Dag 1: Psalms en Spreuke

1983 Vertaling

Psalm 1 

Die Here lei die regverdiges
1 Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2 maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3 Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4 So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5 Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie 'n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6 Waarlik,
die Here lei die regverdiges op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Psalm 31

My tye is in u hand
1 Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.
2 By U, Here, skuil ek.
Laat my tog nooit teleurgestel staan nie!
Bevry my, want U is getrou.
3 Luister na my, red my tog gou.
Wees vir my 'n rots om na toe te vlug,
'n bergvesting om my te red.
4 Ja, U is my rots en my bergvesting,
ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.
5 Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het,
want U is my toevlug.
6 In u hande gee ek my lewe oor,
want, Here, troue God, U het my vrygemaak.
7 Ek haat mense wat waarde heg aan die nikswerd afgode;
my vertroue stel ek in die Here.
8 Ek wil jubel en juig oor u troue liefde:
U was nie onverskillig teenoor my ellende nie;
U het die bedreiging van my lewe raakgesien
9 en my nie aan die mag van die vyand oorgelewer nie;
U het my 'n veilige staanplek gegee.
10 Wees my genadig, Here, want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11 My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12 Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
'n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien, vlug vir my.
13 Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos 'n ding wat lê en vergaan.
14 Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15 Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16 My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!
17 Verskyn tog tot my redding,
red my deur u onfeilbare liefde.
18 Here, laat my nie teleurgestel staan in my verwagting as ek U aanroep nie.
Laat die goddelose teleurgestel staan in hulle verwagting,
laat hulle die stilte van die doderyk ingaan.
19 Bring die leuenaars tot swye,
dié wat vol is van hulleself en in hoogmoed en veragting teen die regverdige praat.
20 Hoe groot is u goedheid:
dit is altyd daar vir dié wat U dien,
U bewys dit voor die oë van die mense aan dié wat by U skuil.
21 Deur u teenwoordigheid beskerm U hulle teen die sameswering van mense.
U steek hulle weg vir dié wat vir hulle beskuldig.
22 Aan die Here kom die lof toe,
want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon toe ek beleër was.
23 Ek het in my angs gedink:
Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp.
Tog, U het geluister na my gesmeek
toe ek na U om hulp geroep het.
24 Betuig julle liefde vir Hom,
julle almal wat die guns van die Here geniet.
Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is,
maar dié wat teen Hom opstandig is,
straf Hy swaar.
25 Wees dus sterk en hou goeie moed,

julle almal wat julle vertroue in die Here stel.

Psalm 61

U is vir my 'n toevlug

1 Vir die koorleier: met snarespel. Van Dawid.
2 Hoor tog my hulpgeroep, o God,
slaan tog ag op my gebed.
3 Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U.
Bring my op 'n rots waar ek veilig sal wees.
4 U is vir my 'n toevlug,
'n sterk vesting buite bereik van die vyand.
5 Laat my by U 'n blywende tuiste vind.
Laat my skuil onder u vleuels.Sela
6 U, o God, hoor my geloftes,
U vervul die wens van hulle wat u Naam eer.
7 Laat die koning lank lewe,
laat sy lewensjare oor geslagte strek.
8 Mag hy sy lewe lank regeer voor God,
mag u liefde en trou hom bewaar!
9 Dan sal ek u Naam altyd besing

en dag na dag my geloftes betaal.

Psalm 91

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind

1 Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige geniet,
2 hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”
3 Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte.
4 Hy beskut jou onder sy vleuels
en is vir jou 'n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5 Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag,
6 vir pes wat in die donker toeslaan
of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.
7 Al val daar duisende langs jou,
tienduisende by jou,
vir jou sal niks tref nie.
8 Met jou eie oë sal jy sien
hoe die goddelose gestraf word.
9 Omdat jy die Here as skuilplek geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10 sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek kom nie.
11 Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12 Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.
13 Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy doodtrap.
14 “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.
15 Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.
16 'n Baie lang lewe sal Ek hom gee

en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Psalm 121

My hulp kom van die Here

1 'n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
2 My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
3 Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;
Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.
4 Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie
en Hy slaap nie.
5 Die Here beskerm jou,
die Here bewaar jou van alle gevare.
6 Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.
7 Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar,
jou lewe sal Hy beskerm.
8 Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,

nou en vir altyd.

