Dag 12: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 12

Die Here hou oor ons wag
1Vir die koorleier: met basstem. 'n Psalm van Dawid.
2Help tog, Here,
want daar is geen vrome meer nie,
daar is geen betroubare mens meer oor nie.
3Die mense bedrieg mekaar;
hulle mislei mekaar met vleitaal.
4Die Here sal al die vleitaal uitroei
en die grootpratery van die mense 5wat sê:
“In ons tong lê ons krag.
Ons lippe help ons.
Ons buig vir niemand nie.”
6Maar die Here sê:
“Die swakkes word mishandel
en die armes kla.
Daarom gryp Ek nou in
en gee uitkoms aan dié wat daarna smag.”
7Daar is niks vals in wat die Here sê nie.
Sy woorde is soos silwer
wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is.
8U, Here, hou oor ons wag.
U sal ons vir altyd teen sulke mense beskerm,
9selfs al pronk goddeloses nog rond
en al heers die gemeenheid nog tussen die mense.

Psalm 42

Mens, waarom so in vertwyfeling?
1Vir die koorleier. 'n Gedig van die Koragiete.
2Soos 'n wildsbok smag na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
3Ek dors na God, na die lewende God.
Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn?
4Dag en nag is ek in trane,
want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
5As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan
hoe ek opgetrek het na die woonplek van God,
voor 'n skare uit na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang – 'n skare wat feesvier.
6Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.
Hy is my helper 7en my God!
Uit my vertwyfeling roep ek na U
hier van die Jordaangebied, van Hermonberg,
van die Kleinberg af
8waar die waters teen mekaar raas
en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.
9Tog sal die Here weer op 'n dag sy trou laat blyk
en sal ek selfs in die nag 'n lied vir Hom sing,
'n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê:
“My Rots, waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”
11Dit sny deur my hele wese as my teëstanders my spot
en dag na dag vir my sê:
“En waar is jou God nou?”
12Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Psalm 72

Mag die koning lank lewe
 
1Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings oor u volk sal vel
en aan die verdruktes reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning die reg van die verdruktes onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien so lank as die son
en die maan daar is, van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd groot voorspoed wees.
8Mag hy heers van see tot see,
van die Eufraat af tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners voor hom kniel
en sy vyande voor hom in die stof kruip.
10Mag die konings van Tarsis en die kuslande geskenke bring,
die konings van Skeba en Seba aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red wat om hulp roep,
die verdrukte en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm,
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë.
15Mag die koning lank lewe,
mag daar vir hom goud uit Skeba gebring word;
mag die mense gedurig vir hom bid
en die hele dag seënbedes vir hom uitspreek.
16Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.
17Mag die koning se naam altyd onthou word,
mag sy roem duur so lank as die son daar is,
sodat al die nasies hulle in sy regering verlustig en hom prys!
18Geloof sy God die Here, die God van Israel.
Dit is net Hy wat magtige dade doen!
19Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word,
mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit.
Amen, ja, amen.
20Hier eindig die gebede van Dawid, seun van Isai.

Psalm 102

U is daar van geslag tot geslag
 
1Gebed van 'n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here.
2Here, luister tog na my gebed,
hoor tog my geroep om hulp!
3Moet U tog nie van my afsydig hou
nou dat ek in die nood is nie.
Luister tog na my wanneer ek U aanroep,
verhoor tog gou my gebed,
4want vir my verdwyn die dae soos rook.
My liggaam brand soos vuur,
5ek is verskroei en uitgedroog soos gras,
ek het alle eetlus verloor.
6Ek het net vel en been geword
van al die pyn.
7Ek voel so verlate soos 'n pelikaan in 'n woestyn,
soos 'n uil tussen murasies.
8As ek wakker word,
voel ek soos 'n eensame voël op 'n huis se dak.
9Die dae deur verneder my vyande my.
Dié wat my so verkleineer, gebruik my naam as 'n vloekwoord.
10As is my daaglikse brood;
wat ek drink, is met my trane gemeng,
11want u toorn en u gramskap het my getref,
U het my verwerp en weggegooi.
12Soos 'n skaduwee wat lank word, is my lewe naby sy einde,
ek is soos verdroogde gras.
13U, Here, U heers vir altyd,
U is daar van geslag tot geslag.
14U sal ingryp en U oor Sion ontferm,
want die bestemde tyd het aangebreek,
die tyd om hom genadig te wees.
15Ons, u dienaars, het elke klip van Sion lief,
ons is bewoë oor sy puin.
16Die nasies sal die Here vrees
en al die konings van die aarde sy mag,
17want die Here gaan Sion weer opbou
wanneer Hy in sy mag verskyn.
18Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het,
Hy sal hulle gebed nie verag nie.
19Laat dit opgeteken word vir die geslag wat kom,
sodat die nuut geskape volk die Here kan loof.
20Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk
en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur,
21die gekerm van die gevangenes gehoor
en dié wat naby die dood was, bevry.
22Hulle sal die Naam van die Here in Sion besing
en sy lof in Jerusalem
23wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom
om die Here te dien.
24Hy het my krag gebreek toe ek nog jonk was,
Hy het my lewe verkort.
25Ek sê: “My God, moet my nie in die fleur van my lewe wegneem nie!
U is daar deur die geslagte heen.
26In die voortyd al het U die aarde gevestig
en die hemele met u eie hande gemaak.
27Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly.
Soos 'n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan,
soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn.
28Maar U bly dieselfde,
u jare het geen einde nie.”
29Ons nageslag sal die land bly bewoon,
ons nakomelinge sal veilig voor U woon.

