n Slegte boodskapper vergeet maklik wat hy moet sê. Mense word dan baie kwaad vir hom. ’n Goeie boodskapper se woorde maak mense gelukkig.
18Wie hom nie steur aan die voorskrifte vir ’n gelukkige lewe nie, word gou arm. Skande op skande is sy lot. Diegene wat na goeie raad luister, word deur ander gerespekteer.
19Dit is lekker as ons ons ideale bereik. Slegte mense bereik niks nie, want hulle sukkel om hulle verkeerde dade te los.
20Wie dikwels in die geselskap van gelowiges is, leer self ook met die tyd om reg op te tree. Wie altyd net met ligsinniges en ongelowiges meng se lewe is leeg. 21Mense wat die Here verwerp se lewe is hel. Gelowiges ervaar intense geluk en voorspoed.
22Iemand wat verstandig met sy geld werk se kleinkinders sal nog eendag daarvan erf. Selfs goddeloses se geld beland dikwels in die hande van gelowiges.
23Arm mense se grond lewer genoeg op dat hulle kan eet. Maar as wet en orde nie gehandhaaf word nie, verloor hulle selfs die bietjie wat hulle het.
24Wie nooit met sy kinders raas nie, het hulle nie werklik lief nie. Iemand wat sy kinders regtig liefhet, sal hulle kortvat as dit nodig is.
25’n Gelowige het genoeg om van te leef. Ongelowiges ly gebrek.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!