Spreuke 1

1 Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel.

2 Dié spreuke is bedoel
om mense wysheid te leer en hulle te onderrig
sodat hulle sal weet
wanneer iemand verstandig praat.
3 So sal hulle 'n behoorlike opvoeding ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid.
4 Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word,
jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree.
5 Selfs wyse mense kan na die spreuke luister
en so tot dieper insig kom.
Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer
6 om spreuke en sinspelings,
woorde en raaisels van wyse mense te begryp.
7 Kennis begin met die dien van die Here;
dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.
8 My seun, jy moet luister na die onderrig
wat jou vader jou gee;
moenie wat jou moeder jou leer,
verontagsaam nie:
9 dit sal jou lewe versier soos 'n krans jou kop
en 'n kettinkie jou hals.
10 As sondaars jou wil verlei, my seun,
moenie toegee nie.
11 Hulle sal vir jou sê:
“Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom,
ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie;
12 kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen,
ons maak gesonde mense dood!
13 Ons vat al wat waardevol is
en ons maak huise vol met wat ons roof.
14 Jy kan deel in die buit,
dit sal ons almal s'n wees.”
15 Moenie met hulle saamgaan nie, my seun,
bly van hulle pad af;
16 hulle is daarop uit om kwaad te doen,
hulle wil gaan moord pleeg.
17 'n Voël wat 'n net sien wat vir hom gespan is,
vlieg nie daarin vas nie,
18 maar hierdie mense span vir hulleself 'n net,
hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet.
19 So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie:
rowery kos hom sy lewe.
20 Wysheid is 'n vrou wat langs die straat staan en roep,
sy laat haar stem hoor op die stadspleine,
21 sy roep bo die rumoer uit,
by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het:
22 “Julle onkundiges,
hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde,
gaan die grootpraters hulle pratery geniet
en die swape 'n afkeer hê van kennis?
23 As julle luister na my teregwysing,
gee ek julle my wysheid in oorvloed
en leer ek julle my woorde begryp.
24 “Ek het geroep en julle wou nie luister nie,
ek het my hand uitgesteek en julle het dit nie gegryp nie.
25 Julle het my raad alles in die wind geslaan,
julle wou julle nie laat teregwys nie.
26 Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref,
ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,
27 wanneer daar nood en kwelling oor julle kom.
Die angs sal soos 'n storm oor julle kom,
die ongeluk sal julle tref soos 'n orkaan.
28 Dán sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie,
julle sal my soek en my nie kry nie.
29 Julle het 'n afkeer van kennis gehad,
julle het geweier om die Here te dien,
30 julle het my raad verontagsaam
en elke teregwysing van my geminag.
31 Julle sal die vrugte van julle optrede pluk,
julle sal van julle eie planne walg.
32 “Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood,
die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid,
33 maar wie na my luister, sal veilig wees
en hoef geen ramp te vrees nie.”

Nuwe Lewende Vertaling

Psalm 1 

Die regverdige en die
goddelose
1 Gelukkig is die mens
wat nie loop
volgens die raad
van goddeloses,
of staan
op die pad van sondaars,
of sit
in die vergadering
van spotters nie.
2 Hy vind egter vreugde
in die gebooie van die Here
en oordink sy voorskrifte
dag en nag.
3 Hy is soos ’n boom
geplant langs waterstrome,
wat vrugte dra
op die regte tyd.
Sy blare verwelk nie;
in alles wat hy doen,
is hy voorspoedig.
4 Maar dit geld nie
vir die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf
wat die wind verstrooi.
5 Daarom sal goddeloses
nie voortbestaan
in die oordeel,
of sondaars
in die geselskap
van regverdiges nie.
6 Want die Here waak
oor die pad
van die gelowiges;
maar die paaie
van die goddeloses

lei tot ondergang.