Psalm 132

Die Here het 'n eed teenoor Dawid afgelê
1'n Pelgrimslied.
Dink tog aan Dawid, Here,
aan alles wat hy deurgemaak het,
2aan die eed wat hy teenoor die Here afgelê het,
sy gelofte aan die magtige God van Jakob:
3“Ek sal nie in my slaapkamer ingaan nie
en nie op die bed wat vir my reggemaak is, gaan lê nie,
4ek sal my geen slaap gun nie,
en sal nie eens insluimer nie,
5totdat ek 'n plek vir die Here gereed gemaak het,
'n woning vir die magtige God van Jakob!”
6Ons het van die verbondsark gehoor in Efrata,
ons het dit gevind in die Jaärsveld.
7Kom ons gaan sy woning binne,
kom ons buig daar in aanbidding voor Hom.
8Kom na u rusplek toe, Here,
U en die ark, die teken van u mag.
9Gee aan u priesters die oorwinning,
laat u troue dienaars juig.
10Ter wille van u dienaar Dawid,
moet tog nie u gesalfde verstoot nie.
11Die Here het 'n eed teenoor Dawid afgelê,
en dit staan vas, Hy sal daarvan nie afwyk nie:
“Ek sal een van jou eie seuns in jou plek laat koning word.
12As jou nakomelinge hulle aan my verbond hou
en aan die verordeninge wat Ek hulle leer,
sal ook hulle seuns vir altyd op jou troon heers.”
13Ja, die Here het Sion gekies
en dit vir Hom as woning begeer:
14“Dit is my rusplek vir altyd;
hier wil Ek woon, dit is my begeerte.
15Ek sal Sion ryklik seën met wat hy nodig het,
aan sy armes voedsel in oorvloed skenk.
16Ek sal aan sy priesters die oorwinning gee
en my troue dienaars sal juig.
17Daar sal Ek die heerskappy vir Dawid vestig,
vir my gesalfde 'n nageslag op die troon verseker.
18Sy vyande sal Ek magteloos laat toekyk,
maar sý kroon sal bly skitter.”

Spreuke 12

1Wie hom laat leer, wil graag kennis ontvang;
wie hom nie laat teregwys nie, is 'n dom mens.
2Die Here hou van 'n goeie mens,
maar Hy veroordeel 'n slinkse mens.
3Niemand wat 'n verkeerde lewe lei, hou stand nie;
wie die wil van die Here doen, staan stewig.
4'n Knap vrou gee haar man hoë aansien;
een wat haar man in die skande steek,
is vir hom soos vretende kanker.
5Die mening van regverdiges kan die toets van die reg deurstaan;
die slim raad van goddeloses is onbetroubaar.
6Goddeloses stel met wat hulle sê, dodelike hinderlae vir ander;
opregte mense red ander met wat hulle sê.
7Goddeloses val en dit is klaar met hulle;
die nageslag van die regverdiges bestaan voort.
8'n Mens word geprys vir sy insig
en uitgelag as hy nie verstandig dink nie.
9Liewer gering geag word en tog 'n slaaf besit
as jou vernaam aanstel en nie kos hê om te eet nie.
10Die regverdige sorg goed vir sy diere,
maar die goddeloses is wreed.
11Wie sy grond bewerk, het volop om te eet;
wie hom besig hou met nuttelose dinge, het nie verstand nie.
12Die goddelose soek sy veiligheid in verkeerde dade;
die regverdiges staan vanself vas.
13'n Slegte mens stel vir homself
'n strik met sy opruiende woorde;
wie reg doen, ontkom uit die nood.
14'n Mens kan voorspoedig word
deur altyd die regte woorde te gebruik,
of hy kan die vrug geniet van wat hy met sy hande doen.
15In die dwaas se oë is sy eie pad die regte;
wie wysheid het, luister na raad.
16'n Dwaas wys dadelik dat hy beledig voel;
'n verstandige mens laat nie blyk dat hy gekrenk is nie.
17Wie die waarheid aan die lig bring,
lewer betroubare getuienis;
'n getuie wat lieg, maak alles vals.
18Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees;
wyse mense bring genesing met wat hulle sê.
19Die waarheid hou vir altyd,
die leuen net 'n oomblik.
20Dié wat op kwaad uit is, doen dit omdat hulle vals is;
dié wat beraadslaag vir vrede en voorspoed,
doen dit met vreugde.
21Geen leed sal die regverdige tref nie;
goddeloses beleef ramp op ramp.
22Die Here het 'n afsku van leuenaars;
Hy hou van betroubare mense.
23'n Verstandige mens loop nie te koop met sy kennis nie;
dwase basuin hulle dwaasheid uit.
24Hardwerkende mense kom in magsposisies;
lui mense word dwangarbeiders.
25Bekommernis druk 'n mens neer;
'n vriendelike woord vrolik hom op.
26Die regverdige laat sy pad vir hom wys deur 'n vriend;
die goddeloses verdwaal op die pad wat hulle self kies.
27Die luiaard gaan vang nie eens wild om te braai nie;
'n hardwerkende mens versamel kosbare besittings.
28Gehoorsaamheid aan God lei tot die lewe,
dit is 'n pad wat nie na die dood lei nie.