Psalm 31

Die Here is my rots en vesting

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2 Here, ek kom na U
vir beskerming;
moenie dat ek beskaamd staan nie.
Red my,
want U is regverdig.
3 Luister tog na my
en red my gou.
Wees vir my ’n rots
van veiligheid,
’n vesting waarheen ek kan vlug.
4 U is my rots en my vesting.
Lei my, wees vir my ’n gids
ter wille van u Naam.
5 Bevry my uit die vangnet
wat hulle vir my gestel het,
want U is my sterkte.
6 In u hande gee ek my lewe oor.
U het my verlos,
Here, troue God.
7 Ek haat dié
wat nikswerd afgode dien.
My vertroue is op die Here.
8 Ek wil juig en bly wees
oor u troue liefde,
want U het my ellende gesien,
U weet van al my benoudhede.
9 U het my nie oorgegee
in die mag van vyande nie,
maar my ’n veilige staanplek
gegee.
10 Here, wees my genadig,
want ek is in nood.
My trane verdof my oë.
My siel en liggaam kwyn weg.
11 Ek sterf van verdriet;
droefheid verkort my lewe.
Ellende het my kragte uitgeput;
ek kwyn weg van binne af.
12 Al my vyande het my geminag,
my bure het my verag,
vir vriende
was ek ’n verskrikking.
Op straat draai hulle weg van my.
13 Ek word vergeet
asof ek dood is,
soos ’n ding wat vergaan.
14 Ek hoor baie fluisteringe
oor my,
en daar is angs van alle kante.
My vyande span saam teen my;
hulle maak planne
om my dood te maak.
15 Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: “U is my God!”
16 My toekoms is in u hande.
Red my van vyande
en vervolgers.
17 Laat u guns oor u dienaar skyn,
red my deur u troue liefde.
18 Moenie dat ek
in skande kom nie, Here,
want ek roep tot U om hulp.
Laat die goddeloses
in die skande kom,
en in stilte neerdaal
in die graf.
19 Laat die leuenaars
stilgemaak word,
dié wat vol hoogmoed
en veragting
teen regverdiges praat.
20 Hoe groot is die goedheid
wat U weggebêre het
vir hulle wat U dien,
wat U voor die oë
van die mense gee
aan hulle wat op U vertrou.
21 U verberg hulle veilig
in u teenwoordigheid
teen komplotte van mense.
U bedek hulle in u skuilplek,
veilig van dié
wat hulle beskuldig.
22 Prys die Here,
want Hy het sy troue liefde
aan my bewys toe ek in nood was,
soos in ’n beleërde stad.
23 Toe ek bang was, het ek geroep:
“Ek is afgesny van die Here!”
Maar U het na my gebede
geluister
toe ek na U
om hulp geroep het.
24 Getroues,
julle moet die Here liefhê!
Hy beskerm almal
wat getrou is,
maar verwaandes
straf Hy swaar.
25 Daarom, wees sterk
en vol moed,

almal wat op die Here vertrou.

Psalm 61

Lei my na die rots

1 Vir die koorleier: Met snarespel.
’n Dawidspsalm.
2 O God,
luister na my roepstem
en hoor my gebed!
3 Vanaf die einde van die aarde
roep ek tot U om hulp,
want ek is moedeloos.
Lei my na die rots hoër as ek.
4 Waarlik, U is vir my ’n skuilplek,
’n sterk vesting
buite bereik van my vyande.
5 Laat my vir altyd
in u woning bly,
en onder die beskerming
van u vleuels skuil!
Sela
6 Want U het my geloftes gehoor,
o God.
U vervul die begeerte van hulle
wat u Naam dien.
7 Voeg dae
by die lewe van die koning;
laat sy lewensjare
van geslag tot geslag wees!
8 Mag hy vir altyd
voor God regeer.
Mag u goedheid en waarheid
hom bewaar.
9 Dan sal ek u Naam altyd besing
en dag na dag

my geloftes betaal.