☊ Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 12

God sal reg laat geskied
1Vir die koorleier: Met basstem.
’n Dawidspsalm.
2Help tog, Here,
want opregtes
bestaan nie meer nie!
Onder die mensekinders
is daar geen getroues oor nie.
3Bure lieg vir mekaar.
Hulle praat
met vleiende lippe,
maar met bedrieglike harte.
4Die Here
sny hulle vleiende lippe af
en ook hulle grootpraterige tong.
5Hulle sê:
“Ons sal lieg
soveel soos ons wil.
Ons lippe behoort aan ons.
Wie kan ons keer?”
6Die Here antwoord:
“Ek het die geweld
teen hulpeloses gesien,
en Ek het die versugting
van die armes gehoor.
Daarom sal Ek hulle beveilig,
die veiligheid bied
waarna hulle smag.”
7Die Here se beloftes is suiwer,
soos silwer
in ’n oond gesuiwer,
wat sewe keer gesuiwer is.
8U, Here, hou oor ons wag.
U sal ons vir altyd
teen sulke mense bewaar,
9selfs al loop die goddeloses
oral rond
om boosheid
onder mense te saai.

Psalm 42

BOEK TWEE (Psalm 42-72)
Verlange na God
1Vir die koorleier: ’n Gedig van
die Koragiete.
2Soos ’n wildsbok smag
na water,
so smag ek na U, o God.
3Ek verlang na God,
die lewende God.
Wanneer kan ek ingaan
en weer voor Hom verskyn?
4My trane is my kos,
dag en nag,
terwyl teenstanders
my aanhoudend tart en sê:
“Waar is dié God van jou?”
5As ek nadink
hoe dit voorheen was,
is ek ontsteld.
Toe het ek geloop
saam met die aanbidders
en ’n optog gelei
na die tempel van God
terwyl ek sing en jubel
saam met die skare
wat feesvier.
6Hoekom is ek nou
so mismoedig?
Hoekom so hewig ontsteld?
Nee, ek plaas my hoop
op God!
Ek sal Hom weer prys.
Hy is my redder
7en my God!
Tog is ek nou terneergedruk.
Ek onthou hoe,
vanaf die Jordaangebied,
vanaf die berge van Hermon
en die hoogte van Miskar,
8die rumoer van u watervalle
druis en dreun.
So het al u strome en golwe
ook oor my gegaan.
9Tog sal die Here bedags
weer sy trou betoon.
Selfs in die donker nag
sing ek sy lied,
’n gebed tot die God
van my lewe.
10Ek sal roep tot God en sê:
“My Rots,
waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek
met rouklere loop
omdat die vyand my verdruk?”
11Dis soos ’n diep wond
in my binneste
wanneer vyande met my spot,
wanneer hulle dag na dag vra:
“Waar is jou God?”
12Hoekom is ek nou
so mismoedig?
Hoekom so hewig ontsteld?
Nee, ek plaas my hoop op God!
Ek sal Hom weer prys.
Hy is my redder en my God!

Psalm 72

Die regverdige koning
1’n Psalm van Salomo.
O God,
skenk u geregtigheid
aan die koning,
en u regverdigheid
aan die seun van die koning.
2Hy sal u volk regverdig oordeel
en aan armes reg verskaf.
3Die berge sal voorspoed bring
vir die volk,
en die heuwels regverdigheid.
4Hy sal aan die verdruktes
reg verskaf,
die kinders van behoeftiges red,
hulle verdrukkers
verpletter.
5Mag hulle U dien
so lank as wat die son skyn,
en die maan daar is,
geslag na geslag!
6Mag hy wees
soos reën vir plante,
soos reënbuie
wat die aarde natmaak.
7Mag regverdiges floreer
tydens sy bewind
en voorspoed
in oorvloed ontvang
tot die maan nie meer daar is nie.
8Mag hy regeer van see tot see,
en vanaf die Eufraat
tot aan die eindes van die aarde.
9Mag woestynbewoners
voor hom buig,
sy vyande voor hom
in die stof kniel.
10Mag die konings van Tarsis
en die kuslande
vir hom belasting betaal,
die konings van Skeba en Seba
vir hom geskenke bring.
11Mag al die konings
voor hom buig,
en al die nasies hom eer bewys.
12Ja, die armes wat roep,
sal hy verlos,
ook die verdrukte sonder helper.
13Hy het medelye met swakkes
en behoeftiges,
en red die lewe van behoeftiges.
14Uit onderdrukking en geweld
sal hy hulle red,
want hulle lewens is kosbaar
vir hom.
15Lank leef die koning!
Mag hy goud uit Skeba ontvang.
Mag mense gedurig vir hom bid
en die hele dag hom seën.
16Mag daar volop graan wees
in die land,
en die bergtoppe daarvan wuif.
Mag dit vrugbaar wees
soos die Libanon,
en mag die stede groei
soos gras op die veld.
17Mag die koning se naam
altyd onthou word
en nooit vergeet word
so lank as die son daar is nie.
Mag al die nasies
deur hom geseën word
en al die nasies
hom geseënd noem.
18Prys die Here God,
die God van Israel!
Net Hy doen wonderlike dade.
19Mag sy heerlike Naam
vir altyd geprys word!
Mag die hele wêreld
vol wees van sy heerlikheid.
Amen, ja, amen!
20(Hier eindig die gebede van
Dawid, seun van Isai.)

Psalm 102

Die ellende is te groot,
Here
 
1’n Gebed van iemand wat oorweldig is
met probleme en nou voor die Here kla.
 
2Here, luister na my gebed!
Hoor my smeking om hulp!
3Moenie van my wegdraai
wanneer ek in nood is nie.
Luister tog
wanneer ek U aanroep
en antwoord my tog gou,
4want my dae verdwyn
soos rook,
my bene brand
soos gloeiende kole.
5My hart is verdor,
verlep soos gras;
ek het vergeet hoe om te eet.
6As gevolg van my versugting
is ek net vel en been.
7Ek is soos ’n uil in die woestyn,
soos ’n naguil tussen murasies.
8Ek lê wakker,
soos ’n eensame voël
op ’n dak.
9My vyande beledig my
dag na dag.
Hulle spot en vloek my.
10Ek eet as in plaas van kos.
My trane meng
met wat ek drink
11weens u gramskap en u toorn.
Ja, U het my opgetel
en my weggegooi.
12My lewe is soos ’n skaduwee
wat langer word.
Ek is verskrompeld soos gras.
13Maar U, Here,
sal vir altyd regeer.
U bly onthou van geslag tot geslag.
14U sal verskyn
en U oor Sion ontferm,
want dis tyd
om genadig te wees;
die bestemde tyd het aangebreek.
15Want u dienaars
het elke klip daarvan lief,
en ontferm hulle
selfs oor die puin.
16Nasies sal die Here se Naam
vereer,
die konings van die aarde,
u mag.
17Wanneer die Here Jerusalem
herbou,
sal Hy verskyn in sy heerlikheid,
18sal Hy luister
na behoeftiges se gebede,
en hulle pleidooi
nie verwerp nie.
19Dit moet opgeskryf word
vir geslagte wat kom
sodat ’n volk
wat nog geskep sal word,
die Here sal prys.
20Vanuit sy hemelse heiligdom
het Hy neergekyk.
Die Here het vanuit die hemel
na die aarde gekyk
21om te luister na die smekinge
van mense in tronke;
om hulle wat veroordeel is,
te red van die dood,
22sodat hulle die Naam van die Here
in Sion sal verkondig,
en sy lofsange in Jerusalem,
23wanneer skares bymekaarkom,
en koninkryke kom
om die Here te dien.
24In my jeug
het Hy my krag gebreek,
Hy het my dae verkort.
25Maar ek het gesmeek:
“My God,
moenie my lewe neem
terwyl ek nog so jonk is nie!
U is daar, geslag na geslag.
26In die begin
het U die aarde gevestig;
die hemele is die werk
van u hande.
27Hulle sal vergaan,
maar U is vir altyd;
soos klere sal hulle verslyt.
U sal hulle uittrek
soos kledingstukke,
en hulle sal verdwyn.
28Maar U is altyd dieselfde;
u jare ken geen einde nie.
29Die kinders van u dienaars
sal in die land woon.
Hulle nageslag
sal voor U gevestig word.”

Psalm 132

Die Here het Sion gekies
1’n Pelgrimslied.
Here, onthou tog vir Dawid
en alles wat hy
deurgemaak het.
2Hy het ’n eed
voor die Here afgelê,
’n gelofte gemaak
aan die Magtige van Jakob:
3“Ek sal nie huis toe gaan
en na my bed toe gaan nie.
4Ek sal my oë nie laat slaap
of laat sluimer nie
5tot ek ’n plek gekry het
vir die Here,
’n heiligdom
vir die Magtige van Jakob.”
6Ons het gehoor
die ark is in Efrata,
en dit gekry
in die velde van Jaär.
7Kom ons gaan sy woning binne;
laat ons laag voor Hom buig.
8Kom na u rusplek toe, Here,
U en die ark,
die teken van u mag.
9Laat u priesters geklee word
met regverdigheid;
mag u troue dienaars
sing van vreugde.
10Ter wille van u dienaar Dawid,
moet tog nie u gesalfde
verwerp nie.
11Die Here
het vir Dawid gesweer,
en dit staan vas.
Hy sal daarvan nie afwyk nie:
“Een van jou afstammelinge
sal Ek op jou troon laat sit.
12As jou seuns luister
na my verbond
en die eise navolg
wat Ek hulle leer,
sal ook húlle seuns
vir altyd regeer.”
13Want die Here het Sion gekies,
dit as sy woning begeer:
14“Dit is my rusplek vir altyd.
Hier sal Ek woon,
want die plek het Ek begeer.
15Ek sal die stad oorvloedig seën
met voedsel
en haar armes
van kos voorsien.
16Haar priesters klee Ek
met redding;
haar getroues sal sing
van vreugde.
17Hier vestig Ek
die mag van Dawid,
en ’n nageslag vir my gesalfde.
18Ek klee sy vyande met skaamte,
maar sý kroon
sal bly skitter.”