Psalm 91

Op God kan ek vertrou

1 Hy wat woon in die skuilplek
van die Allerhoogste,
sal rus in die skadu
van die Almagtige.
2 Ek sal vir die Here sê:
“U is my toevlug
en my vesting,
my God op wie ek vertrou.”
3 Verseker sal Hy jou red
uit die strik
van die voëlvanger,
en van die plaag
wat vernietig.
4 Hy sal jou oordek met sy vlerke,
en onder sy vleuels
sal jy skuil;
sy trou sal jou beskerm
soos ’n skild.
5 Jy sal nie bang wees
vir die skrik van die nag,
of die pyle van die dag;
6 vir die plaag
wat in die donker kom,
of die ramp
wat teen die middag
verwoes nie.
7 Al sou duisend langs jou val,
of tienduisend om jou sterf,
naby jou sal dit nie kom nie.
8 Net met jou oë
sal jy dit aanskou,
en die straf van die goddelose
sien.
9 As die Here jou toevlug is,
as die Allerhoogste
jou skuilplek is,
10 sal geen kwaad jou tref,
en geen ramp
naby jou tent kom nie.
11 Want Hy sal sy engele beveel
om jou te beskerm
oral waar jy gaan.
12 Hulle sal jou op die hande dra
sodat jy nie jou voet
teen ’n klip stamp nie.
13 Op die leeu en die adder
sal jy trap,
die jong leeu
en die slang vertrap.
14 “Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom verlos;
omdat hy my Naam ken,
sal Ek hom beskerm.
15 Hy sal roep,
en Ek sal antwoord;
in nood sal Ek by hom wees.
Ek sal hom red
en in eer herstel.
16 Ek sal hom ’n lang lewe gee,

en hy sal my verlossing sien.”

Psalm 121

Die Here is my beskermer

1 ’n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge.
Kom my hulp daarvandaan?
2 Nee, my hulp kom
van die Here,
wat hemel en aarde
gemaak het.
3 Hy laat jou voet
nie struikel nie;
Hy wat waak oor jou,
slaap nie.
4 Hy wat oor Israel waak,
sal nooit sluimer
of slaap nie.
5 Die Here waak self oor jou.
Die Here is jou beskermer
aan jou regterkant.
6 Die son sal jou bedags
nie aantas nie,
nog minder die maan
in die nag.
7 Die Here bewaar jou
van alle kwaad
en Hy beskerm jou lewe.
8 Die Here hou wag oor jou,
of jy kom of gaan,

nou en vir altyd.

Spreuke 1

Die doel van wysheid

Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel.
2 Die doel van hierdie spreuke
is om mense wysheid te leer
en hulle te onderrig.
Dit sal hulle help
om wyse woorde te verstaan.
3 Deur hierdie woorde
sal hulle dissipline leer
en weet hoe om regverdig,
reg en billik op te tree.
4 Iemand wat nog onervare is,
sal verstandig word.
Die spreuke sal jongmense
kennis gee
en onderskeidingsvermoë.
5 Laat selfs hulle wat wys is,
luister na die spreuke
sodat hulle tot dieper insig kan kom.
Wie reeds die nodige kennis het,
kan die lewenskuns aanleer
6 om die spreuke en sinspelings,
die woorde en raaisels
van wyse mense te begryp.
7 Kennis begin met eerbied
vir die Here,
net dwase verag wysheid
en dissipline.
Kry wysheid in die hande
8 My seun, luister
na wat jou pa jou leer.
Moenie wat jou ma vir jou sê
in die wind slaan nie.
9 Wat jy by hulle leer,
sal jou lewe
met goedheid kroon
en ’n versiering wees
om jou nek.
10 My seun, as goddelose mense
jou wil ompraat,
moenie na hulle luister nie.
11 Hulle sal miskien vir jou sê:
“Kom saam met ons!
Kom ons gaan lê iemand voor
en vermoor hom.
Kom ons oorval iemand,
al het hy niks
aan ons gedoen nie.
12 Ons wil hulle
lewendig laat verdwyn,
net soos in ’n graf,
soos gesonde mense
wat in die dood wegsink.
13 Ons wil baie waardevolle dinge
bekom,
ons huise vol maak
met alles wat ons buit.
14 Word een van ons!
Dan deel ons in die buit.”
15 My seun, met hulle
moet jy nie saamgaan nie.
Bly ver van die pad
waarop hulle loop.
16 Hulle loop agter kwaad aan.
Hulle kan skaars wag
om iemand te vermoor.
17 Wanneer ’n voël sien
daar is vir hom ’n wip gestel,
dan vlieg hy mos weg.
18 Maar hierdie mense
stel vir hulleself ’n hinderlaag op.
Hulle soek self na hulle dood.
19 So gaan dit met elkeen
wat met geweld ryk wil word:
sulke rykdom verwoes die lewe
van die een wat dit verkry.
Wysheid se uitnodiging
20 Wysheid staan
en roep op die straat.
Op die stadspleine roep sy hardop.
21 Sy roep by die plekke
waar mense bymekaarkom.
Sy praat by die ingange
van die stadspoorte.
Haar boodskap is:
22 “Hoe lank
gaan julle domkoppe
nog bly klou
aan julle domheid?
Hoe lank gaan die spotters
aanhou met hulle gepratery?
Hoe lank gaan die swape
kennis bly verwerp?
23 “As julle reageer
op my berisping,
sal ek my gees
op julle uitstort.
Ek sal my woorde
aan julle bekendmaak.
24 Ek het na julle geroep,
maar julle wou nie luister nie.
Ek het my hand uitgesteek
na julle,
maar julle het dit nie gevat nie.
25 My raad het julle
geïgnoreer.
Julle wou nie toelaat
dat julle reggehelp word nie.
26 Daarom gaan ek lag
wanneer ongeluk julle tref.
Ek gaan met julle spot
wanneer angs julle oorval.
27 Ek gaan vir julle lag
wanneer angs
soos ’n storm oor julle losbreek,
wanneer benoudheid julle tref
soos ’n stormwind
en julle in swaarmoedigheid
verval.
28 Dan sal hulle
na my begin roep om hulp,
maar ek sal my nie
daaraan steur nie.
Hulle sal desperaat na my soek,
maar hulle sal my nie vind nie.
29 Van my kennis
wou hulle mos niks weet nie.
Respek vir die Here
wou hulle mos nie betoon nie.
30 Hulle het my raad geïgnoreer.
Omdat ek hulle wou reghelp,
het hulle my mos verag.
31 Hulle sal moet sluk
aan die gevolge
van hulle optrede.
Hulle sal maar moet saamleef
met die gevolge
van hulle eie dade.
32 “Dwase draai van my af weg
na die dood toe.
Die gekke se dwaling
kos hulle die dood.
Deur hulle selfvoldaanheid
word die dwase vernietig.
33 Elkeen wat na my luister,
sal veilig wees.
Vir rampe
hoef hy nie bang te wees nie.”