Spreuke 12

1Iemand wat bereid is
om reggehelp te word,
leer graag.
Dit is dom as iemand
hom nie wil laat teregwys nie.
2Die Here hou van ’n mens
wat goeddoen.
Hy het nie tyd
vir ’n slinkse mens nie.
3Iemand wat verkeerd lewe,
het nie vastigheid nie.
Iemand wat regverdig lewe,
is stewig geanker.
4’n Goeie vrou
is haar man se trots.
Een wat skande maak,
is soos kanker in sy bene.
5Die planne van die regverdiges
is reg.
Die raad van goddeloses
is vol bedrog.
6Wat goddelose mense sê,
is ’n lokval vir ander.
Opregte mense se woorde
red hulleself.
7Goddeloses kom tot ’n val
en dit is verby met hulle.
Die nageslag van regverdiges
bly voortbestaan.
8Mense bewonder iemand
wat verstandige dinge sê.
Hulle verag iemand
wat verdraaide idees het.
9Dit is beter
om onbelangrik te wees
en ’n slaaf te hê,
as om vol van jouself te wees
en nie eers kos te hê
om te eet nie.
10Die regverdige
gee om vir sy diere,
maar ’n goddelose mens
is altyd baie wreed met hulle.
11Wie sy grond bewerk,
het volop om te eet.
Wie met nuttelose dinge besig is,
het nie verstand nie.
12Die goddelose soek veiligheid
in verkeerde dade.
Die regverdiges
is goed gevestig.
13’n Slegte mens se woorde
is ’n strik vir homself.
Iemand wat reg lewe,
ontduik moeilikheid.
14Met jou woorde
kan jy baie goeie dinge kry.
Die werk van hulle hande
gee hulle ook baie voorregte.
15Vir ’n dwaas
is net sy eie pad die regte een.
Iemand wat wys is,
luister na ander se raad.
16’n Dwaas is opvlieënd;
’n verstandige persoon bly kalm
wanneer hy beledig word.
17Die regverdige mens
getuig die waarheid;
’n getuie wat lieg, pleeg bedrog.
18Daar is mense wat dinge sal sê
wat seermaak.
’n Wyse mens se woorde
bring eerder genesing.
19Die waarheid hou vir altyd;
die leuen kom gou aan die lig.
20Daar is bedrog in die harte
van hulle wat kwaad bedink.
Daar is vreugde in die harte
van hulle wat vrede beplan.
21Die regverdige spring
probleme vry.
Die goddeloses se lewe
is vol rampe.
22Die Here verafsku mense
wat hulle woord breek.
Hy hou van mense
wat by hulle woord staan.
23’n Verstandige mens bly stil
oor sy kennis.
Dwase basuin hulle onkunde uit.
24Dié wat pligsgetrou werk,
word leiers;
lui mense word slawe.
25Bekommernis rem ’n mens af;
bemoedigende woorde
maak hom bly.
26Die regverdige
kyk mooi waar hy loop;
maar die pad van goddeloses
is ’n dwaalweg.
27Die luiaard
verroer nie ’n vinger
om self kos te maak nie.
’n Hardwerkende mens
gaan uit sy pad
om kosbare besittings
te versamel.
28Die pad van die regverdige
loop na die lewe;
dit is nie ’n pad
wat na die dood toe lei nie.

Die Boodskap

Psalm 12

1Vir die musiekleier se aandag:
’n Dawidspsalm met snaarbegeleiding vir basstemme
2Red tog, Here, want daar is nie enige gelowiges oor nie.
Hulle wat U gedien het, het tussen neus en oë verdwyn.
Daar is niemand op wie ek kan vertrou nie.
3Mense lieg en bedrieg mekaar.
Met mooi woorde is die een besig om die ander om die bos te lei en te bedrieg.
4Ek wens die Here wil alle vleiery en grootpratery laat verdwyn.
Daar is mense wat sê: 5“Ons kan enigiemand ’n gat in die kop praat.
Met die mond kry ons alles reg. Ons is baas oor almal.”
Die Here het genoeg daarvan gehad.
6Hy sê: “Ek gaan almal help wat verdruk word.
Ek hoor die hulpkrete van mense in nood.
Ek sal elkeen beskerm wat na my verlossing smag.”
7Wat die Here sê, dit bedoel Hy.
Sy beloftes is eg.
Hulle is soos goud wat in ’n vuurwarm oond skoongebrand is. ’n Mens kan daarop reken.
8Here, U sal hulle beskerm.
U sal ons teen die slegte mense van ons dag beskerm,
9selfs al loop hulle oral rond en spog; selfs al is almal rondom ons propvol slegte dinge.

Psalm 42

1Vir die musiekleier. ’n Gedig van die Koragsanggroep
2Soos ’n bokkie in die woestyn wat dors is vir water, so het ek ’n vurige verlange om by U te wees, God!
Net soos ’n bokkie sonder water doodgaan, gaan ek dood as ek nie by U is nie.
3Ek wil heeltyd net by U wees. God, U gee lewe.
Ek leef net vir daardie oomblikke wanneer ek u Naam kan grootmaak
tussen al u kinders.
4Al wat ek op die oomblik doen, is huil. My hele lewe is een groot stuk hartseer.
Alles binne-in my skeur wanneer slegte mense vir my sê: “Nou waar is jou God dan? Hoekom help Hy jou nie?”
5Met verlange dink ek terug aan die ou dae.
Toe het ek die leiding geneem in die eredienste en feesgeleenthede.
In die dienste het ek voorgegaan in gebed. Ek het leiding gegee wanneer ons saamsing.
By lofprysings was ek die voorsanger.
Ons het almal saam feesgevier om U te prys.
Ek het voor hulle uitgestap na u woonplek toe.
6Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Moenie twyfel nie. Waarom so hartseer? Vertrou net op God.
Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar.
Dit is Hy wat my uit my swaarkry red.
Ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.
7My God, ek is heeltemal moedeloos.
Hier sit ek by ’n waterstroom ver van die plek waar ek U aanbid het.
Hier ver weg van almal dink ek aan U.
My gedagtes dwaal ver terug. 8In die agtergrond bruis die waterstrome.
Net soos die watermassas oor die stompe en klippe slaan, so het U ’n groot klomp swaarkry en hartseer oor my laat spoel.
9Maar die Here sal my weer bevry.
Bedags sal Hy by my wees met sy liefde, terwyl ek in die nag lofliedere vir Hom sal sing.
In my gebed sal ek by Hom wees.
Ek sal tot Hom bid, want Hy is die God wat my oppas.
10Ek wil vir God sê: “U bewaar my mos! Waarom het U dan vergeet om my te help?
Waarom moet ek so swaarkry? Waarom moet ek hartseer wees?
Mense wat niks van my hou nie, maak dit vir my moeilik.
Hulle gespot word vir my te erg.”
11Dit voel of hulle ’n mes in my hart steek as hulle heeltyd vir my sê: “Waar is jou God dan? Hoekom help Hy jou nie?”
12Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Hoekom so hartseer?
Vertrou net op God.
Ek sal Hom weer loof, al kry ek swaar.
Dit is Hy wat my sal help. Hy is my God.

Psalm 72

Van Salomo
1O God, leer die koning om te regeer soos U dit wil hê. Leer hom om reg op te tree soos U wil. 2Wys hom hoe om reg op te tree.
Laat hy altyd mense wat swaarkry, regverdig behandel.
3Die berge en heuwels sal bly wees omdat daar vrede is,
vrede omdat die koning doen wat reg is.
4Hy sal mense help wat hulp nodig het. Hy sal arm mense help.
Maar mense wat ander sleg behandel, sal hy straf.
5Dan sal u kinders U altyd dien, so lank as wat daar ’n son en ’n maan is.
6Mag die koning vir sy mense soos lekker reën na ’n groot droogte wees wat die aarde deurdrenk.
7Mag sy mense voorspoedig wees terwyl hy regeer.
Mag hy sy mense aanmoedig om te doen wat God van sy mense wil hê totdat die maan nie meer daar sal wees nie.
8Mag hy oor ’n yslike groot gebied regeer, tot aan die eindes van die aarde.
9Mag die mense wat uit die woestyn kom, voor hom kniel en sy vyande magteloos voor hom in die stof kruip.
10Mag die mense van oor die hele wêreld vir hom geskenke bring om te wys hoe belangrik hy is. Mag hulle almal aan hom belastings betaal.
11Mag alle regeerders en nasies voor hom neerbuig om hom te dien.
12Hy sal mense wat niks het nie en om hulp smeek, gee wat hulle nodig het. Hy sal mense in groot moeilikheid help as hulle niemand het wat hulle kan help nie.
13Hy sal die mense help wat swaarkry en deur ander sleg behandel word. Hy sal arm mense beskerm.
14Hy sal hulle beskerm van mense wat hulle onderdruk en sleg behandel, want almal is vir hom baie belangrik.
15Lank lewe die regeerder!
Mag hy ryk word omdat mense vir hom goud bring.
Mag die mense God vra om die koning te help en om vir hom goed te wees.
16Mag hy oorgenoeg kos hê vir al sy mense, ja, selfs te veel. Mag sy oeste baie groot wees.
17Mag hulle hom vir altyd onthou.
Mag hulle nog baie lank praat oor hoe ’n goeie koning hy was.
Mag al die nasies mooi dinge oor hom sê en bly wees omdat hy koning was.
18Sê vir God, die Here, dankie. Hy doen groot dinge wat niemand anders kan doen nie.
19Loof Hom vir altyd, want Hy is wonderlik.
Mag daar nie ’n plekkie op hierdie wêreld wees waar die mense nie besef hoe groot U is nie.
Laat dit so wees, amen!
20Die gebede van Dawid die seun van Isai is nou klaar.