Die Boodskap

Psalm 1 

1 God hou sommer baie van jou,
want jy leen nooit jou ore aan slegte mense uit nie.
Jy hardloop nie agter elke nuwe sonde op die mark aan nie.
Jy is ook nie bevriend met daardie spul wat met God spot nie.
2 God is baie bly omdat jy sy Woord geniet.
Jy lees dit dag en nag sonder om moeg te word.
3 Daarom is jy soos ’n groot boom wat stewig langs die water staan.
Hierdie boom dra op die regte tyd baie vrugte en sy blare bly groen.
Sy grootheid skyn helder in alles wat jy doen.
Daarom gaan dit baie goed met jou.
4 Met elkeen wat nie doen wat God sê nie, gaan dit bitter sleg.
Hulle sondes laat hulle lewe uitmekaarval.
5 Daarom sal daar nie vir hulle plek wees wanneer God eendag voor
almal sê wie aan Hom behoort nie.
6 God wys vir mense wat Hom liefhet hoe om elke dag te leef,
maar slegte mense verdwaal vir altyd in hulle sonde.

Psalm 31

Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm
2 Here, by U kruip ek weg!
Moet my tog nooit in die steek laat nie.
Vat my moeilikheid weg van my. U is goed vir almal wat op U vertrou.
3 Hoor as ek roep!
Dra my veilig deur my krisis!
Bewaar my as ek vra dat U my moet help.
Hou my styf vas in u hand. Ek kruip by U weg.
4 By U skuil ek, en U beskerm my.
Omdat u Naam op die spel is, sal U my op die regte pad hou.
5 U sal my red uit die kloue van my vyande.
U pas my veilig op as ek na U toe kom.
6 Here, my God, ek stel my lewe in u hand.
U, Here, is die God wat getrou is om my te verlos.
7 Daar is baie mense wat dooie gode aanbid.
Daardie gode beteken niks nie.
Met sulke mense wil ek niks te doen hê nie.
Maar aan die Here sal ek elke dag getrou bly.
8 Ek is opgewonde oor u liefde, want U het my nie alleen gelos toe ek swaargekry het nie.
In my nood het U my gehelp. Want U het raakgesien toe ek in die moeilikheid was.
9 U het my gered. U het gesorg dat ek nie ondergaan nie.
U het my nie aan die mense wat my haat, uitgelewer nie.
10 Wees goed vir my, Here, want ek is diep in die moeilikheid.
Ek is doodmoeg van al die huil. Ek is totaal uitgeput.
11 Ja, ek word al hoe maerder omdat ek my lê en bekommer.
Al die swaarkry maak my oud voor my tyd.
My moeilikheid laat my kragte afneem sodat ek so maer word.
12 Daar is mense wat my tot ’n val wil bring.
Hulle sorg dat almal my uitlag.
Mense met wie ek bevriend was, wil niks met my te doen hê nie.
Elkeen wat naby my kom, spot met my.
Hulle vlug weg sodat hulle my nie hoef te sien nie.
13 Mense maak of ek nie meer bestaan nie. Ek is soos ’n dooie wat besig is om te verrot.
14 Ja, ek het gehoor hoe mense stories oor my loop en vertel.
Agteraf maak hulle planne om my dood te maak.
Hulle span saam teen my.
Hulle wil my doodmaak.
15 Maar ek vertrou op U, Here.
Ek sê vir U dat U my God is.
16 U beheer my lewe van begin tot end.
Red my van hulle wat niks vir my omgee nie.
17 Help my, Here. Kyk na my kant toe. Wys vir my hoe groot u liefde vir my is.
18 Moet my nie in die steek laat nie, Here, want ek bid dag en nag tot U.
Laat hulle wat weier om U te dien, sleg daarvan afkom.
Mag hulle van die aarde af verdwyn. Dan sal hulle stem stil word.
19 Gee dat hulle wat loop en skinder, nooit weer praat nie.
Hulle sien neer op elkeen wat vir U lief is.
Hulle dink niks van u kinders nie.
Hulle is so vol van hulleself.
20 Here, U is baie goed vir elkeen wat U dien.
U maak u hart oop vir mense wat vir U eerbied het.
U gee vir hulle meer as genoeg om van te leef.
Almal sien dit raak.
21 U beskerm hulle teen almal wat slegte planne teen hulle uitdink.
U pas hulle op. Geen skinderstorie kan hulle seermaak nie.
22 Julle moet die Here saam met my kom prys,
want Hy het my met sy groot liefde toegevou.
Hy beskerm my.
Op ’n wonderlike manier het Hy my opgepas toe ek in die moeilikheid was.
23 Terwyl ek baie bang was, het ek gedink: U sien my nie meer raak nie. Ek gly uit u arms.
Maar U het my gehelp toe ek U gevra het om my nie alleen te los nie.
24 Julle almal wat die Here se lieflingskinders is, wees elke dag lief vir Hom!
Die Here beskerm elkeen wat aan Hom getrou bly.
Maar Hy straf almal wat teen Hom in opstand kom.
25 Hou moed! Wees sterk! Julle wat op die Here vertrou, moet nooit moedeloos word nie.

Psalm 61 

Lei my na die rots

1 Vir die musiekleier se aandag:
Met begeleiding van snaarinstrumente. Opgedra aan Dawid
2 God, luister tog wanneer ek by U hulp kom vra. Luister aandagtig na my as ek bid.
3 Wanneer ek moedeloos en wanhopig is en voel of ek amper dood is, bid ek ernstig.
Beskerm my sodat ek nie doodgaan nie.
4 U alleen pas my op.
U is soos ’n skuilplek waarheen ’n mens vlug as daar groot gevaar kom. U beskerm my teen my vyande.
5 Ek wil vir altyd by U wees.
As U my beskerm, is ek elke dag veilig.
6 God, U weet dat ek belowe het om U te prys.
U oorlaai my met goeie dinge.
U doen dit vir almal wat U dien.
7 Mag ons aardse heerser lank lewe.
Mag mense nog lank oor hom praat.
8 Gee dat hy altyd aan U sal vashou.
Ek bid dat U hom sal beskerm omdat U goed en vol liefde is.
9 Dan sal ek altyd liedere sing om U te eer.
My belofte om U te eer wil ek elke dag nakom.