Psalm 102

1’n Gebed van iemand wat hulp nodig het en sy hart voor die Here uitstort
 
2Here, help my as ek bid! Luister tog as ek U smeek om my nood te verlig!
3Moet my nie ignoreer as ek in ’n krisis is nie!
Wys dat U my gebed hoor! Gryp in as ek tot U bid!
4Help my, Here, want my lewe gaan verby soos mis voor die son.
My hele liggaam brand soos ’n kool vuur.
5Daar is geen krag meer in my oor nie. Ek kan nie eens eet nie.
My pyn is so erg dat ek aanmekaar kreun van die seer. 6Ek is net vel en been van pyn.
7Ek is eensaam; my lewe is soos ’n reuse-ashoop.
8Ek kan nie meer slaap nie. Ek wag heeldag vir niks.
9Mense wat niks van my hou nie, lag my uit. Hulle spot met my.
Hulle gebruik my naam as ’n vloekwoord.
10Al waarvan ek leef, is my eie trane.
11Omdat U vir my kwaad is, laat U my swaarkry.
U het my ver van U af weggegooi.
12My lewe raak al hoe korter; my dae word al hoe minder.
Ek is soos gras wat besig is om uit te droog.
13Here, U heers vir altyd. U is altyd daar. 14U sal ingryp.
U sal Jerusalem weer met u liefde omvou.
Dit is nou die tyd om vir u kinders goed te wees. Hulle kry baie swaar.
15Ons is lief vir die stad waar u woonplek is.
Alles in Jerusalem is platgeslaan. Maar U sal dit weer opbou.
16Dan sal mense wat U nie dien nie, weer respek vir U hê.
Hulle sal U begin dien. Leiers oor die hele wêreld sal sien dat U God is.
17Die Here is baie groot. Hy het sy stad weer opgebou!
18Die Here het mense gehelp wat sy hulp gevra het. Hulle was magteloos,
maar die Here het nie sy rug vir hulle gekeer nie.
19Al hierdie dinge is neergeskryf.
Daarom sal die kinders en kleinkinders van ons geslag die Here nog baie lank prys.
20Almal sal Hom loof omdat Hy uit die hemel vir sy kinders gesorg het. Hy het gesien wat met hulle gebeur.
21Hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle moet help.
Hulle was in groot moeilikheid. Die Here het hulle toe gehelp.
22Hulle sal vir almal van Hom vertel.
Oral waar mense Hom aanbid, sal die Here geprys word.
23Wanneer al die leiers en mense bymekaarkom om die Here te dien, sal sy kinders oor sy grootheid praat.
24Die Here het my krag weggevat.
Hy het my lewe korter gemaak toe ek nog jonk was.
25Daarom het ek vir Hom gesê: “My God, ek wil nie so jonk doodgaan nie.
Vir U is dit geen probleem nie. U is altyd daar!
26In die begin het U die aarde gevorm. Ook die hemel het U self gemaak.
27Uiteindelik sal hemel en aarde verdwyn. Maar U sal nog steeds daar wees!
Ja, al hierdie dinge sal ophou bestaan.
Dit is soos klere wat ’n mens stukkend dra. Dit sal vergaan. U sal dit laat verdwyn.
28Maar U is altyd daar. U jare kan nie in tyd gemeet word nie.
U het geen begin of einde nie.”
29Ons kinders sal hier bly.
Ons kleinkinders sal in die land bly woon.
U sal hulle almal beskerm.

Psalm 132

’n Lied as ’n mens spesiaal na die tempel (kerk) toe gaan
1Moet asseblief nie vir Dawid en alles wat hy deurgemaak het, vergeet nie, Here.
2Hy het mos vir die Here beloof: 3-5“Ek sal nie rus voordat ek ’n tempel vir die Here, die magtige God, gebou het nie. Ek sal nie gaan lê en aan die slaap raak nie, tot ek ’n blyplek vir Jakob se God gebou het.”
6Ons het gehoor die verbondsark is in Efrata.
Uiteindelik kry ons dit in die veld by Jaär.
7Laat ons na die woonplek van die Here toe gaan. Laat ons Hom daar gaan dien.
8Kom, Here, kom na u rusplek toe.
Kom saam met u ark wat wys hoe sterk U is.
9Laat u priesters net doen wat reg is.
Laat u getroue mense van vreugde sing.
10Moenie die een vergeet wat U spesiaal aangewys het as koning nie,
al is dit net ter wille van Dawid.
11Die Here het vir Dawid beloof dat een van sy kinders hom as koning sal opvolg.
Die Here sal nie sy woord verbreek nie. Hy het gesê dat een van David se seuns altyd op die troon sal sit.
12As die nageslag van Dawid die Here getrou dien volgens die ooreenkoms wat hy met die Here gemaak het, sal sy kinders se kinders ook soos hy as koning heers.
Maar dan moet hulle doen wat God vra.
13Die Here het Sion gekies as sy spesiale woonplek:
14“Dit is die plek waar Ek altyd wil rus. Hier wil Ek graag bly. Dis wat Ek wil doen.
15Ek sal vir Sion alles gee wat nodig is. Daar sal genoeg kos wees vir selfs die armstes.
16Die mense wat in die Here se huis werk, sal doen wat reg is, en die mense wat God getrou dien, sal van vreugde sing.
17Daar sal Dawid bly en net sterker en sterker word.
Ek het hom spesiaal as koning aangestel. Hy sal soos ’n lamp vir die mense wees.
18Sy vyande sal in skaamte neersak terwyl hy net belangriker en belangriker word.”