Psalm 91

1 As jy na die allerhoogste God toe gaan dat Hy jou moet oppas, kan jy van een ding seker wees: Die almagtige God sal jou bewaar.

2 Jy kan vir die Here sê: “U beskerm en bewaar my.
U is my God op wie ek vertrou.”
3 Dis die Here wat jou uit die moeilikheid kom haal as iemand jou met skelmstreke om die bos gelei het. Hy bly getrou aan jou.
4 Hy sal jou verlos van enige gevaar wat jou lewe bedreig.
Hy sal jou veilig oppas. Daarom kan jy by Hom gaan wegkruip.
Met sy groot liefde keer Hy die gevaar af.
5 Jy hoef nie bang te wees dat enige mag jou bedags of snags sal oorrompel nie.
6 Geen bose gees sal jou onverwags in besit neem nie.
Nie eens ’n gevaarlike siekte wat jou van agter af bekruip, of ’n epidemie wat jou oorval, sal jou kwaad kan aandoen nie.
7 Al is die gevaar rondom jou so groot dat duisende mense langs jou doodgaan, ja, ook al sterf derduisende mense naby jou, sal jy niks oorkom nie.
8 Jy sal staan en kyk hoe mense wat nie op die Here vertrou nie, platgetrap word.
9 Dit is goed dat jy by die allerhoogste God gaan wegkruip.
10 Ongelukke, rampe en ernstige siektes sal jou of jou huis nie tref nie.
Hy self sal jou bewaar.
11 Sy engele sal jou omring wanneer die Here vir hulle sê om dit te doen. Hy sal sê dat hulle jou moet beskerm.
12 Hulle sal jou veilig in hulle hand vashou sodat jy nie seerkry nie.
13 Jy sal nie eens jou toon teen ’n klip stukkend stamp nie. Jy sal oor jou vyande loop.
Van een ding kan jy baie seker wees: as jy op die Here vertrou en elke dag op sy hulp staatmaak, sal nie eens die grootste gevare in die lewe jou ooit onderkry nie.
Met die Here se hulp sal jy elke moeilikheid wat jou oorkom te bowe kom.
Jy sal bo dit alles uittroon.
14 Die Here sê self: “Iemand wat My liefhet, sal Ek uit enige gevaar bevry.
Ek sal hom beskerm omdat hy My vertrou.
15 Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help; Ek sal hom in enige krisis bystaan.
In sy nood sal Ek hom help. So sal Ek eer aan hom bewys.
16 Ek sal sy lewe vol maak met goeie dinge. Hy sal lank leef.

Hy sal bly wees, want hy weet dat Ek graag help.”

Psalm 121

Die lied is geskryf vir mense wat Jerusalem toe gekom het om die Here te dien

1 Ek soek oral rondom my na iemand om my te help.
Ek wonder dan: “Wie sal my nou regtig help?”
2 Die Here sal my help. Hy het alles in die wêreld gemaak.
3 Jy sal niks oorkom nie. God pas jou op.
Hy sal nie aan die slaap raak as Hy jou moet oppas nie.
4 Hy pas al sy kinders op. Hy slaap nooit. Daarom sal Hy nie vergeet om jou te help nie.
5 Die Here is jou oppasser. Hy sal altyd by jou wees.
6 Niks of niemand kan jou kwaad aandoen nie, al is hy hoe sterk.
God pas jou elke dag op teen allerhande moeilikhede en probleme.
Hy sal jou lewe mooi oppas.
7 Die Here sal jou oppas waar jy ook al is:
by die huis, by die werk of miskien êrens op pad.
8 Hy sal jou altyd help, of jy kom en of jy gaan, nou en in die toekoms.

Spreuke 1

1 Die boek Spreuke is in die tyd van Dawid se seun Salomo geskryf. 

2 Al die spreuke wil ons wys hoe om te leef. Dit is bedoel om mense wys en gelukkig te maak. Hierdie spreuke moet jy jou eie maak, want dit wil die volgende doen: 
3 dit wil jou die kuns van die lewe aanleer, jou met ’n gedissiplineerde lewenstyl help. Dit wil jou leer wat reg en billik is.
4 Dit wil jou insig gee. Dan sal jy ’n goeie aanvoeling hê vir wat reg en gepas is in elke omstandigheid waarin jy beland.
Dit wil onervare gelowiges leer hoe om reg te leef. Vir jongmense ook.
5 Dit wil die gelowiges wat klaar weet hoe om reg te leef, nog meer kennis gee en vir dié wat reeds insig het, nog meer lewensvaardighede. 
6 So sal hulle al die spreuke nog beter verstaan. Hulle sal snap wat wyse mense sê.
7 Lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie. Iemand wat die Here nie liefhet nie en ook nie weet hoe om reg te leef nie, is dom. Hy verag ook al die spreuke.
Ouerlike tug maak jou ’n mooi mens
8 ’n Jongmens moet die waarhede wat sy pa hom leer, ernstig opneem. Sy ma se lewenswaardes moet hy nie in die wind slaan nie. 
9 Ouers se liefdevolle dissipline maak ons mooi mense. Dit is soos klere wat ons lewe versier.
Pas op vir slegte geselskap
10 As glibberige mense jou deel wil laat hê aan hulle gekonkel, moet jy weier. Pas op as hulle vir jou sê: 11-14“Kom ons kul onskuldige mense. Ons laat goeie mense niksvermoedend in ons strikke inloop. Dan gaan hulle onder. Dan vat ons hulle goed en verryk onsself. Kom, wees deel daarvan.”
15 Jongmens, moet tog nooit met sulke mense meng of met hulle saamwerk nie. Hulle doen altyd wat sleg is. 
16 Hulle is altyd haastig om ander seer te maak. Hulle gee nie om om iemand dood te maak nie. 
17 ’n Voëlnet word tog nie voor voëls gegooi nie. Hulle sien dit en vlieg weg. 
18 Slegte mense is egter anders. Hulle sien nie die net nie en word daarin verstrengel. 
19 Hulle draai hulle vaster in hulle eie sonde. En op ’n dag is dit klaarpraat met hulle. Sonde kos hulle hulle lewe.
Daarom: verander jou lewe
20 Lewenswysheid is soos ’n predikant wat in die strate en die groot bymekaarkomplekke preek. 
21 Sy loop die stad plat en verkondig haar boodskap oral: 
22 “Hoe lank sal julle, geestelik onvolwassenes, met julle onvolwassenheid aanhou; sal julle, ligsinniges, met ’n gelukkige lewenswandel spot; sal julle, dommes, ware kennis vertrap?
23 “Bekeer julle! Luister na my woorde! Dan sal ek julle met al die spreuke wys hoe om reg te leef. Ek sal julle vertel hoe om geluk te vind.
24 “Waarom luister julle nie as ek praat nie? Waarom steek ek die hand van vriendskap na julle uit en julle verwerp dit? 
25 Al my goeie raad oor die lewe het julle in die wind geslaan. Aan my woorde het julle julle nie gesteur nie.
26 “Omdat julle, dommes, julle eie ondergang bewerk, sal ek julle nog eendag uitlag en met julle spot. 27As vrees julle beetpak, as paniek julle soos ’n magtige stormwind oorweldig, as ellende julle soos ’n onverwagse warrelwind tref, as angs julle deel word, sal ek met julle spot.
28 “Dan sal julle skielik by my wil weet hoe om te leef, maar ek sal julle nie sê nie. Vinnig sal julle by my insig soek, maar niks kry nie.
29-31 “Omdat julle egte lewenskennis verag het, die Here nie liefgehad het nie, alle raad vir ’n gelukkige lewe in die wind geslaan het; daarom sal julle die vrot vrugte van julle verskriklike dade proe. Julle slim ou plannetjies sal julle nog walg. 
32 Dom mense loop hulle in die dood vas. Hulle is so selfversekerd, maar hulle word vernietig.
33 “Wie die wysheid ernstig opneem, is ’n gelukkige mens. Hy sal veilig voel en geen angs vir die lewe hê nie.”

Skryf In om ons nuusbrief te ontvang!! 💗

Bly Aangemoedig!!

*Onthou asseblief om in jou e-pos Inboks of strooipos te kyk vir jou bevestiging e-pos om jou inskrywing te aktiveer!

Ons SPAM nie!!