Spreuke 12

Leer uit jou foute
1Wie die lesse van die lewe ernstig opneem, is slim. Wie uit sy foute leer, leer die kuns van die lewe ken. Wie na geen raad luister nie, is dom.
2Die Here hou baie van mense wat graag wil leer, van mense wat die regte dinge op die regte oomblik doen en sê. Maar hulle wat heeltyd slegte dinge dink, verwerp Hy.
3Niemand kry iets reg uit slegte dade nie. Slegte dinge maak van jou ’n ongelukkige mens. Die gelowiges staan vas. Hulle is gelukkige mense.
4’n Goeie vrou beteken vir ’n man verskriklik baie. Sy versier sy lewe soos ’n mooi kledingstuk. Iemand wie se vrou ’n skandemaker is, se lewe is nag. Sy is soos ’n ongeneeslike siekte.
5Gelowiges dink heeltyd hoe om reg te lewe. Ongelowiges se raad is baie gevaarlik.
6Goddelose mense se woorde probeer jou in ’n lokval lei. Dit wil jou seermaak. Maar gelowiges se insig in die lewe bevry jou van al hierdie strikke.
7Ongelowiges gaan dood en dit is verby met hulle. Maar ’n gelowige se lewe het groot betekenis.
8’n Mens word aan sy manier van lewe gemeet. Slimheid word aan ’n mooi manier van lewe gesien. Domkoppe weet nie hoe om reg te leef nie. Mense verag hulle.
9Dis beter om eenvoudig te leef as om vrot van die skuld te wees. Dis beter om ’n meer beskeie huis te hê as ’n ryk lewenstyl en heeltyd honger te wees.
10’n Gelowige is lief vir sy diere. Hy behandel hulle altyd goed. Ongelowiges is ongenaakbaar. Hulle sny diere sommer maklik keelaf.
11Hy wat hard werk, sal genoeg kos hê om te eet. Hy wat rondstaan en gesels of met ander dinge besig is, is dom. Hy sal finansieel sukkel.
12’n Slegte mens wil graag sy bose planne uitvoer. Hy wil mense op verskillende maniere seermaak. Geen probleme kry ’n gelowige onder nie.
13’n Ongelowige praat hom maklik vas. Sy eie woorde is soos ’n net wat hom vasvang. ’n Gelowige se woorde red hom uit moeilike situasies.
14’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens.
15Dit is net ’n dom mens wat dink dat hy alleen reg is, wat dink dat hy alleen oor die waarheid beskik. ’n Wyse mens luister graag na ander se raad.
16’n Dom mens wys dadelik dat hy kwaad is. Hy doen niks om dit weg te steek nie. Almal kan sy woedende gesig sien. ’n Gelowige verontagsaam beledigings. Hy hoor dit sonder om hom te ontstel.
17’n Gelowige praat altyd die waarheid. ’n Mens kan op sy woord staatmaak. ’n Vals mens lieg net.
18Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe.
19Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie. Leuentaal is waardeloos. Woorde wat nie opreg is nie, beteken niks nie.
20Wie net altyd slegte planne teen ander beraam, is ’n bedrieër. Hy is ’n diep ongelukkige mens. Wie ander liefhet, ervaar groot vreugde.
21’n Gelowige sal nie swaarkry nie. ’n Slegte mens se ellendes ken geen einde nie.
22Die Here haat ’n spul liegstories. Hy is lief vir mense wat die waarheid praat.
23’n Slim mens is beskeie oor al sy kennis. Dom mense blaker die min wat hulle weet, vir almal uit.
24Mense wat hard werk, bereik hulle doel. Hulle kom bo uit. Luies bly lewenslank ander se vloerlappe.
25Bekommernis versuur jou lewe. ’n Bemoedigende woord van ’n gelowige maak jou gelukkig.
26Gelowiges laat vriende vir hulle wys wat om te doen. Slegte mense lei ander die afgrond in.
’n Gelowige se lewe is vol opwinding. Wie net die verkeerde dinge doen se lewe is vol ellende. Dit is soos die dood.
27Slapheid bring jou nêrens nie. Jy word net armer. Harde werk is die moeite werd. Dit kan jou geld in die sak bring.
28’n Gelowige geniet die lewe. Ongelowiges is lewendig dood. Hulle ken net angs en vrees.

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!